Ek was ’n inbreker van beroep
DOEF! Die slag van die regter se hamer het deur die hofsaal weergalm! Hoewel sy volgende woorde sag was, het dit geklink of hy hulle teen my uitbulder. “Ek vonnis jou hiermee tot 15 jaar tronkstraf.” Ek sal daardie woorde of die gebeure wat daarop gevolg het nooit vergeet nie. Die polisieman het my vinnig uit die hofsaal teruggelei na die aanhoudingsel, waar ek die drie maande voor die hofsaak deurgebring het.
Ek is vroeg die volgende oggend van my sel in ’n gang af gelei na ’n kamertjie waar ’n leergordel, wat ongeveer 13 sentimeter breed was en agter vasgegespe het, om my lyf vasgemaak is. Voor aan die gordel was daar twee groot metaalringe waaraan my hande geboei is. Nadat die twee polisiemanne hierdie prosedure voltooi het, het hulle my in ’n ander gang af geneem, waar ek by ’n groep mans aangesluit het wat op dieselfde manier geboei was. Die mans het langs mekaar in twee rye gestaan. Ek is na my plek in die ry gelei en ’n ketting wat tussen die twee rye geloop het, is opgelig en aan ’n derde ring aan die kant van die leergordel vasgesluit.
Daarna het die ses polisiemanne wat toe byderhand was ons na die hysbak gelei wat ons na ’n spesiaal vervaardigde bus sou neem. Daar het ek gesit, langs ’n moordenaar en voor dwelmhandelaars, verkragters en rowers. Ons was almal na dieselfde plek op pad—die tronk!
Jy wonder dalk wat tot hierdie omstandighede aanleiding gegee het? Laat ek jou vertel van my agtergrond en die gebeure wat my in die tronk laat beland het.
Ek is nie as ’n misdadiger gebore nie
My ouers is kort ná die Tweede Wêreldoorlog getroud en my ouer broer is in 1947 gebore. Ek is twee jaar later gebore, gevolg deur nog ’n broer wat 18 maande later gebore is. My ouers het dus met drie babas die lang reis wes van Richmond, Virginië, VSA, na die staat Oregon langs die kus van die Stille Oseaan onderneem. Daarna het ons noordwaarts na die staat Washington gereis en in die stad Bellevue gaan woon. Die lewe het destyds vir my normaal voorgekom. Hoewel ons nie ’n baie hegte gesin was nie, het ons gereeld saam uitstappies geniet en na die plaaslike Lutherse kerk gegaan. Dit was die gebruik vir gesinne in Virginië om respek vir God, Jesus en die Bybel te hê. My babasussie is in Januarie 1960 gebore. Hoe opgewonde was my ma tog om uiteindelik die dogtertjie te kry wat sy nog altyd wou hê!
Maar ongeveer ses maande later het iets gebeur wat ons lewenswyse heeltemal verander het. Ons het weer verhuis, hierdie keer na die dig beboste dorp Maple Valley. Ons het nie meer kerk toe gegaan nie, daar was nie meer gesinsuitstappies nie en my pa het kwaai begin drink. Dit maak my steeds hartseer om terug te dink aan daardie keer toe ons verhuis het. Ons was lank daarna nog terneergedruk. Ek glo dat hierdie omstandighede tot my weerspannige lewe as tiener bygedra het.
Waarom ek ’n lewe van misdaad gekies het
Maple Valley was, soos jy uit die naam kan aflei, nie ’n opwindende plek vir ’n weerbarstige tiener in die sestigerjare nie. Daarom het ek my eie opwinding geskep. Dit was vir my maklik, omdat ek met ’n slegte klomp by die skool omgegaan het. Naskoolse gesellighede het in ’n dronknes ontaard, wat altyd uitgeloop het op vuisgevegte en die gebruik van dwelms. Ek het verskeie kere drie-uur of vieruur in die oggend dronk van hierdie gesellighede af huis toe geslinger. Of ek het ’n paar dae lank nie huis toe gegaan nie en by my vriende gebly. Ek het snaaks genoeg geweet dat wat ek doen, is verkeerd, tog het dit gelyk of my ouers hulle nooit daaraan steur nie.
Ons het partykeer gesteel net om te sien of ons daarmee kon wegkom. Ek het eenkeer ’n motor gesteel en op ’n plesierrit gegaan. Maar ek is gevang en het meer as ’n jaar in Green Hill, ’n plaaslike inrigting vir jeugmisdadigers, deurgebring.
Toe ek uit Green Hill ontslaan is, was ek in die hoërskool. Ek het gedink dat ek die dinge wat ek by my ‘misdaadskool’ vir jeugdiges “geleer” het hier kon gebruik. Min het ek besef hoe waar die Bybelse spreekwoord: “Slegte gesprekke bederf goeie sedes”, in my geval was.—1 Korinthiërs 15:33.
Ek was ongeveer 16 toe ek iemand ontmoet het wat anders was, ’n jong man met die naam Jim Carley. Hy en sy gesin het kort tevore van Idaho na ons dorp verhuis. Baie min mense het hom as Jim geken; hy was beter bekend as Spud, ’n bynaam wat afgelei is van die bekende Idaho-aartappel. Hy was een van Jehovah se Getuies.
Ek en Jim was in dieselfde skool. Deur op sy gedrag te let, kon ek sien dat hy anders as my ander vriende was. Hy het goed met almal klaargekom, maar het nie aan hulle kwaaddoenery deelgeneem nie. Dit het my beïndruk. Ek onthou goed dat hy my vertel het waarom hierdie goddelose stelsel spoedig sal eindig en deur ’n nuwe wêreld van vrede onder God se hemelse Koninkryksheerskappy vervang sal word.
Ek wou meer hoor en ek het dus ’n paar keer na sy “kerk”, wat die Koninkryksaal genoem word, gegaan. Dit was in 1967. Wat ek daar gehoor het, was interessant, maar ek het gemeen dat hierdie nuwe wêreld iets in die verre toekoms was. Buitendien het ek toe pret gehad. Ek moes “bestellings” uitvoer vir enigiets wat mense wou hê—gereedskap, motoronderdele, radio’s, televisiestelle. Hierdie “bestellings” is natuurlik deur middel van diefstal en geslepenheid uitgevoer. Waarom moes ek na ’n kerk toe gaan wat my opwindende “beroep” veroordeel?
Op 19 het ek die skool verlaat en met my hoërskoolnooi getrou. ’n Jaar later was ek die pa van ’n babadogter, Rhonda Jean. Met hierdie groter verantwoordelikheid het ek besef dat dit noodsaaklik is om na hulle om te sien, maar net op ’n oneerlike wyse.
Ek het die waarheid gevind!
Ek het steeds dwelms gebruik en verkoop, motors gesteel en by huise ingebreek, maar my “beroep” het my uiteindelik ingehaal. Ek is gearresteer en het my spoedig in die geboeide posisie bevind wat ek vroeër beskryf het, op pad tronk toe. Op daardie stadium was ek 20, met ’n vrou en ’n dogter van ses maande. En ek sou die volgende 15 jaar in die tronk moes deurbring! Ek het besef dat ek iets sou moes doen om beheer oor my lewe te kry. Ek het begin terugdink aan wat Spud oor die Bybel gesê het.
Terwyl ek in die tronk was, het ek die Bybel saam met sekulêre boeke oor selfverbetering begin lees. ‘As ek hierdie boeke lees, sal dit my help om groot te word’, het ek gedink. Hulle het nie gehelp nie. Niks het gehelp nie, totdat ’n ander gevangene by die Verbeteringsentrum in Shelton, Washington, my gevra het of ek ’n Bybelbespreking met ’n paar van Jehovah se Getuies van die plaaslike gemeente wou bywoon. Hy het my vertel dat hulle die tronk weekliks besoek. Ek het ingestem. Toe ek die twee Getuies vir die eerste keer ontmoet het, het ek geweet dat wat ek uit die Bybel en die studieboek Die waarheid wat lei tot die ewige lewe geleer het reg was. Ek het die waarheid gevind!
Ek getuig in die tronk
Partykeer het tot 15 gevangenes my weeklikse Bybelstudies met die Getuies bygewoon. My vrou het gedurende hierdie tyd besluit dat ek mal geword het in die tronk en sy het ’n egskeidingsaak aanhangig gemaak. Dit het my nuutgevonde geloof baie beproef.
Ek het besluit om my geloof te versterk deur meer geestelike voedsel in te neem. Ek het begin deur die Bybel saam met Bybelpublikasies te lees, vroeëre nommers van Die Wagtoring en die Ontwaak! inkluis. My geloof het baie sterk geword. Ek het ook vir almal wat wou luister, begin preek. Baie van die gevangenes het my spoedig begin vermy. Wanneer ek terugdink, kan ek sien dat dit waarlik vir my ’n beskerming was.
Ek het egter baie interessante gesprekke met ander in die tronk gevoer. Een gesprek was met die Katolieke priester wat gesê het dat ek verdraaidhede geleer word en dat mense die Bybel kan laat sê wat hulle wil. Om sy bewering te staaf, het hy gesê hy sal vir my wys dat die Bybel sê dat daar geen God is nie. Ek het sy aanbod aanvaar. Hy het sy Bybel by die boek Psalms oopgeslaan en sy hand só gehou dat sy wysvinger ’n gedeelte van die vers bedek het. Ek het gesê: “Vat asseblief jou vinger weg sodat ek die hele vers kan lees.” Hy het geantwoord: “Lees net onderkant my vinger.” Ek het dit gedoen, en tot my verbasing het dit gesê: “Daar is geen God nie.” “Daar het jy die bewys”, het hy gesê, “daar is geen God nie!” Ek het weer gevra om die hele vers te sien. Hierdie keer het hy sy hand weggevat. En daar het dit gesê: “Die dwaas sê in sy hart: Daar is geen God nie.”—Psalm 14:1.
Ek is op parool en vasbeslote
Vanweë my veranderde gesindheid en gedrag is ek na slegs twee jaar in die tronk op parool vrygelaat. Dit was teen die einde van 1971. Sommige mense het miskien gedink dat ek godsdienstig geword het net om die paroolraad te flous. Maar ek was nou vry en meer vasbeslote as ooit om nooit weer in slegte geselskap terug te val nie. Ek het doelbewus in ’n omgewing gaan woon waar ek geweet het my vorige vriende nie sou wees nie. Ek het geweet dat dit onverstandig sou wees om met enige van my ou makkers in aanraking te kom. Hulle het my ook vermy, want hulle het gehoor dat ek ’n soort “priester” geword het en vir almal preek.
Ek het met my Bybelstudies voortgegaan en die vergaderinge van die Covington-gemeente in Kent, Washington, gereeld begin bywoon. Die predikingswerk het ’n al hoe groter rol in my lewe gespeel en ek is in Junie 1972 gedoop. Ek het probeer om my balans in sekulêre aangeleenthede te behou, terwyl ek terselfdertyd God gedien het en my dogter die Bybel geleer het. Sy was toe amper drie en het by haar ma, my gewese vrou, gewoon. Dit was ’n ware uitdaging wat oor 16 lang jare vol frustrasie gestrek het. Ek moet erken dat daar tye was wat ek gevoel het dat dinge nie vinnig genoeg na my sin gebeur het nie. Dan het ek aan die skriftuurlike vermaning gedink: “Sover as dit van julle afhang, leef in vrede met alle mense. . . . Aan My kom die wraak toe, Ek sal vergeld, spreek die Here.”—Romeine 12:18, 19.
Ek het baie nagte in trane en gebed deurgebring. My lewe was op daardie tydstip baie soos die tipiese weersomstandighede in die Puget-sontgebied, bewolk en trietsig met ’n bietjie sonskyn af en toe. My “sonskyn” het gekom in die vorm van teokratiese bedrywighede soos vergaderinge en byeenkomste waar ’n mens nuwe vriendskappe kan aanknoop en oues kan hernieu. By een van daardie byeenkomste het ek iemand ontmoet wat ’n blywende indruk op my sou maak, en nadat ons mekaar twee jaar lank leer ken het, is ek en Mary Hughes in Augustus 1974 getroud.
In Julie van die volgende jaar het ons ’n seun gehad en hom Trey (afgelei van Tom III) genoem. Ek het geweet dat God altyd eerste in hierdie huwelik sou wees, veral omdat ek kort tevore as bedieningskneg in die Christengemeente aangestel is. Vanweë hierdie voorreg het ek besef dat ’n nuwe deur van geleentheid in Jehovah se diens vir my oop was. Ek was vasbeslote om dit ten volle te benut en voort te gaan om hom te dien. Ek het my ingespan en altyd op God gesteun om my te leer hoe om geestelik te groei. Wanneer ek ook al gevra is om ’n toewysing te behartig, het ek dit aanvaar en op hom vertrou om my die nodige wysheid te gee. Toe, in 1987, is ek as ouere man aangestel.
Ek het met die verloop van jare geleer dat dit altyd die verstandigste weg is om dinge op Jehovah se manier te doen. Moenie ongeduldig raak nie. Dit is weer vir my beklemtoon toe my dogter Rhonda, wat toe 20 was, in die lente van 1990 by ons kom woon en ’n gedoopte Getuie geword het. Ek is weer daaraan herinner hoe kragtig die waarheid is. Ek het die vorige agt jaar, weens wetlike beperkings, geen kontak met haar gehad nie. Jehovah het my pogings van jare tevore geseën toe ek die saad van Bybelwaarheid in my dogter gesaai het gedurende die kort besoeke wat deur die hof toegestaan is.
Rhonda het blykbaar amper alles onthou wat ek en Mary haar van die Bybel geleer het. En wat ’n indruk het ons gesinslewe op haar gemaak! Sedert daardie lentedag het Rhonda se Bybelkennis vinnig toegeneem.
Wanneer ek terugkyk op wat my lewe was en dan kyk na wat dit nou is, moet ek sê dat dit werklik die beste beskerming teen Satan se strikke is wanneer ’n mens in God se diens besig bly. In plaas van die inperking van daardie leergordel wat ek so verafsku het, ondervind ek nou ’n besondere bevryding, ’n bevryding uit die tronk tot die vryheid van ’n bedienaar van God wat vrede bevorder.—Soos vertel deur Tom McDaniel.
[Prent op bladsy 12]
Toe ek prisonier 626023 in die verbeteringsentrum in die staat Washington was
[Prent op bladsy 13]
Die McDaniel-gesin—Mary, Tom, dogter Rhonda en seun Trey