Aardwye predikings- en onderrigtingswerk
AFRIKA
LANDE 57
BEVOLKING 827 387 930
VERKONDIGERS 1 086 653
BYBELSTUDIES 2 027 124
Côte d’Ivoire
In die dorpie Bianouan, in die ooste van die land, smag die inwoners na die waarheid. Party maak die verkondigers soggens sesuur wakker sodat hulle ’n Bybelbespreking kan hê voordat hulle op die lande gaan werk. Ander vra om hulle Bybelstudie saans ná gemeentelike vergaderinge te hê. Eendag het ’n vrou wat nie kon lees nie, ’n broer gevra vir die boek Wat leer die Bybel werklik? Sy het gesê dat haar man dit vir haar sou lees. Die broer het die boek vir haar gegee en haar die volgende dag by haar huis besoek. Die vrou en haar man het geduldig op hom gewag. Die man het nie op die lande gaan werk nie omdat hulle die boek die hele nag lank gelees het. Nou wou hy met die broer praat oor wat hy gelees het. ’n Studie is met die egpaar begin.
Benin
’n Groot gesin in ’n afgeleë gebied het begin studeer. Die pa was ’n leraar in ’n tradisionele kerk. Net twee weke ná die eerste studie het die hele gesin die uitnodiging aanvaar om die streekbyeenkoms by te woon. Saterdagaand het die oudste dogter skielik siek geword en gesterf. Ten spyte van die skok het die pa die Sondag se sessies bygewoon. Die Maandag het hy oor haar dood gesê: “Satan het dit gedoen om ons te ontmoedig, maar my gesin sal nie toelaat dat dit gebeur nie.” Hy het al sy kerktoebehore gaan haal: priesterkleed, mus, gordel, salfolie en herderstaf. Sy vrou, wat ook ’n beampte in die kerk was, het dieselfde gedoen. “Ons is klaar met hierdie kerk”, het die leraar gesê. Toe het hy, soortgelyk aan wat ons in Handelinge 19:19 lees, alles in die openbaar verbrand. Die gesin maak steeds goeie vooruitgang.
Madagaskar
Verlede jaar het ’n prediker in ’n dorpie met ongeveer 500 inwoners die Leer Bybel-boek by ’n Getuie in ’n ander dorpie gekry. Nadat hy dit noukeurig gelees het, was die prediker oortuig dat hy die waarheid gevind het, en hy het vir die lidmate van sy kerk vertel wat hy geleer het. Kort daarna het hy, sy gesin en 20 ander persone uit die kerk bedank en vergaderinge begin hou, soos Jehovah se Getuies regoor die wêreld doen. Spesiale pioniers het hulle gaan help. Hulle het Bybelstudies met die baie belangstellendes gehou en gereël dat ’n Gemeentelike Boekstudie en ’n Wagtoring-studie gereeld gehou word. In Oktober het vyf persone ongedoopte verkondigers geword, en die pioniers het nou reëlings getref vir ’n Openbare Vergadering en ’n Teokratiese Bedieningskool. Die vergaderinge word deur gemiddeld 40 mense bygewoon, en meer as 20 tuisbybelstudies word gehou.
Suid-Afrika
Hennie en sy vrou het van deur tot deur getuig. Terwyl hulle verby die heining van ’n huis geloop het, het ’n kwaai hond sy kop deur die tralies gesteek en Hennie se hand gebyt. Omdat hy erg gebloei het, het hulle gou huis toe gegaan, waar sy vrou die wond ontsmet en verbind het. Hennie het ’n afspraak gemaak om later dokter toe te gaan. Hy het vir sy vrou gesê dat hy nie wil toelaat dat ’n hond hom keer om velddiens te doen nie, en daarom het hulle ongeveer ’n uur later teruggegaan na die gebied. Hulle het begin by die huis langs die een met die kwaai hond. Nadat hulle ’n paar huise besoek het, het ’n man hulle ingenooi. Hy het aandagtig geluister en wou graag hê dat hulle hom weer moet besoek. ’n Bybelstudie is begin, en hy het kort voor lank die vergaderinge gereeld begin bywoon. Toe hy uit die NG Kerk bedank, het ’n ouderling van die kerk hom besoek en aangebied om hom ’n diaken te maak. Hy het egter gebly by sy besluit om uit die kerk te bedank. Hy maak steeds goeie vooruitgang en het by die Teokratiese Bedieningskool aangesluit.
Tanzanië
Gedurende ’n afgesonderdegebied-kampanje in Oktober 2005 het nege broers van die Iringa-gemeente na Pawaga gereis, ongeveer 80 kilometer daarvandaan. Hulle het gehoor dat ’n afgesonderde verkondiger in die gebied woon, en hulle het hom gaan soek. Ná baie navrae het hulle die broer gevind, wat verduidelik het dat hy al meer as 20 jaar daar woon en gedink het dat daar nog steeds ’n verbod op die Koninkrykswerk in Tanzanië is. Hy het deur die jare heen vir ander getuig, en hy het gesê dat daar party is wat opreg in die Bybel se boodskap belangstel. Broers van die Iringa-gemeente het aangebied om twee weke op ’n slag in Pawaga te bly om die belangstelling verder te ontwikkel. In 2006 het twee gewone pioniers daarheen getrek om na die vrugbare gebied om te sien. Die broer is geestelik gehelp, en die groepie bestaan nou uit nege verkondigers. Hulle hou tans hulle vergaderinge onder ’n boom, maar hulle is van plan om ’n klein vergaderplek met plaaslike materiaal te bou.
Rwanda
’n Tiener met die naam Gentille het beroemd geword weens haar vermoë om doele in sokker aan te teken. Mense het haar Manayibitego genoem, wat in Kinyarwanda, die plaaslike taal, “god van doele” beteken. ’n Paar Italianers het haar talent raakgesien en haar verdere opleiding gegee. Toe het hulle haar genooi om in Italië sokker te gaan speel. Om na Europa te verhuis en die geleentheid te hê om ’n internasionaal bekende sokkerspeler te word, was ’n aanloklike vooruitsig. Maar Gentille het geweet dat sy haar familie sou moes verlaat as sy die aanbod aanvaar. Haar ma is ’n Getuie, en hoewel Gentille die Bybel gestudeer het, het sy nooit die studie ernstig opgeneem nie. Sokker was die belangrikste ding in haar lewe. Gentille het die saak met haar ma bespreek en besef watter geestelike gevare dit inhou. Sy het besluit om die aanbod van die hand te wys en om Koninkryksbelange eerste in haar lewe te stel. Sy is onlangs by ’n kringbyeenkoms gedoop.
DIE AMERIKAS
LANDE 55
BEVOLKING 893 357 181
VERKONDIGERS 3 367 544
BYBELSTUDIES 3 236 692
Curaçao
Toe ’n broer eendag ’n Bybelstudie gaan hou het, het die huisbewoner vir hom ’n koeël gegee en hom gevra of hy weet wat dit is. Die man het toe verduidelik dat hy, voordat die broer hom die eerste keer besoek het, ’n hele paar maande lank oorweeg het om selfmoord te pleeg omdat hy sy werk en sy gesin verloor het. Hy is verteer deur wraakgedagtes en het besluit om die vier mense dood te maak wat volgens hom verantwoordelik was vir sy probleme. Hy het sy rewolwer met vier koeëls gelaai en het een vir homself gehou ingeval hy sy eie lewe moes neem. Maar voordat hy by die huis weg is, het hy besluit om God se hulp te soek. Hy het die televisie aangeskakel en ’n godsdienskanaal probeer vind. Op daardie oomblik het twee Getuies aan sy deur geklop, en hulle het later die Bybel met hom begin studeer. Hy het die vier koeëls weggegooi, maar het vergeet van die vyfde een. Toe hy dit in sy sak gevind het, het hy dit vir die broer gewys, vir hom die verhaal vertel en gemeld dat sy lewe grootliks verander het sedert hy die Bybel begin studeer het. Hy sê dat vyf mense hulle lewe aan Jehovah se Getuies te danke het. Hy woon nou die gemeentelike vergaderinge by.
Uruguay
Twee Getuies is deur ’n vrou ingenooi wat met trane in haar oë verduidelik het dat sy die hele nag tot God gebid het en hom gesmeek het om sy wil aan haar te openbaar. Die leraars van haar kerk het haar kort tevore besoek, maar dit was net om die tiende te kom haal van ’n redelike groot bedrag wat sy ontvang het. Sy was teleurgesteld omdat hulle haar nooit op enige ander tyd besoek het nie, selfs nie toe sy in tye van nood hulp gevra het nie. Sy het meer as ’n maand lank nie kerk toe gegaan nie. Later het sy vir een van die leraars gesê dat sy mislei voel weens die teenstrydighede in hulle leringe. Maar in plaas daarvan om die betrokke punte te probeer opklaar, het hy gesê dat sewe vloeke oor haar sal kom omdat sy die kerk verlaat het. Die broers het verduidelik dat die ware God sy engele gebruik om mense te vind wat na die waarheid soek. Sy het baie vrae gevra, en ’n studie in die boek Wat leer die Bybel werklik? is dadelik met haar begin. Haar man het later by die studie aangesluit, en hulle het albei die Gedenkmaal en die spesiale toespraak bygewoon. Die gehalte van die onderrigting by die Koninkryksaal het hulle beïndruk, en hulle kon nie glo dat daar nie geld gevra word nie. Albei maak steeds vooruitgang en het baie vriende in die gemeente gemaak.
Chili
’n Bybelstudie, moontlik die suidelikste een in die wêreld, word gehou met ’n vrou wat in die afgeleë gebied van Kaap Hoorn woon. Sy is die vrou van die vuurtoringwagter op hierdie afgesonderde plek. Terwyl hierdie vrou in Punta Arenas was, het ’n hulppioniersuster vier weke lank ’n Bybelstudie met haar gehou totdat sy na Kaap Hoorn verhuis het. Sedertdien word die studie met haar oor die telefoon gehou. Sy maak goeie vooruitgang.
Costa Rica
In hierdie land is daar ongeveer 10 000 Guaymi-Indiane, van wie die meeste in Sixaola woon, ’n dorpie naby die Panamese grens. Baie van hierdie Indiane stel opreg daarin belang om van die Bybel te leer. ’n Jong spesialepionier-egpaar is na hierdie gebied gestuur om na die geestelike behoeftes van hierdie mense om te sien. Hulle het die taal begin leer. Met die hulp van 26 Guaymi-broers en -susters is baie uitgerig. Die Gedenkmaal is vir die eerste keer in Guaymi gehou, en dit is deur ’n verstommende aantal mense, 264, bygewoon. Die vermeerdering het sedertdien nie opgehou nie. Byvoorbeeld, ’n Gemeentelike Boekstudiegroep met 13 verkondigers het aanvanklik ’n gemiddelde bywoningsyfer van 20 gehad. Dit het nou tot 40 toegeneem. Gevolglik is nog twee Gemeentelike Boekstudiegroepe gevorm.
Panama
’n Liggaamsopvoedingonderwyser met die naam Ramiro het die Bybel in 2004 saam met Jehovah se Getuies begin studeer. Op daardie stadium het die ses groepe wat hy moes onderrig, net 12 uur se onderrigting per week geverg, terwyl hy eintlik 24 uur moes werk. Die skoolhoof het hom dus aangesê om dieselfde ses groepe die res van die tyd godsdiensonderrig te gee. “Praat net met hulle oor God, Jesus en die Bybel”, het die hoof gesê. Ramiro het hulle geleer wat hy besig was om te leer. Daardie jaar het hy met behulp van die boek Kennis wat tot die ewige lewe lei 150 leerders, van graad ses tot agt, onderrig. Teen die volgende jaar, toe die boek Wat leer die Bybel werklik? vrygestel is, het Ramiro in so ’n mate gevorder dat hy as ’n ongedoopte verkondiger gekwalifiseer het. Hy het voortgegaan om die klasse te onderrig, hierdie keer met behulp van die Leer Bybel-boek. Die leerders het toegeneem tot 160, wat in ses groepe verdeel is. Die gevolg? Ramiro en ander verkondigers in die gemeente hou nou tuisbybelstudies met etlike van die leerders. Die ouers van party van die leerders het hulle waardering teenoor Ramiro uitgespreek vir die verbetering wat hulle in hulle kinders se gedrag gesien het. Party van die ouers het gemeentelike vergaderinge bygewoon en het selfs na party van ons kringbyeenkomste gegaan. Wat Ramiro betref, hy is in November 2006 gedoop en maak steeds geesdriftig gebruik van elke geleentheid om Bybelwaarheid aan ander te leer.
Guatemala
In die stad Guatemala het ’n verkondiger met die naam Jeremy na die huis van ’n jong man gegaan met wie hy die Bybel gestudeer het. Die huis was in ’n stegie. Jeremy het aan die deur geklop, en die jong man se suster het deur toe gekom om te sê dat haar broer nie tuis is nie. Terwyl Jeremy by die deur was, het twee jong mans nader gestap. Een het ’n pistool uitgepluk, dit teen Jeremy se kop gedruk en gesê: “Ek is gehuur om jou te kom doodmaak.” (Jeremy het later uitgevind dat rowers dit sê om slagoffers te intimideer.) Jeremy vertel: “Die meisie het die deur toegemaak, en ek het die mans gevra: ‘Wat wil julle hê?’ Een van hulle het geantwoord: ‘Wat maak jy hier?’ Ek het vir hulle gesê dat ek Jehovah se Woord verkondig. Hy het bars gesê: ‘Laat ek hoor wat die boodskap is!’ Ek was senuweeagtig en het gewonder wat ek moet doen. Ek het my velddienstas oopgemaak en ’n Bybel uitgehaal. Toe het die een met die pistool begin huil, want hy het slegte dinge gedoen wat hy geweet het verkeerd is. Hy het my gesmeek om hom te help. Hy het my velddienstas deursoek en ’n Ontwaak! uitgehaal wat oor geld gehandel het. Toe het die ander man in my sakke na my beursie begin soek, maar die een met die pistool het vir hom gesê: ‘Los hom uit. Moenie hom deursoek nie.’ Toe het hy my bedank en my omhels, en hulle is daar weg. Ek het daarna baie kalm gevoel en Jehovah gedank dat hy my uit hierdie situasie gered het.”
Dominikaanse Republiek
’n Suster wat ’n ortodontis is, het ’n eendagseminaar oor tandinplantings bygewoon. Die meer as 250 tandartse daar is die geleentheid gebied om aansoek te doen vir ’n duur gevorderde kursus wat in Europa gehou sou word. Net agt tandartse sou genooi word. Aan die einde van die dag is daar vir die suster gesê dat sy nie net gekies is om die kursus by te woon nie, maar dat sy ook nie daarvoor sou hoef te betaal nie. Ons suster het verbaas geantwoord: “Dankie dat julle my hierdie geleentheid bied, maar ek het nie die aansoekvorm ingevul nie, en ek sal nie hierdie groothartige aanbod kan aanvaar nie. As een van Jehovah se Getuies kan ek niks bo die geestelike belange van my gesin stel nie. Ek sal reg wil laat geskied aan die kursus, wat baie intensief is, maar ek het vyf weeklikse Bybelvergaderinge wat my onverdeelde aandag verg. Watter vreugde kan die gevorderde opleiding en graad my verskaf as ek met my terugkeer vind dat my twee tienerseuns dwelms gebruik of hulle sleg gedra omdat ek nie daar was nie?”
ASIË EN DIE MIDDE-OOSTE
LANDE 47
BEVOLKING 3 993 686 009
VERKONDIGERS 607 112
BYBELSTUDIES 496 577
Israel
Ella, ’n jong hulppionier, het ’n bejaarde vrou met ’n vullissak sien sukkel. Ella het haar gehelp en kortliks vir haar getuig. Hoewel die vrou vir Ella haar adres gegee het, kon Ella haar nie weer in die hande kry nie, ondanks baie besoeke aan haar huis. Uiteindelik het die vrou die deur oopgemaak. Omdat sy hardhorend is, het sy Ella nie die vorige kere hoor klop nie. ’n Tuisbybelstudie is met haar begin. Hoewel die vrou aanvanklik ateïsties was, het haar waardering vir God en sy Woord toegeneem. Ná twee jaar het sy haar lewe aan Jehovah toegewy, en sy is onlangs op die ouderdom van 92 gedoop.
Mongolië
Terbisj, ’n bejaarde vrou, het haar hele lewe lank in ’n boekwinkel gewerk. Toe die 18-jarige Moenkzaja, ’n pioniersuster, met haar gepraat het, het Terbisj vir haar gesê dat sy al so baie boeke gelees het dat sy enige boek gou kan verstaan, of sy dit nou van die begin, die middel of die einde lees. Maar die Bybel is anders. Ongeag hoe dikwels sy dit gelees het, sy kon dit nie verstaan nie. Dit het nie gehelp om kerk toe te gaan nie. Sy het dus op haar eie gestudeer en aantekeninge oor elke teks gemaak. Terbisj wou baie graag Hebreërs 11:6 verstaan. Moenkzaja het die vers verduidelik, vir haar ’n Bybelstudie aangebied en Terbisj na die Koninkryksaal genooi. Toe Terbisj hoor waar dit is, het sy gesê: “Is dit daardie gebou met die pragtige blomme? Elke keer wanneer ek daar verbystap, gaan staan ek om hulle te bewonder. Kan jy my voorstel aan die persoon wat na die tuin omsien?” Moenkzaja het dit met graagte gedoen. Terbisj leer nou ywerig van die Skepper en woon die vergaderinge by. Moenkzaja sê: “Die blomme het vir die vrou getuig lank voordat ek dit gedoen het.”
Japan
Weens die pyn in haar bene kan die 78-jarige Hiroko nie meer die predikingswerk doen soos vroeër nie. Sy het tot God om leiding gebid en ’n besige bushalte gevind waar sy 30 minute op ’n slag kan sit. Sy maak ’n punt daarvan om te glimlag en belangstelling in mense te toon. Daar is ’n hospitaal in die omgewing; wanneer mense dus medisyne by hulle het, vra sy vir hulle hoe dit met hulle gaan. Wanneer mense die tydrooster probeer lees, help sy hulle, en vir dié wat nie die omgewing ken nie, vertel sy van interessante plekke. Sy luister wanneer hulle praat en bied dan die tydskrifte aan. Sy sien party mense gereeld en kan derhalwe herbesoeke doen.
Mianmar
Lazaroe was ’n dwelmsmous. Dwelms, moord en allerhande verdorwenhede was deel van sy lewe. Maar toe ’n pioniersuster vir hom uit die Bybel wys dat God se naam Jehovah is, het Lazaroe onmiddellik die waarheid herken en ingestem om ’n Bybelstudie te hê. Hoewel dit lank geneem het, het hy stadig maar seker geestelike vooruitgang gemaak. Dit was moeilik om heeltemal van sy vorige lewenswyse weg te breek. Toe hy vir sy metgeselle sê dat hy hulle gaan verlaat, het hulle paniekerig geword omdat hy soveel van hulle dwelmhandel geweet het. ’n Hele paar sluipmoordenaars is gestuur om hom dood te maak, maar Lazaroe het daarin geslaag om hulle te ontwyk. Hy het uiteindelik na ’n ander gebied getrek, en hy en sy vrou is gedoop.
Taiwan
’n Paar verkondigers het by ’n koffiehuis met ’n buitengewone naam—Die boek Esra-koffiehuis—verbygestap. Een van die verkondigers was nuuskierig en het die eienaar oor die gebruik van die naam Esra gevra. Hy het geantwoord dat hy Esra nog altyd bewonder het weens sy ywer vir ware aanbidding. Die eienaar het jare lank kerk toe gegaan, maar het kort tevore opgehou omdat sy vrou Viëtnamees is en nie die dienste kon verstaan nie. Die verkondiger het aangebied om vir hulle ’n Viëtnamese Bybel te bring, wat hulle daardie middag met vreugde ontvang het. ’n Studie is met die hele gesin begin.
Indië
In ’n dorp waar die predikingswerk hewig teëgestaan word, is vyf susters vir vier dae in die tronk gesit omdat hulle gepreek het. Die tronkbewaarder was aanvanklik onbeskof teenoor hulle en het hulle gewaarsku om nie in die tronk oor die Christelike geloof te praat nie. Maar gedurende die volgende paar dae het sy gesien hoe sagmoedig en liefdevol hulle is, en dit het haar gesindheid versag. Die susters het vir ander gevangenes en die tronkbewaarder van die vrugte en ander kos gegee wat die broers vir hulle gebring het. Een aand het die tronkbewaarder gehoor hoe die susters gedagtes uit die boek Kom nader aan Jehovah bespreek. Sy het weldra by hulle besprekings aangesluit, terwyl sy op ’n stoel by hulle seldeur gesit het. Die dag toe die susters uit die tronk vrygelaat is, is een van haar familielede oorlede. Die susters kon haar met die opstandingshoop vertroos.
Vroeër het ’n ander tronkbewaarder die susters uitgevra oor hulle oortreding. Een van die susters het verduidelik dat die predikingswerk verkeerdelik as onwettige bekering beskou word. Die tronkbewaarder was beïndruk deur wat sy gehoor het en het geantwoord: “Julle praat so kalm ten spyte van julle situasie. Ek is maar kort van draad en voel skaam in julle teenwoordigheid. Sê asseblief vir my wanneer ek kwaai klink en leer my om soos julle te praat. Ek verstaan nie waarom sulke goeie mense in die tronk gesit word nie.” Elke keer wanneer sy vrye tyd gehad het, het sy na die susters toe gekom en gesê: “Vertel my nou meer van die Bybel. Dit laat my baie kalm voel.” Twee van die ander gevangenes, wat albei van moord aangekla is, was ook beïndruk deur die Bybel se boodskap. Die susters het stilweg vir hulle en ander gevangenes getuig. Noudat hulle vrygelaat is, soek die susters gepaste maniere om die belangstelling wat hulle in die tronk gevind het, verder te ontwikkel.
Indonesië
Resmawati, ’n spesiale pionier, was net klaar met velddiens en reg om huis toe te gaan toe ’n vrou haar na haar huis nooi om die Bybel te bespreek. Drie dae later het Resmawati haar weer gaan besoek. Dié keer het die vrou begin huil en haar vertel van haar man wat haar mishandel. Resmawati het Hebreërs 4:12 gelees en verduidelik dat ’n studie van die Bybel baie dinge kan verander. Sy het die ondervinding vertel van Tony, wat op die Kalender van Jehovah se Getuies vir 2003 verskyn het. Dit het die vrou se belangstelling gewek, en sy het ’n eksemplaar van die kalender gevra. Met die volgende besoek het Resmawati vir haar die kalender geneem. Hulle het die Leer Bybel-boek begin studeer. Tydens die volgende besoek het die vrou se man gevra of hy gedurende die studie kan bysit. Hy het Tony se ondervinding op die kalender gelees, en dit het hom diep geraak. Die man se naam is toevallig ook Tony, en die gesindheid en gedrag van die Tony op die kalender voordat hy die waarheid geleer het, was dieselfde as syne. Toe hy die ondervinding op die kalender sien, het hy vir sy vrou en kinders gesê: “Dis my naam, nie waar nie? Hoe het die prediker geweet wat my naam is om oor my te skryf?” Sy vrou het gesê: “Die Getuies weet nie wat jou naam is nie. En al het hulle geweet, sou hulle dit nie skielik op ’n kalender kon sit nie, beslis nie op een vir 2003 in plaas van 2007 nie!” Toe sy haar man se skielike belangstelling sien, het sy hom taktvol gevra: “Wil jy soos die Tony op die kalender wees?” Die man se antwoord was verbasend genoeg: “Ek sal graag wil probeer.” Soos die Tony op die kalender, het die Tony van Indonesië sy lewe in orde gebring, sy lang hare gesny en sy voorkoms verbeter. Die hele gesin studeer nog steeds die Bybel.
Maleisië
In party dele van Borneo gebruik die broers satellietfoto’s van die Internet om huise te vind. Hulle sê in hulle verslag: “Dit help ons om huise in die reënwoud te vind. Soms is party van die ‘dakke’ egter bokstalle, en dan lag ons lekker omdat ons vir ‘bokke’ kom preek het. Maar sommige van die dakke is wel dié van mense se huise. Ons het nog nooit tevore in hierdie berggebied gewerk nie. Omdat die reënwoud dig is en dit moeilik is om die paadjies te volg, is die satellietfoto’s ’n groot hulp.”
EUROPA
LANDE 47
BEVOLKING 732 610 687
VERKONDIGERS 1 533 790
BYBELSTUDIES 749 911
Hongarye
’n Twaalfjarige suster vertel: “Ek is nege maande gelede gedoop, en ek doen nou al drie maande lank hulppionierdiens. My ma help my baie. Ek word dikwels gevra hoe ek dit regkry om hulppionierdiens te doen terwyl ek nog skoolgaan, maar ek dink dat dit vir my moeilik sou gewees het om my bediening uit te voer as ek nie op skool was nie. Ek gebruik die vrye tyd tussen klasse om te preek. Ek praat gereeld met vyf van my skoolmaats oor die Bybel. Ek hou Bybelstudies met twee van hulle. Ek kan dus sien dat Jehovah my seën. Pionierdiens is nie vir my ’n las nie, maar ’n bron van vreugde. My ma is ’n gewone pionier, en dit is wat ek wil word. Ek wil Jehovah voltyds dien.”
Brittanje
Susan het in 2001 die Bybel begin studeer en dit ongeveer twee jaar lank gedoen. Gedurende dié tyd het sy werklik gesukkel om op te hou rook. Sy het baie keer probeer, maar dit nie reggekry nie. Gevolglik het sy haar studie stopgesit, maar sy het nog steeds gemeentelike vergaderinge bygewoon. Vier jaar later het Susan gevoel dat sy geestelike vooruitgang moet probeer maak, en daarom het sy die gemeente om hulp gevra. Sy het weer begin studeer en die inligting in die boek Kom nader aan Jehovah nuttig gevind. ’n Breedvoerige bespreking van Jehovah se liefde vir ons en hoe ons liefde vir hom toon, het ’n dramatiese uitwerking op haar lewe gehad. Binne agt weke het sy heeltemal opgehou rook. Susan meen dat ’n studie van hierdie publikasie haar geleer het om op Jehovah te vertrou. Sy het goeie vooruitgang gemaak, haar lewe aan Jehovah toegewy en dit by die “Volg die Christus!”-streekbyeenkoms deur waterdoop gesimboliseer.
Estland
Helgi, ’n 17-jarige skolier wat nie by haar geskeide ouers gewoon het nie, het belangstelling in die waarheid getoon en die Bybel begin studeer. Sy het aanvanklik nie baie vergaderinge bygewoon nie omdat sy dikwels saam met ’n plaaslike orkes gesing het. Namate haar waardering vir die waarheid toegeneem het, het sy veranderinge in haar lewenswyse begin aanbring. Sy het vir die orkeslede verduidelik waarom sy nie op vergaderingaande kan optree nie. Sy het by die Teokratiese Bedieningskool aangesluit en vordering gemaak sodat sy ’n ongedoopte verkondiger geword het. Sy het vir ’n landwye sangkompetisie ingeskryf, waarin die wenner ’n kontrak met ’n welbekende platemaatskappy sou ontvang. Hoewel baie in die proewe onsuksesvol was, het Helgi onmiddellik die guns van die beoordelaars gewen en tot die volgende rondte deurgedring. Die volgende optrede sou egter op dieselfde tyd wees as haar eerste toespraak op die Teokratiese Bedieningskool. Wat sou sy doen? Haar ma, wat nie een van Jehovah se Getuies is nie, het voorgestel dat sy haar toespraak kanselleer of uitstel. Helgi het gesê dat dit nie net ’n kwessie is van ’n toespraak wat sy moet hou nie, maar van wat eerste in haar lewe kom, geestelike of fisiese dinge. Sy het ernstig hieroor nagedink en besluit om eerder haar toespraak te hou as om na die sangkompetisie te gaan. Helgi het die toespraak gehou, en haar ma het haar besluit gerespekteer.
Later het ’n televisieverslaggewer die “Volg die Christus!”-streekbyeenkoms bygewoon om ’n nuusberig oor die byeenkoms en die doop saam te stel. Toe hy Helgi in die doopbad sien klim, het hy haar doop verfilm en daarna ’n onderhoud met haar gevoer. Dit was daardie aand op die nuus, en die berig het ’n toneel ingesluit waar sy op ’n vroeëre stadium van die kompetisie opgetree het en het toe afgesluit met haar doop en waar sy met ’n stralende glimlag sê: “Dit is die beste besluit in my lewe.”
Bulgarye
Iwelin is ’n gevangene in die Belene-tronk. Hy het aan die plaaslike takkantoor van Jehovah se Getuies geskryf en gesê: “Ek het hier in die tronk op ’n Wagtoring afgekom en het dus baie vrae vir julle. Ek het berou oor my sondes, en ek wil geestelik heeltemal verander. Ek wil vir julle iets vra wat dalk vir julle moeilik sal wees en wat ek nie werklik glo kan gebeur nie. Kan julle vir my skryf sodat ek iets omtrent Jehovah God kan leer? Ek weet nie of ek van julle sal hoor nie, maar net die feit dat ek van Jehovah weet, maak my gelukkig. Ek wil meer omtrent hierdie dinge weet, nie net ter wille van myself nie, maar ook ter wille van die ander gevangenes. Onthou asseblief, as julle nie vir my kan skryf nie, sal ek eendag, wanneer ek vrygelaat word, met julle in aanraking kom!” Die broers het gou op hierdie belangstelling gereageer en studeer tans met tien gevangenes in hierdie tronk, met inbegrip van Iwelin.
Portugal
Jana, ’n spesiale pionier, vertel: “Toe ek eendag van die moltrein afklim, het ek ’n Chinese man gesien en besluit om met hom oor die goeie nuus te praat. Hy was verbaas dat ek Chinees kon praat en het vir my gesê dat hy op pad is hospitaal toe, want sy vrou sou ’n keisersnee ondergaan. Hy en sy vrou kon nie Portugees praat nie, en die hospitaal het hulle gevra om ’n tolk te vind. Hy was desperaat en het my gevra om te help. Die volgende dag het die chirurge my gevra om teaterklere aan te trek sodat ek gedurende die operasie by die ma kon wees. Ek het dwarsdeur die prosedure die vrou se hand vasgehou, en sy het baie vrae oor die Bybel en ons werk gevra. ’n Pragtige babadogtertjie is gebore, en die ma het my hulp so waardeer dat sy my gevra het om ’n naam vir haar dogtertjie te kies. Ek het ’n oomblik gedink en toe die naam Sara gekies. Sy was verheug oor my keuse en wou baie graag meer weet van die Sara wat in die Bybel genoem word en van die God wat sy aanbid het. Nadat ons by die hospitaal weg is, het ek ’n gereelde tuisbybelstudie voorgestel. Sy en haar man het voorheen geweier om met die Getuies te praat, maar my hulp gedurende die vrou se operasie het gou hulle negatiewe opinie verander. Hulle het onmiddellik my aanbod aanvaar en woon nou vergaderinge by.”
Slowakye
’n Spesialepionier-egpaar het twee jong mans van Afganistan ontmoet. Gedurende hulle kort verblyf in Slowakye het die mans belangstelling in die Bybel getoon. Die pioniers het ’n hele paar keer met hulle gesels en vir hulle ’n Bybel en die boek Wat leer die Bybel werklik? gegee. Die pioniers het ook gedemonstreer hoe ’n Bybelstudie gehou word, sodat hulle die Bybel self en met ander kan studeer.
OSEANIË
LANDE 30
BEVOLKING 36 829 259
VERKONDIGERS 96 691
BYBELSTUDIES 51 122
Nieu-Seeland
’n Broer met die naam Paul het een middag ’n vrou in die huis-tot-huis-werk ontmoet. Toe hy vir haar ’n brosjure aanbied, het sy gesê dat ’n familielid kort tevore vir haar gesê het dat sy die waarheid nodig het. Sy het juis daardie oggend tot Jehovah gebid, sy naam gebruik en gevra dat iemand haar moet besoek. “Drie uur later”, sê Paul, “het ek aan haar deur geklop. Wat meer is, dit was op ’n tyd wanneer sy normaalweg nie by die huis sou gewees het nie.” Sy het die aanbod van ’n tuisbybelstudie geredelik aanvaar en maak goeie vooruitgang.
Australië
Armando en Elvira, ’n jong egpaar, woon in Oos-Timor, waaroor die Australiese tak toesig hou. In 2006 is hulle buurt aanhoudend deur ’n ander etniese groep aangeval, en hulle moes vlug vir hulle lewe. Hulle het na ’n vlugtelingkamp gegaan en het net twee goed saamgeneem—Armando se Bybel en die brosjure Wat vereis God van ons? Toe hulle weer met die broers in aanraking gekom het, het Armando en Elvira twee keer per week begin studeer en die gemeentelike vergaderinge bygewoon. Armando het ook vir sy familielede getuig, wat in ’n dorpie vier en ’n half uur van Dili af woon. Toe sy familie belangstelling in die Koninkryksboodskap toon, het hy gereël dat pioniers van Baucau een en ’n half uur soontoe reis om hulle verder te help. Meer as 20 mense het bymekaargekom om na die pioniers te luister. Armando se pa, die groep se woordvoerder, het gesê dat hulle bereid is om van hulle beelde ontslae te raak, maar het gevra of hulle dan nog beskerming teen bose geeste sou hê. Die pioniers het hulle verseker dat Jehovah hulle werklik sou help. Die groep het hulle beelde weggegooi. Nou studeer meer as 25 mense van hierdie dorpie die Bybel. Armando hoop om binnekort gedoop te word, en Elvira maak goeie vooruitgang.
Guam
Op die eiland Saipan, waaroor die Guam-tak toesig hou, was ’n suster aangenaam verras toe sy uitvind dat haar man, ’n voormalige teenstander, in die geheim baie van die publikasies gelees het wat sy in die huis laat rondlê het. Behalwe Die Wagtoring en Ontwaak! het hy ook die Jaarboeke en die boek Die geheim van gesinsgeluk gelees. Eendag het hy sy vrou en vyf kinders bymekaargeroep vir wat hy ’n “belangrike gesinsvergadering” genoem het. Dit was uiters ongewoon. Dit blyk toe dat die pa sy drie dogters raad oor die huwelik wou gee. Hy het ’n plakkaat gemaak met ’n lys vereistes vir ’n toekomstige huweliksmaat. Die ongelowige pa was so beïndruk met die lewensverhaal van Sheila Winfield da Conceição in Die Wagtoring van 1 November 2006 dat hy, soos Sheila, ’n lys vereistes vir ’n geskikte huweliksmaat opgestel het. Hy het sy dogters aangeraai om net met een van Jehovah se Getuies te trou en om ’n man te vind wat Jehovah liefhet en meer van die Bybel weet as hulle. Hy het vir sy drie dogters gesê dat hy wil hê dat hulle dieselfde geluk moet smaak as waarvan hy in die tydskrifartikel gelees het. Dit het hulle hart geraak en hulle hoop gegee dat hulle pa Jehovah eendag saam met hulle sal dien.
Samoa
’n Broer en sy vrou van ’n ander tak is onlangs gestuur om in Samoa te dien. By die heel eerste huis wat hy in die bediening besoek het, het die broer die boek Wat leer die Bybel werklik? aangebied. Tot sy verbasing is hy ingenooi. Maar die huisbewoner, ’n afgetrede sakevrou, het ’n oomblik gehuiwer en toe gesê: “Ek het vanoggend net 45 minute”—’n reaksie wat die broer nog nooit tevore teëgekom het nie. ’n Studie is onmiddellik begin. Toe die broer en sy vrou die volgende week daar aankom, het die vrou hulle verwelkom, met die Bybel en die Leer Bybel-boek in haar hand. Die kanse is goed dat die studie sal voortduur.
Salomonseilande
Emily is die enigste Getuie en ’n gewone pionier in haar gebied op die eiland San Cristobal. Sy hou 20 Bybelstudies, van wie drie al ongedoopte verkondigers geword het, insluitende haar ouers. Internasionale dienaars Lance en Diane het vakansie geneem en 14 uur lank op ’n klein, volgelaaide vragboot gereis om Emily met die Gedenkmaal te gaan help. Lance het vertel: “Toe ons daar aankom, wou ons net slaap, maar ons het besluit om liewer eers die hoofman van die dorpie te besoek. Nadat ons die doel van ons besoek aan sy gebied verduidelik het, het die hoofman gevra: ‘Baie het nie hierdie uitnodiging ontvang nie. Kan hulle dit ook bywoon?’ Met breë glimlagte het ons hom verseker dat hulle welkom sal wees.
“Toe dit amper tyd was vir die Gedenkmaal om te begin, het daar nog net twee vroue en ’n paar kinders gesit. Maar ons het baie ander naby die bome sien rondstaan en het gou na hulle toe gestap. Toe dit donker word, het ons ’n klein kragopwekker aangeskakel, en die ligte het aangekom. Almal het aandagtig na die Gedenkmaaltoespraak geluister.” Daar was ongeveer 130 by die toespraak, met inbegrip van ’n predikant van die Sewendedagadventiste wat ’n Nuwe Wêreld-vertaling wou hê omdat dit baie duideliker is as die Bybel wat hy gebruik het. Vyf nuwe Bybelstudies is by hierdie spesiale geleentheid begin.
Papoea-Nieu-Guinee
Twee dorpies net buite ’n plattelandse dorp was onder die sterk invloed van die Katolieke Kerk, en dit was moeilik om daar te preek. Die broers het onlangs verteenwoordigers van die dorpie besoek om ons werk te verduidelik, asook die rede waarom ons graag met alle mense praat. Een dorpie het toevallig kort tevore ’n vergadering gehou om te bespreek hoe die jongmense gehelp kan word om hulle gedrag te verbeter. Die broers het vir die verteenwoordigers van die dorpie gesê dat Bybelkennis sou help.
Ons broers is toestemming gegee om openlik te preek, en etlike jong mans het begin studeer. Die mense van die dorpie het opgemerk dat die gedrag van hierdie jong mans grootliks verbeter het danksy hulle assosiasie met Jehovah se Getuies, en hulle het dus opgehou om ons werk teë te staan. Mettertyd het vriende en ouers ook begin studeer, onder andere die dogter van ’n kategis wat die broers vroeër gedreig het. Hy het vir sy dogter gesê: “Ek het destyds ’n groot fout gemaak. Ek hoop dat God en Jehovah se Getuies my sonde sal vergewe.” Daar is nou 27 in hierdie twee dorpies wat gereeld vergaderinge bywoon. Ten minste vier is al gedoop en doen hulppionierdiens. Hulle streef daarna om gewone pioniers te word.
[Kaart/Prent op bladsy 48]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
[Prent]
Die vuurtoring op Kaap Hoorn
[Kaart op bladsy 63]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
San Cristobal
[Prent op bladsy 44]
’n “Wagtoring”-studie in die dorpie Antanandava, Madagaskar
[Prent op bladsy 46]
’n Studie in die “Leer Bybel”-boek met die groep in Pawaga, Tanzanië
[Prent op bladsy 49]
Die Gemeentelike Boekstudie in Sixaola, Costa Rica
[Prent op bladsy 50]
Ramiro met ’n “Leer Bybel”-boek
[Prent op bladsy 53]
Hiroko preek by ’n bushalte
[Prent op bladsy 58]
Helgi (regs) hou ’n toespraak op die Teokratiese Bedieningskool
[Prent op bladsy 64]
Lance, Diane en Emily