Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g91 1/22 bl. 26-27
  • “Dit is hoe ons ons klere was . . .”

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • “Dit is hoe ons ons klere was . . .”
  • Ontwaak!—1991
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Was sonder wasmasjiene
  • Wasmasjiene—in die hede en die verlede
  • Wenke oor die gebruik van outomatiese wasmasjiene
  • Die hardwerkende wassers van Abidjan
    Ontwaak!—2007
  • Die grootste mens verrig ’n nederige taak
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
  • Was jou hande en droog hulle af!
    Ontwaak!—1998
  • Die kubernetika—’n Ou idee wen veld
    Ontwaak!—1992
Ontwaak!—1991
g91 1/22 bl. 26-27

“Dit is hoe ons ons klere was . . .”

IN BAIE lande is daardie woorde bekend aan geslagte kinders wat al geesdriftig op die wysie van hierdie bekende Engelse kinderrympie gesing en gedans het. Maar as die gedagte aan wasgoed was jou nie eintlik van vreugde laat spring nie, dink aan die volgende: Is dit nie verfrissend om jou met ’n donserige, pas gewaste handdoek af te droog nadat jy gestort of gebad het nie? Watter mens voel nie netjieser en gemakliker as hy skoon klere aan het nie? Selfs kinders geniet dit blykbaar om klere te dra wat skoon is en lekker ruik—al bly dit nie lank so nie!

Om ons klere te was is dus baie belangriker vir ons lewe en welstand as wat ons dikwels besef. Maar hoe ons ons klere was, hang dalk af van waar ons in die wêreld woon.

Was sonder wasmasjiene

In talle welvarende lande is die woord “was” onafskeibaar gekoppel aan die woord “masjien”. Maar in armer lande word wasgoed dikwels steeds met die hand gewas, en met verbasend goeie gevolge! Neem byvoorbeeld daardie wit klere wat so moeilik is om skoon te kry. In lande met ’n warm, droë klimaat benut die vroue die son.

Die prosedure is eenvoudig. ’n Kom word met water en ’n aansienlike hoeveelheid seep of reinigingsmiddel gevul. Die wit klere word onder die water gedruk, en die hande van die vlytige wasvrou roer die water met vinnige hale en vryf die skuimerige water deur die materiaal. As kommersiële bleikmiddels nie beskikbaar is nie, gebruik party ander tradisionele bleikmiddels, soos kokosasyn. Nadat die wasgoed vinnig uitgespoel is, word dit oor geskikte struike of heinings gehang terwyl dit nat is en in die son gebleik totdat dit spierwit is. Daarna word dit ’n hele paar keer in die kom uitgespoel en ’n tweede keer in die warm tropiese son drooggemaak. Die gevolg? Wit klere wat silwerskoon is!

’n Huisvrou wat naby ’n rivier of stroompie woon, probeer dalk ’n metode wat ’n bietjie anders is. Sy kies eers ’n goeie plekkie, soos waar die oewer geleidelik na die water afdaal. Maar as die rivier vinnig vloei, is sy versigtig om ’n kalm inham te kies waar die kanse dat die stroom haar klere kan meesleur gering is. Is daar ’n groot rots daar naby? Goed. Die huisvrou gebruik nou ’n houtspaan om die nat klere teen die rots te slaan. Die vuiligheid word letterlik uit die materiaal geslaan.

Wasmasjiene—in die hede en die verlede

In welvarende lande word wasgoed deesdae meestal met die masjien gewas, pleks van met die hand soos vroeër. Maar wasmasjiene gaan verder terug in die verlede as wat jy dalk besef. Gedurende die Middeleeue in Europa was die wasbalie die algemene manier om klere te was totdat dit geleidelik deur die stoomketel vervang is. Later, in die 19de eeu, het daar ’n wasmasjien verskyn wat soos sy hedendaagse eweknie gelyk het. In 1830 het ’n Engelse wassery ’n draaiende silinder gebruik wat die klere in warm seepwater heen en weer geskud het. Hierdie basiese metode het tot vandag toe onveranderd gebly.

Maar die wasmasjien het stadig opgang gemaak. Gebruikers het gevind dat die slinger wat met die hand gedraai word die klere benadeel, sowel as die persoon wat dit draai. Teen die einde van die 19de eeu was die geriffelde wasplank, balie en handwringer dus die toerusting wat baie huisvrouens verkies het.

Maar met die verskyning van die eerste elektriese wasmasjien in 1910 het die wasmasjien herlewe. Twaalf jaar later het die eerste roerwasmasjien op die mark verskyn. Sedertdien is ontelbare verbeterings en wysigings in wasmasjiene aangebring. Sommige maatskappye het selfs rekenaarbeheerde wasmasjiene begin bemark wat sal “bepaal hoe vuil jou klere is en dan die optimale reinigingsmiddel en wasmetode [sal] kies” as jy die knoppie druk.—Popular Science, Julie 1990.

Wenke oor die gebruik van outomatiese wasmasjiene

Die standaard- outomatiese wasmasjien is iets algemeens in talle Westerse huise. Maar “outomaties” beteken nie dat dit sonder sorgvuldige oorweging gebruik kan word nie. Byvoorbeeld, in wasmasjiene waar die wasgoed bo ingelaai moet word, kan ’n ongebalanseerde bondel wasgoed veroorsaak dat die wasmasjien gedurende die tolsiklus op die vloer rondbeweeg en allerhande verwoesting in jou waskamer aanrig. Gevaarlike dampe kan gevorm word as jy chloorbleikmiddel saam met ammoniak gebruik. Volg dus basiese veiligheidsmaatreëls. Moenie jou hande in die wasmasjien sit voordat alle beweging opgehou het nie. Trek die prop uit voordat jy dit probeer versien. En moenie toelaat dat jou kinders met jou wasmasjien werk of daarmee peuter nie.

Maar hoe kan jy seker wees dat jy bevredigende resultate sal verkry wanneer jy ’n bondel wasgoed was? Hier is ’n paar basiese wenke:

◻ Maak alle sakke leeg, en dop hulle om.

◻ Vou mouboordjies om, en borsel los vuiligheid af.

◻ Maak bandjies en lyfbande vas sodat hulle nie knoop nie.

◻ Maak ritssluiters, knippe en hakies toe sodat hulle nie aan ander items haak nie.

◻ Behandel kolle en vlekke voordat dit gewas word.

◻ Moenie die wasmasjien oorlaai nie. Dit kan veroorsaak dat die klere half skoongemaak word, kan meer kreukels maak, meer donsies veroorsaak en jou klere laat verslyt.

Baie mense moet weliswaar steeds hulle wasgoed op die ou manier was—met die hand. Maar hetsy jou wasmasjien ’n metaalbalie, ’n bruisende stroom of ’n gerekenariseerde meganiese wonder is, kan die resultate jou inspanning die moeite werd maak—silwerskoon klere vir jouself en jou gesin, sowel as die bevrediging van ’n taak wat knap gedaan is!

[Prente op bladsy 26]

Wasgoed word by die rivier gewas

Wasgoed word in die son gebleik

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel