Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • km 8/95 bl. 3-4
  • Hoe ons ons gewillig vir elke goeie werk kan aanbied

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hoe ons ons gewillig vir elke goeie werk kan aanbied
  • Ons Koninkryksbediening—1995
  • Soortgelyke materiaal
  • Ons bied ons gewillig aan
    Ons Koninkryksbediening—1996
  • “Soek eers die koninkryk”
    Jehovah se Getuies—Verkondigers van God se Koninkryk
  • Maniere om jou bediening uit te brei
    Georganiseer om Jehovah se wil te doen
  • Die gees wat Jehovah seën
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1987
Sien nog
Ons Koninkryksbediening—1995
km 8/95 bl. 3-4

Hoe ons ons gewillig vir elke goeie werk kan aanbied

1 ’n Wêreldse publikasie het na Jehovah se Getuies verwys en gesê: “Dit sou moeilik wees om lede van enige ander groep te vind wat so hard vir hulle godsdiens werk soos die Getuies.” Waarom werk Jehovah se Getuies so hard en met so ’n gewillige gees?

2 Een rede is dat hulle deur ’n gevoel van dringendheid aangespoor word. Jesus het besef dat hy ’n beperkte tyd gehad het waarin hy sy werk op aarde moes voltooi (Joh. 9:4). Terwyl die verheerlikte Seun van God vandag te midde van sy vyande heers, besef Jehovah se volk dat hulle ’n beperkte tyd het om hulle werk te doen. Gevolglik hou hulle aan om hulle gewillig vir heilige diens aan te bied (Ps. 110:1-3). Aangesien meer werkers nodig is om die oes in te bring, kan hulle nie in hulle pogings verslap nie (Matt. 9:37, 38). Daarom probeer hulle Jesus navolg, wat ’n volmaakte voorbeeld van gewilligheid en ywer in sy werk gestel het.—Joh. 5:17.

3 Nog ’n rede waarom Jehovah se Getuies met hulle hele siel soos vir Jehovah werk, is dat hulle wêreldwye organisasie van alle ander groepe verskil. Wêreldse godsdiensorganisasies vereis gewoonlik slegs ’n minimum van tyd en inspanning van hulle lidmate. Wat hulle glo, het min of geen uitwerking op hulle daaglikse lewe, hoe hulle ander behandel of hulle strewes in die lewe. Aangesien hulle nie die dryfkrag van ware geloof het nie, het hulle daarop aangedring dat hulle herders ‘vleitaal vir hulle spreek’ en hulle verseker dat hulle vormdiens voldoende is (Jes. 30:10). Hulle geestelikes het ingewillig deur ‘hulle ore te streel’ en het sodoende ’n gees van onverskilligheid en geestelike luiheid laat posvat.—2 Tim. 4:3.

4 Wat ’n teenstelling vorm dit tog met Jehovah se volk! Alles wat met ons aanbidding verband hou, verg moeite, inspanning en werk. Ons dade strook elke dag en in alles wat ons doen met wat ons glo. Hoewel die waarheid ons baie vreugde verskaf, behels dit “groot worsteling” as ons wil volbring wat dit vereis. (Vergelyk 1 Tessalonisense 2:2.) Net om die verantwoordelikhede van die daaglikse lewe na te kom, is genoeg om die meeste mense besig te hou. Maar ons laat nie toe dat hierdie bekommernisse ons daarvan weerhou om Koninkryksbelange eerste te stel nie.—Matt. 6:33.

5 Wat ons in Jehovah se diens gegee word om te doen, is so voordelig en dringend dat ons beweeg word om tyd van ander strewes ‘uit te koop’ en dit met groter vrug aan geestelike sake te bestee (Ef. 5:16). Die wete dat ons godvrugtige toegewydheid en gewillige gees Jehovah behaag, is die grootste aansporing om met ons harde werk voort te gaan. Met die ryk seëninge wat ons nou ontvang en die vooruitsig op die lewe in die toekoms is dit ons vaste voorneme om voort te gaan om ‘hard te werk en ons in te span’ ten behoewe van Koninkryksbelange.—1 Tim. 4:10.

6 Toegewydheid en die gees van selfopoffering: Vandag gee die meeste mense voorkeur aan materiële behoeftes en belange bo alle ander dinge. Hulle meen dat hulle die volste reg het om hulle aandag toe te spits op wat hulle gaan eet, drink of aantrek (Matt. 6:31). Hulle is nie met die noodsaaklikhede vergenoeg nie en word dus gemotiveer deur die doel om nou ’n lekker lewe ten volle te geniet en ‘talle goeie dinge te hê wat vir baie jare weggesit is, sodat hulle kan ontspan, eet, drink en vrolik wees’ (Luk. 12:19). Die tipiese kerkganger meen dat enige persoonlike inspanning wat deur sy godsdiens vereis word inbreuk maak op sy regte. Die gedagte daaraan om party materialistiese strewes prys te gee of selfs te beperk of om ’n genotvolle tydverdryf te laat vaar, is afstootlik. Aangesien sy denke om homself draai, is dit ondenkbaar en onprakties om ’n gees van selfopoffering aan te kweek.

7 Ons beskou hierdie saak uit ’n ander oogpunt. God se Woord het ons denke verhef sodat ons God se gedagtes dink en nie dié van mense nie (Jes. 55:8,9). Ons het doelwitte in die lewe wat van groter belang is as vleeslike strewes. Die regverdiging van Jehovah se soewereiniteit en die heiliging van sy naam is die belangrikste geskille in die ganse heelal. Hierdie geskille is so omvangryk dat al die nasies in vergelyking daarmee “voor Hom soos niks” is (Jes. 40:17). Enige poging om ons lewe op ’n manier te lei wat God se wil ignoreer, moet as dwaasheid beskou word.—1 Kor. 3:19.

8 Hoewel party materiële dinge dus nodig is en ander nuttig is om ons Koninkryksbedrywighede voort te sit, besef ons dat dit nie werklik “die belangriker dinge” is nie (Fil. 1:10). Ons weerspieël die gees van 1 Timoteus 6:8 deur ons strewe na materiële belange te beperk en ons hart wyslik te probeer rig op ‘die dinge wat nie gesien word nie, wat ewig is’.—2 Kor. 4:18.

9 Hoe meer ons God se gedagtes dink, hoe minder bekommer ons ons oor materiële dinge. Wanneer ons peins oor wat Jehovah reeds vir ons gedoen het en oor die wonderlike seëninge wat hy vir die toekoms beloof het, is ons bereid om enige opoffering te maak wat hy van ons vra (Mark. 10:29, 30). Ons is ons bestaan aan hom te danke. As dit nie vir sy barmhartigheid en liefde was nie, sou ons nie nou die lewe kon geniet nie en sou ons hoegenaamd geen toekoms hê nie. Ons voel verplig om van onsself te gee, want alles wat ons in sy diens doen, ‘is wat ons behoort te doen’ (Luk. 17:10). Enigiets wat ons gevra word om aan Jehovah terug te gee, staan ons blymoedig af, met die wete dat ons ‘oorvloedig sal maai’.—2 Kor. 9:6,7.

10 Gewillige werkers is nou nodig: Die Christengemeente het uit die staanspoor ’n tydperk van intense bedrywigheid betree. ’n Deeglike getuienis moes voor Jerusalem se vernietiging in 70G.J. gegee word. Gedurende daardie tyd was Jesus se dissipels ‘intensief met die woord besig’ (Hand. 18:5). Die vinnige uitbreiding het die opleiding van meer evangeliste en bekwame herders vereis en dat hulle hulp ingeroep word. Daar was ’n behoefte aan manne wat geweet het hoe om met die sekulêre owerheid te werk sowel as bekwame manne wat oor die insameling en uitdeling van materiële dinge toesig kon hou (Hand. 6:1-6; Ef. 4:11). Hoewel ’n paar kragtig gebruik is, het die meeste op die agtergrond gebly. Maar hulle almal het hulle ‘kragtig ingespan’ en heelhartig saamgewerk om die werk te volbring.—Luk. 13:24.

11 Hoewel daar gedurende die daaropvolgende eeue nie ’n groot behoefte aan intense bedrywigheid op ’n wêreldwye skaal was nie, het ’n groot herlewing van Koninkryksbedrywighede in 1914 begin toe Jesus sy Koninkryksmag ontvang het. Aanvanklik het min besef dat die behoefte aan werkers ten behoewe van Koninkryksbelange so groot sou word en dat die hulp van miljoene gewilliges in lande oor die hele wêreld nodig sou wees.

12 Die organisasie is vandag diep betrokke by ’n groot verskeidenheid projekte wat baie van ons middele verg. Koninkryksbedrywighede gaan op groot skaal voort. Die dringendheid van ons tye beweeg ons om ons in te span en om elke middel tot ons beskikking te gebruik om die werk te volbring wat gedoen moet word. Met die einde van die hele goddelose stelsel van dinge wat al hoe nader kom, verwag ons selfs intenser bedrywigheid in die dae wat voorlê. Daar word ’n beroep op elke toegewyde kneg van Jehovah gedoen om hom gewillig in die dringende insamelingswerk aan te bied.

13 Wat moet gedoen word? Ons kan waarlik sê dat daar ‘volop in die werk van die Here te doen’ is (1 Kor. 15:58). In baie gebiede is die oes ryp, maar die werkers is min. Ons word genooi om ons deel te doen deur nie net in ons eie gebied deegliker getuienis te lewer nie, maar ook deur dieuitdaging te aanvaar om te dien waar daar hulp nodigis.

14 Dit is prysenswaardig om te sien hoe Getuies in alle wêrelddele hulle gewillig vir ander bedrywighede aanbied. Dit kan enigiets insluit van vrywilligerwerk by die bou van plekke van aanbidding, diens by byeenkomste en hulp met noodleningspogings tydens rampe tot die gereelde skoonmaak van die plaaslike Koninkryksaal. Wat die laasgenoemde bedrywigheid betref, moet daar altyd seker gemaak word dat die Koninkryksaal ná elke vergadering in ’n skoon en netjiese toestand gelaat word. As ons takies verrig wat moontlik as onbeduidend beskou word, toon ons dat ons Jesus se woorde in Lukas 16:10 reg verstaan: “Hy wat in die geringste getrou is, is ook in baie getrou, en hy wat in die geringste onregverdig is, is ook in baie onregverdig.”

◼ Ondersteun gemeentelike bedrywighede: Hoewel elke gemeente as deel van die organisasie in sy geheel funksioneer en riglyne van “die getroue en verstandige slaaf” ontvang, bestaan dit uit individuele Koninkryksverkondigers (Matt. 24:45). Wat dit bereik, hang grootliks af van hoeveel elke Getuie bereid en in staat is om te doen. Die gemeente lê hulle daarop toe om die goeie nuus in hulle gebied te verkondig, nuwe dissipels te maak en hulle dan geestelik te versterk. Elkeen van ons kan ’n aandeel aan hierdie werk hê. Ons kan ook vir ons doelwitte stel met betrekking tot persoonlike studie, ’n betekenisvolle deelname aan die vergaderinge en om hulp te verleen aan ander in die gemeente wat dit nodig het. Hierdie bedrywighede bied ons talle goeie geleenthede om ons gewilligheid te toon.

◼ Neem die leiding as opsieners: Jehovah het die toesig oor elke gemeente aan die aangestelde ouer manne toevertrou (Hand. 20:28). Dit is manne wat daarna gestreef het om vir hierdie voorreg te kwalifiseer (1 Tim. 3:1). Feitlik elke broer in die gemeente het ’n mate van potensiaal om vir groter verantwoordelikhede te kwalifiseer. Baie broers ontwikkel geestelik en moet onder die leiding en met die liefdevolle hulp van die gemeentelike ouer manne aanhou groei. Hierdie manne moet ywerige studente van die Bybel en ons publikasies wees. Hulle kan hulle gewilligheid toon deur onderdanig te wees aan die geesaangestelde ouer manne, hulle geloof na te volg en die eienskappe aan te kweek wat van ’n opsiener vereis word.—Heb. 13:7,17.

◼ Betree die voltydse diens: Die gemeente se hoofdoel is om die goeie nuus te verkondig (Matt. 24:14). Wat ’n seën is dit tog as ywerige verkondigers hulle pogings verskerp deur die pionierdiens te betree! Dit behels gewoonlik dat hulle aanpassings in hulle persoonlike lewe moet maak. Bykomende aanpassings is dalk nodig sodat hulle met hierdie spesiale diensvoorreg kan voortgaan. Maar diegene wat hierdie voorreg koester in plaas daarvan om ná ’n jaar of wat tou op te gooi as gevolg van die een of ander tydelike ontmoediging sal ongetwyfeld Jehovah se ryk seën geniet. Liefdevolle ouer manne en ander ryp persone kan tot die sukses van die pioniers bydra deur hulle met woord en daad aan te moedig. Wat ’n goeie gees word tog deur jongmense aan die dag gelê wat direk nadat hulle die skool verlaat het die pionierdiens betree! Dieselfde kan van volwassenes gesê word wat die pionierdiens betree sodra hulle sekulêre verpligtinge minder word. Watter bevrediging verskaf dit tog nie ’n toegewyde Christen wanneer hy op hierdie manier in ooreenstemming met Jehovah se bespoediging van die insamelingswerk optree nie!—Jes. 60:22,NW.

◼ Help met die bou en instandhouding van vergaderplekke: Daar is letterlik al honderde moderne Koninkryksale sowel as baie Byeenkomssale gebou. Dit is merkwaardig dat feitlik al die werk deur ons broers en susters gedoen is wat hulle tyd en vaardighede gewillig aangebied het (1 Kron. 28:21). Duisende gewillige werkers hou hierdie fasiliteite in ’n goeie toestand deur enige nodige werk te doen (2 Kron. 34:8). Aangesien hierdie werk een aspek van heilige diens is, bied diegene wat hulle hulp verleen hulle gewillig aan en vra hulle nie om vir hulle diens vergoed te word nie, net so min as wat hulle sal vra om betaal te word om van huis tot huis te preek, openbare toesprake in die gemeente te hou of met kring- of streekbyeenkomswerk te help. Hierdie vrywilligers bied hulle dienste vryelik aan om plekke van aanbidding tot eer van Jehovah te beplan en te bou. Hulle help ywerig met dinge soos die voltooiing van wetlike dokumente, boekhouding, om kontakpersone vir aankope te vind en die berekening van die hoeveelheid materiaal wat benodig word. Hierdie getroue knegte van Jehovah voeg nie die een of ander soort bykomende koste by of probeer nie op enige wyse, direk of indirek, op materiële gebied wins maak uit dienste wat hulle lewer nie, aangesien al hulle talente en middele aan Jehovah gewy is. (Sien Ons Koninkryksbediening vir Februarie 1992, bladsy 3, paragraaf 10.) Hierdie bedrywigheid vereis ywerige werkers wat hulle dienste “met [hulle] hele siel soos vir Jehovah” verrig.—Kol. 3:23.

15 Wat maak dus die gewilligheid van Jehovah se volk uniek? Dit is die gees van mededeelsaamheid. Hulle vrygewige mededeelsaamheid behels meer as geld of materiële dinge—hulle ‘bied hulle gewillig aan’ (Ps. 110:3, NW). Dit is die kern van ons toewyding aan Jehovah. Ons word op ’n spesiale manier beloon. Ons ervaar “groter geluk” en ons ‘maai oorvloedig’ omdat ander waardeer wat ons doen en op hulle beurt aan ons gee (Hand. 20:35; 2 Kor. 9:6; Luk. 6:38). Ons grootste Weldoener is ons hemelse Vader, Jehovah, wat ‘’n blymoedige gewer liefhet’ (2 Kor. 9:7). Hy sal ons honderdvoudig met ewige seëninge vergoed (Mal. 3:10; Rom. 6:23). Sal jy jou dus, wanneer jy voorregte in Jehovah se diens kan geniet, jou gewillig aanbied en soos Jesaja antwoord: “Hier is ek, stuur my”?—Jes. 6:8.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel