Die wêreldwye herdenking van Christus se dood
1 Jehovah gee vir ons so baie gawes. Al sy goedheid en liefderyke goedhartigheid word tereg beskryf as “sy onbeskryflike vrye gawe”. Ja, die “onverdiende goedhartigheid van God” is so wonderlik dat ons dit nie kan beskryf nie.—2 Kor. 9:14, 15.
2 Sy grootste gawe: Jesus Christus, as die mensdom se Verlosser, is die grootste van alle gawes. As ’n blyk van sy groot liefde vir die mensewêreld het Jehovah sy geliefde en enigverwekte Seun gegee (Joh. 3:16). So ’n onverdiende seën van God verdien om wêreldwyd herdenk te word. Wanneer en hoe? Op Donderdagaand, 1 April 1999, sal Christene regoor die wêreld die Here se Aandmaal, of die herdenking van die allergrootste offerande, vier.—1 Kor. 11:20, 23-26.
3 Christus het vir ons gesterf “terwyl ons nog sondaars was”, en ons kan ons persoonlike waardering toon deur die herdenking van sy dood te vier en ander te nooi om hierdie allerbelangrikste geleentheid saam met ons by te woon.—Rom. 5:8.
4 Die heel belangrikste gebeurtenis: Die herdenking van Christus se dood beklemtoon hoofsaaklik dat hy God se soewereiniteit onberispelik verdedig het. Dit herinner ons ook daaraan dat ons ’n rein posisie voor Jehovah kan geniet deur geloof in Jesus se offerande te beoefen en sodoende verseker kan wees van redding (Hand. 4:12). Dit is waarlik die heel belangrikste gebeurtenis van die jaar!
5 Ons toon liefde vir ons naaste as ons hulle nooi om die Here se Aandmaal saam met ons te vier. Die voordele van die losprys bly beskikbaar vir miljoene wat die oortreffende waarde daarvan leer (Fil. 3:8). Diegene wat geloof in Christus se offerande beoefen, kan ’n vaste hoop op die ewige lewe verkry.—Joh. 17:3.
6 Die Gedenkmaalseisoen bied ons spesiale geleenthede om waardering te toon vir die allesoortreffende onverdiende goedhartigheid van God. Dit is ’n uitstekende tyd om ywerig aan die verkondiging van die goeie nuus van God se Koninkryk deel te neem. Groot voordele wag op almal wat biddend oor Jehovah se onbeskryflike vrye gawe nadink en reëlings tref om by hierdie jaar se herdenking van die Here se Aandmaal teenwoordig te wees!