Hedendaagse jongmense—Die uitdagings waarvoor hulle te staan kom
“NAVORSING toon dat die tienderjare ongetwyfeld onder die verwarrendste en stresvolste tye van die lewe is.” Dit is wat dr. Bettie B. Youngs in haar boek Helping Your Teenager Deal With Stress skryf. In die verlede het hulle blote jeugdigheid vir jongmense genoeg hoofbrekens besorg. Deesdae moet hulle egter die kwellinge van adolessensie verwerk, asook die geweldige druk van die lewe waarmee volwassenes in die negentigerjare te kampe het.
Dr. Herbert Friedman het in die tydskrif World Health geskryf: “Die oorgang van kind na volwassene het nog nooit vantevore plaasgevind in ’n tydperk van sulke dramatiese verandering nie, hetsy dit die buitengewone toename in die wêreldbevolking, die gepaardgaande versnelling van verstedeliking en die tegnologiese omwentelinge in kommunikasie en vervoer is wat feitlik oornag toestande geskep het wat nooit voorheen gesien is nie.”
Een tienderjarige meisie genaamd Kathy sê dus: “Dit is so moeilik om in ’n tyd soos ons s’n groot te word.” Dwelmverslaafdheid, selfmoord, alkoholmisbruik—dít is die reaksie van sommige jongmense op die stres en druk van hierdie “swaar tye”.—2 Timotheüs 3:1.
Revolusie in die gesin
Dr. Youngs sê: “Ons ouers het tyd vir ons gehad. Baie van ons het moeders gehad wat die grootmaak van kinders hulle voltydse loopbaan gemaak het.” Maar vandag “kan of wil baie vroue nie tuis bly en hulle kinders voltyds grootmaak nie. Hulle werk en moet mooi vat om hulle loopbaan en gesin gelyktydig te behartig. Daar is nie genoeg ure in die dag nie; iets moet skade ly. Alte dikwels is dit die tyd en ondersteuning wat ’n ouer haar kind kan gee wat skade ly. Gedurende die kwetsbaarste tyd in ’n tiener se lewe word hy aan homself oorgelaat om fisiese, verstandelike en emosionele veranderinge te verwerk.”—Helping Your Teenager Deal With Stress.
Daar sal in die negentigerjare ongetwyfeld steeds dramatiese veranderinge in die gesinstruktuur kom as gevolg van egskeiding (50 persent van die huwelike in die Verenigde State eindig in egskeiding), buite-egtelike geboortes en die toenemende neiging van ongetroude paartjies om saam te woon. Een uit elke vier gesinne in die Verenigde State het alreeds net een ouer. ’n Toenemende aantal gesinne is stiefgesinne wat deur hertrouing gevorm word.
Loop kinders in sulke gesinstrukture die gevaar om emosioneel of sielkundig benadeel te word? Party sê byvoorbeeld dat kinders in enkelouergesinne meer geneig is tot eensaamheid, hartseer en onsekerheid as jongmense wat in tradisionele gesinne grootword. Talle enkelouergesinne en stiefgesinne funksioneer weliswaar met oënskynlik min nadeel vir die kinders. Die Skrif maak dit egter duidelik dat God bedoel het dat kinders deur twee ouers grootgemaak moet word (Efesiërs 6:1, 2). As daar van hierdie ideale situasie afgewyk word, sal dit bepaald bykomende druk en spanning veroorsaak.
’n Revolusie in die gesinslewe vind ook in talle ontwikkelende lande plaas. Die uitgebreide familie waar alle volwasse familielede ’n aandeel aan die grootmaak van kinders gehad het, was in daardie lande die tradisionele struktuur. Verstedeliking en industrialisasie is besig om uitgebreide familiebande—en die noodsaaklike ondersteuning wat dit aan jongmense bied—te verbreek.
Een jong vrou van Afrika skryf: “Daar is geen tantes of enige ander familielid wat my kan raad gee oor wat dit beteken om groot te word nie. Ouers verwag dat die onderwerp by die skool gedek word—en die skool laat dit aan die ouers oor. Die gevoel dat kinders aan die gemeenskap behoort, bestaan nie meer nie.”a
Ekonomiese bekommernisse
Jongmense is ook baie bekommerd oor die wêreld se verslegtende ekonomie. Trouens, 4 uit 5 jongmense woon in ontwikkelende lande en moet vooruitsigte van lewenslange armoede en werkloosheid trotseer. Luv, ’n 17-jarige inwoner van Indië, sê: “Onder die jongmense in ons land is daar op die oomblik baie werkloosheid. Is dit dan verbasend dat baie jongmense siek en ongelukkig is, slagoffers van euwels word, van die huis wegloop of selfmoord pleeg?”
Jongmense in die welvarende Weste het geldsorge van hulle eie. Neem byvoorbeeld ’n Amerikaanse opname onder tieners waaroor die tydskrif Children Today berig het: “Toe tienderjariges gevra is oor watter spesifieke sake hulle hul bekommer, het hulle merendeels kwessies met betrekking tot geld en die toekoms gemeld.” Onder die tien vernaamste bekommernisse van tienderjariges was “om klasgeld te betaal”, dat die “land op [’n ekonomiese] depressie afstuur” en dat hulle “nie genoeg verdien nie”.
Dit is egter ironies dat party deskundiges glo dat selfs jongmense met ’n finansiële voorsprong op die lange duur sal ly. Die tydskrif Newsweek het opgemerk: “Teen die tagtigerjare het drie uit vier [Amerikaanse] hoërskoolseniors ’n gemiddeld van 18 uur per week gewerk en dikwels meer as [R520] per maand huis toe geneem”—moontlik meer sakgeld as wat hulle ouers gehad het! Soos voorspel kon word, is hierdie “inkomste onmiddellik bestee aan motors, klere, stereotoerusting en ander dinge wat tipies van die adolessent se goeie lewe is”.
Skrywer Bruce Baldwin merk op dat sulke jongmense “grootword met die verwagting . . . dat die goeie lewe altyd maar net daar sal wees, of hulle persoonlike verantwoordelikheid en ’n drang om te presteer, ontwikkel het of nie”. Maar hulle “word wreed ontnugter wanneer hulle die huis verlaat. Die kunsmatige atmosfeer in die huis kan soveel verskil van die werklike vereistes van die mark en die eise van die volwasse lewe dat hulle iets soos ’n kultuurskok ervaar.”
Verandering van sedewette en -waardes
Dramatiese veranderinge van sedes en ander waardes is ook ’n bron van verwarring onder jongmense. “Seks . . . was in my ouma se jongdae ’n ongekende woord”, sê Ramani, ’n jong vrou van Sri Lanka. “Seks in die huwelik is nie bespreek nie, nie eers in die gesin of met die dokter nie, en seks buite die huwelik het nie bestaan nie.” Maar ou taboes het so te sê verdwyn. “Seks onder tienderjariges het feitlik ’n lewenswyse geword”, sê sy.
Dit verbaas ’n mens dan nie, dat toe ’n opname onder 510 hoërskoolleerlinge in die Verenigde State gedoen is, hulle naasgrootste bekommernis was “dat hulle Vigs kan opdoen”! Maar noudat die deur na die “nuwe moraliteit” oopgegooi is, lyk dit asof min jongmense gewillig is om die moontlikheid ernstig te oorweeg om dit weer toe te maak deur monogamie te beoefen—nog minder deur te wag tot hulle getroud is. Soos een Franse jeugdige gevra het: “Kan ons ons op hierdie ouderdom verbind tot getrouheid vir die res van ons lewe?” Vigs en ander seksueel oorgedraagde siektes sal dus steeds die lewe en gesondheid van talle jongmense bedreig.
Watter soort toekoms?
Jongmense het ’n ander probleem wat hulle kwel. Die moontlikheid dat hulle ’n geruïneerde aarde sal beërwe—’n aarde waarvan die osoon in die atmosfeer grotendeels vernietig is, sy temperature wat in ’n globale kweekhuiseffek styg, sy geil reënwoude gestroop, sy lug en water té besoedel om in te asem en te drink—dít bekommer talle jongmense. Die bedreiging van kernoorlog, hoewel dit op die oomblik afneem, laat party wonder of die mensdom selfs ’n toekoms sal hê!
Dit is dus duidelik dat jongmense vandag voor ontsaglike uitdagings te staan kom. Sonder hulp, rigting en leiding, verkeer hulle huidige en toekomstige geluk in ernstige gevaar. En sonder hoop vir die toekoms kan hulle geen gevoel van veiligheid hê nie. Gelukkig is daar geredelike hulp beskikbaar vir vandag se jongmense.
[Voetnoot]
a Hierdie en ander aanhalings van jongmense in ontwikkelende lande is geneem uit die tydskrif World Health van Maart 1989.
[Prent op bladsy 6]
Die verbrokkeling van gesinne deur egskeiding en skeiding het talle jongmense van die nodige ouerlike ondersteuning beroof