Jongmense vra . . .
Hoe kan ek geestelik vordering maak?
“Toe ek kerk toe gegaan het, was ek regtig verward. Ek het nie verstaan wat hulle probeer sê nie, daarom het ek opgehou om te gaan. Ek dink nie ’n mens hoef aan ’n sekere godsdiens te behoort om geloof in God te hê nie.”—Sewentienjarige Carrie.
WAAROM stoot die kerk soveel jongmense af? In ’n opname wat deur meningspeiler George Gallup gelei is, het jongmense die volgende redes gegee: ‘Die preke is vervelig.’ ‘Hulle leer nie van God of die Bybel nie.’ ‘Hulle vra altyd geld.’ ‘Die kerke en kerkgangers leef nie volgens dít wat hulle bely nie.’ Dit is duidelik dat die kerke nie daarin geslaag het om jongmense geestelik te voed nie.
Maar wil jy “die ewige lewe stewig vasgryp”? (1 Timotheüs 6:12, NW). Wil jy gerespekteer word as ’n ryp Christen, een aan wie verantwoordelikheid toevertrou kan word? Wil jy die voorreg hê om een van ‘God se medewerkers’ te wees deur ander te help om die ewige lewe te verkry? (1 Korinthiërs 3:9). Dan moet jy geestelik vordering maak! Jy geniet voordele wat jongmense in die Christendom nie geniet nie omdat jy met Jehovah se Getuies omgaan. Jy woon vergaderinge by ’n Koninkryksaal by waar daar suiwere Bybelonderrigting gegee word. Jy ontvang persoonlike aandag van jou ouers deur ’n gesinsbybelstudie. Jy gaan gereeld met mense om wat die Bybel in alle erns in hulle lewe probeer toepas. Nietemin word baie meer van jou vereis as jy geestelik vordering wil maak. Jy moet, soos die apostel Petrus dit gestel het, “alle ywer” aan die dag lê (2 Petrus 1:5). Kom ons kyk wat dít behels.
Ontwikkel ’n geestelike aptyt
Jesus het gesê: “Gelukkig is diegene wat bewus is van hulle geestelike behoefte” (Mattheüs 5:3, NW). In die oorspronklike Grieks het hierdie uitdrukking letterlik verwys na “diegene wat bedelaars vir die gees is”. Soos ’n hawelose bedelaar wat pynlik bewus is van sy behoefte aan fisiese voedsel, moet jy bewus wees van jou behoefte aan geestelike voedsel. Jesus het gesê: “Dit is die ewige lewe, dat hulle U ken [“voortdurend kennis opneem van”, NW], die enige waaragtige God, en Jesus Christus.”—Johannes 17:3.
Die meeste jongmense doen nie veel om hulle geestelike behoeftes te bevredig nie. Die boek The Psychology of Adolescence sê van die gemiddelde jongmens: “Sy kennis van sy godsdienstige oortuiging is waarskynlik gering, hoewel sy besorgdheid oor en belangstelling in godsdiens redelik sterk is.” ’n Groep jongmense is in een studie honderd vrae oor die Bybel gevra. Die gemiddelde jongmens kon slegs 17 beantwoord. In ’n ander opname kon sewe uit tien tienderjariges nie die vier Evangelies opnoem nie.
Wat van jou? In watter mate het jy jouself op ’n ernstige studie van die Bybel toegelê? Kan jy valse leringe, soos die Drie-eenheid en die onsterflikheid van die siel, weerlê? Kan jy skriftuurlik bewys dat daar ’n hoop vir ewige lewe in beide die hemel en op die aarde is? Kan jy bewys dat ons sedert 1914 in “die laaste dae” leef? (2 Timotheüs 3:1-5). Of moet ‘’n mens jou weer die eerste beginsels van die woorde van God leer’?—Hebreërs 5:12.
As dit die geval is, moet jy ‘verlang [“’n verlange vorm”, NW] na die onvervalste melk van die woord, dat jy daardeur kan opgroei’ (1 Petrus 2:2). Dit kan aan die begin groot inspanning verg. Maar hoe meer jy jou daarop toelê om God se Woord te bestudeer, hoe groter sal jou aptyt vir geestelike dinge word.
Knaende twyfelgedagtes
’n Negentienjarige genaamd Kevin sê: “Ek weet regtig nie waar ek op die oomblik staan wat godsdiens betref nie. Ek is maar bra verward oor die hele aangeleentheid.” Talle jongmense in die Christendom voel só. Maar kan dit wees dat jou geestelike vooruitgang ook deur knaende twyfelgedagtes belemmer is?
Is jy byvoorbeeld heeltemal oortuig dat ’n leefwyse volgens die Bybel se morele standaard die beste is? Of vind jy dat jy ‘afgunstig op die goddelose mense is’? (Psalm 73:3). Glo jy regtig dat ons in die laaste dae leef? Of is jy gretiglik besig om ’n loopbaan in hierdie stelsel van dinge te beplan? Is jy oortuig dat die Bybel God se geïnspireerde Woord is? Of wonder jy soms of wetenskaplike teorieë dit weerlê? As twyfelgedagtes jou kwel, moet jy onthou wat die Bybel in Jakobus 1:6 sê: “Maar hy moet in die geloof bid, sonder om te twyfel; want hy wat twyfel, is soos ’n golf van die see wat deur die wind gedrywe en voortgesweep word.” Twyfelgedagtes oor ’n mens se geloof kan ook vergelyk word met lekplekke in ’n skip se romp. Hoe groter die gate, hoe waarskynliker is dit dat die skip sal sink.
Beteken dit dat jou geloof op die punt staan om “skipbreuk” te ly as jy soms onopgeloste vrae het? Nie noodwendig nie. Maar as jy knaende twyfelgedagtes het, moet jy hard daaraan werk om hulle uit die weg te ruim. As jy byvoorbeeld twyfel oor die aankoop van ’n nuwe langbroek, sal jy nie die kledingstuk van naderby ondersoek, kyk na die afwerking, die materiaal waarvan dit gemaak is, en die prys voordat jy ’n besluit neem nie? Net so kan die meeste geregverdigde twyfelgedagtes uit die weg geruim word deur ’n noukeurige studie van die Bybel te maak of deur met ’n ryp, goed ingeligte Christen te gesels.a Spreuke 15:14 sê: “Die hart van die verstandige soek na kennis.”
Stel geestelike doelwitte
Die apostel Paulus het vir die jong man Timotheüs gesê: “Wees vlytig in hierdie dinge, leef daarin, sodat jou vooruitgang vir almal duidelik kan wees.” Let egter daarop dat Paulus Timotheüs nie met ’n onrealisties hoë, onbereikbare doelwit belas het nie. Hy het Timotheüs spesifieke, realistiese doelwitte gegee om na te streef: “Wees ’n voorbeeld vir die gelowiges in woord, in wandel, in liefde, in gees, in geloof, in reinheid.”—1 Timotheüs 4:12-15.
Jy moet net soos Timotheüs geestelike doelwitte stel wat realisties, bereikbaar, is. Gestel jy wil leer kook. Hoe sinneloos sou dit tog wees om oornag ’n meesterkok te probeer word! Jy kan egter die kookkuns stap vir stap bemeester—deur miskien eers te leer om groentes voor te berei en dan verder te gaan en te leer om vleise, brood, oondstoofgeregte of heerlike nageregte voor te berei. Jy kan eweneens jou uiteindelike doel van geestelike rypheid makliker bereik as jy vir jou ’n reeks kleiner doelwitte stel. Hulle kan as bakens van jou geestelike vordering dien. Elke keer wanneer jy ’n doelwit suksesvol bereik het, bou jy jou selfvertroue op. Dit kan jou aanspoor om die volgende doelwit aan te pak.
Bereik jou doelwitte
Kom ons kyk nou na van die doelwitte wat jy kan stel. Het jy byvoorbeeld die Bybel al deurgelees? Ja, die Bybel is ’n dik boek, maar waarom deel jy dit nie in kleiner dele op wanneer jy dit lees nie? (Die gemiddelde persoon in die Verenigde State eet meer as 640 kilogram kos elke jaar. Maar wie sal dit alles in een slag probeer eet?) Die ‘edelmoedige’ Bereane het ‘die Skrifte elke dag ondersoek’ (Handelinge 17:11). As jy ’n daaglikse leesrooster van 15 minute volg—omtrent dieselfde tyd wat dit neem om na vyf gewilde liedjies oor die radio te luister—kan jy die hele Bybel binne ’n jaar deurlees.
Jy kan jou dit selfs ten doel stel om elke nommer van die tydskrifte Die Wagtoring en Ontwaak! te lees. Die puik inligting daarin sal jou geestelike vordering gewis bespoedig. As jy nie alreeds ’n ongedoopte verkondiger is nie, kan jy dit jou doel maak om ’n gemeente van Jehovah se Getuies in hierdie hoedanigheid te verteenwoordig. Dit sal beteken dat jy gereeld aan die predikingswerk van huis tot huis deelneem en sodanige aktiwiteit maandeliks rapporteer. Jy kan met jou ouers of plaaslike gemeentelike ouere manne bespreek hoe jy aan die vereistes vir hierdie voorreg kan voldoen.
Wat van ander moontlike geestelike doelwitte? Om verstandig en volwasse in jou denke te word (Hebreërs 5:14). Om elkeen van die vrugte van die gees aan te kweek (Galasiërs 5:22). Om die kwaliteit van jou gebede te verbeter (Filippense 4:6). Om meer respek vir jou ouers se hoofskap aan die dag te lê (Efesiërs 6:1). Om meer bedrewe te word in die verdediging van jou geloof (1 Petrus 3:15, NW). Hierdie doelwitte is prakties en bereikbaar!
Onthou egter dat dit nie genoeg is om doelwitte te stel nie. Jy moet by hulle bly! Soos voormalige Britse eerste minister Benjamin Disraeli gesê het: “Die geheim van sukses is volgehoue doelgerigtheid.” Ja, kweek ’n geestelike aptyt aan. Stel redelike geestelike doelwitte. Toon doelgerigtheid deur by hulle te bly. Geestelike vordering sal dan gewis volg.b
[Voetnote]
a Die boeke Die Bybel—God se woord of die mens s’n? en Lewe—Hoe het dit hier gekom? Deur evolusie of deur die skepping? (gepubliseer deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc.) kan jou help om die vrae te beantwoord wat jy moontlik oor die inspirasie van die Bybel het.
b Toekomstige artikels sal ander aspekte van hierdie onderwerp bespreek.
[Prent op bladsy 23]
Een manier om jou geestelik te help vorder, is om elke dag ’n paar minute aan Bybellees te bestee