Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g90 1/8 bl. 25
  • ‘Die algemeenste vorm van kindermishandeling’

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ‘Die algemeenste vorm van kindermishandeling’
  • Ontwaak!—1990
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Lewenslange skade
  • Rokers wat ’n pakkie per dag rook
  • Is rook werklik so sleg?
    Ontwaak!—1991
  • Waarom moet ek ophou rook?
    Ontwaak!—2000
  • Tabak se verdedigers stuur hulle warmlugballonne op
    Ontwaak!—1995
Ontwaak!—1990
g90 1/8 bl. 25

‘Die algemeenste vorm van kindermishandeling’

Die vrou se hande sluit om die baba se keel. Dan druk sy—en wurg die baba stadig. Die weerlose kindjie spartel. Net betyds hou die vrou op. Die baba snak na asem maar oorleef die aanval. Weldra gryp die vrou weer die keeltjie en begin die marteling weer van voor af. Weer hou sy op, en die kindjie snak na asem . . .

WAT jy pas gelees het, beskryf lyding soortgelyk aan dié wat ’n ongebore kind ondervind wanneer hy deur sy rokende ma mishandel word.

Lewenslange skade

’n Oordrywing? Nouliks. ’n Artikel in die New York Times berig dat al hoe meer wetenskaplike studies toon dat ’n moeder wat gereeld rook haar kind lewenslank fisies en verstandelik kan benadeel. Die artikel sê dat sommige van hierdie beserings “onmiddellik opgemerk word, terwyl ander stadiger ontwikkel”.

Op watter manier beïnvloed ’n moeder se rokery die ongebore kind? Dr. William G. Cahan, ’n chirurg aan die Sloan-Kettering-Gedenk-Kankersentrum in die Verenigde State en skrywer van die artikel in die Times, verduidelik: “Elke teug sigaretrook stel binne minute koolstofmonoksied en nikotien in die moeder se bloed vry.” Aangesien die koolstofmonoksied die bloed se vermoë om suurstof te dra verminder en die nikotien die bloedvate in die plasenta vernou, “word die ongebore kind tydelik sy normale hoeveelheid suurstof ontneem. As hierdie ontneming dikwels genoeg herhaal word”, sê chirurg Cahan, “kan dit die fetus se brein, ’n orgaan met ’n unieke sensitiwiteit vir ’n gebrek aan suurstof, onherstelbaar beskadig.”

Een studie het byvoorbeeld aan die lig gebring dat die fetusse van swanger vroue wat net twee sigarette gerook het na vyf minute tekens van nood getoon het—versnelde hartklop gepaard met abnormale bewegings soos dié tydens asemhaling.

Rokers wat ’n pakkie per dag rook

Wat is dan die implikasies vir ’n ongebore kind as sy moeder 20 sigarette, of een pakkie, per dag rook? Dr. Cahan reken dat ’n gemiddelde roker vyf teue rook per sigaret inasem. As ’n pakkie per dag gerook word, is dit dus gelyk aan honderd teue sigaretrook per dag. Aangesien swangerskap ongeveer 270 dae duur, onderwerp die moeder die fetus “aan ten minste 27 000 fisies-chemiese aanvalle”.

Sulke mishandelde babas betaal dalk lewenslank vir hulle moeders se tabakgewoonte. Volgens dr. Cahan kan die kinders, buiten fisiese probleme, “gedragsprobleme, swak leesvermoë, hiperaktiwiteit en verstandelike vertraagdheid” hê. Dit is nie verbasend dat hy die volgende vraag vra nie: “Watter verantwoordelike vrou kan aanhou met ’n gewoonte wat so gevaarlik vir haar kind is?”

Boonop hou ouers wat rook ook ’n gevaar vir groeiende kinders in. Waarom? Die boekie Facts and Figures on Smoking, wat deur die Amerikaanse Kankervereniging uitgegee word, sê: “Kinders van rokers het meer asemhalingsiektes as dié van nie-rokers, waaronder ’n toename in die frekwensie van brongitis en longontsteking vroeg in die lewe.”

Dr. Cahan kom gevolglik tot die slotsom dat “hierdie vorm van kindermishandeling dalk die heel algemeenste is”. Die vraag is: Vermy jy dit?

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel