Vergaderinge spoor ons tot voortreflike werke aan
1 Die bywoning van gemeentelike vergaderinge en deelname aan velddiens is twee onontbeerlike aspekte van ons aanbidding. Hierdie twee dinge gaan hand aan hand met mekaar. Die een beïnvloed die ander. Christelike vergaderinge spoor ons aan tot voortreflike werke, waarvan die Koninkrykspredikings- en dissipelmaakwerk die voortreflikste is (Heb. 10:24). As ons sou ophou om vergaderinge by te woon, sal ons dalk kort voor lank met die predikingswerk ophou, want ons sal nie aangespoor word om dit te doen nie.
2 By weeklikse vergaderinge ontvang ons geestelike onderrigting wat bedoel is om ons te beweeg om te getuig. Ons word voortdurend aan die dringendheid van die tye herinner, wat ons beweeg om die Bybel se lewegewende boodskap na ander te neem. Ons word aangemoedig en versterk sodat ons in die predikingswerk kan volhard (Matt. 24:13, 14). Deur geleenthede te benut om by die vergaderinge te antwoord, raak ons meer gewoond daaraan om voor ander aan ons geloof uiting te gee (Heb. 10:23). As ons by die Teokratiese Bedieningskool aansluit, word ons opgelei om bekwamer bedienaars te wees en ons onderrigtingsvermoë te verbeter.—2 Tim. 4:2.
3 Hoe Diensvergaderinge ons aanspoor om te getuig: Ons word almal aangemoedig om voor die tyd die materiaal in Ons Koninkryksbediening deur te gaan. Hierdie inligting word dan in ons verstand ingeprent wanneer ons die Diensvergadering bywoon en sien hoe aanbiedinge op die verhoog gedemonstreer word. Wanneer ons velddiens doen, kan ons terugdink aan Ons Koninkryksbediening, die aanbiedinge onthou wat gedemonstreer is en sodoende ’n doeltreffender getuienis gee. Baie verkondigers het dit al ondervind.
4 Na aanleiding van die Diensvergadering tref party reëlings om saam met ander aan die bediening deel te neem. Velddienspunte is vars in die verkondigers se geheue, en hulle is gretig om dit toe te pas omdat hierdie vergaderinge hulle aangemoedig het om elke week aan die predikingswerk deel te neem.
5 Daar is geen plaasvervanger vir ons Christelike vergaderinge nie, waar ons met medeaanbidders byeenkom en tot voortreflike werke aangespoor word. As ons wil hê dat ons bediening moet floreer, moet ons die gemeentelike vergaderinge gereeld bywoon. Laat ons waardering toon vir hierdie wonderlike voorsiening van Jehovah deur ‘nie ons onderlinge vergadering na te laat nie’.—Heb. 10:25.