In die tronk weens hulle geloof – Die Krim
Net soos die Russiese regering Jehovah se Getuies aggressief vervolg, gebeur dieselfde nou ook in die Krim. In Rusland het die regering nie net die Getuies se regsentiteite verban nie, maar hulle het dit ook duidelik gemaak dat hulle ’n einde wil maak aan die Getuies se vreedsame aanbidding. Vanaf die verbod in April 2017 het die Russiese regering baie keer Getuie-samekomste regoor Rusland onderbreek en deursoek. Die gevolg hiervan is dat daar heelwat Getuies gearresteer is en in die tronk gesit is. Dieselfde wrede taktieke teen Jehovah se Getuies word nou ook in die Krim gebruik.
Die eerste geval waar baie huise in die Krim deursoek is, het op 15 November 2018 in Dzjankoi gebeur, toe omtrent 200 beamptes van die polisie en die spesiale magte agt privaat huise van Getuies deursoek het. Die Getuies het in daardie huise in kleiner groepe bymekaargekom om die Bybel saam te lees en te bespreek. Ten minste 35 gewapende en gemaskerde beamptes het die huis van Sergei Filatof met geweld binnegedring, waar ’n groep van ses Getuies bymekaargekom het. Hierdie aggressiewe optrede was traumaties vir die Getuies. Die polisie het ’n 78-jarige man teen die muur en toe op die grond vasgedruk, hom geboei en hom so erg geslaan dat hy hospitaal toe gejaag moes word. Twee ander ouer manne was so getraumatiseer dat hulle na die hospitaal gejaag moes word omdat hulle bloeddruk verskriklik hoog was. Ongelukkig het ’n jong vrou wie se huis ook deursoek is, ’n miskraam gehad.
Ná die voorval is Sergei krimineel aangekla onder Artikel 282.2(1) van die Russiese Strafwet vir die organisering van die bedrywigheid van ’n “ekstremistiese organisasie”. Op 5 Maart 2020 het die distrikshof in die Krim Sergei tot ses jaar tronkstraf in ’n strafkolonie gevonnis. Ná die uitspraak is hy onmiddellik tronk toe geneem.
In die jare nadat die Getuies se huise in 2018 in Dzjankoi deursoek is, het offisiere van die spesiale magte aangehou om Getuies se huise met geweld binne te dring as hulle verdink word van ekstremistiese bedrywighede. Die onlangsste geval waar Getuies se huise deursoek is, het op 7 Augustus 2024 gebeur toe ’n hele paar gewapende en gemaskerde polisiemanne die huise van vyf Getuies deursoek het, insluitende die huis van 68-jarige Tamara Brattsewa wat in die dorpie Razdolnoje bly. Tamara, wat aangekla word van die organisering van die bedrywighede van ’n ekstremistiese organisasie, word op die oomblik verhoor. In Oktober 2024 is twee Getuiemans, Joeri Gerasjtsjenko en Sergei Parfenowitsj, elkeen tot ses jaar in ’n strafkolonie gevonnis. Hulle het eers opgeskorte vonnisse gekry, maar die aanklaer het aangedring op ’n swaarder straf, wat deur die hof toegestaan is. Hulle is dadelik in die hof in hegtenis geneem en tronk toe gevat.
As gevolg van hierdie optrede en die kriminele hofsake en skuldigbevindings daarna, is daar op die oomblik 14 Getuie-mans in die tronk wat tronkstrawwe van tot ses en ’n half jaar uitdien. Hulle almal is daarvan aangekla dat hulle die bedrywighede van ’n ekstremistiese organisasie bevorder.
Tydlyn
18 Julie 2025
Veertien Getuies van Jehovah van die Krim is op die oomblik in die tronk.
3 Oktober 2024
Joeri Gerasjtsjenko en Sergei Parfenowitsj word tot ses jaar in ’n strafkolonie gevonnis.
7 Augustus 2024
Offisiere deursoek vyf huise van Getuies in Aloesjta, Razdolnoje en Senokosnoje. Kriminele saak word teen Tamara Brattsewa gemaak.
5 Augustus 2021
Agt huise van Getuies deursoek. Aleksandr Doebowenko en Aleksandr Litfinjoek gearresteer.
1 Oktober 2020
Nege huise word in Sewastopol deursoek. Igor Shmidt word gearresteer en in aanhouding gesit voor sy verhoor.
4 Junie 2019
Offisiere van die spesiale magte deursoek tien huise in Sewastopol. Wiktor Stasjefski word daarna daarvan aangekla dat hy ekstremistiese bedrywighede reël.
20 Maart 2019
Offisiere van die spesiale magte deursoek agt huise in Aloepka en Jalta. Artem Gerasimof word ondervra en daarna daarvan aangekla dat hy ekstremistiese bedrywighede reël.
15 November 2018
Agt huise in Dzjankoi is deur meer as 200 beamptes van die polisie en die spesiale magte deursoek, insluitende Sergei Filatof se huis.