Aardwye predikings- en onderrigtingswerkMaine, VSA: In navolging van Jesus se voorbeeld is ons broers “vissers
Maine, VSA: In navolging van Jesus se voorbeeld is ons broers “vissers
WÊRELDWYD
LANDE 239
VERKONDIGERS 7 782 346
AABTAK URE IN DIE VELDBEDIENING DEURGEBRING 1 748 697 447
BYBELSTUDIES 8 759 988
AFRIKA
LANDE 58
BEVOLKING 968 989 710
VERKONDIGERS 1 312 429
BYBELSTUDIES 2 999 639
Geen aborsie vir haar nie
In Addis Abeba, die hoofstad van Etiopië, het daar ’n winkeleienares met die naam Saba gewoon. Eendag het twee susters vir haar ’n Ontwaak! aangebied wat aborsie bespreek. Saba het die susters in die winkel ingeneem en in trane erken dat sy dit oorweeg om ’n aborsie te kry. Terwyl hulle daaroor gepraat het, het al drie so emosioneel geword dat hulle begin huil het. Daardie dag het Saba besluit om haar baba te hou en ferm vir haar man gesê waarom. Later het sy geboorte geskenk aan ’n pragtige dogtertjie. Sy het ook die Bybel begin studeer en is gedoop. Sy is nou ’n gelukkige pionier. Haar man het ook gestudeer en ons broer geword, en in April 2012 is hulle twee ander kinders gedoop.
‘Kan ons met hom praat?’
Kaokoland, Namibië: Aantreklike onderrigmiddele trek die aandag van mense van alle ouderdomme. Luister na God en lewe vir ewig is nou beskikbaar in 452 tale!
’n Kringopsiener in Etiopië het saam met ’n broer van huis tot huis gepreek. By een deur het hulle die bediende ontmoet en haar gevra of hulle met die man van die huis kan praat. Toe sy sê dat dit nie moontlik is nie, het hulle haar gevra of hulle vir hom lektuur kan los. Sy het sy toestemming gaan vra, teruggekom en gesê dat hy dit eers wil sien.
Die broers het dus vir haar ’n tydskrif gegee om vir hom te wys. Ná ’n paar minute het sy teruggekom en gesê dat hy ingestem het om dit te lees. Toe het een van die broers gesê: “As hy nie kan uitkom nie, kan ons dan ingaan en met hom praat?” Weer het die bediende hom gaan vra. Dié keer het sy langer weggebly, en die broers het gewonder of sy selfs gaan terugkom. Uiteindelik het sy teruggekom en hulle ingenooi. Toe het die broers uitgevind dat die huisbewoner, Yirgu, ’n bejaarde man is wat al tien jaar aan die bed gekluister is en dat hy nie eens regop kan sit nie. Die rede waarom die bediende so lank weggebly het, was dat sy hom help aantrek het en die kamer opgeruim het.
Die broers het die goeie nuus aan hom bekend gemaak. Yirgu het gehou van wat hy hoor en ’n Bybelstudie aanvaar. Namate die studie gevorder het, het sy gesondheid verbeter. Ná ’n ruk kon hy uit die bed opstaan en in ’n rolstoel rondbeweeg. Kort voor lank het hy die vergaderinge begin bywoon, en hy is onlangs by ’n streekbyeenkoms gedoop.
Die kerk van sy pa se boeke
Calvin, wat in Zimbabwe woon, was vier jaar oud toe sy pa gesterf het en net ’n sak met ’n Nuwe Wêreld-vertaling en die boek Jesaja se profesie—Lig vir die hele mensdom, Deel 1, aan hom nagelaat het. “Bly by die kerk van hierdie boeke”, het hy vir Calvin gesê. “Dit leer die waarheid.”
Toe sy ma sterf, het Calvin by sy ouma gaan bly. Calvin het nege jaar lank geweier om na sy ouma se kerk te gaan. Hy het volgehou dat hy eendag “die kerk” van die publikasies wat sy pa hom gegee het, sal vind.
Eendag het die seun se ouma een van ons susters ontmoet. Die ouma het nie geweet dat sy ’n Getuie is nie en het vir die suster gesê dat sy ’n hardkoppige kleinseun het wat nie na haar kerk toe wil gaan nie. Hy het eerder Sondae heeldag lank ’n boek gelees wat sy pa aan hom nagelaat het. Die suster het gevra wat die naam van die boek is. Die ouma het gesê dat sy dink dat dit “een van daardie belaglike boeke van die Wagtoring” is.
Die suster het gesê dat sy graag die seun wil ontmoet. Toe hulle ontmoet, was Calvin verheug. Die suster het dadelik die Bybel met hom begin studeer met behulp van die boek Wat leer die Bybel werklik?, en hy het onmiddellik die vergaderinge begin bywoon ondanks hewige teenstand van sy ouma. Hy is vasbeslote om die waarheid aan te kleef en sien met groot afwagting uit na die opstanding, wanneer hy hoop om met sy ma en pa verenig te word. Calvin is in Augustus 2012 gedoop.
‘Die God wat jy dien, is sterk’
Caro woon in Uganda. Net ’n maand nadat sy die Bybel begin studeer het, het haar man, Martin, wat die toorkuns beoefen het, haar hewig begin teëstaan. “As gevolg van jou boeke kan die voorouers nie meer in die huis inkom nie”, het hy gesê. Hy het haar mishandel en gedreig om haar dood te maak as sy nie haar Bybelstudie stopsit nie. Hy het ook opgehou om vir die gesin te sorg. Caro het kalm gebly, kos vir die gesin voorsien uit die tuin wat sy bewerk het en voortgegaan om juiste kennis in te neem. Later, toe dit duidelik geword het dat haar lewe werklik in gevaar is, het Caro die huis verlaat. Dit was ’n stryd om vir haarself te sorg. Maar toe sy hoor dat die kinders siek is, het sy die bietjie geld wat sy verdien het, gebruik om vir hulle medisyne te koop.
Ná ’n ruk het Caro se man haar gebel. “Ek wil hê jy moet terugkom huis toe”, het hy gesê. “Ek sien nou dat die God wat jy dien, sterk is en dat hy met jou is. Ek wil hê jy moet vir daardie mense wat jou leer, sê dat hulle my ook moet kom leer. Ek wil baie graag my lewe verander.” Martin was ernstig. Die gesin is nou verenig en gelukkig. Caro sowel as Martin is in Augustus 2012 by ’n streekbyeenkoms gedoop.
Die enigste prediker in ’n afgeleë dorpie
Terwyl David in ’n dorp ver van sy huis in Kenia gewoon het, het hy die Bybel saam met Jehovah se Getuies begin studeer. Maar ná ’n kort rukkie moes hy teruggaan na sy tuisdorpie Lokichar, in ’n afgeleë deel in die noordweste van Kenia. Die naaste gemeente was ongeveer 165 kilometer daarvandaan, in die dorp Lodwar. David het vier jaar lank min kontak met die Getuies gehad, maar hy het nietemin vir sy bure en familielede gepreek en vir hulle die dinge vertel wat hy geleer het in die kort tydjie dat hy die Bybel studeer het. Party het geluister, en kort voor lank het hy ’n hele paar Bybelstudies gehou. In 2007 het hy met die broers in Lodwar in aanraking gekom en sy studie hervat. Wanneer hy elke twee weke soontoe gegaan het, moes hy van ’n motorfiets, taxi en minibus gebruik maak.
Namate David meer kennis opgedoen het, het sy ywer vir die bediening toegeneem. Al was hy nog nie gedoop nie, het hy naby sy huis ’n tydelike “Koninkryksaal” met kleimure en ’n grasdak gebou, waarin hy vergaderinge met die belangstellendes gehou het. Maar nie al die dorpenaars was bly oor sy predikingswerk nie, en hy moes twee jaar lank verbale en fisiese mishandeling verduur. Eenkeer is hy bewusteloos geslaan deur dorpenaars wat hom daarvan beskuldig het dat hy “Duiwelaanbidding” in die dorpie inbring. Maar nadat David ’n regeringsamptenaar om hulp gevra het, het die geweld opgehou, en David het voortgegaan om te preek. “Die waarheid is my lewe”, het David gesê. “Geen teenstand, al is dit ook hoe erg, kan my keer nie.”
David is in 2009 gedoop, en hy dien nou as ’n bedieningskneg en ’n gewone pionier. Hy en sy 15-jarige seun is die enigste verkondigers in die gebied, maar in April 2012 het ongeveer 60 dorpenaars die Herdenking van Christus se dood bygewoon, wat in die tydelike saal naby David se huis gehou is.
‘Bewys uit die Bybel dat sy verkeerd is’
Janet, ’n gewone pioniersuster in Ghana, het die Leer Bybel-boek gedurende ’n lang busrit gelees. ’n Prediker het op die bus geklim, ’n preek gelewer en toe die passasiers gevra om geld by te dra vir sy bediening. Janet het vir hom gesê: “Jy sê dat Jesus en God dieselfde persoon is. Wie het dan met Jesus gepraat toe hy gedoop is?”
Die prediker het gesê: “Dit is ’n verborgenheid.”
Janet het die Leer Bybel-boek by hoofstuk 4 oopgemaak, ’n paar tekste gekies en van die passasiers gevra om die verse te lees. Sy het verduidelik wat die verskil is tussen Jesus en die almagtige God, Jehovah.
“Jy is ’n heks”, het die prediker gesê.
Toe het die passasiers haar verdedig en gesê: “Jy moet uit die Bybel bewys dat sy verkeerd is in plaas van haar ’n heks te noem.” Die prediker het woedend by die volgende bushalte afgeklim. ’n Jong vrou wat langs Janet gesit het, het vir haar gesê: “Ek het gedink dat Jehovah die naam van die Getuies se kerkgebou is. Voor jou bespreking met daardie prediker het ek nie geweet dat dit God se naam is nie.”
’n Gesprek het gevolg, en Janet het die vrou se telefoonnommer gekry en belowe om haar te bel. Toe die vrou tuiskom, het sy haar ouma van die voorval vertel. Die ouma was ook verbaas om uit te vind dat God se naam Jehovah is. Janet het later gereël dat Getuies die vrou en haar ouma gereeld besoek. Albei woon nou die vergaderinge by.
DIE AMERIKAS
LANDE 57
BEVOLKING 946 087 916
VERKONDIGERS 3 861 145
BYBELSTUDIES 4 196 922
Sy het die waarheid gevind op die laaste plek waar sy dit verwag het
Tronkbewaarders in Bolivia het die 20-jarige Andrea al worstelend in die binnehof van die tronk ingesleep terwyl sy gevloek en dreigemente geskreeu het. Omdat sy gewelddadig en sterk was, was sy ’n intimiderende figuur. Leidy, een van Jehovah se Getuies wat valslik beskuldig en opgesluit is, was nie bang vir Andrea nie, maar het haar eerder jammer gekry. Leidy het elke oggend ’n lied uit ons liedereboek hardop gelees. Toe Andrea dit hoor, het sy gevra: “Is jy een van Jehovah se Getuies?”
Peru: Boere hoog bo die Utcubamba-vallei kry ’n getuienis
Toe Leidy ja antwoord, het Andrea gesê: “My ma is een van Jehovah se Getuies, en ek het gewoonlik saam met haar na die vergaderinge toe gegaan. Sy het die Bybel met my gestudeer.” Andrea het begin huil. Gedurende die volgende paar dae het Leidy diep geestelike besprekings met Andrea gehad, en toe Andrea voor die hof moes verskyn, het hulle saam vir Jehovah se hulp en leiding gebid. Andrea is vrygelaat en het voortgegaan om van Jehovah te leer. Sy het gou gekwalifiseer om ’n ongedoopte verkondiger te wees, en sy berei haar nou voor vir doop.
Leidy het haar onregverdige opsluiting in die tronk benut en 21 Bybelstudies begin voordat sy vrygelaat is. Sy gaan nou drie dae per week terug na die tronk om die belangstelling te kweek.
Dit was die webwerf www.pr2711.com
Toe ’n welgeklede egpaar en hulle twee jong kinders een Sondag in die lente van 2011 by ’n Koninkryksaal in Kanada ingestap het, het almal gedink dat hulle Jehovah se Getuies van ’n ander stad is. Dominic, ’n bedieningskneg in die gemeente, en die besoekende man het mekaar dadelik herken. Dominic het 17 jaar vroeër die Bybel met die man gestudeer. Marc-André en Josée, sy vrou, het gedurende die vorige twee jaar gereeld die Wagtoring en Ontwaak! van die webwerf www.pr2711.com afgelaai en gelees en het besef dat die hele gesin na die Koninkryksaal toe moet gaan. ’n Bybelstudie is onmiddellik met hulle begin, en die gesin het al die vergaderinge begin bywoon. Nadat die gesin die Bybel net twee maande gestudeer het, het hulle elke week hulle eie aand vir Gesinsaanbidding begin hou. Hulle maak nog steeds goeie vordering, en Josée het in Mei 2012 haar eerste studentetoespraak op die Teokratiese Bedieningskool gehou.
‘Hy het vir my sy middagete en sy hoed gegee’
Gedurende die streekbyeenkoms in 2010 in Chili het die tienjarige Marcelo opgemerk dat die bejaarde man wat langs hom sit, geen lektuur het nie.
“Die man het nie ’n Bybel nie”, het hy vir sy ma gefluister.
“Laat hy saam met jou lees”, het sy teruggefluister. Marcelo het dus nader geskuif en die man, Victor, saam met hom in sy Bybel laat lees terwyl hy elke teksverwysing opgesoek het. Toe die pouse begin, het Marcelo na sy ma toe gedraai en gesê: “Hy het nie middagete nie.” Sy het voorgestel dat hy sy middagete met Victor deel. Marcelo het hom dus ’n toebroodjie en ’n koppie warm tee gegee. Terwyl Victor sy toebroodjie geëet het, het Marcelo vir hom al die Bybelverse gewys wat hy kon onthou.
Teen die middag het die warm son op hulle geskyn. Marcelo het weer na sy ma toe gedraai en gesê: “Hy het nie ’n hoed nie.”
Sy ma het geantwoord: “Gee vir hom joune.” Hy het dit toe gedoen. Ná die program het Marcelo en Victor vir mekaar totsiens gesê.
By die volgende jaar se streekbyeenkoms het Marcelo rondgekyk om te sien of Victor gekom het. Tot sy groot vreugde was hy daar, en dié keer het hy ’n das aangehad! Toe Victor vir Marcelo sien, het hy vir die mense om hom gesê: “Ek is vandag hier danksy hierdie jong man. Verlede jaar het ek ’n uitnodiging na die byeenkoms ontvang, en ek het gekom. Hierdie seun het my saam met hom in sy Bybel laat lees en het vir my sy middagete en sy hoed gegee. Nou studeer ek die Bybel!” Victor het ’n ongedoopte verkondiger geword.
Lof van ’n joernalis
’n Welbekende joernalis in Venezuela het in haar koerantrubriek die ondervinding beskryf wat sy met die klantediens van ’n landwye telefoonmaatskappy gehad het toe sy gebel het om tegniese hulp te vra. Die persoon wat haar oproep beantwoord het, was kortaf en onbeskof en het haar glad nie gehelp nie. Haar tweede oproep is beantwoord deur ’n jong man wat hom as “Misael” geïdentifiseer het en haar vraag op beleefde en bekwame wyse hanteer het. Sy het geskryf: “Hierdie jong man het uitsonderlike vriendelikheid, respek, hulpvaardigheid en bedagsaamheid gedurende die hele oproep getoon. Met sy hulp kon ek die probleem oplos en het ek ook geleer hoe om soortgelyke probleme in die toekoms op te los.”
Toe die vrou hom prys, het hy verduidelik dat hy een van Jehovah se Getuies is en dus probeer om sy naaste te behandel soos Jesus gesê het. Die joernalis het gevra om met Misael se werkgewer te praat. Sy het sy werker se uitsonderlike diens geprys. In haar artikel het sy gesê dat Misael ’n voorbeeldige Venezolaan en een van Jehovah se Getuies is. Sy het haar rubriek afgesluit deur te sê: “Ons het mense soos hy in alle openbare dienste nodig.”
‘Moenie hardkoppig wees nie!’
Mexikostad, Mexiko: Baie van die meer as eenmiljoen Bybelstudies in die land is deur verkondigers begin terwyl hulle straatgetuieniswerk gedoen het
Die 15-jarige Gabriela, wat doof is, was verheug om in Oktober 2011 by die streekbyeenkoms vir gebaretaal in Ecuador gedoop te word. Sy was so opgewonde dat sy die Maandag by haar hoërskool haar onderwyser gevra het of sy ’n kort aankondiging aan haar klasmaats kan doen. Die onderwyser het ingestem, en Gabriela het voor haar klas gaan staan en geesdriftig in gebaretaal gesê: “Ek wil net sê dat ek die afgelope Vrydag, Saterdag en Sondag by ’n byeenkoms was waar ek as een van Jehovah se Getuies gedoop is. Ek wil ook vir julle sê dat die einde van hierdie stelsel van dinge naby is. Daar is min tyd oor! Dit is dringend dat julle die nodige veranderinge aanbring. Moet dus nie hardkoppig wees nie. Vrees God!” Haar klasmaats was beïndruk.
Later die dag het Katty, ’n onbedrywige dowe Getuie, gedurende pouse na Gabriela toe gekom om meer omtrent die byeenkoms uit te vind. Gabriela het reguit gesê: “Dit was wonderlik! Maar noudat ek ’n gedoopte Getuie is, wil ek getrou bly aan Jehovah. Ek moet dus vir jou sê dat ek nie meer jou vriendin kan wees nie, want jy lei ’n onrein lewe. As ek vriende met jou is, kan dit my vriendskap met God benadeel. Jy moet verander. Dit is belangrik om tot Jehovah te bid en ook om met die ouer manne te praat. Ek weet jy kan ten goede verander.” Danksy Gabriela se reguit maar liefdevolle vermaning het Katty met die ouer manne gepraat, geestelike hulp ontvang en weer bedrywig geword in die bediening.
Sy het haar onderwyser se skootrekenaar gebruik
’n Sestienjarige suster in die Verenigde State se klasmaats het haar oor haar godsdiens uitgevra, maar sy het geen lektuur by haar gehad nie, nie eens haar Bybel nie. Omdat sy haar klasmaats se vrae met tekste wou beantwoord, het sy haar onderwyser se skootrekenaar gebruik om toegang tot die webwerf www.pr2711.com te verkry. Sy het nie net al hulle vrae beantwoord nie, maar ook vir hulle gewys hoe om die webwerf te gebruik. Sy het verduidelik dat hulle altyd self na die webwerf kan gaan wanneer hulle Bybelvrae het en daar geen Getuies naby is om hulle te help nie. Later in die week het sy opgemerk dat haar klasmaats minder vrae as tevore het. Toe sy vra waarom dit is, het party gesê dat hulle die webwerf gereeld op hulle selfoon besoek het. Selfs haar onderwyser het dit gedoen!
