Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g91 10/8 bl. 18-20
  • Wat kan ek doen sodat sy my sal uitlos?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Wat kan ek doen sodat sy my sal uitlos?
  • Ontwaak!—1991
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Waarom nou juis ek?
  • Waarom dit moeilik is om te weerstaan
  • Hoe om die druk die hoof te bied
  • Hoe om aan die strik te ontsnap!
  • “Hoe kan ek dan hierdie groot kwaad doen?”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2014
  • God se beskouing van sedelike reinheid
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2000
  • Ons kan kuis bly
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2015
  • Wat kan ek omtrent seksuele teistering doen?
    Ontwaak!—2000
Sien nog
Ontwaak!—1991
g91 10/8 bl. 18-20

Jongmense vra . . .

Wat kan ek doen sodat sy my sal uitlos?

JOSEF was ’n gewilde jong man. Hy was hardwerkend, betroubaar en aantreklik, en almal wat saam met hom gewerk het, het baie van hom gehou. Die probleem was dat die baas se vrou haar ook tot hom aangetrokke gevoel het. Haar verleidelike blikke het al hoe gewaagder geword; haar koketterige praatjies het al hoe vrypostiger geword.

Josef het probeer om haar toenadering te ignoreer, maar eendag by die werk was hy alleen saam met haar. Sy het dit versigtig beplan; daar sou ure lank niemand daar rond wees nie. Voordat Josef besef het wat gebeur, het sy haar letterlik aan hom opgedring en hom gesmeek om met haar geslagsomgang te hê!—Genesis 39:7-12.

Hierdie ware ondervinding het meer as 3500 jaar gelede plaasgevind. Maar soortgelyke gebeurtenisse vind elke dag by die skool en by die werk plaas. Hoewel die media al baie te sê gehad het oor vroue wat lastig geval word—en met goeie rede—word die probleem van jong mans wat seksueel lastig geval word dikwels oor die hoof gesien.a Met die moderne samelewing se klem op seks en die gelykheid van vroue en sy agteruitgang in sedes en sosiale standaarde, is dit nie verbasend om te hoor dat baie jong mans sê dat hulle al die teiken van romantiese opdringerigheid deur vroue was nie.

Sommige jong mans verwelkom blykbaar hierdie omswaai; hulle voel gevlei deur al die vroulike aandag. Maar jong Christene hou by die Bybel se standaarde vir geslagsedes. Hulle wil nie deur onbeskaamde vroue met onsedelike bedoelings lastig geval word nie. Die vraag is: Hoe kan hulle dit vermy om só lastig geval te word?

Waarom nou juis ek?

Die Bybel sê: “Die sieraad van die jongmanne is hulle krag” (Spreuke 20:29). Die prag van die jeug, gepaard met ’n jong man se sedelike reinheid en Christelike maniere, kan vir ’n vrou baie aantreklik wees. Sommige kan dit selfs as ’n interessante uitdaging beskou om ’n jong Christen se kuisheid te skend.

Dan is daar die invloed van die moderne samelewing. Talle boeke en artikels word geskryf om meisies te help om die aandag van mans te trek. Dit is kenmerkend van tienertydskrifte dat hulle meisies aanspoor om skaamteloos te flankeer. Die tydskrif Seventeen het gesê: “’n Flirtasie is ’n goeie manier om iemand te laat weet dat jy hom . . . aantreklik vind. . . . Dit kan tot vriendskap of ’n romanse lei.” Stereotipes wat deur die media geskep word en algemene sedelose gesindhede is ook daarvoor verantwoordelik dat die sedelike karakter van jong mans afgebreek word. Skrywer Kathy McCoy sê: “Die samelewing in die algemeen en veral ouers en portuurs is gewoonlik verdraagsamer teenoor seksuele aktiwiteit onder seuns. Sommige gesaghebbendes meen dat seuns onuitgesproke aanmoediging kry . . . om seksueel aktief te wees.”

God se Woord vermaan jongmense nietemin om sedelik rein te bly. “Dit is die wil van God: julle heiligmaking; dat julle jul moet onthou van die hoerery” (1 Thessalonicense 4:3). Jy kan nie toelaat dat die invloede van hierdie wêreld jou mislei nie! Wat moet jy dan doen as iemand van die ander geslag romantiese toenadering tot jou soek?

Waarom dit moeilik is om te weerstaan

Terwyl mans vroue wat romantiese toenadering weerstaan al dikwels fisies oorweldig het, kan vroue mans selde op dieselfde wyse oorweldig. Waarom is dit dan so moeilik vir ’n jong man om ’n opdringerige meisie te weerstaan?

Een rede is dat ‘die hart bedrieglik is’ (Jeremia 17:9). Dit is soos jong Wayne erken het: “Jy hunker amper na daardie soort aandag. Dit gee jou ’n warm gevoel om te weet dat iemand belangstel. Dit is nogal vleiend.” Dit spreek vanself dat dit heel natuurlik is om vroulike aandag te geniet. Maar wees versigtig! Jou bedrieglike hart kan veroorsaak dat hierdie natuurlike begeertes jou teen jou beterwete in kan oorweldig (Jakobus 1:14, 15). Voor jy weet wat aangaan, kan jy wees soos “’n bees wat na die slagpaal” gelei word!—Spreuke 7:22.

Spreuke waarsku jong mans dus om te waak teen “die gevlei van ’n vreemde tong [van ’n sedelose vrou]. Begeer haar skoonheid nie in jou hart nie, en laat sy jou nie vang met haar ooglede nie” (Spreuke 6:24, 25). Die sleutel is dus om beheer oor jou eie hart en begeertes te hê (1 Thessalonicense 4:4-6). Slegs as jy heeltemal oortuig is dat geslagsonsedelikheid niks meer as die “weë na die doderyk” bied nie, kan jy dit oortuigend en doeltreffend weerstaan.—Spreuke 7:27.b

Hoe om die druk die hoof te bied

“Meisies is vasberade; hulle hou aan terugkom”, het een jong man gekla. “Hulle komplimenteer jou baie en gebruik baie vleitaal.” Vleitaal is al baie lank ’n wapen van die opdringerige vrou. Word jy maklik daardeur beïnvloed? (Spreuke 26:28). “By die beskeidenes is wysheid”, sê Spreuke 11:2, en as jy ’n gematigde beskouing van jouself het, sal jy minder toeganklik vir ydel vleitaal wees.

Maar wat moet jy sê wanneer ’n meisie jou oor jou hare, jou liggaamsbou of jou glimlag komplimenteer? Miskien is daar geen bybedoelings nie. En omdat sommige jongmense nie hoogmoedig wil voorkom nie, bedank hulle die meisie eenvoudig vir haar kompliment—en dan stap hulle vinnig van die onderwerp af. Maar wees versigtig dat jy nie die indruk gee dat jy van vleitaal hou nie.

Somtyds is streng maatreëls nodig. Sommige doen so gou as moontlik iets aan die saak. Sodoende voorkom hulle dat ’n reeds ongemaklike situasie uitrek. “Ek stel nie op die oomblik daarin belang om ’n meisie te hê nie”, is jong Daniel se reguit antwoord.

Dit is al dikwels gesê dat ’n aanval die beste wapen is. Een navorser gee hierdie raad: “As jy sake permanent wil smoor, moet jy by ’n bespreking oor godsdiens betrokke raak.” Trouens, as jy bekend staan as iemand wat jou geloofsoortuiging gereeld bespreek, is jou kanse kleiner om hoegenaamd ’n teiken te wees. As ’n meisie dit in elk geval waag om jou te nader, sal ’n reguit stelling oor jou geloofsoortuiging haar dalk onmiddellik stuit.

Ongelukkig versuim jong Christene partykeer om hierdie uitstekende wapen te gebruik. Jong Tim sê: “Baie van ons wou eenvoudig nie sê: ‘Kyk! Ek is ’n Christen, en ek wil nie hierdie dinge doen nie.’ Ons wou net soos al die ander wees.” Weer eens, jy sal slegs die onverskrokkenheid en moed hê wat nodig is om aan sedelike teëspoed te ontkom as jy werklik oortuig is dat Jehovah se weg die beste is.

Hoe om aan die strik te ontsnap!

Gestel die aggressie gaan voort ten spyte van jou beste pogings. Wel, oorweeg weer die voorbeeld van die jong man wat ons aan die begin bespreek het—Josef. Genesis 39:6 sê vir ons dat hy “skoon van gestalte en mooi van aansien” was en die vrou van sy eienaar, Potifar, hom aantreklik gevind het. Sy het alles in haar vermoë gedoen om hom te verlei. En die Bybel dui geensins aan dat sy lelik was of dat Josef haar enigsins afstootlik gevind het nie. Tog het hy haar toenadering weerstaan. Hoe het hy dit reggekry?

Eerstens was Josef onversetlik in sy oortuiging. “Hoe kan ek dan hierdie groot kwaad doen en sondig teen God?” het hy gesê. Hoewel daar op daardie tydstip nie ’n spesifieke geskrewe wet teen voorhuwelikse geslagsomgang was nie, het sy gewete vir hom gesê dat dit wat Potifar se vrou wou doen verkeerd was. Nogtans het sy daarop aangedring. Uit desperaatheid het sy hom aan sy kleed gegryp en hom gesoebat: “Kom hou gemeenskap met my.” Josef het nie tyd verspil en probeer om ’n grap van die situasie te maak of haar ’n preek oor sedes afgesteek nie. Onmiddellik “het [hy] sy kleed in haar hand laat agterbly en gevlug”.—Genesis 39:9-12.

Josef kon vinnig reageer omdat dit nie nog vir hom nodig was om te besluit wat om te doen nie. Sy besluit was reeds geneem. Hy sou eerder die gevolge van haar woede dra as om Jehovah te mishaag. En die gevolge was pynlik; Josef is in die tronk gegooi! Maar Jehovah het sy pogings om sedelik rein te bly geseën. Hy het uiteindelik ’n vooraanstaande lid van Farao se hof geword en is met sy langverlore gesin herenig.

Jou pogings om “onberispelik en opreg . . . te midde van ’n krom en verdraaide geslag” te bly, sal ook deur Jehovah geseën word (Filippense 2:15). Ongeag hoe dinge op die oog af lyk, die regte weg sal altyd seëninge tot gevolg hê. Maar jy moet net so vasbeslote wees om sedelik rein te bly as wat Josef was. Jy moet vasbeslote en beginselvas in jou optrede wees, en jou ‘nee moet nee wees’ (Mattheüs 5:37). Jy moet altyd gereed en gewillig wees om ander van jou Bybelse oortuiging te vertel. As jy dit doen, sal selfs die onbeskaamdste meisie dit duidelik verstaan—en jou waarskynlik uitlos!

[Voetnote]

a Sien die artikel “Wat kan ek doen sodat hy my sal uitlos?” in die Ontwaak! van 22 Mei 1991 vir inligting oor hoe meisies die opdringerige gedrag van seuns kan weerstaan.

b Sien hoofstukke 23 en 24 van die boek Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk, wat deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc. uitgegee word.

[Prent op bladsy 19]

Hoe reageer jy op onsedelike romantiese toenadering?

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel