Die Bybelse beskouing
Wat jy van engele moet weet
“Ongeveer 3000 godsdiensgeleerdes het verlede week vier dae lank in New York vergader om meer as 500 verslae aan te hoor oor onderwerpe wat gewissel het van die rol van humor in preke tot die belangrikheid van rituele vir Pinksterkerke. Niemand het melding gemaak van engele nie.”—Daily News, 26 Desember 1982.
VANDAG, byna agt jaar later, het die geestelikes steeds min oor engele te sê. Waarom? Kan dit wees dat hierdie hemelse boodskappers bloot as deel van ’n ou mite beskou word? Of bestaan hulle werklik? Wat moet jy dan van hulle weet?
Bestaan hulle?
Engele is nie bloot “magte” of “bewegings van die heelal” soos sommige filosowe beweer nie. Hulle is so werklik dat hulle honderde kere in God se Woord, die Bybel, gemeld te word. In die oorspronklike Bybeltale beteken die woorde wat met “engel” (Hebreeus, mal·’akhʹ; Grieks, agʹge·los) vertaal word letterlik “een wat ’n boodskap bring” of eenvoudig “boodskapper”. Hierdie woorde kom bykans 400 keer dwarsdeur die Bybel voor en verwys soms na menseboodskappers, maar meestal na geesteboodskappers.
Die engel wat aan Manoag se onvrugbare vrou verskyn en die ontvangenis van haar seun, Simson, bekend gemaak het, was vir haar ’n werklikheid. Die drie engele wat aan Abraham en sy vrou Sara verskyn het, asook die twee wat Lot opgesoek het en die een wat onder ’n groot boom gesit en met Gideon gepraat het, was net so werklik (Genesis 18:1-15; 19:1-5; Rigters 6:11-22; 13:3-21). Tydens Jesus se geboorte het ’n engel skielik te midde van ’n skitterende, glansende lig aan ’n groep herders verskyn.—Lukas 2:8, 9.
Daardie engele het werklik bestaan. Hulle was nie ’n illusie of ’n onpersoonlike krag nie. Hulle het ’n gegewe rol as boodskappers van God vervul, en die verslae is gepas in die Bybel opgeteken om ons vandag tot nut te strek (2 Timotheüs 3:16). Die Bybel onthul dus belangrike besonderhede oor engele wat jy moet weet, waarvan party in stryd met tradisionele idees is.
Hoe lyk hulle?
Jy stel jou engele miskien voor as pragtige vroue of as mollige wesens wat soos babas lyk en vlerkies het, in wit gewade geklee is en liefies glimlag, op harpies tokkel en in die lug sweef. Dan moet jy besef dat dit dwaalbegrippe is wat uit heidense idees, soos die Griekse mitologie, ontstaan het. Of die idees is aangeneem nadat die Bybel voltooi is. In simboliese visioene in die Bybel het geesskepsele, soos serafs en gerubs, vlerke.—Jesaja 6:2; Esegiël 10:5; Openbaring 14:6.
God se Woord beskryf engele as baie magtige geeste, en ’n gees is onsigbaar (1 Konings 22:21; Psalm 34:8; 91:11). Dit was ’n ‘engel van Jehovah’ wat 185 000 Assiriërs in slegs een aand in die laer van Israel se vyand verslaan het! (Jesaja 37:36). Wanneer engele aan mense verskyn het, het hulle altyd as ten volle geklede mans verskyn, nie as vrouens of kinders nie, en nooit in bomenslike gedaante nie.
Waar het hierdie magtige geesskepsele vandaan gekom? Die Bybel sê: “In Hom [Jesus] is alle dinge geskape wat in die hemele en op die aarde is, wat sienlik en onsienlik is” (Kolossense 1:16). Deur hierdie eersgebore Seun het Jehovah God engele nie net lank voor die mens geskape nie, maar hulle ook ’n hoër lewensvorm as die mens gemaak.—Job 38:4, 7; 2 Petrus 2:11.
Het hulle ’n persoonlikheid?
Soos mense, het engele gevoelens. Nadat hulle die skepping van die aarde aanskou het, word ons meegedeel dat die engele “saam gejubel” het, selfs “gejuig” het (Job 38:7). Die Bybel onthul ook dat “daar blydskap voor die engele van God [is] oor een sondaar wat hom bekeer” (Lukas 15:10). Dit spreek vanself dat geen onpersoonlike “mag” die ontsaglike vreugde kon ervaar het wat in daardie tekste beskryf word nie.
Engele het ook beperkinge. Sekere feite oor Christus en die toekoms is aan menseprofete geopenbaar, maar nie aan engele nie. God se Woord sê dat dit “dinge [is] waarin die engele begerig is om in te sien” (1 Petrus 1:10-12). Jesus het van die presiese dag wat God vir die Here se koms gekies het, gesê: “Van dié dag en dié uur weet niemand nie, ook die engele van die hemele nie, maar net my Vader alleen.”—Mattheüs 24:36.
Daarbenewens verskyn die name van twee engele, Migael en Gabriël, in die Bybel (Daniël 12:1; Lukas 1:26). Versterk dit nie die bewys van hulle individualiteit nie? As individue is hulle nie geprogrammeer, soos ’n rekenaar of ’n robot, om op ’n bepaalde manier op te tree nie. Engele is eerder begaaf met redeneervermoë en is vry om self morele besluite te neem. As wesens met wilsvryheid het party engele derhalwe verkies om teen God in opstand te kom en het hulle Satan en sy demone geword.—Genesis 6:1-4; Judas 6; Openbaring 12:7-9.
Moet hulle aanbid word?
Ofskoon ons die bestaan van engele as ’n feit erken, nie as ’n fabel nie, moet ons uiterstes vermy. Party godsdiensorganisasies verleen oordrewe vernaamheid aan engele, hoewel engeleaanbidding in die Bybel veroordeel word (Kolossense 2:18; Openbaring 22:8, 9). Die Katolieke Kerk het Migael en Gabriël in voorwerpe van verering verander. En in Oosters-Ortodokse kerke is engele uiters belangrik in die litanie. Wat ’n kontras vorm dit tog met die waarskuwing wat Jehovah se engel gegee het toe die apostel Johannes voor sy voete neergeval het: “Moenie! Ek is ’n mededienskneg van jou.”—Openbaring 19:10.
Waarom is daar soveel verwarring oor engele? Satan, wat homself vermom as “’n engel van die lig”, ‘verblind die sinne van die ongelowiges’ (2 Korinthiërs 4:4; 11:14). Is dit dan nie redelik om te verwag dat baie vandag aan hulle eie menings oor die bestaan en natuur van engele sal vashou eerder as om te aanvaar wat God se Woord sê nie? Ja, hoewel geestelikes vandag moontlik min oor engele sê, het ons God se waarborg deur middel van die Bybelverslag dat hulle werklik bestaan en ’n geëerde diens as boodskappers van Jehovah lewer.—Hebreërs 1:7, 14; 6:18.
[Prent op bladsy 20]
Die voorstelling van engele as wesens wat soos babas lyk en vlerkies het, het uit heidense idees ontstaan
[Erkenning]
Cupid a Captive deur François Boucher, c. 1754