ASIË EN DIE MIDDE-OOSTE
LANDE 48
BEVOLKING 4 222 869 785
VERKONDIGERS 674 608
BYBELSTUDIES 662 736
Konflik in ’n dorpie word vermy
Op pad na ’n begrafnis het ’n groep Getuies deur ’n klein dorpie in Indonesië gereis. ’n Pionier het ’n paar jongmense langs die pad opgemerk. Hy het met hulle gepraat en die brosjure Luister na God en lewe vir ewig vir hulle gegee. ’n Ruk later het ’n suster op pad huis toe by dieselfde plek verbygeloop. ’n Man het met die Luister en lewe-brosjure in sy hand na haar toe gekom en haar bedank dat sy dit vir sy kinders gegee het. “Dit het my kinders se lewe gered!” het hy gesê. Die suster, wat nie van die oorspronklike gesprek geweet het nie, het gevra wat gebeur het. Die pa het verduidelik dat die jongmense van plan was om ’n sekere dorpie aan te val. In ooreenstemming met die plaaslike gebruik wou hulle ’n aanval op een van hulle vriende wreek. Maar toe die seuns die brosjure gelees het, het hulle uitgevind dat mense wat met ander baklei, nie die komende Paradys sal beërf nie. Hulle het dus gekalmeer, hulle plan laat vaar en huis toe gegaan. ’n Gevaarlike konflik is vermy danksy die Bybel se boodskap in die brosjure.
’n Transvestiet bring veranderinge aan
Shau Kei Wan, Hongkong: ’n Jong vrou by ’n mark kry ’n getuienis
Rek het in ’n tradisionele gesin in Kambodja grootgeword, maar van kleins af het hy en sy tweelingbroer gevoel dat hulle vroulik is. Hulle het met poppe gespeel en wou meisiesklere dra. Hulle ma was verward en het haar daaroor geskaam en het nie geweet hoe om hulle te stop nie. Wanneer hulle die huis verlaat het om skool toe te gaan, het hulle seunsklere aangehad, maar sodra hulle by die skool aangekom het, het hulle meisiesklere aangetrek. Toe die tweeling 16 jaar oud was, het hulle aan ’n skoonheidswedstryd vir transvestiete deelgeneem, en hulle het onder die aandag van die vermaaklikheidsbedryf gekom. Gevolglik het hulle in televisieprogramme en komedies verskyn. Kort voor lank het Rek ’n homoseksuele lewe begin lei en met ander transvestiete begin assosieer.
Rek se ma het begin kerk toe gaan en daarop aangedring dat Rek saam met haar gaan. Hoewel hy ingestem het om mansklere te dra, het hy geweier om sy lang hare te laat sny. Die predikant het dikwels verkleinerende opmerkings teenoor Rek gemaak en die spot gedryf met sy lewenswyse. Rek het nietemin gedink dat hy die Bybel by die kerk sal probeer studeer. Die eerste week het hy vroeg opgestaan en ’n hele paar kilometer op sy fiets na die kerk gery, maar die predikant het gesê dat hy hom nie kan leer nie. Toe die predikant die tweede week nie eens opdaag nie, was Rek hoogs verontwaardig.
Maar toe Rek tuiskom, het sy tweelingbroer vir hom gesê dat ’n vrou hulle besoek het en dat sy ’n gratis tuisbybelstudie aangebied het. Sy het die boek Wat leer die Bybel werklik? daar gelaat. Die tweeling het saam met die suster en haar man begin studeer. Ná ses maande het Rek se broer gevoel dat hy nie gereed is om sy lewenswyse te verander nie en het hy opgehou studeer. Maar Rek is diep getref deur 1 Korintiërs 6:9, 10 en het duidelik gesien wat hy moet doen. Danksy ywerige studie, Bybellees, gebed en vergaderingbywoning kon hy sy lewenswyse verander. Rek se ma studeer ook en maak goeie vordering. Toe Rek gedoop is, het sy ma met trane in haar oë gesê: “Ek is so bly om te sien dat my seun as ’n man gedoop word.” Hy dien nou as ’n gewone pionier.
’n Spiritis verander
Or-Ya was ’n aktiewe spiritis, geneser, raadgewer en fortuinverteller. ’n Spesiale pionieregpaar wat in Haifa, Israel, dien, het haar in die huis-tot-huis-bediening ontmoet. Sy het hulle gegroet met die woorde: “Kom gerus in as dit oor God gaan!” Haar huis was vol spiritistiese en mistieke voorwerpe. Sy het gesê dat sy boodskappe van God ontvang, waarvan party deur die “gees” van ’n afgestorwe rabbi kom.
Sy het die aanbod van ’n tuisbybelstudie in die Leer Bybel-boek aanvaar. Net twee dae voordat die egpaar haar huis besoek het, het sy tot God gebid om iemand te stuur wat haar die Bybel kan leer sonder enige rabbynse uitleggings. Binne ’n maand het sy gevra: “Is daar ander mense wat soos julle glo?” Sy het ’n gemeentelike vergadering bygewoon en was beïndruk deur die hartlikheid en liefde wat aan haar betoon is. Daarna het sy die vergaderinge gereeld bygewoon.
‘Julle het net twee maande om my vir doop voor te berei!’
Nadat sy twee maande gestudeer het, het Or-Ya omtrent ’n komende byeenkoms gevra: “Mense word mos by byeenkomste gedoop, nie waar nie? Dan het julle net twee maande om my vir doop voor te berei!” Haar eerste stap was om van al haar duur spiritistiese voorwerpe ontslae te raak. Toe het sy opgehou om as ’n spiritis te werk en vir ander begin getuig, en sy het vir al haar voormalige pasiënte en kliënte ’n Leer Bybel-boek gegee. Toe sy siek geword het, het sy geweier om van haar vorige genesingsmetodes gebruik te maak. Omdat sy haar voormalige beroep prysgegee het, het sy vier maande lank geen inkomste gehad nie. Sy het nietemin sekere voorwaardes gestel vir werk—vier dae per week, ses uur per dag—sodat sy tyd vir teokratiese bedrywighede sou hê, en sy het uiteindelik ’n geskikte werk gevind. Toe het sy haar groot huis verkoop en ’n klein woonstel gehuur.
Ná verloop van tyd het Or-Ya vir doop gekwalifiseer, maar ’n week voor die byeenkoms het sy haar been gebreek. Dit het haar nie ontmoedig nie, en sy is in elk geval gedoop, met haar been in gips. Nou is Or-Ya ’n bedrywige verkondiger, wat vir voormalige kliënte getuig en Bybelstudies hou.
’n Kultuslid vind die waarheid
’n Bybelstudie is met ’n dowe tweeling in ’n afgeleë bergstreek van die Filippyne begin. Albei broers het aan ’n kultus behoort wat geglo het dat wapens die lede niks kan aandoen solank hulle sekere amulette en serpe vir beskerming dra nie. Hulle is opgelei om messe, kapmesse en vuurwapens te gebruik en het aan baie gevegte teen rebellegroepe in die berge deelgeneem. Die kultus het hulle toegelaat om die Bybel te studeer op voorwaarde dat die Getuies hulle nie dwing om die kultus te verlaat nie.
