Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • km 8/99 bl. 8
  • Gebruik traktate om goeie resultate te verkry

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Gebruik traktate om goeie resultate te verkry
  • Ons Koninkryksbediening—1999
Ons Koninkryksbediening—1999
km 8/99 bl. 8

Gebruik traktate om goeie resultate te verkry

1 Jehovah se hedendaagse organisasie maak al baie lank met welslae van traktate gebruik. Selfs die naam van ons wetlike korporasie, Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap, toon dat traktate ’n baie belangrike rol in die verspreiding van die goeie nuus speel. Gebruik jy ál die traktate om goeie resultate in jou bediening te verkry?

2 Ons sal met elkeen van hulle vertroud moet raak. Het jy byvoorbeeld al die traktate goed deurgelees sodat jy weet wat elkeen bespreek? Het jy daaraan gedink by watter soort persoon elke traktaat byval sal vind? As jy goed vertroud raak met elke traktaat, sal dit jou vertroue opbou om dit in die huis-tot-huis-werk te gebruik sowel as in baie situasies waar jy informeel kan getuig.

3 Gebruik dit in die huis-tot-huis-bediening: ’n Kringopsiener skryf: “Ek behaal groot welslae deur die meeste van my gesprekke met ’n traktaat te begin.” Het jy dit al probeer? Met soveel traktate het ons talle gedagteprikkelende inleidings om van te kies. Elke traktaat gee ons die geleentheid om ’n Bybelstudie met die eerste besoek of tydens ’n herbesoek te begin.

4 Daar is ander geleenthede om traktate te gebruik. Terwyl jy by die deur gesels, vind jy dalk uit dat die persoon onlangs ’n geliefde aan die dood afgestaan het of dat iemand in die gesin siek is. Mense wat treur of wat aanhoudende probleme die hoof probeer bied, ontwikkel dikwels negatiewe gevoelens en word neerslagtig. Jy kan gerus vir hulle die traktaat Vertroosting vir dié wat aan depressie ly aanbied. Of jy vind dalk uit dat die persoon onlangs geskei is of dat hy sy werk verloor het. Gebruik die vrae op bladsy 2 van die traktaat Put genot uit jou gesinslewe: “Waarom word gesinne vandag deur sulke ernstige probleme geteister? Hoe kan ons genot put uit ons gesinslewe?” Dit is dalk juis die vrae wat die persoon op die hart het. Al lyk dit nie onmiddellik of die persoon belangstel nie, sal hy die traktaat moontlik later lees.—Pred. 11:6.

5 Gebruik traktate om informeel te getuig: As ons traktate byderhand hou—in ons hempsak, baadjiesak, handsak of velddienstas—kan ons dit by talle verskillende geleenthede gebruik. Gebruik dit wanneer jy inkopies doen, reis of met familielede of besoekers gesels. Ons bevind ons moontlik dikwels in situasies waar ons net kortliks vir ander van die Koninkryksboodskap kan vertel, soos by die werk of by die skool. Traktate bied ons die geleentheid om ’n kort getuienis te gee. ’n Traktaat oorweldig mense nie, maar is bondig en taktvol. Dit word geredeliker aanvaar as ’n boek of die tydskrifte, aangesien daar nie veel is om te lees nie.

6 Wees wakker vir geleenthede om die traktate informeel aan te bied by die skool of by die werk, by restaurante, vulstasies, ensovoorts. ’n Suster wat haar ouma na die dokter geneem het, het seker gemaak dat sy ’n paar traktate byderhand gehad het. By die dokter se spreekkamer het sy ’n gesprek met ’n swanger vrou begin. Nadat sy die traktaat Die lewe in ’n vreedsame nuwe wêreld vir die vrou gewys het, het die suster gevra: “Sal jy daarvan hou om jou kind groot te maak in ’n wêreld soos die een hier op die prent?” Sy kon later daardie gesprek voortsit toe sy die vrou tuis besoek het. Dit het tot ’n aantal gereelde herbesoeke gelei.

7 Bybelstudies kan met traktate begin word: Deur ’n traktaat te gebruik, kan jy kortliks demonstreer hoe ’n studie gehou word. ’n Suster het dit gedoen deur die traktaat Die lewe in ’n vreedsame nuwe wêreld te gebruik. Sy het die huisbewoner die prent gewys en gevra of sy dink dat ons aarde ooit so sal lyk. Nadat die huisbewoner geantwoord het, het die suster haar genooi om 2 Petrus 3:13 en Jesaja 65:17 te lees, wat in die traktaat aangegee word. Ons suster het toe gesê: “Hierdie beloftes is nie ’n droom of ’n fantasie nie, maar word werklik in God se Woord, die Bybel, gemaak.” Sy het toe gereël om die gesprek die volgende week voort te sit. Met die volgende besoek het sy ’n hele paar van die vrou se vrae beantwoord en die boek Jy kan vir ewig in die Paradys op aarde lewe by haar gelaat. ’n Bybelstudie is begin.

8 Is jy nou onlangs gedoop of moontlik ’n ongedoopte verkondiger wat nog ondervinding in die bediening probeer opdoen? Indien wel, kan jy dalk met bekwamer persone gesels en hulle wenke kry oor die gebruik van traktate in julle gemeente se gebied. Ons het baie voorbeelde in die Bybel van mense wat aanmoediging en leiding ontvang het van persone in die geloof wat geestelik ryp was.—Hand. 18:24-27; 1 Kor. 4:17.

9 As individue en gesinne moet ons tyd neem om te dink aan maniere om elkeen van hierdie verskillende traktate aan te bied. Hou oefensessies. Hoe kan jy die traktate gebruik saam met die ander lektuur wat vir die maand in die veldbediening aangebied word? Watter afsprake moet jy nakom waar jy ’n paar traktate saam met jou kan neem? Sal jy gedurende hierdie week in aanraking kom met iemand wat baat sal vind by die tydige boodskap in hierdie traktate?

10 Innige liefde vir Jehovah en besorgdheid oor mense sal ons beweeg om alles in ons vermoë te doen om die goeie nuus bekend te maak. As ons traktate gereeld gebruik, sal dit ons help om dit te doen. As ons traktate wyslik gebruik in die verkondiging van die goeie nuus van die Koninkryk, kan ons seker wees dat ons goeie resultate sal verkry.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel