Betoon “tere medelye”
1. Wat het mense vandag dringend nodig?
1 Nog nooit tevore in die geskiedenis het soveel mense so dringend medelydende hulp nodig gehad nie. Verslegtende wêreldtoestande het tot wydverspreide gevoelens van ongelukkigheid, depressie en wanhoop gelei. Miljoene het hulp nodig, en as Christene is ons in ’n posisie om opregte besorgdheid oor ons naaste te toon (Matt. 22:39; Gal. 6:10). Hoe kan sulke besorgdheid getoon word?
2. Wat is die beste manier waarop ons medelye kan betoon?
2 ’n Medelydende werk: Daar is geen ware, blywende vertroosting wat nie van God af kom nie (2 Kor. 1:3, 4). Jehovah spoor ons aan om hom na te volg deur “tere medelye” aan te kweek, en hy het ons die opdrag gegee om die goeie nuus van die Koninkryk aan ons medemens bekend te maak (1 Pet. 3:8). Die beste manier om “die gebrokenes van hart” te vertroos, is om ’n daadwerklike deelname aan hierdie werk te hê, want God se Koninkryk is die enigste ware hoop vir die lydende mensdom (Jes. 61:1). Uit medelye vir sy volk sal Jehovah binnekort optree om goddeloosheid uit die weg te ruim en ’n regverdige nuwe wêreld tot stand te bring.—2 Pet. 3:13.
3. Hoe kan ons mense beskou soos Jesus hulle beskou het?
3 Beskou mense soos Jesus hulle beskou het: Selfs toe Jesus vir groot skares gepreek het, het hy meer as net ’n mensemassa gesien. Hy het individue met geestelike behoeftes gesien. Hulle was soos skape wat nie ’n herder het om hulle te lei nie. Jesus se hart is geraak deur wat hy gesien het, en dit het hom beweeg om hulle geduldig te onderrig (Mark 6:34). As ons mense beskou soos Jesus hulle beskou het, sal dit ons aanspoor om opregte medelye met hulle as individue te betoon. Dit sal duidelik uit ons stemtoon en gesigsuitdrukkings blyk. Die predikingswerk sal ons prioriteit wees, en ons sal ons woorde by elkeen se persoonlike sorge aanpas.—1 Kor. 9:19-23.
4. Waarom moet ons ons met medelye beklee?
4 ’n Groot menigte mense uit alle nasies reageer gunstig op die Koninkryksboodskap en die verkwikkende belangstelling wat in hulle getoon word. Wanneer ons ons met medelye bly beklee, vereer en behaag ons ons medelydende God, Jehovah.—Kol. 3:12.