Jongmense vra . . .
Moet ek my laat doop?
DERTIENJARIGE Susana se kanker was reeds in die eindstadium toe sy haar laaste byeenkoms van Jehovah se Getuies bygewoon het. Sy het nie geweet dat sy binne net tien dae sou sterf nie. Maar nie eens kanker kon voorkom dat sy haar mees gekoesterde begeerte vervul nie: om as ’n toegewyde Getuie van Jehovah en ’n dissipel van Jesus Christus gedoop te word.
Susana was net een van derduisende jongmense onder Jehovah se Getuies wat in die laaste jare die voorreg gekoester het om gedoop te word. Maar miskien skrik die gedagte dat jy so ’n moedige standpunt sal moet inneem jou af. Nie dat jy nie die Bybelwaarhede glo wat jy geleer is nie. Jy woon moontlik gereeld Christenvergaderinge by en jy verkondig dalk gereeld die Bybel se waarhede aan ander. Tog huiwer jy om jou lewe aan God toe te wy. Hoe belangrik is doop dan? En waarom skram so baie jongmense daarvan weg?
Godsdiens sonder toewyding
In die Christendom is dit dikwels die ouers wat besluit dat jongmense gedoop moet word. Sommige sektes moedig ouers aan om hulle kinders te laat doop terwyl hulle nog babas is. En selfs wanneer die doopritus tot volwassenes beperk word, word daar gewoonlik van jongmense verwag om hulle ouers se godsdiens gedwee aan te hang en nie hulle eie keuse te maak nie.
Dit is egter interessant dat ’n Gallup-opname in die Verenigde State getoon het dat hoewel “byna alle tieners (96 persent) glo dat daar ’n God is” net 39 persent gereeld bid. En net 52 persent het hulle vertroue in georganiseerde godsdiens gestel. Jong Diane is dus ’n tipiese voorbeeld wanneer sy sê: “Ek glo aan God en al daai dinge, maar ek glo sterker daaraan om net ’n goeie mens te probeer wees as om elke reël van die Bybel te lees.”
Ja, godsdiens kan inderdaad kragteloos wees wanneer ’n jongmens se ouers dit aan hom opdwing. ’n Studie wat onder ’n groep Katolieke jeugmisdadigers gedoen is, lig dit verder toe. Die helfte van hulle het kerkgegaan. Die meeste van hulle het die basiese leerstellings van hulle geloof geken. En byna 90 persent van hulle het diefstal afgekeur. Tog was meer as twee derdes van hulle diewe! Die boek The Adolescent het gesê: “Een rede is dalk dat die seuns se godsdienstoewyding marginaal was. Almal is van geboorte af Katolieke; hulle ouers het hul aanvanklike verbintenis namens hulle gedoen. Hulle godsdiens was nie hulle eie nie.”
Doop—Waarom ’n Christenvereiste?
Dit is dus om ’n goeie rede dat die Bybel vereis dat jy—nie jou ouers nie—jou persoonlik aan God toewy.a ‘Goed en wel’, sê jy dalk, ‘maar as toewyding ’n persoonlike saak is, iets tussen my en God, waarom moet ek my dan laat doop?’
Omdat doop ‘die redding van jou siel’ behels (1 Petrus 1:9, NW). God gaan “wraak uitoefen op die wat God nie ken nie en op die wat aan die evangelie van onse Here Jesus nie gehoorsaam is nie. Hulle sal as straf ondergaan ’n ewige verderf” (2 Thessalonicense 1:8, 9). Alles dui daarop dat hierdie vernietiging in ons dag sal plaasvind.b
Dit is nogtans God se wil dat “alle mense gered word” (1 Timotheüs 2:4). Hy wil hê jy moet die einde van hierdie stelsel van dinge oorleef en vir ewig in die Paradys op aarde lewe! (Openbaring 21:3, 4). Maar hoe kan jy jou identifiseer as iemand wat die goeie nuus gehoorsaam? Dit is nie genoeg om die Bybelwaarhede wat jy geleer is bloot te glo nie, en dit is ook nie genoeg om net meganies saam met jou ouers na Christenvergaderinge te gaan nie. (Vergelyk Jakobus 2:19.) Diegene wat gered wil word, moet hulself aan God toewy en sy wil doen. Die apostel Paulus sê in Romeine 12:1: “Ek vermaan julle dan, broeders, by die ontferminge van God, dat julle jul liggame stel as ’n lewende, heilige [“toegewyde”, The New English Bible] en aan God welgevallige offer—dit is julle redelike godsdiens.”
Maar toewyding kan nie ’n uitsluitlik private aangeleentheid bly nie. Per slot van rekening, hoe toegewyd kan ’n geheime dissipel werklik wees? (Vergelyk Johannes 19:38.) Sal jy ’n vriend vertrou wat jul vriendskap geheim wil hou? God vereis dus in sy wysheid dat almal ‘openbare bekendmaking tot redding doen’ (Romeine 10:10, NW). Dit begin ten tyde van ’n mens se doop. By daardie plegtigheid bely jy mondeling jou geloof. Daarna volg waterdoop (Mattheüs 28:19). Watter waarde kan onderdompeling in water egter hê?
Doop is nie ’n afwassing nie; dit is ’n simboliese begrawing. Wanneer jy ondergedompel word, skerp dit die feit by jou in dat jy jou vorige lewenswyse afgelê het. Vantevore het jou persoonlike ambisies, doelwitte en begeertes die eerste plek in jou lewe ingeneem. Maar Jesus het gesê dat sy dissipels ‘hulself sal verloën’ (Markus 8:34). Wanneer jy dus uit die water opkom, word jy daaraan herinner dat jy voortaan gaan leef om die wil van God te doen. Hierdie moedige, openbare daad is ’n uiters belangrike deel van die merk wat jou vir redding identifiseer!—Esegiël 9:4-6; vergelyk 1 Petrus 3:21.
‘Ek is bang dat ek uitgesit sal word’
As doop so belangrik is, waarom huiwer sommige jongmense dan om hulle te laat doop? Ontwaak! het daardie einste vraag aan ’n aantal jong Christene gevra. Een meisie het gesê: “Baie dink dat hulle meer vryheid sal hê as hulle nie gedoop is nie. Hulle dink dat hulle nie so aanspreeklik sal wees as hulle in die moeilikheid beland nie.” ’n Jong man genaamd Robert het saamgestem met hierdie kommentaar deur te sê: “Ek dink dat baie jongmense huiwer om hulle te laat doop omdat hulle bang is dat dit ’n finale stap is waarna hulle nie weer kan terugdraai nie. Hulle dink dat as hulle iets verkeerds doen hulle uit die gemeente uitgesit sal word.”
’n Mens se toewyding aan God is weliswaar permanent. (Vergelyk Prediker 5:3.) ’n Persoon wat hom aan God toewy, aanvaar ’n ernstige verantwoordelikheid. Hy of sy is verplig om “waardiglik voor die Here [te] wandel om Hom in alles te behaag” (Kolossense 1:10). Iemand wat hom skuldig maak aan ernstige oortreding loop selfs gevaar om uit die Christengemeente uitgesit te word.—1 Korinthiërs 5:11-13.
Nogtans kan ’n mens nie redeneer dat enigiets toelaatbaar is solank jy nie gedoop is nie. Want “wie dan weet om goed te doen en dit nie doen nie, vir hom is dit sonde”—gedoop of ongedoop! (Jakobus 4:17). ’n Persoon spring dalk formele uitsetting uit die gemeente vry, maar jy kan nie aan Jehovah se oordeel ontkom nie. “Moenie dwaal nie”, waarsku Paulus, “God laat Hom nie bespot nie; want net wat die mens saai, dit sal hy ook maai.”—Galasiërs 6:7.
Vrees om uitgesit te word verberg in werklikheid dikwels ’n geheime begeerte om verkeerd te doen. ’n Jong vrou genaamd Natalie het openlik gesê: “Ek is in Satan se wêreld grootgemaak en weet wat dit bied. Maar baie jongmense wil wegbreek en dit self gaan ervaar.” Vra gerus hulp pleks van toe te laat dat verkeerde begeertes jou daarvan weerhou om jou te laat doop—of toe te laat dat dit tot verkeerde dade lei. Miskien kan jy sake met ’n ouer of ’n ryp Christen bespreek.—Jakobus 1:14, 15.
Die vryheid wat Satan se wêreld bied, is in werklikheid ’n blote illusie. Soos die apostel Petrus gesê het van sommige wat in sy dag mislei is: “Hulle belowe vryheid aan hulle, terwyl hulle self slawe van die verdorwenheid is; want waar ’n mens deur oorwin is, daarvan het hy ook ’n slaaf geword” (2 Petrus 2:19). Is dit werklik vryheid as jou denke, gedrag en sedes deur ander beheer word? Is dit werklik vryheid om dinge te doen wat tot siekte, skande en uiteindelik die dood lei?—Spreuke 5:8-14.
’n Japannese jeugdige genaamd Hitosji het daardie einste vrae oorweeg. Hy is deur Christenouers grootgemaak en sê: “Terwyl ander gespeel het, moes ek vergaderinge bywoon. Ek wou meer vryheid hê. Ek het gedink dat ek iets mis.” Ja, soos die psalmis Asaf het hy “afgunstig” op die kwaaddoeners geword (Psalm 73:2, 3). Maar nadat hy die saak nugter oordink het, het Hitosji se gesindheid verander. Hy sê: “Ek het besef wat my lewe sonder die waarheid sal wees—ek kon sien hoe ek 70 of 80 jaar oud word en dan doodgaan. Maar Jehovah beloof die ewige lewe!” Hitosji het hom dus aan God toegewy en is gedoop.—Vergelyk Psalm 73:19-28.
Word jy beweeg om dieselfde te doen? ’n Jong man genaamd David is. Hy sê: “Dit was vir my ’n beskerming om as jeugdige gedoop te word. . . . Party ongedoopte tieners in die gemeente voel dat hulle vry van die gesag van die ouere manne is en [het] hulle gevolglik aan wangedrag skuldig gemaak . . . Maar ek het altyd onthou dat ek my lewe aan God toegewy het.” Miskien is jy egter nie seker of jy werklik gereed is om hierdie stap te doen nie. Informasie om jou te help sal in ’n toekomstige artikel bespreek word.
[Voetnote]
a Die dwaasheid van kinderdoop word bespreek in die artikel “Moet babas gedoop word?” in Die Wagtoring van 15 Maart 1986.
b Sien die boek Jy kan vir ewig in die Paradys op aarde lewe (uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc.), hoofstuk 18.
[Prente op bladsy 26]
Net jy kan besluit of jy God wil dien. Doop identifiseer jou as ’n toegewyde dissipel van Christus Jesus