Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • km 10/96 bl. 3-10
  • “Boodskappers van Goddelike Vrede”-streekbyeenkoms vir 1996

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • “Boodskappers van Goddelike Vrede”-streekbyeenkoms vir 1996
  • Ons Koninkryksbediening—1996
  • Soortgelyke materiaal
  • “Geloof in God se Woord”- streekbyeenkoms vir 1997
    Ons Koninkryksbediening—1997
  • “Vreugdevolle Lowers”-Streekbyeenkoms vir 1995
    Ons Koninkryksbediening—1995
  • Die “God se weg”-internasionale en streekbyeenkomste vir 1998
    Ons Koninkryksbediening—1998
  • Die “Godvrugtige Vrees”-Streekbyeenkoms vir 1994
    Ons Koninkryksbediening—1994
Sien nog
Ons Koninkryksbediening—1996
km 10/96 bl. 3-10

“Boodskappers van Goddelike Vrede”-streekbyeenkoms vir 1996

1 Die streekbyeenkomsprogram vir hierdie jaar sal ons beslis help om ons Goddelike vrede te handhaaf, en dit sal verduidelik watter rol ons speel om ander te help om sulke vrede te vind. Soos in Die Wagtoring van 1 Mei 1996 aangekondig is, is die tema “Boodskappers van Goddelike Vrede”. Het jy al planne gemaak sodat jy die hele program kan bywoon?

2 ’n Driedaagse program: Ons weet dat jy die byeenkoms hierdie jaar terdeë gaan geniet en huis toe sal gaan met hernieude ywer (2 Kron. 7:10). Ons sal vanjaar weer ’n driedaagse program hê. Het jy al reëlings getref om verlof van jou sekulêre werk te kry sodat jy die hele byeenkoms teenwoordig kan wees?

3 In hierdie byvoegsel verskyn ’n lys met die finale datums en liggings van die 45 streekbyeenkomste in die gebied van die Suid-Afrikaanse takkantoor. Teen dié tyd het die sekretaris van julle gemeente julle al in kennis gestel van die een waarheen julle toegewys is. Buiten Engels sal daar byeenkomste in Afrikaans, Kwanyama, Portugees, Sepedi, Suid-Sotho, Tsonga, Tswana, Venda, Xhosa en Zulu wees. Daar sal Vingertaal by twee byeenkomste wees.

4 Die program sal al drie dae om 9:30 vm. begin en sal Sondag omstreeks 4:00 nm. ten einde loop. Sal ons vriendelikheid teenoor ons ouer en sieklike broers betoon deur die sitplekke oop te los in gebiede wat geriefliker en gemakliker is? Onthou dat ‘liefde nie sy eie belang soek nie’.—1 Kor. 13:4, 5; Fil. 2:4.

5 Sal jy geslyp word? Nadat Die Wagtoring van 15 Augustus 1993 Spreuke 27:17, “Yster slyp yster”, aangehaal het, het dit gesê: “Ons is soos instrumente wat gereeld geslyp moet word. Aangesien ons anders as die wêreld is omdat ons ons liefde teenoor Jehovah betoon en besluite neem wat op ons geloof gegrond is, moet ons voortdurend anders as die meeste ander mense optree.” Hoe kan ons daardie raad toepas?

6 Ons is en moet anders as die wêreld bly. Die volgehoue inspanning wat nodig is om dit te bereik, moet gehandhaaf word as ons ywerig vir voortreflike werke wil wees (Tit. 2:14). Dit is waarom die Wagtoring-artikel wat hierbo aangehaal is, verder gesê het: “Wanneer ons omgaan met ander wat Jehovah liefhet, slyp ons mekaar—ons spoor mekaar tot liefde en goeie werke aan.” Die streekbyeenkoms is een van die voorsienings van Jehovah om ons te help om geestelik geslyp te bly. Ons kan dit nie bekostig om weg te bly van enige deel van die program nie.

7 ’n Wyse persoon sal luister: Om te luister, is ’n kuns wat aangeleer moet word. Daar is al gesê dat die gemiddelde mens net sowat die helfte onthou van wat hy gehoor het—ongeag hoe noukeurig hy meen hy geluister het. Aangesien ons in ’n tyd lewe waarin daar baie afleidings is, kan ons dit soms moeilik vind om vir lang tye te konsentreer. Kan ons probeer om ons konsentrasievermoë te verbeter, veral wanneer ons in ’n groot gehoor na ’n spreker sit en luister? Sal jy, indien jy gevra sou word om ’n opsomming van elke dag se program te gee wanneer jy ná die byeenkoms tuiskom, dit kan doen? Hoe kan ons almal ons vermoë verbeter om te luister en volle aandag skenk aan elke deel wat op die byeenkomsprogram aangebied word?

8 Lewendige belangstelling is nodig, want die goddelike gawe van geheue kan daarsonder nie behoorlik werk nie. Hoe meer belangstelling iemand byvoorbeeld in ’n onderwerp toon, hoe makliker is dit om die hoofgedagtes van ’n toespraak of programdeel te onthou. Maar baie hang daarvan af of ons meer as die gewone aandag skenk aan die dinge wat ons bevoorreg is om by streekbyeenkomste te hoor. Ons lewendige belangstelling in elke deel van die streekbyeenkomsprogram en die aandag waarmee ons luister, hou verband met ons huidige geestelike toestand sowel as ons toekomstige vooruitsigte. By byeenkomste word ons Jehovah se weë geleer en word ons onderrig om ’n lewensreddende werk te doen (1 Tim. 4:16). Dink aan jouself as ’n skip in ’n onstuimige see. Die beloftes van Jehovah is die vaste anker van hoop. As iemand nie by Christelike vergaderinge aandag skenk nie en sy gedagtes toelaat om te dwaal, kan belangrike raad en onderrigting wat kan voorkom dat hy geestelik skipbreuk ly verlore gaan.—Heb. 2:1; 6:19.

9 In baie wêrelddele doen ons broers groot moeite om vergaderinge by te woon. Dit is wonderlik om te sien hoe aandagtig hulle by byeenkomste luister. Maar op party plekke het individue ander gesteur deur gedurende sessies op die byeenkomsterrein rond te drentel. Ander kom laat in. In die verlede was dit by party byeenkomste moeilik om die eerste paar minute van die program te hoor omdat soveel in die gange en agter die sitplekke geloop het. Dit is gewoonlik nie broers met werkstoewysings of moeders wat na die behoeftes van hulle kindertjies omsien nie. Baie van die steurnis kom van mense wat net gesels. Hierdie jaar sal die Saalwagtersafdeling meer aandag aan die probleem skenk, en hopelik sal almal in hulle sitplekke wees wanneer die voorsitter ons vra om dit te doen. Jou samewerking in hierdie verband sal hoog op prys gestel word.

10 Watter praktiese wenke sal ons help om met groter aandag na die byeenkomsprogram te luister en om meer te onthou van wat aangebied is? Wat in vorige jare gesê is, kan gerus herhaal word: (a) Spits jou aandag toe op die hoofrede waarom jy na die byeenkomsstad gaan. Dit is nie vir ontspanning nie, maar om te luister en te leer (Deut. 31:12). Probeer om elke nag genoeg rus te kry. As jy baie moeg is wanneer jy na die byeenkoms kom, sal dit moeilik wees om te konsentreer. (b) Laat genoeg tyd toe om jou motor te parkeer en ’n sitplek te kry voor die program begin. As ’n mens op die nippertjie moet skarrel om ’n sitplek te kry, lei dit gewoonlik daartoe dat jy ’n deel van die inleidende kommentare nie hoor nie. (c) Maak kort aantekeninge van sleutelgedagtes. As ’n mens te veel aantekeninge maak, kan dit jou luistervermoë belemmer. Terwyl jy skryf, moet jy seker maak dat ander gedagtes nie verlore gaan omdat jou aandag by jou aantekeninge bepaal is nie. (d) Wees vol afwagting wanneer ’n byeenkomsdeel aangekondig word. Vra jou af: ‘Wat kan ek uit hierdie deel leer wat my waardering en liefde vir Jehovah sal vergroot? Hoe kan die inligting my help om die nuwe persoonlikheid in groter mate aan die dag te lê? Hoe sal dit my help om my bediening te verbeter?’

11 Gedrag wat ons bediening versier: Paulus het Titus aangemoedig om hom “’n voorbeeld van voortreflike werke” te betoon. Deur onbedorwenheid in sy onderrigting te toon, sou Titus ander help om ‘die leer van ons Redder, God, in alles te versier’ (Tit. 2:7, 10). Elke jaar word ons vriendelik herinner aan waarom Goddelike gedrag so belangrik is terwyl ons na en van die byeenkoms reis, asook wanneer ons by hotelle en restaurante en by die byeenkoms self is. Ons het verlede jaar weer ’n paar hartverblydende opmerkings gehoor waarvan ons julle graag wil vertel.

12 ’n Hotelbestuurder het gesê: “Dit is altyd ’n plesier om die Getuies te huisves, want hulle is geduldig, gee hulle samewerking en hulle hou ’n goeie ogie oor hulle kinders.” Een hotelontvangsklerk het gesê dat dit sy werk “baie vergemaklik wanneer die Getuies by die hotel aankom of daarvandaan vertrek, want al moet hulle in ’n tou staan, is hulle altyd beleef, geduldig en simpatiek”. ’n Vrou was so beïndruk deur die gedrag van die Getuiejongmense wat by dieselfde motel gebly het dat sy lektuur oor ons organisasie aangevra het.

13 Op party gebiede is daar egter ruimte vir verbetering. Ons wil graag vir julle ’n paar waarnemings meld wat na die Genootskap gestuur is. Een reisende opsiener het gesê dat die kinders van Jehovah se Getuies meer toesig by hotelle nodig het. Daar is gesien hoe party in die gange rondhardloop, op en af in die huisbakke ry, baie geraas om die swembad maak en lank ná sluitingstyd in die swembad bly, wat gevolglik die slaap van ander gaste versteur het. Ons moet ons kinders leer verstaan dat Christelike gedrag nie net tot sekere tye beperk is nie. Dit hou nie op wanneer ons by die byeenkomsterrein uitloop nie. Dit moet dag en nag gehandhaaf word. Ons gedrag by die hotel, in restaurante en op straat moet net so eerbaar wees soos wanneer ons gedurende die sessies by ons broers sit om deur Jehovah geleer te word.—Jes. 54:13; 1 Pet. 2:12.

14 Ons wil julle graag ook vriendelik herinner aan die gee van fooitjies. Kelners, kelnerinne, hotelbediendes en hoteljoggies asook ander met ’n soortgelyke betrekking is soms van fooitjies afhanklik om ’n bestaan te maak.—Sien die Ontwaak! van 22 Junie 1986, bladsye 24-7.

15 Hoewel ons nie meer voedselverskaffing by ons byeenkomste het nie, is daar steeds aansienlike onkostes verbonde aan die huur van die fasiliteit, die voorsiening van parkering en ander sake. Ons vrywillige bydraes dek hierdie onkostes. Een suster met tienderjarige kinders het met beperkte fondse na die byeenkoms gekom. Sy en die kinders het egter steeds met ’n klein bydrae gehelp. Wat elkeen besluit om in hierdie verband te doen, is ’n persoonlike saak, maar ons weet julle waardeer sulke herinneringe.—Hand. 20:35; 2 Kor. 9:7.

16 Herken aan die manier waarop ons aantrek: Die manier waarop ons aantrek, sê baie oor ons en hoe ons oor ander voel. Die meeste tieners en baie volwassenes word in die skool en by die werk omring deur klerestyle wat na die jongste modegier is of wat slordig is. Elke jaar bereik klerestyle nuwe uiterstes, waarvan party selfs skokkend is. As ons nie versigtig is nie, kan ons maklik deur wêreldse portuurs beïnvloed word om soos hulle aan te trek. Baie style is nie gepas om by vergaderinge vir aanbidding te dra nie. ’n Nota wat ná een van verlede jaar se byeenkomste ontvang is, het waardering uitgespreek vir die program, maar bygevoeg: “Ek wonder net waarom daar soveel jong meisies met kort rokkies, bloese met lae halse en [rompe met] hoë splete was.” Ons almal wil sekerlik by die byeenkoms asook terwyl ons ná die program gesellig verkeer op ’n manier aangetrek wees wat by ’n Christenbedienaar pas. Ons sal goed doen as ons te alle tye die apostel Paulus se raad vir Christene in gedagte hou om met “goed versorgde kleredrag . . ., met beskeidenheid en gesonde verstand” versier te wees.—1 Tim. 2:9.

17 Wie bepaal wat beskeie, “goed versorgde” kleredrag is? Om beskeie te wees, beteken om “nie uitspattig of opvallend” te wees nie. Die woordeboek definieer beskeie ook as “sonder aanmatiging”. Nie die Genootskap of die ouer manne kan reëls neerlê wat betref kleredrag of persoonsversorging nie. Maar selfs al is dit die geval, behóórt dit vir ’n Christen duidelik te wees watter klerestyle eenvoudig onbeskeie of onbehoorlik is. (Vergelyk Filippense 1:10.) Ons persoonsversorging en klere moet nie onnodige aandag trek nie. Ons moet goed aangetrek wees, nie wêrelds of aanstootlik nie. As bedienaars van die goeie nuus eer ons Jehovah en stel ons die organisasie in ’n goeie lig as ons gepas aangetrek en versorg is terwyl ons in die byeenkomsstad is. Ouers sal gevolglik die voorbeeld stel en dan seker maak dat hulle kinders gepas vir die geleentheid aantrek. Ouer manne moet ’n goeie voorbeeld stel en gereed wees om vriendelike raad te gee as dit nodig is.

18 Hotelle: Ons het vroeër hotelpersoneel aangehaal wat gesê het dat hulle beïndruk is deur die broers se geduld, beleefdheid en samewerking. Ons wil aanhou om hierdie Christelike eienskappe aan die dag te lê as ons in ’n ry moet staan om by die hotel in te teken. Ons waardeer die hotelle wat met die Huisvestingsafdeling saamgewerk het om kamers teen ’n bekostigbare tarief te voorsien. Hoewel ons dalk moeg is weens die reis, moet ons onthou om hotelpersoneel vriendelik te behandel. As ons dit doen, kan dit daartoe lei dat party nadere ondersoek instel na die waarheid. Daarbenewens moet geen kos in hotelkamers gaargemaak word nie behalwe as hulle ’n kombuis daarvoor het.

19 Kameras, videokameras en bandopnemers: Dit is toelaatbaar om kameras en ander opneemapparaat te gebruik, solank ons bedagsaam is teenoor die ander in die gehoor. As ons rondbeweeg en foto’s gedurende sessies neem, sal ons nie net ander wat probeer luister se aandag aftrek nie, maar ons sal self ook ’n deel van die program verloor. Ons trek gewoonlik meer voordeel uit die byeenkoms as ons aandagtig na die sprekers luister en kort aantekeninge maak. Ons neem dalk iets vir ’n broer of suster op wat aan die huis gekluister is; maar as ons baie ure van die program vir ons eie gebruik opneem, kan ons vind dat ons nie die tyd het om baie van wat ons opgeneem het te hersien wanneer ons weer by die huis is nie. Geen opneemapparate mag aan die elektriese of klankstelsels gekoppel word nie, en toerusting moet ook nie gange of loopareas of ander se uitsig versper nie.

20 Sitplekke: Ons merk steeds ’n verbetering op wat die hou van sitplekke betref. Verlede jaar het die meeste van julle die riglyne gevolg: SITPLEKKE MAG SLEGS GEHOU WORD VIR JOU EIE GESIN EN ENIGIEMAND WAT SAAM MET JOU IN JOU MOTOR RY. Julle het waarskynlik gevind dat dit minder spanningsvol was omdat baie hierdie duidelike riglyne gevolg het. Selfs belangriker, julle gehoorsaamheid het Jehovah behaag asook die ‘getroue slaaf’, wat die geestelike voedsel voorsien.—Matt. 24:45.

21 Daar is ’n toenemende getal van ons broers wat spesiale gesondheidsbehoeftes het. Party kom na die byeenkoms toe in rolstoele en moet deur gesinslede versorg word. Ander gebruik verskeie geneesmiddels vir chroniese kwale soos hartprobleme of siekteaanvalle. Dit verbly werklik ons hart om hierdie dierbare broers en susters by die byeenkoms te sien, vasbeslote om al die geestelike voedsel in te neem. Maar by tye was daar die probleem dat party mense gedurende die byeenkoms siek geword het, terwyl daar geen gesins- of gemeentelede was om te help nie. In party gevalle moes die byeenkomsadministrasie ’n noodambulansdiens inroep om ’n broer of suster na die hospitaal te neem. Die verantwoordelikheid om na diegene om te sien wat chronies siek is, behoort vernaamlik op gesinslede en naasbestaandes te rus. Die Eerstehulpafdeling by die byeenkoms is nie in staat om vir diegene te sorg wat chronies siek is nie. Indien ’n lid van jou gesin spesiale sorg nodig het, moet jy asseblief seker maak dat hy, in geval van nood, nie alleen gelaat word nie. Daarbenewens sal daar geen reëlings by die byeenkomste wees vir spesiale kamers vir diegene met allergieë wat verhinder dat hulle by die res van die gehoor kan sit nie. Ouer manne sal gereed wil wees om enige in hulle gemeente te help wat spesiale gesondheidsbehoeftes het en seker maak dat reëlings voor die tyd getref word om na hulle om te sien.

22 Voedselbehoeftes vir die byeenkoms: Talle positiewe opmerkings is gemaak aangaande die voordele daarvan om ons eie kos te bring. Een broer het geskryf: “Ek kan duidelik die groot geestelike voordele hiervan sien. Al daardie tyd en energie kan nou vir geestelike sake gebruik word. Ek het nie een negatiewe opmerking gehoor nie.” ’n Suster het geskryf: “Deur julle voorbeeld spoor julle liewe broers ons as individuele Christene aan om selfondersoek te doen en maniere te soek om ons lewe te vereenvoudig en ons teokratiese bedrywigheid te vermeerder.” ’n Reisende opsiener het aangaande die vorige voedselverskaffingsdiens geskryf: “Die ou reëling het daartoe gelei dat ’n groot aantal broers niks van die byeenkomsprogram gehoor het nie.” Aangaande die kos wat die broers gebring het, het een ouer man geskryf: “Hulle het presies gehad wat hulle wou hê, en hulle het nie nodig gehad om daarvoor in ’n ry te staan nie.” Ten slotte het ’n ander suster geskryf: “Ná die sessie was dit rustig en stil, en daar was ’n opgeruimdheid in die lug.” Ja, elkeen kon genoeg bring om hom krag te gee vir die middag. Baie het kommentaar gelewer oor die feit dat hulle meer tyd gehad het om met vriende te gesels.

23 Daar sal hierdie jaar weer geen voedselverskaffingsdiens wees nie. Jy kan ’n paar minute gebruik om die byvoegsel tot Ons Koninkryksbediening vir Oktober 1995, paragraaf 26, te hersien vir wenke oor praktiese, voedsame kossoorte wat na die byeenkoms gebring kan word. Wanneer jy vleisprodukte na die byeenkoms bring, moet jy asseblief in gedagte hou dat dit in die warm weer geneig is om te bederf, behalwe as jy iets het waarin jy dit koel kan hou. Geen glashouers of alkoholiese drank mag in die byeenkomsterrein ingebring word nie. As klein koelhouers nodig is, moet hulle onder jou sitplek pas. Onthou dat daar genoeg tyd gedurende die middagpouse is om wat jy gebring het te eet en te drink. Net soos gedurende vergaderinge by ons Koninkryksaal eet ons nooit gedurende byeenkomssessies nie. Sodoende toon ons respek vir die reëling vir aanbidding en die geestelike voedsel wat voorsien word.

24 Die eerste “Boodskappers van Goddelike Vrede”-Streekbyeenkoms gaan binnekort begin. Het jy al jou voorbereidsels afgehandel om dit by te woon, en is jy nou gereed om drie dae van gelukkige omgang en geestelike goeie dinge te geniet? Dit is ons opregte bede dat Jehovah jou pogings sal seën om hierdie somer se byeenkoms by te woon.

[Venster op bladsy 10]

Herinneringe in verband met die streekbyeenkoms

Doop: Doopkandidate Moet Hulle Sitplekke In Die Aangewese Gedeelte Inneem Vóór Die Program Saterdagoggend Begin. Daar Is Opgemerk Dat Sommige Klere Dra Wat Nie Smaakvol Is Nie En Aan Die Geleentheid Afbreuk Doen. Elkeen Wat Beplan Om Hom Te Laat Doop, Moet ’n Beskeie Baaikostuum En ’n Handdoek Saambring. Gemeentelike Ouer Manne Wat Die Vrae In Die Ons Bediening-boek Met Doopkandidate Bespreek, Moet Seker Maak Dat Elkeen Hierdie Punte Verstaan. Ná Die Dooptoespraak En Gebed Deur Die Spreker Sal Die Sessievoorsitter Kortliks Instruksies Aan Die Doopkandidate Gee En Dan Die Lied Aankondig. Ná Die Laaste Vers Gesing Is, Sal Die Saalwagters Die Doopkandidate Na Die Doopplek Lei. Aangesien Doop As ’n Simbool Van ’n Mens Se Toewyding ’n Intieme En Persoonlike Saak Tussen Die Individu En Jehovah Is, Is Daar Geen Voorsiening Vir Sogenaamde Gesamentlike Doop Waartydens Twee Of Meer Doopkandidate Mekaar Omhels Of Hande Vashou Terwyl Hulle Gedoop Word Nie.

Lapelkaarte: Dra asseblief die lapelkaart vir 1996 by die byeenkoms en terwyl julle na en van die byeenkomsterrein reis. Dit bied ons dikwels die geleentheid om ’n goeie getuienis te gee terwyl ons reis. Julle moet die lapelkaarte en -houers deur julle gemeente kry. Bestel asseblief vroegtydig, aangesien dit nie by die byeenkoms beskikbaar sal wees nie. Moenie wag tot ’n paar dae voor die byeenkoms voor jy vir kaartjies vir jou en jou gesin vra nie. Onthou om julle nuwe “Advance Medical Directive/Release”-kaart by julle te hê.

Huisvesting: Ons vra die samewerking van almal wat die huisvesting gebruik wat deur die byeenkoms voorsien word. Gemeentelike sekretarisse moet seker maak dat Kameraansoekvorms onmiddellik na die betrokke byeenkomsadres gestuur word. As jy huisvesting moet kanselleer wat deur die Huisvestingsafdeling gereël is, moet jy die eienaar of hotel en die byeenkoms se Huisvestingsafdeling onmiddellik daarvan in kennis stel sodat die kamer weer beskikbaar gestel kan word.

Liedere: Aangesien sang ’n deel van ons aanbidding is, moedig ons almal aan om die volgende liedere te oefen wat ’n deel van die program sal wees: 159, 59, 26, 211, 215, 174, 123, 16, 207, 111, 42, 38, 127, 170, 8, 187, 15 en 212. Ons stel voor dat gemeentes ten minste een lied ná elke vergadering oefen.

Kinderwaentjies: Die Brandweer stel voor dat dit nie in ’n ouditorium ingeneem word en in deurgange en paadjies of tussen rye sitplekke geplaas word nie. Aangesien groot skares samedromming kan veroorsaak, is kinderwaentjies potensieel gevaarlik, nie net vir die baba nie, maar ook vir enigiemand wat daaroor kan struikel. Moet dit dus asseblief nie in die ouditorium inbring nie. Babastoeltjies of reisstoeltjies is egter toelaatbaar, aangesien dit aan stoele langs die ouers vasgemaak kan word. Julle samewerking word op prys gestel.

Vrywilligerdiens: Omdat daar nie meer ’n voedselverskaffingsdiens is nie, sal baie wat voorheen in daardie afdeling gewerk het dalk nou vind dat hulle hulle vir werk elders beskikbaar kan stel. Kan jy tyd by die byeenkoms inruim om in een van die afdelings te help? Om ons broers selfs net ’n paar uur te dien, kan baie nuttig wees en ’n mens groot bevrediging verskaf. As jy kan help, moet jy jou asseblief by die byeenkoms se Vrywilligerafdeling aanmeld. Kinders onder 16 kan ook ’n goeie bydrae lewer deur saam met ’n ouer of ’n ander verantwoordelike volwassene te werk.

’n Woordjie van waarskuwing: Ons kan onnodige probleme vermy as ons op potensiële probleme bedag is. Mense wat weg van hulle tuiste af is, word dikwels die prooi van diewe en ander gewetenlose mense. Maak seker dat jou motor te alle tye gesluit is, en moet nooit enigiets oop en bloot in jou motor laat sodat iemand in die versoeking kom om in te breek nie. Diewe en sakkerollers word deur groot byeenkomste gelok. Dit sal onverstandig wees om enige waardevolle artikels by jou sitplek te laat. Jy kan nie seker wees dat almal om jou Christene is nie. Waarom iemand in die versoeking lei? Daar was al berigte dat buitestanders kinders probeer weglok het. HOU JULLE KINDERS TE ALLE TYE IN DIE OOG.

Onsedelike, pornografiese rolprente word dikwels op televisie en videodienste in baie hotelle vertoon. Wees op jou hoede vir hierdie strik, en moenie toelaat dat kinders die televisie in die kamer sonder toesig gebruik nie.

Moet asseblief nie die bestuur van die byeenkomsouditorium skakel vir inligting oor byeenkomssake nie. As die ouer manne nie die inligting het nie, moet jy na die adres van ’n spesifieke byeenkoms skryf, wat jy by die gemeentelike sekretaris kan kry.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel