Obseniteit in musiek
“DIE heilige roeping van rock-groepe—om soveel ouers as moontlik te skok—is ’n taak wat al hoe veeleisender word in ’n kultuur wat by die dag sedeloser word”, het ’n onlangse hoofartikel in U.S.News & World Report gesê. Dit het egter opgemerk dat sommige rock-groepe hierdie “uitdaging om mense te skok wat reeds afgestomp geraak het”, aanvaar deur meer buitensporig vulgêre taal te gebruik—nie net in hulle musiek nie, maar selfs in die name wat hulle vir hulleself kies. Die artikel het berig: “Daar is nou minstens 13 groepe wat na die manlike geslagsdele vernoem is, 6 na die vroulike geslagsdele, 4 na sperma, 8 na aborsie en een na ’n vaginale infeksie.” Dit het bygevoeg dat een opname bevind het dat minstens tien groepe na “allerhande seksdade” en ses na braaksel vernoem is. Die meeste van hierdie groepe is ver van die hoofstroom af, maar hulle invloed word gevoel.
’n Hof in Florida, VSA, het ’n langspeler van die rock-groep 2 Live Crew obseen verklaar wat, volgens een van sy kritici, “87 beskrywings van mondelike seks, 116 verwysings na die manlike en vroulike geslagsdele en ander lirieke oor manlike saaduitstorting bevat”. Daar is later teen die hofuitspraak geappelleer, en dit is tersyde gestel. ’n Platewinkeleienaar is egter in hegtenis geneem en later op aanklagte van obseniteit skuldig bevind en met R2500 beboet omdat hy die langspeler verkoop het. Sy prokureurs is van plan om teen die saak te appelleer.
Maar nie almal is geskok oor hierdie groot toename in obseniteit nie. In The Olympian, ’n koerant van die staat Washington, VSA, het ’n resensent onlangs liries geraak oor ’n konsertopvoering van ’n gewilde heavy-metal-groep. Hy het gesê dat die groep ‘dalk ’n rekord opgestel het’ deurdat hulle ’n vuil, seksueel eksplisiete woord “meer as 200 keer in hulle opmerkings tussen liedjies gebruik het. Die gehoor het hulle voorbeeld gevolg. Dit was ’n aand van obseniteit, rock ’n’ roll en die Amerikaanse manier van dinge doen, en die gehoor was gelukkig.” Die groep, het hy opgesom, “was manjifiek”.
Die standaarde van sommige hedendaagse musikante en kritici is beslis ver verwyder van die Bybel se wyse raad: “Vuil taal moet daar nooit uit julle mond kom nie” (Efesiërs 4:29, NAV). Musiekliefhebbers, hetsy oud of jonk, tree verstandig op as hulle ook nie sulke musiek by hulle ore laat inkom nie.