Die broers het natuurlik die tweeling aangespoor om hulle eie besluit te neem op grond van wat hulle uit die Bybel leer. Een van die tweelingbroers het gevoel dat hy nie die nodige veranderinge in sy lewe kan aanbring om God op aanneemlike wyse te dien nie. Die ander een het egter aangehou studeer. Om hom aan te moedig, het die broer wat met hom gestudeer het, die Bybel oopgeslaan en in gebaretaal verduidelik: “Jou naam, Samuel, is in die Bybel. Die Samuel in die Bybel het die ware God, Jehovah, gedien totdat hy baie oud was. Jy kan Jehovah ook getrou gehoorsaam.” Dit het Samuel se hart geraak. “As my naam in die Bybel is”, het hy geredeneer, “dan moet ek my ook aan Jehovah se kant skaar.” Hy het die kultus meegedeel dat hy die berge gaan verlaat, en hy het al sy amulette en spiritistiese voorwerpe verbrand en vinnig vordering gemaak. Hy is nou ’n gedoopte kneg van Jehovah, wat ander dowes ywerig help om Bybelwaarheid te leer.
’n Kind verduur vervolging
Erdenet, Mongolië: ’n Bybelstudie word gehou met ’n vrou wat op die afgeleë, oop vlaktes woon
Rajiv woon in ’n afgeleë dorpie in die noorde van Indië. Toe hy nege jaar oud en in graad vier was, het sy onderwyser, een van Jehovah se Getuies, die kinders sedelike standaarde geleer met behulp van die boek Leer by die Groot Onderwyser. Rajiv het die inligting gretig ingeneem en dit begin toepas. Hy het vir sy onderwyser gesê dat hy opgehou het om leuens te vertel en om met sy skoolmaats te baklei en dat hy nou gedurende pouse sy kos deel met die kinders wat niks het nie.
“U het my kop gedwing om voor hierdie beeld te buig, maar u sal nooit my hart buig nie”
Toe hy meer oor die belofte van die Paradys op aarde geleer het, het hy hierdie goeie nuus begin vertel aan ander in sy dorpie en aan mense wat hy op die trein ontmoet het. Dit het sy ouers kwaad gemaak en hulle verleë laat voel. Hulle het vir hom gesê hy moet ophou om oor Jehovah en Jesus te praat. Toe hy aanhou om dit te doen, het hulle hom geslaan, en sy ma het sy klere weggevat wanneer hy van die skool af gekom het sodat hy nie kon uitgaan om oor sy nuutgevonde hoop te praat nie. Sy ouers het hom nie toegelaat om in sy bed te slaap nie en het hom min kos gegee. Toe ook hierdie maatreëls misluk het, het hulle ’n priester gevra om die seun se denke te kom verander.
Die priester het etlike dae in die huis gebly en Rajiv probeer dwing om voor ’n afgod te buig. Toe Rajiv sê dat die afgod net klip is en nie ’n lewende god nie, het die priester gesê dat die seun ‘deur sy hart moet kyk’. Slegs dan sal hy god in die beeld “sien”. Rajiv het ’n stuk papier gevat en “100 roepees” daarop geskryf. Hy het dit vir die priester gegee en hom gevra om sjokolade te gaan koop en die kleingeld terug te bring. Die priester het gesê dat hy nie ’n dwaas is nie; dit is net ’n stuk papier sonder enige waarde. “As u deur u hart kyk”, het Rajiv geantwoord, “sal u werklike geld in hierdie stuk papier sien.” Die priester het woedend die seun se kop voor die beeld afgedruk. “U het my kop gedwing om voor hierdie beeld te buig”, het Rajiv gesê, “maar u sal nooit my hart buig nie.” Uiteindelik is die priester daar weg nadat hy gesê het dat dit onmoontlik is om die seun te verander en dat hy, as hy langer sou bly, sy eie geloof sou verloor. Rajiv se ouers het hom toe na ’n ander skool gestuur. Maar hy het nie opgehou om te praat met enigiemand wat wou luister na wat hy oor Jehovah en die belofte van die Paradys sê nie. Hy is nou tien jaar oud en vertrou nog steeds op Jehovah om hom te help om sy geloof sterk te hou.
Sy het die Bybel gevind waarna sy gesoek het
Terwyl Larisa vir ’n werker in ’n boekwinkel in Armenië getuig het, het ’n vrou ingekom en die verkoopsdame vir die “Nuwe Wêreld”-Bybel gevra. Die verkoopsdame het gesê dat sy nie so ’n Bybel het nie, maar het vir haar ’n plaaslike Armeense vertaling aangebied. “Is dit maklik om te verstaan?” het die klant gevra. Die verkoopsdame het ’n paar verse gelees en gesê: “Dit klink verstaanbaar.” Maar die vrou was nie oortuig nie en het volgehou dat sy die “Nuwe Wêreld”-Bybel moet vind. Larisa het skielik onthou dat sy haar eie Armeense Bybel in haar handsak het. Sy het dit vir die vrou gewys en haar gevra om die titel te lees. Die vrou het gelees: “Nuwe Wêreld-vertaling.” Dít was die Bybel waarna sy gesoek het!
Die vrou het verduidelik dat haar dogter en skoonseun in Griekeland kort tevore die Bybel saam met Jehovah se Getuies begin studeer het. Aangesien hulle nog nie Grieks geleer het nie, het hulle hulle ma gevra om met haar volgende besoek ’n Armeense Nuwe Wêreld-vertaling saam te bring. Ons suster het die Bybel vir die vrou gegee en gesê: “Gee dit asseblief vir hulle en sê vir hulle dat dit ’n geskenk van Jehovah is.” Die vrou was verheug toe Larisa ook aanbied om haar te help om die Bybel te studeer. Hulle het telefoonnommers uitgeruil sodat die vrou kon begin studeer sodra sy van Griekeland teruggekom het.
EUROPA
LANDE 47
BEVOLKING 738 679 198
VERKONDIGERS 1 595 888
BYBELSTUDIES 841 260
Sy het die notebeurs teruggegee
Nina, ’n gewone pioniersuster in Bosnië, studeer met ’n Roma-gesin. Terwyl die tienjarige dogter van die gesin eendag in die straat geloop het, het sy ’n notebeurs vol geld, kredietkaarte en dokumente opgetel. Voordat sy die waarheid geleer het, sou sy dit as ’n kosbare gawe beskou het, maar nadat sy met haar ma daaroor gepraat het, het sy besluit om dit by die polisie in te gee. Dit was ’n merkwaardige besluit, want die gesin was arm en het nie eens genoeg geld gehad om brood te koop nie. Omtrent twee uur nadat hulle die notebeurs aan ’n verbaasde polisieman gegee het, het hulle ’n oproep ontvang om te vra dat hulle terugkom na die polisiestasie. Die eienaar van die notebeurs het daar gewag om hulle te bedank en vir hulle ’n beloning te gee. Hy het hulle die ekwivalent van ongeveer R240 gegee, wat gelyk is aan twee dae se loon.
Die titel het sy belangstelling geprikkel
Gjógv, Faroëreilande: Hierdie eilande het in 2012 ’n hoogtepunt van 118 verkondigers gehad
Nihad, wat in Bosnië woon, het na sy motor gestap nadat hy velddiens gedoen het. Daar het ’n man langs die motor gestaan. Toe Nihad hom groet, het die man gesê: “Verskoon my, ek het ’n tydskrif in jou motor gesien met die titel ‘Hoe om ’n goeie vader te wees’. Ek wil baie graag ’n eksemplaar hê. Ek wag nou al omtrent ’n uur vir iemand om te kom. Kan ek dit asseblief kry?” Nihad het met graagte die tydskrif vir hom gegee en die geleentheid benut om vir die man te getuig.
Die bemanning van ’n tenkskip word vertroos
Toe ’n egpaar wat in die hawegebied van Rotterdam, Nederland, preek, ’n tenkskip besoek het, het hulle ’n swaarmoedige bemanning gevind. Met trane in sy oë het die eerste ingenieur vir hulle vertel dat die skip ’n reeks ernstige probleme ondervind het, insluitende amperse botsings, en dat dit beskadig is. Hy het dus gevra: “Sal julle asseblief vir ons bid?” Die egpaar het aangebied om vir die bemanning ’n bemoedigende Bybeltoespraak te hou. Seweuur die volgende aand is die verkondigers tesame met twee ander egpare op die brug van die skip verwelkom. Vyftien van die 16 bemanningslede was daar bymekaar. Ná ’n openingsgebed het die broer ’n toespraak gehou oor die onderwerp: “Rampe—Is dit dade van God?” Die bemanning kon die teksverwysings in die Bybel lees, want die verkondigers het ekstra Bybels gebring en almal gehelp om die tekste na te slaan. Ná die slotgebed het almal bly sit en met die broers gepraat. Die matrose was verlig en dankbaar. Een van hulle het gesê: “Dit is ’n antwoord op ons gebede.” Die bemanning het 20 boeke sowel as Bybels en ander publikasies geneem, waarna die kaptein die verkondigers ’n koevert met R1 600 daarin gegee het as ’n bydrae vir die lektuur.
Sy het gebid dat sy kan help
Irene, wat in Swede woon, het geskryf: “Ek is 80 jaar oud, en ek het soveel pyn dat ek nie in velddiens kan uitgaan nie. Ek het tot Jehovah gebid dat ek iemand kan help wat ek lank gelede besoek het en wat nou bereid sal wees om besprekings of besoeke te hê.
“Eendag het ons telefoon gelui, en my man het geantwoord. Dit was ’n vrou wat vir hom gesê het: ‘Verskoon my, maar julle was die enigste mense aan wie ek kon dink en daarom het ek nou gebel. Wil jou vrou my dalk besoek om God se Woord te bespreek? Ek het 15 of 20 jaar gelede gestudeer, maar ek het die studie gestaak omdat my oorlede man my teëgestaan het.’
“Ek het onthou dat ek die vrou besoek het saam met ’n ander suster wat met haar gestudeer het. Tot my verbasing het die vrou my onthou. Ek was verheug en het gereël om met haar te studeer. Sedertdien het ons elke week ’n studie. Sy het die Gedenkmaal en die spesiale toespraak bygewoon. Sy woon ook die ander vergaderinge by. Ek dank Jehovah elke dag dat hy my gebed verhoor het.”
Geen sjokolade vir die bydraebussie nie
Die agtjarige Sergio, wat in Italië woon, wou die ouer manne oortuig dat hy gereed is om ’n ongedoopte verkondiger te word. Eendag het hy saam met sy pa gegaan, wat as deel van sy werk ’n slot vir ’n egpaar in hulle sewentigerjare moes regmaak. Sergio het ’n stel tydskrifte saamgeneem. “Terwyl my pa gewerk het”, het hy verduidelik, “het ek die tydskrifte vir die man aangebied, wat so verbaas was dat hy sy vrou geroep en dit vir haar gewys het. Toe het ek hulle naam, adres en telefoonnommer neergeskryf sodat ek hulle weer kon besoek. Die vrou het vir my al hierdie inligting en ook ’n sjokolade gegee.” ’n Paar dae later het Sergio en een van die ouer manne ’n herbesoek by die egpaar gedoen. Sergio het die klokkie gelui, en toe die vrou die deur oopmaak, het hy verduidelik dat hy vir hulle die boek Wat leer die Bybel werklik? wou gee. Die vrou het dit met graagte geneem. Sy het hom nog ’n sjokolade gegee. “Omdat ek nie die sjokolade in die bydraebussie kon sit nie, het ek dit geëet”, het Sergio gesê en toe bygevoeg: “Die ouer manne het uiteindelik verstaan hoe graag ek ’n ongedoopte verkondiger wou word.”
Die predikant wou meer leer
Simeon was die predikant van ’n kerk in Goerkowo, Bulgarye, waar daar geen Getuies is nie. Sy studie van die Bybel het hom bewus gemaak van die verskille tussen wat die Bybel leer en wat die kerk leer. Eendag het hy op die trein ’n paar van ons tydskrifte gekry. Simeon was verheug om uit te vind dat Jehovah die ware God is en dat daar geen Drie-eenheid is nie. Hy was gretig om meer te leer en het aan die takkantoor en al die kerke waarvan hy geweet het, geskryf. Net een kerk het geantwoord en vir hom gesê om hom nie oor “sulke onsin” te bekommer nie. Die takkantoor daarenteen het gereël dat twee Getuies sowat 35 kilometer van Kazanloek af reis. Hulle het ’n Bybelstudie met Simeon en sy gesin begin. Simeon het gehou van wat hy geleer het, en hy het sy bure en vriende genooi om te kom luister. Kort voor lank het 25 mense die weeklikse Bybelstudie bygewoon. Nadat ’n 75-jarige buurvrou een van die Bybelbesprekings bygewoon het, het sy met trane in haar oë gesê: “Ek het in een uur meer verstaan as in die 30 jaar dat ek kerk toe gaan.” Tot 60 mense woon die vergaderinge by wat die broers van Kazanloek elke maand in Goerkowo hou, en 79 het die Gedenkmaal bygewoon.
“Ek het in een uur meer verstaan as in die 30 jaar dat ek kerk toe gaan”
“Hou asseblief aan om hierdie lewenswyse te volg”
Walja, ’n 15-jarige suster in die Oekraïne, het opgemerk dat haar onderwyseres in swart klere skool toe kom en dat sy gehuil het. Toe sy uitvind dat die onderwyseres se ma dood is, het Walja besluit om haar met tekste oor die opstanding te vertroos. Walja het ’n Bybel en twee brosjures, Wat gebeur met ons wanneer ons sterf? en Wanneer ’n geliefde sterf, geneem en besluit om ná haar klasse na die onderwyseres toe te gaan. Sy het gesê: “Terwyl ek by haar kantoordeur gewag het, was ek baie senuweeagtig en daarom het ek tot Jehovah gebid om my te help.”
Toe Walja in haar kantoor ingaan, het die onderwyseres gevra: “Wat wil jy hê?”
“Ek wil u vertroos, want ek kan verstaan hoe u voel. My oupa is ’n paar jaar gelede oorlede.”
Georgië: Getuieniswerk in ’n wingerd
Die onderwyseres is diep geraak deur Walja se besorgdheid. Tussen die trane deur het sy gesê dat nie haar familielede of haar kollegas sulke opregte medelye teenoor haar betoon het nie. Walja het toe Openbaring 21:3, 4 gelees en dit verduidelik, waarna die onderwyseres die brosjures geneem en gesê het: “Jy is baie anders as die ander leerlinge.”
Walja het verduidelik: “Ek probeer om die Bybel te lees en daarvolgens te lewe, en ek luister na my ouers.”
Op versoek van die onderwyseres het Walja later vir haar ’n Bybel en die Leer Bybel-boek gebring. Die onderwyseres het weer haar waardering uitgespreek en vir Walja gesê: “Jou godsdiens is die ware godsdiens, en jy het baie goeie ouers wat jou leer wat reg is. Hou asseblief aan om hierdie lewenswyse te volg.”
Sy het die verkeerde nommer geskakel
Op die eerste dag van die streekbyeenkoms wat in 2011 in Malakasa, Griekeland, gehou is, het Natalie haar pa op haar selfoon gebel oor ’n busrit na die byeenkomsterrein. Maar sy het die verkeerde nommer geskakel, en niemand het geantwoord nie. ’n Rukkie later het die persoon wat sy per ongeluk gebel het, die nommer gesien en teruggebel om uit te vind wie dit was. Die byeenkomsprogram het egter al begin, en hoewel Natalie bedoel het om haar selfoon af te sit, het sy per toeval die oproep deurgeskakel. Sonder dat sy dit besef het, kon die man dus na deel van die voorsitter se toespraak luister, wat sy belangstelling geprikkel het.
Later het die man ’n teksboodskap gestuur en gevra: “Wie is jy? Is jy ’n priester?” Ná die oggendsessie het Natalie die boodskap gesien en geantwoord: “Ek is nie ’n priester nie. Ek is een van Jehovah se Getuies, en ek woon ’n streekbyeenkoms by.”
Pittenweem, Skotland: Predikingswerk by ’n hawe
Die man het Saterdag weer gebel om te vra of die byeenkoms nog aan die gang is. Natalie se pa kon vir hom getuig, waarna die man verduidelik het: “Binne ’n paar minute het die toespraak wat ek oor die telefoon gehoor het, baie vrae beantwoord wat my gekwel het.” Die man se gesin het demoonaanvalle verduur, en hulle het geen idee gehad wie die geeste is of waarom dit gebeur nie. Hy het verduidelik: “Ek was nooit voorheen bereid om met Jehovah se Getuies te praat nie, maar as dit moontlik is, wil ek graag met die man praat wat die lesing gegee het.”
Natuurlik was dit moontlik. Die man het die Sondag na die byeenkoms gekom en was verbaas oor wat hy daar gesien het—welgeklede gesinne en vreugdevolle gesigte. Daar was geen vullis op die grond, geen vuil taal, geen gerook nie. “Ek het geen idee gehad dat daar mense soos julle op hierdie planeet is nie!” het hy gesê. “Ek voel asof ek in ’n ander wêreld is.” Natalie se pa het hom na die voorsitterskantoor geneem, waar hy met die voorsitter gepraat het. Die byeenkoms en die antwoorde wat hy gegee is, het ’n groot indruk op die man gemaak. Hy het die Leer Bybel-boek, ’n Bybel en ’n paar tydskrifte aanvaar, en reëlings is getref vir ’n herbesoek.
OSEANIË
LANDE 29
BEVOLKING 38 495 300
VERKONDIGERS 94 924
BYBELSTUDIES 59 431
“Die mooiste lied wat ek nog ooit gehoor het”
Op ’n tipiese skooldag in Savaii, Samoa, kom die hele skool eers in die oggend bymekaar om ’n gesang te sing. Maar Celina, vyf jaar oud, en Levaai, ses jaar oud, het respekvol vir die hoof gesê dat hulle nie kan saamsing nie, want hulle is Jehovah se Getuies. Hulle kon swaar gestraf word vir hierdie standpunt. Maar die hoof het blykbaar gedink dat hy die kinders só skaam kan laat voel dat hulle sal toegee, en daarom het hy gesê: “Wel, as julle nie ons lied kan sing nie, sing dan een van julle s’n.” Celina en Levaai het toe lied 111, “Hy sal roep”, gesing, wat hulle kort tevore gedurende ’n aand vir Gesinsaanbidding geleer het. Toe hulle klaar gesing het, het die hoof trane in sy oë gehad. Hy het gesê: “Dit is die mooiste lied wat ek nog ooit gehoor het. Sing dit asseblief weer.” Hulle het dit gedoen. Toe het hy vir hulle gesê: “Van nou af sal ek julle nie vra om ons liedere te sing nie, maar julle s’n.”
“Van nou af sal ek julle nie vra om ons liedere te sing nie, maar julle s’n”
Hy het sy hele lewe lank tot Jesus gebid
Timor-Leste: Hierdie land, wat vroeër deur ’n oorlog geteister is, het ’n vermeerdering van 9 persent in verkondigers gehad
’n Man in Fidji wat ’n predikant by ’n plaaslike kerk was, het besluit om iemand anders se Bybelstudie by te woon. Gedurende die studie het hy gehoor dat Jesus nie God is nie. Dit het hom so gekwel dat hy nie kon slaap nie. Toe sy vrou sien hoe verontrus hy is, het sy gesê: “Jy moenie weer na daardie mense gaan luister nie!” Maar hy kon die saak nie uit sy gedagtes kry nie. Die volgende week het hy weer die Bybelstudie bygewoon. ’n Paar dae ná hierdie tweede studie en nog voordat hy sy eie studie gehad het, het hy na sy kerk gegaan en as predikant bedank. Dit het sy familielede en kerklidmate geskok en kwaad gemaak. Hy het nie net die kerk verlaat nie, maar het ook sy rug gedraai op ’n goed betaalde werk. Hy kon maklik die waarheid oor Jesus in die Bybel sien, maar dit was vir hom moeilik om tot Jehovah te bid omdat hy sy hele lewe lank tot Jesus gebid het. Uiteindelik, ná baie maande, kon hy tot Jehovah bid. Nou vertel hy ander van die goeie nuus en help hy hulle om Jehovah te leer ken en lief te kry.
’n Klein gemeenskap luister na die waarheid
Net 62 mense woon op die Suidsee-eiland Makatea. ’n Gemeente van Jehovah se Getuies in Tahiti sien om na die geestelike behoeftes van hierdie mense. Nege van die bewoners het ’n gereelde Bybelstudie oor die telefoon. Tot 15 mense kom in die huis van een van die Bybelstudente bymekaar en luister na die vergaderinge, wat in Tahiti gehou word. Onder diegene wat die Bybel studeer, is ’n jong vrou wat ’n steunpilaar van haar kerk was en wat na verwagting as ’n diakones aangestel sou word. Nie lank gelede nie het sy teruggegaan na haar kerk om te verduidelik waarom sy nie meer die kerkdienste bywoon nie. Sy het uit die Bybel getoon waarom ’n vrou nie in die gemeente moet onderrig nie. Sy het ook verduidelik wat Jesus Christus se rol is, asook die betekenis van die Here se Aandmaal, wat een keer per jaar gehou moet word, nie elke Sondag nie. Verder kon sy verduidelik dat net 144 000 saam met Christus in die hemel sal wees en dat net hulle die Gedenkmaalembleme moet gebruik. ’n Ander vrou, wat deur haar voorbeeld aangespoor is, het ook die kerk verlaat en studeer nou gereeld die Bybel saam met die Getuies.
Die familie het die uitnodiging aanvaar
In ’n poging om onbedrywiges na die Herdenking van Christus se dood te nooi, het twee ouer manne in die Salomonseilande besoek afgelê by Joshua, wat laas in 1998 by ’n vergadering was. Joshua, tesame met 20 van sy familielede, het twee uur geloop om die Gedenkmaal by te woon. Die hartlike verwelkoming wat hulle van die gemeente ontvang het, het Joshua tot trane beweeg. Baie familielede het ook die spesiale toespraak bygewoon, waarna hulle vir die ouer manne gesê het dat hulle graag ’n Bybelstudie wil hê. Reëlings is getref om met 15 van hulle te studeer.
Hy het die antwoord geken
Oor die 100 van die meer as 1 000 eilande en atolle in die gebied onder die takkantoor van Guam word bewoon. Maar net 13 van hierdie eilande is naby ’n gemeente. Omdat so baie eilande nog nooit deur Jehovah se Getuies besoek is nie, is die broers voortdurend op die uitkyk na maniere om hulle te bereik. In April 2012 het ’n groep verkondigers met ’n seilboot na Polowat, een van die mees afgesonderde eilande, gevaar. Polowat is feitlik onaangeraak deur die buitewêreld. Die mans dra ’n lendekleed, bou boomkano’s en kweek hulle eie kos.
Een van die besoekende verkondigers het ’n jong man daar gevra: “Wat gebeur wanneer ons sterf?”
“Ek ken die antwoord op daardie vraag!” het die eilandbewoner uitgeroep. Toe het hy opgespring, die boek Jy kan vir ewig in die Paradys op aarde lewe in Chukees van sy rak afgehaal en dit by die inhoudsopgawe oopgemaak. Hy het gewys na hoofstuk 8, met die titel “Wat gebeur by die dood?”, en gretig verduidelik wat hy uit die boek geleer het.
Kingston, Norfolkeiland: Getuieniswerk op die hoofstraat, Quality Row
Maar hoe het hy die boek in die hande gekry? In 2009 het verkondigers op die hoofeiland Chuuk by die hawe gepreek in ’n poging om mense te bereik wat na die afgeleë buite-eilande reis en Paradys op aarde-boeke by hulle gelaat. ’n Man op pad na Polowat het geredelik ingestem om ’n boks vol boeke saam te neem om vir sy bure te gee, van wie die jong man een was.
Voordat die broers Polowat verlaat het, het hulle die jong man ’n paar keer besoek om hom aan te moedig en vir hom te wys hoe hy by ’n studieprogram kan baat vind. Hulle het hom ook geleer hoe om tekste na te slaan en sleutelgedagtes in die kantruimtes van sy boek neer te skryf.
Hoe hartverblydend is dit tog om te weet dat mense selfs op afgeleë eilande waar daar geen televisie, radio, koerant of Internet is nie, deur ons lektuur gehelp word om die waarheid in hulle moedertaal te leer!
Drie koeëls, drie redes
Anna was ’n ongedoopte verkondiger in haar twintigerjare toe die Bougainville-burgeroorlog in Papoea-Nieu-Guinee gewoed het. In 1991 was sy deel van ’n groep Getuies van ses volwassenes en sewe kinders van die Arawa-gemeente wat met net ’n paar besittings na die bos moes vlug. Twee jaar lank het hulle in verlate huise gewoon en in die bos kos gesoek. Hulle het hulle vergaderinge gehou met behulp van die enigste twee boeke wat hulle gehad het, Anna se Bybel en ’n eksemplaar van Verenig in die aanbidding van die enigste ware God. Hulle het saam gebid, Koninkryksliedere gesing en gepreek vir diegene wat hulle teëgekom het.
Lede van die revolusionêre weermag het hulle gevind en wou hê dat die twee broers in die groep by die leër moet aansluit, maar hulle het die Getuies se neutrale standpunt gerespekteer. ’n Soldaat het eenkeer vir Anna drie koeëls gewys en vir haar gesê: “Trou met my of sterf.” Sy het hom drie redes gegee—een vir elke koeël—waarom sy nie met hom kan trou nie, waarvan die belangrikste is dat die Bybel sê ’n persoon moet “net in die Here” trou (1 Kor. 7:39). Die man het omgedraai en weggeloop.
“Niks kan Jehovah se werk keer nie, nie eens ’n burgeroorlog nie
In 2012 het Anna, wat nou ’n pionier is, saam met haar pioniermaat teruggegaan na Arawa om ’n afgesonderde groep daar te stig omdat sy gehoor het dat daar ’n dringende behoefte aan Koninkryksverkondigers is. Iemand het haar gevra of dit haar pla om terug te keer na die plek waar sy gedurende die oorlog soveel verwoesting gesien en so swaar gekry het. “Ek is net bly om terug te kom hierheen”, het sy geantwoord. “Niks kan Jehovah se werk keer nie, nie eens ’n burgeroorlog nie.”