’n Dag in my lewe in oorbevolkte Hongkong
Hongkong is een van die digs bevolkte plekke ter wêreld. Aangesien 5,8 miljoen mense die 1 070 vierkante kilometer van sy landoppervlakte bewoon, woon daar 5 592 mense per vierkante kilometer. Omdat slegs 10 persent van die landoppervlakte bewoon word, verteenwoordig dit ’n gemiddelde van ongeveer 54 000 per bewoonde vierkante kilometer! Tog lyk dit of die plaaslike mense uitstekend aangepas het by die gewoel van ’n oorbevolkte stad, sy beknopte leefruimte, lawaaierige verkeer en besoedeling.
EK HET om 7:30 vm. van die skril gelui van my wekker wakker geskrik, van my slaapbank opgestaan en gou aangetrek. Ek deel die woonstelletjie met my ouers en drie jonger susters, wat almal werk. ’n Mens moet dus altyd wag om in die badkamer te kom en moet gou maak om klaar te kry. Ná ’n vinnige ontbyt gryp ek my fiets om stasie toe te ry. Die daaglikse beproewing het begin. Ek word deel van die groot skare wat op pad is werk toe in die woelige Hongkong.
Die trein waarmee ek ry, snel by ingerygde woonstelgeboue en digbewoonde wolkekrabbers verby. Dan klim ek oor in ’n bus om onder die hawe deur te kom. Ons beweeg buffer teen buffer deur ’n tonnel. Wat ’n verligting om op die eiland Hongkong uit te kom, waar my kantoor in die sentrale sakebuurt geleë is. Na gelang van die verkeer kan die hele rit van ’n uur tot ’n uur en ’n half duur. Ek kom eindelik teen 9:30 daar aan. Maar daar is nie tyd om te ontspan nie—die telefoon begin lui. Dit is my eerste kliënt vir die dag. En dit is hoe dit die hele dag met my gaan—die een oproep na die ander, sodat die gehoorbuis selde op sy mik is. Dan is daar ’n kort etenstydjie.
Die probleem is nou om ’n sitplek in een van die talle restaurante in die omgewing te kry. Dit lyk asof almal terselfdertyd en by dieselfde plek en dikwels by dieselfde tafel probeer eet! Ek deel weer eens my tafel met volslae vreemdelinge. Dit is die lewe in oorbevolkte Hongkong. Dan, ná my vinnige maar voedsame Chinese maaltyd, gaan ek terug kantoor toe.
My werksdag is veronderstel om 5:30 te eindig, maar dit is selde moontlik. Net soos ek gedink het, wanneer ek eindelik ’n blaaskans kry en op die horlosie kyk, is dit al 6:15. Party dae kan ek lank na sewe-uur eers wegkom. En dan is dit die rit terug huis toe.
Eers die bus, dan die trein. Eindelik kom die trein my stasie binne, en ek stap na my fiets toe. Terwyl ek met die fiets huis toe ry, dink ek terug aan hoe ons klein dorpie tot ’n woelige, digbevolkte moderne stad gegroei het. Wolkekrabbers, wat tussen 20 en 30 verdiepings hoog is, het die lae plattelandse huisies vervang. Groot, breë snelweë beslaan groot stroke grond en reusagtige oorbrûe gons van ’n aanhoudende stroom lawaaierige verkeer. Die rustige lewenswyse van vroeër het vir altyd verdwyn.
Ons woonstel is maar klein—daar is minder as 28 vierkante meter vir ses van ons en ek het nie my eie kamer nie. Dit is waarom ek op ’n rusbank in die sitkamer slaap. My ouers het ten minste hulle eie kamer, en my drie susters slaap op slaapbanke in hulle klein kamertjie. Privaatheid is vir ons ’n luukse.
Hoewel dit klein is, is dit ’n groot verbetering op wat ons voorheen gehad het toe ons almal in een kamer in ’n staatsbehuisingsaanleg gewoon het. Maar selfs dít is nog goed in vergelyking met die omstandighede van die duisende wat in die Mong Kok-gebied woon en draadhokke huur, wat drie-drie opmekaar gestapel word en 1,8 meter lank, 76 sentimeter breed en 76 sentimeter hoog is. Hulle het plek vir ’n matras en ’n paar persoonlike besittings. Daar is nie plek vir meubels nie.
Almal is teen nege-uur tuis en ons sit vir ons aandete aan. Na ete skakel iemand die TV aan. My hoop om ’n bietjie in stilte te lees en te studeer is daarmee heen. Ek wag tot almal teen 11 uur gaan slaap het, en dan is ek alleen in die kamer en is daar ’n bietjie rus en vrede om te kan konsentreer. Teen middernag is ek ook reg om te gaan slaap.
Ek werk al vandat ek sowat 12 jaar gelede die skool verlaat het. Ek sal graag eendag wil trou, maar ek moet so hard werk om ’n bestaan te maak dat ek nie eers genoeg tyd het om ’n meisie goed genoeg te leer ken nie. En dit is moeiliker om ’n woonplek te kry as om met ’n leer na die hemel op te klim, soos ons sal sê. Hoewel ons geleer het om daarmee saam te leef, is hierdie soort gejaagde stadslewe nie vir my natuurlik nie. Maar ek besef dat ek dit beter het as miljoene en moontlik miljarde in ander wêrelddele wat sonder ordentlike huise, elektrisiteit, lopende water of voldoende sanitasie lewe. Ons het ongetwyfeld ’n beter stelsel, ’n beter wêreld, ’n beter lewe nodig.—Soos vertel deur Kin Keoeng.