Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g91 1/22 bl. 16-18
  • Korinthe—stad van die twee seë

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Korinthe—stad van die twee seë
  • Ontwaak!—1991
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Sy bronne
  • Terugslae en herstel
  • Ons gedagtes
  • Die reën kom!
  • Die Stad Korinte—“Meester van twee hawens”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2009
  • “Hou aan praat en moenie stilbly nie”
    ‘Getuig deeglik’ oor God se Koninkryk
  • Bybelboek nommer 46—1 Korinthiërs
    “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig”
Ontwaak!—1991
g91 1/22 bl. 16-18

Korinthe—stad van die twee seë

“dIE mense in die ou tyd het geglo dat die gode werklik bestaan. Soms dink ek ook so.” Ons gids het die opmerking gemaak terwyl sy ons tussen die ruïnes van tempels deurgelei het wat eens aan Apollo, Aphrodite, Hermes, Hercules en Poseidon toegewy was. Die reuk van reën het in die lug gehang, en ons het die sagte dreuning van ’n broeiende storm gehoor. “Zeus”, het sy glimlaggend gesê.

Donderwolke het reeds die oggend oor die berg Parnassos opgesteek. Nou was hulle vinnig besig om oor die Golf van Korinthe te versprei en het onheilspellend oor ons gehang. Maar ons gids het opgeruimd gebly en voortgegaan om verhale uit die verlede, oor die roem van Griekeland en oor die koms van die Christelike godsdiens, te vertel. Op bekoorlike wyse het sy feite, fantasie, geskiedenis en mitologie vermeng om geboue voor ons geestesoog te laat verrys, gevul met mense van vlees en bloed uit ’n ander era.

Ons het ons nie oor die reën bekommer nie. Dit reën selde in die Peloponnesos. Om die waarheid te sê, hierdie suidelike skiereiland is een van die droogste gebiede in Griekeland! Net Athene is droër. Daarenteen is dit nie sagte buie wanneer die reën wel kom nie. Dit is wilde stortvloede wat die hoogliggende terrein uitkalwe en die land onder die Korinthiese plato van ryk spoelgrond voorsien.

Wat ’n verrassing! Van al die dinge waarvoor Korinthe bekend is, het ons kwalik verwag dat een van hulle ’n plaasproduk sou wees. Ja, of hulle nou in die Levant, in Kalifornië, of in watter plek ook al gekweek word, oral waar daar met lus gesmul word aan die klein rosyntjies wat ons korente noem, dra hulle die naam van Korinthe, wat tot “korente” vervorm is.

Sy bronne

Die grond kan een rede wees vir Homerus se beskrywing “weelderige Korinthe”. Maar Korinthe het die meeste van sy rykdom verkry as ’n hawestad wat die Ioniese sowel as die Egeïese See bedien. Horatius het dit “bimarisve Corinthi”, of “Korinthe van die twee seë” genoem. Hoe kon een stad ’n hawe vir twee seë wees? Maklik, aangesien dit geleë was aan die suidpunt van die landengte (Grieks, isth·mosʹ) wat die Peloponnesos met die Griekse vasteland verbind.

Korinthe het die voordeel geniet van die oos-westelike haweverkeer en van die tol wat gehef is op die vervoer van vrag en klein skepe oor die ismus langs die skeepsweg wat die Grieke die diʹol·kos genoem het. Hy het ook belastings gehef op vrag wat van noord na suid oor land beweeg het. Geen wonder dat Philippus II, die vader van Alexander die Grote, Korinthe as noodsaaklik vir sy ontwikkelende monargie beskou het nie.

Terugslae en herstel

Maar dit was eeue gelede. Deesdae verbind ’n kanaal die Korinthiese en Saroniese Golf en dreun vragmotors op superhoofweë verby die stil dorpie Korinthe. Matrose, vragwadrywers en dorpsbewoners steur hulle min daaraan dat Korinthe eens die aantrekkingskrag van die Middellandse See was. Net argeoloë en toeriste kom met troffel, film en nuuskierigheid.

In 146 v.G.J. het die Romeinse konsul Mummius Korinthe vernietig en feitlik ontvolk. Na ’n eeu van sluimering is die stad egter deur Julius Caesar as ’n kosmopolitiese Romeinse kolonie, met ’n voorliefde vir Griekse gebruike en denke, opgebou.

Toe die Christenapostel Paulus sowat honderd jaar later op die toneel verskyn het, was Korinthe weer eens ’n lewendige, florerende stad. Bedags het sy mense met welslae handel gedryf, gebou en hulle ambagte beoefen. En snags? Dan het hulle gefuif en feesgevier in afgodstempels en tavernes en in donker strate rondgedwaal op soek na sinlike genot. Hoewel Korinthe bekend was in ’n eeu van sedeloosheid, en almal geweet het wat ’n “Korinthiese meisie” is, was godsdiensprostitusie interessant genoeg nie ’n Griekse gebruik nie. Die welbekende verhaal dat Korinthe duisend meisies gehuisves het wat aan Aphrodite toegewy was, berus op die twyfelagtige opinie van Strabo, ’n aardrykskundige van die eerste eeu v.G.J. En selfs hy het hulle geplaas in ’n voor-Romeinse tydperk uit die gryse verlede.

