Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g90 4/22 bl. 18-20
  • Hou iemand jou dop?—Die “elektroniese baas”

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hou iemand jou dop?—Die “elektroniese baas”
  • Ontwaak!—1990
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Wat hulle kan doen
  • Waarom sommige hulle aanbeveel
  • ’n Gevoellose “baas”
  • Hoe om met so ’n “baas” saam te leef
  • Behou ’n gebalanseerde beskouing van rekenaartegnologie
    Ons Koninkryksbediening—1995
  • ’n Nuttige hulpmiddel vir vertaling
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2005
  • Kuberaanval!
    Ontwaak!—2012
  • Die jaar 2000—Sal rekenaarineenstortings jou raak?
    Ontwaak!—1999
Sien nog
Ontwaak!—1990
g90 4/22 bl. 18-20

Hou iemand jou dop?—Die “elektroniese baas”

“WERKNEMERS word in toenemende mate deur masjiene gemonitor”, berig Technology Review. “Veel meer word gemonitor, en die monitering het van die produksieband na die kantoor uitgebrei.”

’n Studie wat in 1987 deur die kongres se Buro vir Tegnologiese Beoordeling gemaak is, het aan die lig gebring dat daar vier- tot sesmiljoen Amerikaanse klerklike werkers is wat hulle werk verrig met ’n gerekenariseerde waghond wat hulle heeltyd deur ’n videovertoonterminaal monitor.

Rekenaarmoniteerstelsels word die algemeenste gebruik deur versekeringsmaatskappye, banke, nutsdienste, telefoonmaatskappye en die lugdiens- en hotelnywerhede. In sulke plekke werk werknemers onder die waaksame oog van ’n “elektroniese baas”—’n toesigstelsel wat bedoel is om te kyk wat hulle by die werk doen en hoe vinnig hulle dit doen.

’n “Elektroniese baas” maak nooit sy oë toe nie. Deur sy netwerk van rekenaarkabels, videomonitors en telefoonafluistertoestelle kan hy terselfdertyd oor honderde werkers toesig hou en die bestuur presies laat weet wat elkeen gedurende elke minuut van die werkdag doen. Met rekenaarmonitering wat toeneem, het al hoe meer werknemers rede om te wonder of iemand—of iets—hulle dophou.

Hoe voel werknemers en bestuurders oor die nuwe “baas”? En hoe raak die gebruik van rekenaarmonitering die werkplek?

Wat hulle kan doen

Rekenaarstelsels kan outomaties meet hoe lank dit ’n kantoorwerker neem om ’n telefoonoproep te maak of ’n verkoop op ’n kasregister te registreer. Met die druk van ’n knoppie kan ’n bestuurder op ’n heeltemal ander plek ’n werknemer se tikspoed bepaal of die aantal foute tel wat ’n klerk op ’n gegewe dag gemaak het.

Party moniteerstelsels stel werkgewers in staat om “afgeskakelde tyd” te meet, dit wil sê hoe lank werkers weg is van hulle lessenaars wanneer hulle die ruskamer besoek of ’n rustydjie neem. Ander laat die bestuurder inluister op gesprekke by werknemers se werkplekke. Hulle kan alles hoor wat jy of jou buurman sê.

Technology Review het vertel van een maatskappy wat rekenaars in sy vloot vragmotors geïnstalleer het sodat dit ’n vragmotorbestuurder se snelheid, ratwisseling en luiering kon monitor. Die rekenaar teken selfs aan hoe lank ’n bestuurder vir middagete of ’n koffiepouse stilhou!

Waarom sommige hulle aanbeveel

Sommige beveel rekenaarmonitering aan. Hulle sê dat die gebruik daarvan werkgewers in staat stel om ’n werker se werkverrigting noukeuriger en objektiewer te evalueer as ’n menslike bestuurder, wat deur sy of haar eie vooroordele beïnvloed kan word.

“Die rekenaar is nie partydig nie”, het Vico E. Henriques, president van die Vereniging van die Vervaardigers van Rekenaar- en Kantoortoerusting, geskryf. “Dit skeer almal oor een kam, ongeag geslag, ras, godsdiens, liggaamsgebrek, vorige werkondervinding of ander faktore wat die grondslag vir ’n diskriminasiegeding teen die bestuur kan wees.”

Daar word beweer dat wanneer elke persoon se werkverrigting deur rekenaars gemonitor word die kanse geringer is dat werknemers met voortreflike werkvaardighede deur hulle base oor die hoof gesien sal word. “Geoutomatiseerde meting kan byvoorbeeld ’n organisasie in staat stel om sy hardwerkende werknemers makliker te identifiseer en hulle gepas te beloon”, het Henriques in Management World geskryf.

Maar hoewel rekenaarmonitering vir die bestuur ’n doeltreffende werktuig kan wees, gee Henriques toe dat dit ook op ’n “onbedagsame, selfs onverantwoordelike, wyse” gebruik kan word. Hoe so?

’n Gevoellose “baas”

“Rekenaarmonitering verhoog werkerstres, verminder werkstevredenheid en ondermyn op die lange duur die bestuur se doelwit van groter produktiwiteit”, beweer Karen Nussbaum en Virginia duRivage in die tydskrif Business and Society Review. Baie werknemers het inderdaad gekla dat rekenaarmonitering te veel druk op hulle plaas. Hulle sê dat die “elektroniese baas” ’n aantal oorspanne werkers oplewer.

Sekere maatskappye het rekenaartegnologie gebruik om die produksietempo te verhoog, wat werknemers dwing om vinnig te werk om by te hou by hulle masjiene. Ander monitor werknemers so noukeurig dat dit ’n paranoiïese atmosfeer skep. Die tydskrif Time het ’n lugredery aan die Weskus gemeld wat rekenaars gebruik om presies te monitor hoeveel sekondes sy 400 besprekingsklerke aan elke telefoonoproep bestee en hoeveel tyd tussen oproepe verloop. Die werknemers kry minuspunte as hulle oproepe herhaaldelik 109 sekondes oorskry of as hulle meer as 12 minute per dag in die ruskamer bestee benewens die uur wat vir middagete en koffiepouses opsygesit is. As hulle in ’n jaar 37 minuspunte kry, kan dit die einde van hulle betrekking beteken.

Kritici sê dat sulke stelsels ’n vyandige verhouding tussen die werkers en die bestuur skep, en dit laat werkers voel asof die bestuurders oor hulle skouer loer, reg om by die geringste verandering in werktempo op te tree.

Daarbenewens kan ’n ‘afstandsbaas’ die verhouding tussen die werkers en die bestuur verontmenslik. Werknemers begin dink dat hulle werk om ’n masjien te behaag—nouliks ’n bevredigende ervaring. Pleks van produksie te verhoog, kan rekenaarmonitering dit eintlik vertraag deur ’n werknemer sy inisiatief en selfvertroue te ontneem.

“Masjiene kan werkers nie motiveer nie, hulle kan nie werknemers se probleme verstaan nie en hulle kan nie lojaliteit teenoor die maatskappy in die hand werk nie”, beweer Nussbaum en duRivage.

Hoe om met so ’n “baas” saam te leef

Aangesien liefde dikwels nie die beginsel is waarvolgens die wêreld funksioneer nie, dra nie die werknemer of die werkgewer moontlik die ander se belange op die hart nie. Die “elektroniese baas” het dus ’n werklikheid geword. Maar sowel die werkers as die bestuur is dit eens dat baie gedoen kan word om rekenaarmonitering doeltreffender en minder spanningsvol te maak.

Bestuurders kan werknemers byvoorbeeld vooraf verwittig dat hulle gemonitor gaan word sodat hulle nie voel dat iemand sonder waarskuwing op hulle spioeneer nie. Sommige bestuurders doen aan die hand dat die werknemers vrye toegang gegee word tot enige data wat oor hulle ingesamel word.

Henriques stel voor dat “die tydperk waartydens werknemers gemonitor word redelik moet wees en dat toegewings vir normale wisseling van energiesiklusse gemaak moet word”. In ooreenstemming hiermee het sommige werkgewers dit verstandig gevind om ’n werker se werkverrigting oor ’n langer tydperk te monitor en het so ’n gemiddelde bereken wat goeie dae en slegte dae oor ’n tydperk van weke of maande in ag neem.

Stres word verder verminder wanneer werkers toegelaat word om realistiese standaarde vir werkverrigting te help stel eerder as om die rekenaar te laat voorskryf hoe vinnig ’n werk gedoen moet word. “Party firmas vra werknemers om gedragsnorme by die werk te help vasstel en sodoende die nodigheid vir monitering te verminder”, sê Technology Review.

Dit is interessant dat die Bybel sê dat werk ‘’n gawe van God is’ en dat ‘elke mens moet eet en drink en die goeie geniet by al sy moeitevolle arbeid’. En dit sê verder: “Daar [is] niks beters . . . as dat die mens hom verheug in sy werke nie, want dit is sy deel” (Prediker 3:13, 22). Ons kan dus verseker wees dat daar geen plek in God se nuwe wêreld sal wees vir sulke moniteertoestelle soos “elektroniese base” wat ons van ons geluk beroof nie.

Maar totdat daardie nuwe dag aanbreek, kan dit intimiderend wees om dag na dag met ’n “elektroniese baas” te kampe te hê. Maar ’n positiewe houding kan jou help om die mas op te kom. Een telefonis het gesê dat hy die druk om onder elektroniese toesig te werk, verwerk het deur “’n mate van veerkrag en ’n humorsin” te openbaar. As jy dus onder so ’n gevoellose “baas” moet werk, moet jy positief en buigsaam wees. Doen jou bes om oor die weg te kom met die “baas” wat nooit ophou om jou dop te hou nie.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel