Jongmense vra . . .
Is ek gereed om my te laat doop?
Liewe Wagtoringgenootskap
My naam is Sharon en ek is 13 jaar oud. Ek het al gewonder of ek gereed is om my te laat doop. Ek dink ek is, maar ek is nog nie seker nie. Ek is seker dat ander jong Christene ook hieroor wonder. Kan julle asseblief ’n artikel skryf om my te help om sekerheid te kry?
SHARON is reg. Talle godvresende jongmense dink inderdaad aan doop. Jongmense onder Jehovah se Getuies besef dat hulle self moet besluit of hulle God wil dien en dat hulle ouers nie namens hulle kan besluit nie. Hulle weet ook dat Jesus Christus sy volgelinge beveel het om hulle toewyding aan God deur waterdoop te simboliseer.—Mattheüs 28:19.
Dit is ’n groot verantwoordelikheid om as ’n toegewyde dienaar van God jou geloof in die openbaar te bely. Jy wil dit sekerlik nie oorhaastig doen net om jou vriende of ouers tevrede te stel nie. Boonop moet niemand jou dwing om jou te laat doop nie (Psalm 110:3). Jesus het almal egter wel aangespoor om “die koste” om sy dissipel te wees, “te bereken” (Lukas 14:28). Dit beteken nie dat jy dit moet oorweeg of jy Christus se dissipel wil word of nie. Dit is ongetwyfeld die regte ding om te doen. Maar jy moet ten volle bewus wees van wat dit behels om ’n Getuie van Jehovah te wees.a Vervolgens moet jy bepaal of jy regtig gereed is om hierdie verantwoordelikheid te aanvaar.—Vergelyk Spreuke 20:25.
‘Is ek oud genoeg?’
Wanneer tieners ouer word, meen hulle dikwels dat hulle geregtig is op sekere voorregte en verantwoordelikhede. Hulle is gou om daarop aan te dring om die gesinsmotor te bestuur, te pleit om na skoolure te mag werk of sakgeld te vra. Maar as dit by doop kom, maak talle jongmense die verskoning dat hulle te jonk is of nie vir daardie verantwoordelikheid gereed is nie. ’n Jong man genaamd Andre sê: “Baie jongmense wag totdat hulle 17 of 18 is om hulle te laat doop, wat ’n bietjie oud is.” Waarom? “Omdat hulle al lank voor dit oud genoeg is om ander persoonlike besluite te neem.”
Ja, die blote feit dat jy ’n tiener is, is geen verskoning om ‘op twee gedagtes te hink nie’, en dit is ook nie ’n geldige rede om nie jou standpunt as ’n Christen in te neem nie (1 Konings 18:21). “Dink aan jou Skepper in die dae van jou jonkheid”, vermaan die Bybel (Prediker 12:1). Die profeet Samuel was bloedjonk toe hy Jehovah begin dien het (1 Samuel 3:1-18; 12:2). Die psalmis Dawid kon eweneens sê: “U is my verwagting, Here HERE, my vertroue van my jeug af.”—Psalm 71:5.
Vandag het duisende Christenjongmense—onder andere party wat nog nie hulle tienderjare bereik het nie—insgelyks getoon dat hulle verantwoordelik genoeg is om hulle toe te wy om God te dien. Sommige tieners is weliswaar nie ernstig genoeg nie en is te onverantwoordelik en emosioneel onvolwasse om ’n verreikende besluit soos doop te neem (Spreuke 22:15). Maar is dit werklik so in jou geval? (Jou ouers sal ongetwyfeld heelwat te sê hê in hierdie verband.) God verwag nie van ’n tiener om die volwassenheid van ’n 40-jarige te hê nie. Hy weet goed dat jy met “die begeerlikhede van die jonkheid” te kampe het (2 Timotheüs 2:22). Maar as jy oud genoeg is om ’n redelike mate van erns en verantwoordelikheid aan die dag te lê, is jy heel waarskynlik oud genoeg om toewyding te oorweeg. Daar is egter ander vrae wat jy jou moet afvra.
‘Het ek genoeg kennis opgedoen?’
Die boek The Adolescent, deur F. Philip Rice, sê dat “’n oppervlakkige, naïewe begrip van godsdiens nie herhaalde aanslae en toetse sal deurstaan nie”. Tog sê mnr. Rice: “Daar is aanduidings dat vandag se jeug jammerlik oningelig is. ’n Studie oor die Bybelkennis van tweedejaarstudente aan Protestantse en Joodse universiteite het ware onkunde omtrent die Ou en Nuwe Testamente aan die lig gebring.”
Dit moenie die geval met doopkandidate wees nie. ’n Mens moet eers ‘kennis opdoen’ om ’n dissipel, of iemand wat geleer is, te wees (Johannes 17:3, NW; Mattheüs 28:19). Sal dit dus nie redelik wees om te verwag dat jy ten minste “die grondwaarhede van die woord van God” ken voordat jy gedoop word nie? (Hebreërs 5:12, NAV). Dit sal kennis insluit van Bybelleerstellings oor onderwerpe soos die siel, die toestand van die dode, die heiliging van God se naam, die Koninkryk en die losprys.
Jy weet ongetwyfeld iets omtrent die Bybel weens die blote feit dat jy jou ouers na Christenvergaderinge vergesel het. Maar kennis wat só verkry is, is dalk oppervlakkig en sal waarskynlik ‘nie aanslae en toetse deurstaan nie’. Jy moet ander ’n ‘antwoord kan gee oor die hoop wat in jou lewe’.—1 Petrus 3:15, NAV.
Terry sê dat sy die Bybel se waarhede geglo het. Tog erken sy: “Ek het myself nooit oortuig deur my eie vrae te opper en dit dan te beantwoord nie. Ek het dit onlangs begin doen.” Die gevolg van so ’n Bybelstudieprogram? “My geloof word sterker en ek vind nou dat ek met ware oortuiging met mense kan praat. Ek moedig alle jong Getuies aan om nie bang te wees om hulle af te vra of dit die waarheid is nie. Vind uit! Doen navorsing, studeer. ‘Beproef alle dinge.’ Dan sal jy jou heelhartig aan Jehovah kan toewy.”—1 Thessalonicense 5:21.
“Daders van die woord”
Ons moet egter “daders van die woord [wees] en nie net hoorders” nie (Jakobus 1:22). Jy kan nie gedoop word as jy “agterbaks” is deur ernstige sondes te verberg nie (Psalm 26:4, NAV). Sulke sondes is onder meer geslagsonsedelikheid, dronkenskap, dwelmmisbruik of enige van die sondes wat in 1 Korinthiërs 6:9, 10 gemeld word. As jy probleme op enige van hierdie gebiede gehad het, sal dit goed wees as jy met jou ouers reël om met die Christen- ouere manne daaroor te praat. Wees verseker dat jy liefdevolle bystand sal ontvang.—Jakobus 5:14, 15.
Dalk moet jy ook veranderinge aanbring in die manier waarop jy jou ouers behandel of in jou beskouing van Christen- ouere manne se raad, selfs ten opsigte van hoe jy jou vriende kies (Spreuke 6:20; 13:20; 1 Korinthiërs 15:33; Hebreërs 13:17). Dit is moontlik nie maklik om sulke veranderinge aan te bring nie, maar Spreuke 11:19 herinner ons: “Ware geregtigheid lei tot die lewe, maar hy wat die kwaad najaag, jaag na sy dood.”
Vereis Jehovah dat jy volmaak moet wees? Nie in die minste nie. “Wie kan sê: Ek het my hart suiwer gehou, ek is rein van my sonde?” vra Spreuke 20:9. Omdat ons onvolmaak is, is ons steeds geneig om foute te maak. Maar weens Christus se losprys kan ons ’n goedgekeurde posisie voor God behou (1 Johannes 2:1, 2). ’n Jeugdige wat byvoorbeeld hard stry teen ’n slegte gewoonte, soos die onrein masturbasiegewoonte, moenie dink dat hy of sy noodwendig ongeskik is om gedoop te word nie.b ’n Mens kan Jehovah se hart inderdaad bly maak deur jou kragtig in te span om goddeloosheid teë te staan!—Spreuke 27:11.
‘Het ek God my vriend gemaak?’
Die vraag wat seker die belangrikste is, hou egter verband met jou verhouding met God. Onthou: Jy wy jou toe, nie aan ’n werk of ’n saak of selfs ’n organisasie nie, maar aan God self. Is God vir jou abstrak, onpersoonlik? Of het jy hom as ’n Persoon leer ken en liefkry? (Exodus 34:6, 7). Indien wel, sal jy vind dat jy dikwels met hom praat, nie meganies nie, maar uit die hart.—Psalm 62:9.
Jy sal ook vind dat jy feitlik gedronge voel om met ander oor God te praat. (Vergelyk 2 Korinthiërs 5:14, 15.) Spreuke 15:7 sê: “Die lippe van die wyse strooi kennis uit.” Doen jy dit deur gereeld vir ander te preek? Of laat jy toe dat ontspanning, vermaak of selfs luiheid jou verhinder om ander te help om God te leer ken?—Spreuke 19:24.
Ja, God moet jou intiemste vriend wees as jy wil hê dat jou doop sinvol moet wees. (Vergelyk Jakobus 2:23.) As dit nie tans die geval is nie, is dit nie God se skuld nie, want hy nooi almal hartlik om hom te soek (Handelinge 17:27). En deur te volhard in persoonlike studie, gebed en omgang met sy volk sal jy mettertyd nader aan God begin voel (Romeine 12:12; 1 Timotheüs 4:15; Hebreërs 10:24, 25). Doop sal die natuurlike gevolg van so ’n ‘nadering tot God’ wees.—Jakobus 4:8.
Beskou ’n jong meisie genaamd Cindy as voorbeeld. Sy skryf: “Ek is gedoop toe ek 14 was. Ek weet hoe dit voel om huiwerig daaroor te wees. Maar ek wil net sê dat dit die wonderlikste ding is wat jy kan doen. Stel jou voor! Jy weet dat Jehovah jou goedgekeur het en dat ‘hy jou nooit sal begewe of verlaat nie’! (Hebreërs 13:5). As iemand my sou vra of hy hom aan Jehovah moet toewy, sal ek ‘Ja!’ sê. Maar moet dit nie doen om iemand anders tevrede te stel nie. Doen dit omdat jy wil.”
[Voetnote]
a Sien “Moet ek my laat doop?” in Ontwaak! se nommer van 22 Maart 1990.
b Sien hoofstukke 25, 26 van die boek Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk, uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc.
[Prent op bladsy 16]
Talle jongmense voldoen aan die vereistes vir doop. Wat van jou?