Ons gedagtes

Terwyl ons op die Lecheum-weg loop, die antieke verkeersweg wat die westelike hawe met die middestad verbind het, het ons gids ons aandag gevestig op die oorblyfsels van staatsgeboue, tempels, winkels, ’n vleismark en ’n openbare toilet, almal sommer so opmekaar saamgebondel.a Nietemin het die skynbare gebrek aan dorpsbeplanning ons eerder gehelp as gehinder om die besige straattoneel wat Paulus daar moes teëgekom het in ons geestesoog te sien—die besige menigte en ledige praatjiesmakers, die winkeleienaars, slawe en onderhandelaars.

Toe ons die einde van die pad nader, het ons die gemurmel gehoor van die Pirenefontein, ’n ondergrondse bron wat koel water verskaf het aan winkels wat bederfbare goedere verkoop het, asook waswater aan ambagsmanne en laastens spoelwater vir die toilet. Of die Christenegpaar Aquila en Priscilla hulle tentmaakwinkel in hierdie omgewing gehad het, weet niemand vandag nie (Handelinge 18:1-3). Maar net ’n paar meter verder, op die trappe wat na die Forum lei, het argeoloë ’n latei van ’n sinagoge gevind. Die gebied kon dus ’n Joodse buurt gewees het, en dit was aangenaam om te dink dat die huis van Titius Justus dalk op hierdie einste plek was!—Handelinge 18:7.

Die Forum—wat ’n fassinerende plek! Dit bestaan uit twee reghoekige terrasse wat op ’n oos-westelike as geleë is. In die middel van die boonste terras wat winkels aan weerskante het, is daar ’n verhoog wat ’n bema genoem word, en wat tydens amptelike geleenthede deur sprekers gebruik is. Ons gids het ons daaraan herinner dat die Griekse woord vir “regterstoel”, wat die geneesheer Lukas gebruik het toe hy van Paulus se dag in die hof voor prokonsul Gallio geskryf het, bema was (Handelinge 18:12). Die gebeure van Handelinge 18:12-17 kon dus op hierdie selfde plek afgespeel het! Ons het gestaan waar Paulus sou gestaan het, gereed om homself te verdedig terwyl hy deur sy Joodse beskuldigers omring is. Maar nee! Gallio wou die saak nie aanhoor nie. Hy het Paulus vrygelaat en die gewelddadige bende eerder toegelaat om Sosthenes af te ransel.

Agter hierdie opelughofsaal, aan die noordelike kant van die onderste terras, is die ‘heilige fontein’ en sy orakelheiligdom. Daar bestaan ’n meningsverskil oor hoe die orakel gegee is. Dit wil egter voorkom of die priesters ’n “wonder” verrig deur die fonteinwater in wyn te verander indien die smekeling genoeg geld betaal het. Dit het die aanbidder glo verseker dat hy op die punt was om bonatuurlike verligting te ontvang. Argeoloë sê dat hierdie heiligdom baie lank in gebruik was, sowel in eertydse voor-Christelike Korinthe as in die herboude stad van Paulus se dag. Toe ons by ’n geheime gangetjie inloer, het ons die meganisme gesien wat die wyntoertjie moontlik gemaak het, en het ons besef dat godsdiensbedrieërs nie iets nuuts is nie.

Hoewel Poseidon veronderstel was om die beskermgod van Korinthe te wees, is die indrukwekkendste gebou egter die tempel van Apollo met sy Doriese styl. Van sy 38 pilare staan 7 nog. Elkeen van hierdie 7,2 meter hoë pilare, met ’n deursnee van 1,7 meter by die basis, is gemaak uit ’n soliede stuk kalksteen met groewe wat oorspronklik met harde, wit pleisterkalk bedek is. Waar hy van sy sentrale hoogte oor die stad uittroon—’n donker en onheilspellende ruïne tussen ruïnes—lok hierdie argaïese tempel nietemin steeds diepgaande emosies uit. Dit kan die woorde van Goethe in die aanskouer se geheue laat opkom—dat argitektuur “bevrore musiek” is.

Die reën kom!

“Kom. Daar’s nog baie om te sien!” Drup. “Ons het nog nie na die tempels met hulle kombuise en weelderige eetvertrekke gekyk nie.” Plof. “Ons moet na die klipplaveisel gaan kyk wat deur Erastus gelê is.” Spletter. “En julle wil nie die taverne van Aphrodite of die Asklepieion mis nie.” Ja, die gedrup en gespletter van groot druppels water het ’n reënstorm voorspel.

Oombliklik het die mense en strukture uit ons verbeelding verdwyn. Ons het ons gehaas in die rigting waaruit ons gekom het, terwyl ons gids steeds ’n lys dinge aframmel wat ons nog nie gesien het nie. Reëndruppels het neergegiet en het die plaveisel laat skitter, kleure laat verhelder en stof van die marmer van eens trotse geboue afgewas. Toe die hemele skielik ’n woeste stortbui loslaat, het ons begin hardloop. Ons kon steeds ons gids iewers voor ons hoor uitroep: “Kom, almal!” In die verblindende wolkbreuk het selfs die ruïnes langs Korinthe se Lecheum-weg verdwyn. Niks het gebly nie, nòg landskap nòg droombeeld. Papnat het ons na ons bus gehardloop en gehoop dat die drywer nie nou gaan koffie drink het nie.—Bygedra.

[Voetnoot]

a Vleismark (Grieks, maʹkel·lon): ’n Winkel wat vleis en vis aangehou het maar ook baie ander dinge verkoop het.—1 Korinthiërs 10:25.

[Kaart op bladsy 16]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

Korinthe

GRIEKELAND

IONIESESEE

EGEÏESESEE

[Prente op bladsy 17]

Bo: ’n Opgeknapte winkel in die Forum

Middel: Die “bema”

Onder: Die argaïese tempel van Apollo

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel