Het jy lugversorging nodig?
DIT is ’n warm, bedompige dag. Die son skroei genadeloos op jou neer terwyl jy jou van die werk af voortsleep huis toe. Maar wanneer jy jou voordeur oopmaak, verwelkom koel, verfrissende lug jou. A-a-a-a, lugversorging! Wat ’n verligting kan dit tog wees!
Maar sê nou dit is ’n koue wintersdag, en wanneer jy jou deur oopmaak, verwelkom lekker warm lug jou. Sê jy dankbaar vir jouself: ‘A-a-a-a, lugversorging’?
Miskien nie. Dit sal nietemin ’n gepaste reaksie wees. “Lugversorging”, verduidelik die World Book Encyclopedia, “verkoel die lug wanneer die weer warm is. Dit verhit die lug wanneer die weer koud is.”
Oor die algemeen word die term “lugversorging” egter toegepas op die verkoeling van lug in ’n ingeslote omgewing, of dit nou ’n huis, ’n kantoorgebou, ’n ouditorium, ’n bioskoop, ’n motor, ’n bus, ’n trein of enige ander ingeslote ruimte is. Tog doen lugversorging meer as om net die lugtemperatuur te verander; dit beheer ook die lug se beweging, suiwerheid en humiditeit, of voggehalte.
Die oorsake van ongerief
Maar wat veroorsaak die oormaat hitte en humiditeit in ’n ingeslote omgewing? Natuurlik is die son dikwels die vernaamste hittebron. Tog is jy en ander mense wat saam met jou in die huis, kantoor, motor of ander ingeslote omgewing is, ook daarvoor verantwoordelik. Dit is omdat ons as mense as ’t ware soos masjiene is wat hitte en humiditeit produseer. Hoe meer ons ons inspan, hoe meer hitte en humiditeit skep ons. Selfs wanneer ons stilsit, produseer ons liggame ’n sekere mate van hitte en humiditeit.
As ons dus gerieflik wil wees, moet die hitte en humiditeit wat ons afgee teen dieselfde tempo verwyder word as wat dit vrygestel word. As dit te vinnig verwyder word, sal ons te koud kry. As dit te stadig verwyder word, sal ons te warm kry. Net om die hitte en humiditeit te verwyder van honderd mense wat in ’n groot vertrek stilsit, verg, in tegniese terme, ongeveer 3 ton verkoeling of 36 000 Btu’s (Britse termiese eenhede) per uur.
Een Btu is naastenby gelyk aan die hitte wat deur ’n brandende vuurhoutjie vrygestel word. (Ter vergelyking: 252 kalorieë verteenwoordig dieselfde hoeveelheid hitte as een Btu.) Gevolglik is die hitte wat ’n sittende persoon afgee omtrent gelyk aan 360 brandende vuurhoutjies! Iets wat bydra tot die aansienlike hitte wat ’n groep mense in ’n ingeslote omgewing skep, is die hitte wat geskep word deur die ligte en ander elektriese toestelle wat dalk aangeskakel is. Die voordeel van lugversorging kan dus maklik gesien word.
Voor- en nadele
Benewens die feit dat lugversorging ’n aangenamer omgewing binne ’n gebou skep, kan dit ook voordelig wees vir jou gesondheid, veral as die toerusting behoorlik gebruik en in stand gehou word. Dit kan hitte-uitslag verhoed, en aangesien dit die lug dikwels van stuifmeel suiwer, kan dit ook vir hooikoorslyers verligting bied. Die matiging van temperatuuruiterstes kan veral vir ouer mense ’n gesondheidsvoordeel inhou, en so ook die vervanging van dooie lug met vars lug en die verwydering van besoedeling en stof, wat deur lugversorging gedoen word.
Maar moderne lugversorging wat verkoeling gebruik, kan terselfdertyd gesondheidsprobleme veroorsaak. Baie mense is al siek gemaak deur groot verskille tussen temperature van oor die 40 grade Celsius buite en temperature van onder 26 grade Celsius binne wat deur lugversorging geskep word. Trouens, party het om dié rede geweier om moderne lugversorgers te gebruik en het eerder plafonwaaiers gebruik en blykbaar voordeel daaruit getrek.
Daarenteen dra lugversorging glo tot groter produktiwiteit onder kantoorwerkers by. Dit help ook afgevaardigdes wat byeenkomste in ’n binnenshuise arena of ouditorium bywoon om beter aandag te skenk. Jy sal sekerlik saamstem dat dit ’n stryd is om wakker te bly wanneer sulke plekke warm en bedompig is.
Lugversorging is ook noodsaaklik vir die suksesvolle werking van baie nywerhede. Lugversorging is veral in die voedselbedryf ’n aanwins. Dit maak dit moontlik om voedselsoorte reg deur die jaar te bewaar deur te verhinder dat bakterieë groei wat bederwing veroorsaak. Dit keer dat die meel in bakkerye muf. En dit word benut in die maak van kase. Eens op ’n tyd kon Roquefort-kaas net gemaak word in sekere grotte in Frankryk waar die lug koel en vogtig is. Maar met lugversorging, wat die omstandighede in die grotte dupliseer, kan soortgelyke kase elders geproduseer word.
Moderne lugversorging is egter ook verantwoordelik vir die dood en siekte van baie. Byvoorbeeld, gedurende ’n kongres van die Amerikaanse Legioen in 1976 het 182 lede ’n siekte opgedoen wat later geïdentifiseer is as legionellasiekte, en 29 het gesterf. The New Encyclopædia Britannica het aangaande die verspreiding van hierdie siekte opgemerk: “Daar word vermoed dat besmette water in sentrale lugversorgingseenhede Legionella pneumophilia in druppeltjies deur die omringende atmosfeer kan versprei.” Sentrale lugversorgingstelsels wat nie goed in stand gehou word nie, het bygedra tot besmette lug wat ook ander siektes veroorsaak het.
Dit voorsien in ’n behoefte
Baie mense meen dat hulle lugversorging werklik nodig het. In die verlede is nat grasmatte in die somer voor die vensters of deure gehang en die inkomende lug is afgekoel wanneer dit die vog laat verdamp het. Ongeveer 500 jaar gelede is die eerste meganiese waaier gebou. Dit het verligting van die hitte gebied deur die lug te sirkuleer. Selfs vandag vind baie mense dat die ventilasie wat ’n goeie waaier bied, al is wat hulle nodig het om in die somer koel te bly.
In woestyngebiede, waar die humiditeit laag is, geniet baie ’n goedkoop metode van verkoeling. In so ’n stelsel word die lug buitekant deur ’n nat veselmat gesuig en sodoende verkoel voordat dit die gebou binnekom. Met hierdie soort verkoeling moet die lug binnekant egter toegelaat word om teen dieselfde tempo te ontsnap as wat verkoelde lug ingebring word. ’n Paar vensters wat effens oop gelaat word, sal gewoonlik voldoende wees. Maar hierdie soort lugversorging was al dikwels onbevredigend, aangesien die voggehalte van die lug tot ongerieflike vlakke verhoog word.
Daar is dus in ’n behoefte voorsien toe daar onlangs ’n metode ontwikkel is om lug te verkoel. Die beginsel waarop ’n moderne lugversorger werk, is in werklikheid soortgelyk aan dié van ’n huishoudelike yskas wat gebruik word om voedsel koud te hou. Gevolglik word die lugversorgde gebou—dalk jou huis of kantoor—in werklikheid een groot yskas.
Om die temperatuur van die lug aan die binnekant te verlaag, word warm lug verkoel terwyl dit gesirkuleer word. Om dit reg te kry, word ’n vloeibare maar vlugtige koelmiddel deur ’n stel verdampspoele gesirkuleer. Terwyl ’n blaaswaaier die warm lug oor hierdie spoele stuur, verdamp die koelmiddel en absorbeer dit die hitte, en sodoende word die lug verkoel. Hierdie versorgde lug word dan teruggevoer na die gebied wat verkoel word. Van die vog word ook verwyder wanneer die lug verkoel word; dit kondenseer teen die koue verdampspoele en word gedreineer.
Intussen word die koelmiddel, wat verdamp het omdat dit hitte geabsorbeer het, in ’n kompressor ingevoer. Daar word dit onder druk geplaas. Dan word dit deur kondensatorspoele gepers waar dit sy hitte vrystel en na ’n vloeistof terugkeer. Die hitte word uit die gebou gevoer en die koelmiddel sirkuleer weer deur die verdampspoele om die verkoelingsproses voort te sit.
Die proses om lug te versorg deur middel van verkoeling is betreklik onlangs ontwikkel. ’n Lugversorgingseenheid, spesiaal vir die gerief van die mens, is in 1922 vir die eerste keer in ’n rolprentteater gebruik. Die eerste lugversorgingstelsel vir treine is in 1931 geïnstalleer, en in 1939 is eenhede vir die eerste keer in motors ingebou. Die daaropvolgende jaar is eenhede in busse geïnstalleer. Huise en woonstelle het gedurende die dertigerjare begin om lugversorging te gebruik.
Vanselfsprekend verskil mense se behoefte aan lugversorging. Tog is daar ’n temperatuurspeling wat vir die meeste mense gerieflik is. Van 22 grade Celsius tot 26 grade Celsius, met ’n relatiewe humiditeit van 40 tot 60 persent, is ’n kenmerkend gerieflike gebied. Wanneer die weer koud genoeg is sodat verhitting nodig is, sal die meeste mense by ’n temperatuur van 22 grade Celsius tot 24 grade Celsius gerieflik wees.
Daarenteen sal die meeste mense, wanneer dit buite warm is, gerieflik wees wanneer die lugversorging die temperatuur binne tussen 24 grade Celsius en 27 grade Celsius hou. Maar as die temperatuur buite uiters hoog is en jy gedurig in en uit gaan, is dit miskien verstandig om die temperatuur binne ter wille van jou gesondheid ietwat hoër as gewoonlik te hou.
Het jy dit nodig?
Lugversorging kan, na gelang van jou omstandighede, vir jou ’n geriefliker omgewing skep. Dit is waar dat daar sommige gebiede in die wêreld is waar dit nie nodig is of selfs verlang word nie. Of die aankoop van ’n lugversorger kan vir jou ekonomies onprakties wees.
Hoe dit ook al sy, jy besluit dalk dat die voordele van lugversorging die uitgawes verbonde daaraan werd is. As die eenheid behoorlik gekies word, die regte grootte is, reg geïnstalleer, gebruik en in stand gehou word, kan jy dit lank en goed teen ’n minimale koste gebruik en inderdaad jou gerief vergroot.