Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g91 3/8 bl. 12-13
  • Kommunikasie tussen dokter en pasiënt—’n sleutel tot sukses

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Kommunikasie tussen dokter en pasiënt—’n sleutel tot sukses
  • Ontwaak!—1991
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Beskikbare bron van hulp
  • Bewys dat dit werk
  • Samewerking tussen Jehovah se Getuies en die mediese beroep
    Ontwaak!—1993
  • Is jy voorbereid op ’n mediese situasie wat jou geloof kan toets?
    Ons Koninkryksbediening—1992
  • Die kloof tussen dokters en Getuiepasiënte word oorbrug
    Ontwaak!—1990
  • Baanbrekerswerk in bloedlose chirurgie Op Jehovah se Getuies
    Ontwaak!—1991
Sien nog
Ontwaak!—1991
g91 3/8 bl. 12-13

Kommunikasie tussen dokter en pasiënt—’n sleutel tot sukses

IN DIE vroeë tagtigerjare was dit duidelik dat daadwerklike stappe gedoen moes word om beter kommunikasie tussen Jehovah se Getuies en die mediese gemeenskap te bewerkstellig. Daarom het die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies ’n program goedgekeur om samewerking met dokters en hospitale te bewerkstellig.

Verteenwoordigers van die Getuies se wêreldhoofkwartier in die stad New York het talle groot hospitale in daardie stad besoek. Hospitaalpersoneel het dit baie waardeer, en dit het ’n grondslag gelê vir samewerking pleks van konflik. Hierdie verteenwoordigers het daarna seminare in groot stede dwarsdeur die land gehou. As ’n kenmerk van hierdie seminare het hulle plaaslike bedienaars van Jehovah se Getuies saamgeneem vir vergaderinge by mediese sentrums in die gebied, en sodoende het hulle hierdie bedienaars opgelei om voort te gaan met die program. Toe hulle in Chicago, Illinois, VSA, was, het hulle die redakteur van die Journal of the American Medical Association gespreek. Dit het gelei tot ’n uitnodiging om ’n artikel te skryf oor hoe dokters met Jehovah se Getuies kan werk.a

Mettertyd is omvattende opleiding en geskrewe riglyne voorsien sodat Getuies in ander lande soortgelyke programme kon begin.b Byvoorbeeld, nadat ’n seminaar in Kanada gehou is, is Hospitaalskakelkomitees (wat in daardie land later Mediese Skakelkomitees genoem is) gevorm en opgelei. Elke komitee het uit Christen- ouere manne bestaan wat bereid en in staat is om met dokters, maatskaplike werkers en hospitaalpersoneel te praat.

Afsprake is gemaak met party provinsiale ministers van gesondheid, voorsitters van mediese en hospitaalverenigings en ander invloedrykes op die gebied van gesondheidsorg. Hierdie samesprekinge het gehelp om die mediese gemeenskap meer bewus te maak van die belange van Jehovah se Getuies. Gevolglik is ’n vaste grondslag gelê vir toekomstige samesprekinge.

’n Beskikbare bron van hulp

Daar word al lank besef dat akkurate inligting ’n groot hulp is om potensiële konfrontasies te voorkom tussen opregte Christene en dokters wat op bloedterapie staatmaak. In die vroeë sestigerjare is daar by die hoofkwartier van Jehovah se Getuies begin om ’n lys op te stel van behulpsame mediese dokters. Hulle was dokters wat vertroud geraak het met mediese alternatiewe vir bloedoortappings. As ’n plaaslike dokter of hospitaal later nie kans gesien het om ’n saak te hanteer nie, kon ’n komitee die name van ander dokters bekom. Die pasiënt kon dan na ’n ander mediese span oorgeplaas word.

’n Ander keuse was dat die Hospitaalskakelkomitees ’n telefoonkonsultasie tussen die plaaslike chirurg en sy ervare kollegas kon reël. Soms het hierdie soort onmiddellike kommunikasie dokters in staat gestel om hulle behandeling te wysig, sonder onnodige gevaar vir die pasiënt. Deur as ’n skakel tussen die pasiënt en die dokter te dien kon die komitees gevolglik doeltreffend optree om die angs van die pasiënt én die dokter te verlig wanneer bloed dalk nodig lyk.

Bewys dat dit werk

Sonya was ’n slim 13-jarige toe sy vroeg in 1989 uitgevind het dat sy ’n kankergewas onder een oog het. ’n Chirurg het die erns van die nodige operasie aan Sonya en haar ouers verduidelik. Aangesien die gewas vinnig gegroei het, moes chirurgie nie uitgestel word nie. Chemoterapie sou waarskynlik daarna nodig wees, en die dokter het gesê dat haar ouers toestemming vir bloedoortappings sou moes gee. Maar weens hulle godsdiensoortuigings kon die gesin nie daartoe instem nie. Die bekwame chirurg wat Sonya behandel het, was bereid om die kankergewas te verwyder, en was oortuig dat sy dit sonder ’n bloedoortapping kon doen. Maar weens die hospitaalbeleid kon die chirurg nie ’n narkotiseur kry om haar by te staan nie.

Jonathan is die oudste seun van Michael en Valerie. Laat in 1989, toe hy 16 was, het dokters hulle meegedeel dat Jonathan ’n baie groot gewas in sy milt het. Dokters was ietwat onwillig om sonder bloed te opereer, maar hulle het moedig voortgegaan om dit te doen uit respek vir die gesin se godsdiensstandpunt. Gedurende die herstellingsperiode het ernstige komplikasies ingetree. Jonathan se bloeddruk het dramaties gedaal, en sy bloedtelling het gesak. Gedurende ’n tweede operasie het hy baie bloed verloor, en sy hemoglobien het tot 5,5 gedaal, wat ongeveer ’n derde van die normale vlak is. Die internis het uitgeroep: “Julle seun se toestand is besig om ernstig te verswak. Ons het geen keuse nie. As hy nie bloed kry nie, kan hy sterf!” Wat moes hulle doen?

Skakelkomitees het in albei hierdie gevalle in Kanada lewensbelangrike hulp voorsien. Een skakelkomitee het Sonya se gesin verseker dat hulle kon help om reëlings te tref om haar na ’n mediese sentrum in ’n ander land te neem, indien dit nodig sou word. Maar kon iets gedoen word sodat die vroulike chirurg wat alreeds met haar geval bekend is, kon voortgaan? Hierdie chirurg het in werklikheid so geheg aan Sonya geraak dat sy aangebied het om deel van die operasiespan te wees waar die operasie ook al uitgevoer sou word. ’n Oorplasing was egter nie nodig nie. Lede van die komitee kon die plaaslike mediese personeel oorreed om die chirurg by te staan. Volgens daardie dokter was Sonya se eerste woorde, na die operasie wat agt en ’n half uur geduur het, ’n angstige vraag of bloed aan haar opgedwing is. Hoe bly was Sonya tog toe sy hoor dat die antwoord nee is!

Toe Jonathan se bloedtelling na twee operasies tot 5,5 gedaal het, was die dokters daarvan oortuig dat ’n bloedoortapping nodig was om sy lewe te red, en hulle was gereed om ’n hofbevel te kry om bloed aan hom op te dwing. Maar Jonathan se onwrikbare geloof en persoonlike teenstand teen die gebruik van bloed het dinge vertraag. Jonathan vertel: “Ek het dr.— aan die kraag beetgekry en hom in die oë gekyk en gesê: ‘Geen bloed of bloedprodukte nie, ASSEBLIEF!’” Die komitee van opgeleide broers het gehelp om te reël dat Jonathan per vliegtuig na ’n groter mediese inrigting geneem word. Toe hy daar aankom, was ’n komiteelid by die hospitaal en het hy alreeds met die dokters wat die operasie sou uitvoer, gepraat. Die volgende dag het Jonathan se hemoglobien gestabiliseer. Sy bloedtelling het geleidelik verbeter, en hy is 15 dae na die eerste operasie ontslaan.

Volgehoue sukses kan ongetwyfeld verwag word aangesien al hoe meer medici en maatskaplike werkers bereid is om met die Hospitaalskakelkomitees van Jehovah se Getuies saam te werk.

[Voetnote]

a Herdruk op bladsy 27-9 van Hoe kan bloed jou lewe red?, uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc.

b Daar is nou 100 Hospitaalskakelkomitees in die Verenigde State, 31 in Kanada, 67 in Frankryk en ’n aantal in ander lande van die wêreld.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel