Jehovah se Getuies—ware evangeliste
1 Jesus Christus het die verantwoordelikheid om die evangelisasiewerk te doen op al sy dissipels geplaas en hulle spesifiek beveel om die goeie nuus van die Koninkryk te verkondig (Matt. 24:14; Hand. 10:42). Sy vroeë dissipels het die voorbeeld hierin gestel terwyl hulle sonder ophou oor die Koninkryk gepraat het—nie net by plekke van aanbidding nie, maar waar hulle ook al mense in die openbaar en van huis tot huis teëgekom het (Hand. 5:42; 20:20). As hedendaagse Getuies van Jehovah het ons bewys dat ons ware Christenevangeliste is deur die Koninkryksboodskap in 232 lande te verkondig en in die afgelope drie jaar alleen meer as ’n miljoen nuwe dissipels te doop! Waarom is ons evangelisasiewerk so suksesvol?
2 Goeie nuus verheug ons: Evangeliste is predikers, of boodskappers, van goeie nuus. As sodanig het ons die opwindende voorreg om Jehovah se Koninkryk bekend te maak—die enigste ware goeie nuus wat aan die geteisterde mensdom gebied kan word. Ons is geesdriftig oor die voorkennis wat ons verkry het van ’n nuwe hemele wat op regverdige wyse gaan heers oor ’n nuwe aarde wat in die toekomstige Paradys uit getroue mense sal bestaan (2 Pet. 3:13, 17). Ons is die enigstes wat hierdie hoop aangeneem het en ons wil dit graag aan ander bekend maak.
3 Ware liefde motiveer ons: Die evangelisasiewerk is ’n lewensreddende werk (Rom. 1:16). Dit is waarom ons groot vreugde smaak in die verspreiding van die Koninkryksboodskap. As ware evangeliste het ons mense lief, en dit beweeg ons om die goeie nuus aan hulle te verkondig—aan ons familie, bure, kennisse en soveel ander as moontlik. Heelhartige deelname aan hierdie werk is een van die voortreflikste blyke van ons ware liefde vir ander.—1 Tess. 2:8.
4 God se gees steun ons: As ons ons werk doen deur Koninkryksaad te plant en nat te gooi, verseker God se Woord ons dat dit Jehovah is wat “dit laat groei”. Dit is presies wat ons vandag in ons organisasie sien gebeur (1 Kor. 3:5-7). Dit is God se gees wat ons in ons evangelisasiewerk steun en ons groot welslae laat behaal.—Joël 2:28, 29.
5 Mag ons, in die lig van die aanmoediging in 2 Timoteus 4:5 om “die werk van ’n evangelis” te doen en weens ons liefde vir alle mense, beweeg word om die opwindende Koninkryksboodskap by elke geleentheid aan ander te verkondig—vol vertroue dat Jehovah sal aanhou om ons werk te seën.