Teokratiese nuus
Suid-Afrika: Ons is bly om julle mee te deel dat nog agt Koninkryksale gedurende November toegewy is: Jericho (Brits), Lower Xongora (Umtata), Mantšebo, Masoeling, Mohaleshoek (Lesotho), Newlands (Durban), Rusthof (Strand) en Qutubeni. Rusthof is die eerste snelbou-koninkryksaal in die Kaapstad-omgewing, en daarom het meer as 100 vrywilligers wat onder die Witwatersrand-streekboukomitee werk op hulle eie onkoste daarheen gereis om die broers te help. Hulle selfopofferende gees is beslis prysenswaardig en word baie waardeer.
LET WEL: Daar is ’n groot behoefte aan meer Koninkryksale in die plattelandse gebiede van Suid-Afrika, asook in Botswana, Lesotho, Swaziland en die voormalige Transkei. Ons doen dus ’n beroep op almal wat die een of ander bouvaardigheid het en wat bereid is om te help om asseblief so gou moontlik met die Genootskap in aanraking te kom. Die rede hiervoor is dat die Genootskap beplan om in Mei 1998 ’n vergadering te hou met al die Streekboukomitees om ’n nuwe laekoste-boumetode te bespreek. As jy bereid is om te bou waar daar Koninkryksale nodig is, sal jy ook genooi word om hierdie vergadering by te woon. Dit is die Genootskap se doelwit om die broers te help om die uitdaging van Koninkryksaalkonstruksie die hoof te bied, want die Bestuursliggaam wil hê dat elke gemeente binnekort hulle eie Koninkryksaal moet hê. Oorweeg dus asseblief die versoek hierbo biddend.