Koninkryksaal bouprogram
1 Soos ons in Die Wagtoring van 1 Januarie 2000 gesien het, het Suid-Afrika weer ’n goeie vermeerdering van 3 persent in verkondigers gehad. As gevolg van hierdie groei word meer gemeentes gestig, en daarom het ons elke jaar meer Koninkryksale nodig. In die afgelope vyf jaar is 155 nuwe gemeentes in Suid-Afrika, Botswana, Lesotho, Namibië en Swaziland gestig en 150 sale gebou. Dit bring die aantal sale wat toegewy is op net onder 500 te staan. Volgens ons berekeninge is daar ten minste nog 300 gemeentes wat Koninkryksale nodig het. Daarom wil ons die Koninkryksaalbouprogram versnel. Baie gemeentes, selfs party groot gemeentes, vergader in sinkhuisies, garages of skole. Kan jy op die een of ander manier help? Dit is prysenswaardig dat party gemeentes hulp aan ander verleen deur die nodige fondse, ’n lening of die nodige boumateriaal te voorsien.—2 Kor. 8:14.
2 Die selfopofferende gees van die 20 Streekboukomitees, hulle gesinne en die vrywillige werkers word grootliks waardeer. Maar weens die groot behoefte aan Koninkryksale is meer werkers steeds nodig. As jy graag wil help, kan jy ’n Kingdom Hall Construction Worker Questionnaire-vorm (S-82) by die gemeentelike sekretaris kry en in duplikaat invul. Nadat die dienskomitee dit voltooi het, sal hulle die oorspronklike na die Streekboukomitee stuur en die afskrif in die gemeente se lêers hou. Die kringopsiener sal seker maak dat die vorm die jongste inligting bevat en hy sal ook ander aanmoedig om aansoek te doen. As jy in staat is om hulp te verleen in ander streke waar daar hulp nodig is, word jy aangemoedig om aan die Genootskap te skryf en al jou besonderhede te gee.
3 As ’n gemeente graag hulle eie Koninkryksaal wil bou, of hulle bestaande saal wil opknap, moet die liggaam van ouer manne met hulle plaaslike Streekboukomitee in aanraking kom. Tree ook met die Genootskap in verbinding voor julle ’n bougenootskap of bank in verband met ’n lening nader. Hou in gedagte dat elke gemeente ’n aparte bankrekening moet hê om hulle saal te bou, op te knap en in stand te hou. (Sien die brief “Aan alle Koninkryksaal-bedryfskomitees”, gedateer 15 Junie 1997.) Hierdie rekening moet ook elke drie maande geouditeer word.
4 Soos julle uit die foto’s kan sien, bou die Streekboukomitees ’n verskeidenheid sale na gelang van die gemeente se behoeftes, wat vir hulle bekostigbaar is, en die omgewing. Maar hulle almal strek Jehovah tot lof en eer. Hoewel ons verheug is wanneer die gemeentes “van dag tot dag in getal bly toeneem”, moet elkeen van ons kyk wat ons kan doen om meer gemeentes te help om hulle eie Koninkryksaal te kry.—Hand. 16:5.
[Prente op bladsy 4]
Bloemfontein-Suid, Vrystaat
Chatsworth-Wes, KwaZulu-Natal
Khuma, Noordwes
Zoar, Wes-Kaap
[Prente op bladsy 5]
Hillcrest, KwaZulu-Natal
Fernie-Sentraal, Mpumalanga
Robertson, Wes-Kaap
Worcester, Wes-Kaap