Kinderopvoeding in alle wêrelddele—ouersorg deur liefde, dissipline, voorbeeld en geestelike waardes
OUERS uit verskeie lande het verslae ingestuur oor hoe hulle hul kinders suksesvol van kleins af tot ná hulle tienderjare grootgemaak het. Hulle is almal Getuies van Jehovah en daarom beklemtoon hulle verslae die behoefte daaraan om aandag te skenk aan die vier gebiede wat in die titel hierbo gemeld word. Die uittreksels wat hier weergegee word, illustreer net ’n paar aspekte van gesinsopvoeding.
Uit Hawaii
“Soos die Bybel sê, is liefde die ‘grootste’ eienskap. Liefde in al sy kosbare fasette moet in die huis en die gesin uitgestraal word. Ek en Carol het hierdie goddelike eienskap in ons huwelik aan die dag gelê. Ons is na aan mekaar. Ons hou daarvan om bymekaar te wees. Ek kan dit nie oorbeklemtoon dat die vernaamste sleutel tot suksesvolle kinderopvoeding ’n gelukkige egpaar is nie.
“Ek onthou vandag nog die sterk gevoelens wat in my hart opgekom het gedurende die dae en die weke ná ons eerste kind se geboorte. Daar was verwondering oor die begin van ’n nuwe lewende wese. Ek onthou hoe ek Carol so gelukkig en tevrede gesien het terwyl sy klein Rachel gevoed het. Ek was gelukkig vir haar, maar ek het ook ’n bietjie gekrenk gevoel, ’n bietjie jaloers. Carol het ’n band met Rachel gesmee, maar waar was ek? Ek het gevoel dat ek uit die middelpunt van die gesin uitgestoot is—baie saggies, maar nogtans gestoot. Met Jehovah se hulp kon ek my gevoelens en kommer teenoor Carol uitspreek, en sy was baie simpatiek en ondersteunend.
“Daarna kon ek nader aan ons nuwe baba kom deur met al die takies te help, ook met party van die onaangenames—om ’n vuil doek te was, is om die minste te sê, ’n unieke ondervinding! Ons het ná Rachel nog vyf kinders gehad. Rebecca, die jongste, is nou agt. Ons het persoonlike, individuele Bybelstudies met elkeen van ons kinders gehou.
“Nog iets oor die vroeë opvoeding van ons kinders. Ek en Carol het dit geniet om van geboorte af met ons babas te praat. Ons het oor allerhande dinge gepraat. Partykeer het ons oor Jehovah en sy pragtige, wonderlike werke gepraat. Partykeer het ons oor lawwe, speelse en snaakse dinge gepraat. Ons wou hulle natuurlik iets leer, maar daarbenewens het ons net ’n aangename, ontspanne en onskuldige tyd saam deurgebring. Ek glo dat sulke gesprekke grootliks tot die binding tussen ouer en kind bydra. Hulle het ongetwyfeld die goeie kommunikasie wat ons in ons gesin het, help skep.
“Jehovah het ons die groter waarde van geestelike dinge geleer, om van onsself te gee. Ek en Carol het nooit ’n oorvloed materiële dinge gehad nie, maar ons het nooit werklik daarna gesoek of dit gemis nie. As ons meer van ons tyd daaraan bestee het om rykdom na te jaag, sou ons nie genoeg tyd gehad het om aan Jehovah en ons gesin te wy nie. Ons het die regte keuse gemaak.” (Carol se kommentaar volg.)
“Ek dink dat om jou babas te borsvoed baie help met die binding tussen babas en hulle ma’s. Jy bestee soveel tyd daaraan om jou baba te vertroetel en rond te dra dat julle nie anders kan as om na aan mekaar te kom nie. Die ma kan nooit meer as twee tot vier uur weg van die baba af wees nie. Ek en Ed was altyd vasbeslote om nie ons kinders by babawagters te los nie. Ek wou altyd my babas self leer en sien hoe hulle grootword. Daarom het ek nie ’n sekulêre werk gehad toe hulle klein was nie. Ek dink dit het hulle gehelp om te besef hoe belangrik hulle vir ons is. Die vernaamste manier om na aan jou kinders te kom, is om tyd saam met hulle deur te bring. Niks kan die plek van jou fisiese teenwoordigheid inneem nie. Al die materiële dinge sal nie jou plek inneem nie.
“Die tienderjare was net moeilik omdat ek daaraan gewoond moes raak dat die babas groot word. Dit was baie moeilik om te aanvaar, om te besef dat hulle my nie meer so nodig het nie en dat hulle onafhanklik word. Dit is ’n angswekkende tyd en dit toets al die onderrigting, dissiplinering en vormingswerk wat jy gedoen het. Dit is werklik te laat om te begin wanneer hulle tieners is. Te laat om dan te probeer om hulle beginsels, ’n liefde vir die mensdom en veral ’n liefde vir Jehovah te leer. Hierdie dinge moet van geboorte af by hulle ingeskerp word.
“Jy het 12 jaar voor daardie kritieke tienderjare om jou werk te doen. Maar as jy hard gewerk het om Bybelbeginsels toe te pas, is dit tyd om vreugde en vrede te maai wanneer hulle besluit dat hulle Jehovah heelhartig wil dien.”—Edward en Carol Owens.
Uit Zimbabwe
“Kinders is ‘’n erfdeel van die HERE’. So sê die Bybel in Psalm 127:3. Hierdie gedagte het ons as ouers gehelp om ons bes te doen om vir hierdie erfenis te sorg. Een van die belangrikste dinge vir ons gesin was om dinge saam te doen—om saam te bid, saam die Bybel te bestudeer, saam te aanbid, saam te werk, saam by vriende te kuier, saam te speel.
“Dissipline was soms nodig. Eenkeer het ons seun, in sy vroeë tienderjare, laat by die huis gekom. Ons was bekommerd. Hy was ontwykend. Ons kon aanvoel dat iets verkeerd was, maar ons het besluit om die saak daar te laat tot die volgende oggend. Om en by middernag het ons ’n klop aan ons kamerdeur gehoor. Dit was ons seun met trane in sy oë.
“‘Pa, Ma, ek kon die afgelope vier uur nie slaap nie, net omdat ek nie geluister het toe julle vir my raad uit die Bybel gegee het oor slegte omgang nie. Vandag ná skool het party van die kinders my oorreed om saam met hulle te gaan swem, en een van die seuns het my onder die water ingetrek. As ’n ander seun my nie gehelp het nie, sou ek verdrink het. Hulle het vir my gelag en my ’n lafaard genoem. Ek het dadelik huis toe gekom, maar ek het buite gebly omdat ek skuldig gevoel het. Ek is jammer dat ek nie na julle geluister het toe julle my gewaarsku het teen slegte omgang, soos die Bybel sê, nie.’—1 Korinthiërs 15:33.
“Hy het gehuil en ons ook. Ons was bly dat hy ’n les geleer het, maar ons het hom gedissiplineer sodat dit ’n groter indruk op hom sou maak. Exodus 34:6, 7 toon dat Jehovah genadig is en oortreding vergewe, maar dit nogtans ‘nooit ongestraf laat bly nie’.”—David en Betty Mupfururirwa.
Uit Brasilië
“Ek is ’n weduwee en ek moet my seun self grootmaak. Terselfdertyd hou ek skool. Dit is nie maklik om kinders te onderrig en te dissiplineer nie. Duidelike onderrig, gebalanseerde dissipline en ’n goeie voorbeeld van die ouers is nodig. Dit was vir my moeilik om ferm en terselfdertyd simpatiek te wees. Ek moes die kuns aanleer om te luister veral om met my hart te luister. Dit is belangrik om te kommunikeer, nie net te praat nie, maar om die kind te betrek en hom emosioneel te laat reageer. Ek het probeer om hom te laat voel dat hy ’n deel van die gesin is deur hom by die gesin se begroting te betrek. Wanneer ons die rekening vir die water of die ligte gekry het of as die prys van klere of skoene gestyg het, het ons hierdie sake saam bespreek.
“Dit is belangrik om kinders opreg te prys vir dinge wat goed gedoen is. Wanneer die geleentheid hom voorgedoen het, het ek hom die waarde van God se wette en beginsels gewys. By een geleentheid, nadat ek hom verskeie kere raad gegee het, moes ek die roede gebruik. Dit was vir my bitter moeilik, maar watter geseënde resultate het dit tog gehad! In die adolessensie het ons ons goeie en slegte tye, maar ons besef die waarde van onderrigting en dissipline. Hy vertel my van sy persoonlike probleme en druk sy gevoelens uit.
“Ek moet wakker bly om goeie kommunikasie te handhaaf. Daarom probeer ek om nie te betrokke te raak by my sekulêre werk nie, sodat ek altyd tyd vir my seun kan hê. Wanneer ons wel probleme het, probeer ek om baie aandagtig te luister, en met Jehovah se hulp oorkom ons hulle. Ek laat hom weet dat ek ook foute maak. By een geleentheid was ek woedend, en ek het vir hom gesê om ‘sy mond te hou’. Hy het vir my gesê dat dit ’n gebrek aan liefde toon om vir iemand te sê om ‘sy mond te hou’. Hy was reg. Daardie middag het ons ’n lang gesprek gehad.”—Yolanda Moraes.
Uit die Republiek van Korea
“Ek het Bybelbeginsels ywerig in my gesinslewe toegepas. Veral Deuteronomium 6:6-9 was na aan my hart. Daarom het ek probeer om soveel as moontlik by my kinders te wees, om na aan hulle te kom en om die beginsels van God se Woord in hulle verstande en harte in te prent. Ek het ook voltydse sendelinge en lede van die Bethelgesin na ons huis genooi om my kinders ’n idee van die voltydse diens te gee.
“Die eerste ding wat ouers moet doen wanneer kinders probleme veroorsaak, is om die vrugte van die gees aan die dag te lê. Dit is maklik om vir die kinders kwaad te word en jou humeur te verloor. Ons as ouers moet egter geduldig wees en ons voorbeeldig gedra. Dit is belangrik om kinders te respekteer en hulle die geleentheid te gee om die situasie te verduidelik. As daar geen duidelike bewys van ’n oortreding is nie, vertrou hulle dan en bou hulle altyd op. Wanneer jy ’n kind moet dissiplineer, bespreek dit eers met hom, wys vir hom wat hy verkeerd gedoen het en verduidelik vir hom hoe sy optrede Jehovah en sy ouers teleurgestel het. Dan eers moet jy hom dissiplineer. My seuns het dikwels nadat hulle gedissiplineer is, gesê: ‘Pa, ek verstaan myself nie. Ek weet nie waarom ek opstandig was nie. Ek was so dom.’ Hulle waardeer ouers wat genoeg omgee om hulle te dissiplineer.
“Ouers moet wakker wees om te sien wanneer slegte gedrag begin. Toe my oudste seun in [standerd sewe] was, het ek harde rockmusiek in sy kamer hoor speel. Ek het ontdek dat hy by ’n leerlingdissiplinespan (ouer, voorbeeldige leerlinge wat ander leerlinge raad gee) aangesluit het en dat hy aan wêreldse invloede blootgestel was. Ek het gehoor dat hy onder voortdurende druk van sy spanmaats en uit nuuskierigheid gerook het. Ons het die gevare van rook bespreek, en my seun het self besef dat hy hom aan die span moet onttrek, en hy het dit gedoen. Om die leemte wat afkeurenswaardige skoolbedrywighede gelaat het te vul, het ons gesonde ontspanning met die gesin en gemeentelede gereël.
“Laastens wil ek sê dat dit die belangrikste is dat ouers ’n goeie voorbeeld stel. Ek het altyd vir my twee seuns gesê dat ek God voltyds wou dien as ’n bedienaar wat die goeie nuus verkondig. Toe my jongste seun skool verlaat het, kon ek uit my werk by ’n syfabriek bedank en ’n voltydse bedienaar word. My twee seuns het my vasberadenheid gesien en my voorbeeld gevolg. Nadat hulle as gevolg van die neutraliteitsgeskil ’n vonnis in die gevangenis uitgedien het, het albei die voltydse diens betree, en hulle is vandag nog in die voltydse diens.”—Sjim Joe Ki.
Uit Swede
“Ons het sewe kinders grootgemaak, vyf seuns en twee dogters. As volwassenes is hulle almal nou baie bedrywig in die verkondiging van die goeie nuus van God se Koninkryk. Van kleins af het die kinders die gemeentelike vergaderinge bygewoon en saam met ons in die velddiens uitgegaan. Hulle het stap vir stap geleer om die predikingswerk te doen—om die deurklokkie te lui, te groet, hulle voor te stel en ’n strooibiljet, traktaat of tydskrif aan te bied. Toe hulle nog taamlik klein was, het hulle toesprake op die Teokratiese Bedieningskool gehou.
“Partykeer vereis ernstige probleme spesiale aandag. Dan is dit belangrik om liefde en geduld aan die dag te lê—moenie skreeu of stry nie. Probleme is opgelos deur oor sake te redeneer en Jehovah se beskouing te beklemtoon. Ons het hulle in geldsake opgelei. Toe hulle ouer geword het, het hulle koerante afgelewer, veen bymekaargemaak, in die tuin gewerk, ensovoorts. Besoeke aan hulle grootouers ver van die huis af het hulle bewus gemaak van ouer mense se probleme, en dit het hulle simpatiek teenoor hulle gemaak.
“Op ons 30ste huweliksherdenking het ons die volgende brief ontvang:
“‘Aan ons geliefde ouers:
“‘DANKIE VIR ALLES! Die innige liefde wat julle op ons uitgestort het, die opregte geloof wat julle in ons ingeprent het, die wonderlike hoop wat julle ons gegee het—die waarde daarvan kan nie in woorde of geld bepaal word nie. Ons hoop egter, ons geliefde vader en moeder, dat julle deur hierdie klein aandenking sal verstaan hoe lief ons julle het. [Geteken] Julle kinders.’
“As ons terugkyk op al hierdie ‘20-jaarprojekte’ voel ons ’n diepe dankbaarheid teenoor Jehovah, ons hemelse Vader, wat so barmhartig teenoor ons was.”—Bertil en Britta Östberg.
Allerlei wenke van ouers
“Borsvoeding is Jehovah se manier om ’n baba in noue fisiese kontak met die moeder te bring, maar ’n vader kan dit aanvul met ’n skommelstoel. Ek het persoonlik behae daarin geskep om my kinders byna elke aand in my arms aan die slaap te wieg.”
“As hulle vader kon ek nie ons kinders voed nie, maar ek het noue fisiese kontak met hulle gehad deur hulle in die aand te bad. Dit was vir my en vir hulle ’n tyd vir pret!”
“Van tyd tot tyd het ek elkeen van ons kinders afsonderlik uitgeneem om alleen saam met my te gaan eet. Hulle geniet hierdie tyd wanneer hulle alleen saam met Pappa is baie.”
“Met verloop van jare het ons hulle gaandeweg meer vryhede en verantwoordelikhede gegun. Om te verhoed dat ’n saamgeperste veer in jou hand onbeheersd wegskiet, moet jy dit stadig laat ontspan.”
“Toon baie liefde. Geen kind is al dood van drukkies en soentjies nie—maar daarsonder kan hulle gevoelens sterf.”
“Wees geduldig, moenie hulle knak nie. Moenie aanhoudend op dieselfde aambeeld hamer nie. Laat hulle ’n gevoel van eiewaarde ontwikkel. Prys hulle vier keer vir elke keer wat jy hulle kritiseer!”
“Gee hulle jou beste, om die beste van hulle te maak.”
[Prent op bladsy 9]
Jong kinders soos Rebecca het ware liefde nodig
[Prent op bladsy 10]
As julle tyd inruim om dinge saam te doen, sal dit tot ’n sterk gesinsband bydra