“Laat julle lig . . . skyn”
1 Die wêreld om ons is sedelik en geestelik in duisternis. Die lig van waarheid lê “die onvrugbare werke” van die duisternis bloot sodat ons hierdie dodelike struikelblokke kan vermy. Gevolglik het die apostel Paulus Christene aangespoor: “Gaan voort om as kinders van die lig te wandel.”—Ef. 5:8, 11.
2 “Die vrug van die lig” vorm ’n sterk teenstelling met die wêreld se duisternis (Ef. 5:9). As ons hierdie vrug wil voortbring, moet ons skitterende voorbeelde van die Christelike leefwyse wees, die soort mense wat Jesus se goedkeuring wegdra. Ons moet ook eienskappe soos heelhartigheid, opregtheid en geesdrif vir die waarheid aan die dag lê. Hierdie vrug moet in ons daaglikse lewe en in ons bediening geopenbaar word.
3 Laat julle lig by elke geleentheid skyn: Jesus het vir sy dissipels gesê: “Laat julle lig . . . voor die mense skyn” (Matt. 5:16). In navolging van Jesus weerspieël ons Jehovah se lig deur ander van God se Koninkryk en sy voornemens te vertel. Ons skyn as ligte wanneer ons mense se huise besoek en wanneer ons die waarheid bekend maak by die werk, by die skool, aan ons bure of waar ons ook al die geleentheid het.—Fil. 2:15.
4 Jesus het gesê dat sommige die lig sou haat (Joh. 3:20). Ons word dus nie ontmoedig wanneer die meeste mense nie toelaat dat “die verligting van die heerlike goeie nuus oor die Christus” na hulle deurskyn nie (2 Kor. 4:4). Jehovah lees mense se harte en wil nie onder sy volk mense hê wat ongeregtigheid beoefen nie.
5 Wanneer ons Jehovah se weë volg en geestelike lig geniet, kan ons dit na ander uitstraal. As hulle deur ons gedrag sien dat ons “die lig van die lewe besit”, sal hulle moontlik ook gemotiveer wees om die nodige veranderinge aan te bring om ligdraers te word.—Joh. 8:12.
6 Deur ons lig te laat skyn, verheerlik ons ons Skepper en help ons opregtes om hom te leer ken en die hoop op ewige lewe te verkry (1 Pet. 2:12). Aangesien ons die lig het, moet ons dit gebruik om ander te help om te sien hoe hulle uit die geestelike duisternis kan kom en die werke kan voortbring wat tot die lig behoort.