Ons beskou die wêreld
STRALING VIR GEREELDE LUGREISIGERS
Nuwe studies van die Amerikaanse Departement van Vervoer toon dat lugreisigers aan meer kosmiese straling van die sterre en die son blootgestel word as mense wat op die grond is. Die verslag sê lugbemanning, persone wat dikwels lang lugreise onderneem en swanger vroue loop groter gevaar. Hoe hoër die vliegtuig vlieg en hoe nader dit aan die pole is, veral gedurende sonstorms, hoe meer is die straling. Dr. A. B. Wolbarst van die Amerikaanse Agentskap vir Omgewingsbeskerming het egter aan The New York Times gesê dat die kankerrisiko weens straling op ’n vlug tussen New York en Athene “betreklik gering is vergeleke met die ander risiko’s in die wêreld”.
WAT IS BELANGRIK VIR DIE JEUG?
Tydens ’n onlangse opname is meer as 2000 jong Wes-Australiërs tussen 12 en 24 gevra om die dinge wat vir hulle die belangrikste is te evalueer. Die resultate het getoon dat gesinslewe verreweg die belangrikste kwessie vir jongmense is en al die ander ver oortref. Die jongmense het ook besorgdheid uitgespreek oor hulle persoonlike toekoms en die toekoms van die gemeenskap oor die algemeen, aldus die koerant The West Australian. Die ander belangrike kwessies was onderrig en opvoeding, vrede, inkomste en gesondheid. Politieke en godsdienstige kwessies was egter van die laaste dinge op die lys.
“BINNENSHUISE EGSKEIDING”
In Japan het egskeidings onder middeljarige egpare in die afgelope 20 jaar meer as verdubbel. Dikwels wil die vrou skielik na 30 jaar van getroude lewe ’n egskeiding hê, en die man meen “sy hand is deur sy eie skoothondjie gebyt”, verduidelik egskeidingsraadgewer Joriko Madoka. Volgens The Daily Yomiuri verkies talle vroue ’n “binnenshuise egskeiding”, eerder as om met die probleme van ’n geskeide te sit. Met ander woorde, die man woon op die boverdieping en die vrou en kinders op die grondverdieping. Die vrou doen niks vir die man nie en probeer kontak met hom vermy. Sodoende word die sosiale status, ekonomiese stabiliteit en die skyn bewaar. Maar vir hoe lank? Egskeidings wat deur howe toegestaan is aan mense ouer as 60 het tussen 1983 en 1988 met 42,3 persent toegeneem, met ewe veel mans en vrouens wat ’n egskeiding aangevra het.
DODELIKE VOËLHANDEL
Na bewering veroorsaak die handel in wilde voëls elke jaar die dood van miljoene voëls—volgens skatting kan dit tot honderdmiljoen beloop. “Daar sterf ten minste vyf gevange wilde voëls vir elkeen wat lewendig verkoop word”, beweer die Suid-Afrikaanse tydskrif Personality. In ’n poging om eksotiese voëls te vang, kap sommige handelaars bome af waarin die neste gebou is en vang hulle dan die klein voëltjies wat die val oorleef. ’n Ander metode is om ’n swerm voëls met donshael te skiet en dié te vang wat met geringe vlerkwonde op die grond val. Dan moet die voëls lewend gehou en per vliegtuig na verafgeleë lande gestuur word, waar hulle dikwels dood aankom. Is dit enigsins winsgewend? Personality verduidelik: “Die aantal voëls wat verhandel word, word op ten minste 5 miljoen per jaar geskat. Maar dit sluit nie die ontsaglike aantal voëls in waarmee daar gesmokkel word nie . . . Voëlliefhebbers en -versamelaars is bereid om tot [R650 000] vir gesogte dog beskermde spesies te betaal.”
VERDRAG OM DIE WÊRELDKLIMAAT TE BESKERM
Na ingewikkelde onderhandelinge het al 159 lidnasies van die VV eenparig besluit om ’n verdrag oor die stabilisering van die aarde se klimaat op te stel. Hulle sal in 1992 in Brasilië vergader vir samesprekings oor hoe om te verhoed dat die atmosfeer warmer word en hoe ekonomiese ontwikkeling se invloed op die omgewing verklein kan word. Maar daar eindig die verdrag, en talle netelige kwessies moet nog opgelos word. Volgens joernalis Paul Lewis beskou die ontwikkelende lande die geïndustrialiseerde wêreld se kommer oor die omgewing as ’n geleentheid om ekonomiese konsessies te verkry. In ruil vir hul samewerking wil hulle toegang hê tot moderne tegnologie wat veilig vir die omgewing is asook verligting van die skuldlas en hoër pryse vir hulle uitvoerprodukte. Die Verenigde Volke het gewaarsku dat ’n miljard mense—byna ’n vyfde van die wêreld se bevolking—in die komende eeu vlugtelinge kan word as die kweekhuiseffek seevlakke aansienlik laat styg.
VERROTTENDE VERSLAE
Daar is ’n gevaar dat byna 70 persent van die Staatsargief van Noord Ryn-Wesfale, Bondsrepubliek Duitsland, sal verrot. Volgens ’n minister is die verrotting hoofsaaklik te wyte aan die papier. Sedert die 19de eeu bevat nywerheidsvervaardigde papier bestanddele wat suur vorm en verrotting veroorsaak. Die Frankfurter Allgemeine Zeitung berig dat 26 persent van die items in die argief alreeds in mindere of meerdere mate vergeel het. Gewone bewarings- en herstellingsmetodes bied net ’n gedeeltelike oplossing.
GESONDHEIDSWENKE
◻ Navorsers aan die Universiteit van Toronto sê dit is dalk voordelig om meer dikwels te eet. Die groep mans wat getoets is nadat hulle dieselfde hoeveelheid en soort kos in 17 porsies met uurlike tussenpose pleks van in drie maaltye per dag geëet het, het ’n gemiddelde afname getoon van 13,5 persent in LDL-cholesterol (“nadelige” cholesterol), 8,5 persent in totale bloedcholesterol en 29 persent in bloedinsulien. Een groot maaltyd per dag was glo die nadeligste eetgewoonte. Een nadeel is dat ’n mens gewoonlik meer kalorieë inneem as jy aanhoudend peusel.
◻ ’n Studie wat in The Journal of the American Medical Association gepubliseer is, toon dat vroue wat gebruik maak van gewone multivitamienpille wat foliensuur bevat wanneer hulle probeer om swanger te word en dit vir ten minste ses weke na die begin van hul swangerskap drink die risiko om kinders met neuraalbuisdefekte te baar aansienlik verminder. Neuraalbuisdefekte kan verlamming, verstandelike gestremdheid en die dood veroorsaak.
◻ “Daar is nou onomstootlike bewys dat ’n dieet wat ryk aan groente en vrugte is, kan help om die kankerrisiko te verminder”, sê die tydskrif New Scientist. Die vitamiene wat só ingeneem word, “oefen hulle beskermende uitwerking uit deur skadelike reaksies in die liggaamselle te bestry”. Navorsers sê hoe meer groente ’n mens eet, des te minder sal die kanse wees dat jy longkanker opdoen. En sonder genoeg vitamien C kan oksidasiereaksies in die bloedstroom beroertes, hartsiekte, katarakte en ander siektes tot gevolg hê.
KAN HONDE KLEUR ONDERSKEI?
Navorsers aan die Universiteit van Kalifornië in Santa Barbara meen dat honde ’n beperkte kleuresin het. Na ’n jaarlange studie het die wetenskaplikes bevind dat honde kleure aan die teenoorgestelde kante van die kleurespektrum, soos rooi en blou, kan onderskei, maar nie tussen geel, groen en oranje kan onderskei nie.
BEDENKINGE OOR BLOEDOORTAPPINGS
Bloedoortappings is al hoe meer in die ontwikkelende lande gebruik om jong malariapasiënte te behandel wat lewensgevaarlike anemie opgedoen het. In 1986 is 16 352 sulke bloedoortappings byvoorbeeld in die Mama Yemo-Hospitaal, Kinshasa, Zaïre, toegedien. Maar gedurende 1987 het die aantal bloedoortappings afgeneem. Waarom? Die tydskrif Panoscope, wat sy hoofkwartier in Londen het, berig dat nadat dokters van die Mama Yemo ontdek het dat 13 persent van ’n groep kinders wat bloedoortappings vir malaria ontvang het, besmet is met HIV, die virus wat Vigs oordra, die hospitaal se mediese personeel sy beleid van “outomatiese bloedoortappings vir anemiese kinders” gewysig het. Ysteraanvullers is in die plek daarvan vir sommige jong pasiënte by die hospitaal in Kinshasa gegee om hulle bloed te help opbou. Sodoende, sê Panoscope, “is die aantal bloedoortappings met 73%, tot 4531, verminder—en nie ’n enkele kind het sy lewe verloor nie”.
BITTER GEVOLGE
In die sewentigerjare het baie Duitse mans hulle laat steriliseer. Die koerant Main Post berig dat hulle deur “die vlaag seksuele vryheid” meegevoer is. Professor W. Schulze, van die Universiteitshospitaal van Hamburg-Eppendorf, meen dat baie sulke operasies oorhaastig gekies het. Al hoe meer gesteriliseerde mans wil nou ’n omkeringsoperasie hê. In 10 persent van die gevalle is dit egter nie moontlik om hul vrugbaarheid te herstel nie. Verder word die kanse op ’n suksesvolle omkeringsoperasie met verloop van tyd al hoe geringer.
VOEDSAME TOEBROODJIES
Ouers hoef nie te bekommerd te wees as hulle kinders net grondboontjiebotter en brood vir middagete by die skool eet nie. Eleanor Brownridge, ’n voedingkundige van Londen, Ontario, Kanada, beweer dat jy nie ’n fout kan maak “met grondboontjiebottertoebroodjies [nie] omdat die vulsel en die brood ideale proteïenmaats is”. Sy voeg by dat dit maklik is om “die smaak en voedingswaarde van grondboontjiebotter met bestanddele . . . soos gerasperde appel, rosyntjies, appelkose, dadels, piesangstukkies, selfs koolslaai, te verhoog”. Jonger skoliere vind dikwels sekuriteit in die eendersheid van bekende middagetes. Maar, berig The Vancouver Sun, “dit is ook goed om te sorg vir ’n paar verrassings soos om die brood met ’n koekiesnyer te sny of ’n briefie in die kosblik te sit”.