Die Bybelse beskouing
Waarom Christene nie Kersfees behoort te vier nie
‘KERSFEES is onwettig verklaar! Enigeen wat dit vier of selfs op Kersdag nie gaan werk nie, sal gestraf word!’
Hoe vreemd dit ook al mag klink, het dít in werklikheid in die 17de eeu ’n wet geword. Die Puriteine het die viering van Kersfees in Engeland laat verbied. Wat het daartoe aanleiding gegee dat so ’n sterk standpunt teen Kersfees ingeneem is? En waarom is daar vandag miljoene wat glo dat Christene nie Kersfees behoort te vier nie?
Wat is werklik die oorsprong van Kersfees?
Jy sal heel moontlik verbaas wees om te verneem dat Kersfees nie deur Jesus Christus ingestel is nie en ook nie deur hom of sy eerste-eeuse dissipels gevier is nie. Trouens, daar is geen verslag van ’n Kersviering tot 300 jaar ná Christus se dood nie.
Baie mense wat destyds geleef het, het die son aanbid, aangesien hulle baie bewus was van hulle afhanklikheid van die son se jaarlikse siklus. In Europa, Egipte en Persië het uitspattige seremonies met sonaanbidding gepaardgegaan. Die sentrale tema van hierdie feesvieringe was die terugkering van lig. Omdat dit gelyk het asof die son in die winter swakker is, het hulle hom gesmeek om van sy ‘ver omswerwinge’ terug te keer. Feesvieringe het joligheid, maaltye, danse en die versiering van huise met ligte en siersels en die gee van geskenke ingesluit. Klink hierdie gebruike bekend?
Sonaanbidders het geglo dat die ongebrande hout van ’n joelblok magiese kragte gehad het, dat vreugdevure die songod krag sou gee en hom weer lewend sou maak, dat huise wat met immergroen plante versier word die demone sou weghou, dat huls aanbid moes word as ’n belofte van die son se terugkeer en dat takkies mistel geluk kon bring wanneer dit as gelukbringers gedra word. Met watter viering word hierdie dinge vandag geassosieer?
Lank voor die mense Kersfees in Rome begin vier het, was Desember ’n belangrike feesmaand in daardie heidense stad. Die weeklange Saturnalieë (wat aan Saturnus, die god van die landbou, gewy is) en die Dies Natalis Solis Invicti (Geboortedag van die Onoorwinlike Son) het in daardie maand plaasgevind. Die geboortedag van Mithras, die Persiese god van die lig, is ook op 25 Desember gevier.
Die kerstening van die heidene?
In ’n poging om hierdie heidene te bekeer, was daar ’n onskriftuurlike vermenging van die Christelike leer met heidense opvattings, en die kerk het gevolglik ’n datum vir Kersfees gekies wat met die belangrikste heidense feesviering saamgeval het. En wat van Kersgebruike? Die Encyclopedia of Religion and Ethics erken dat die meeste Kersgebruike “nie ware Christelike gebruike is nie, maar heidense gebruike is wat deur die Kerk opgeneem of geduld is”. Hulle het blykbaar gemeen dat as hulle net ’n skyn van Christelikheid aan hierdie gebruike gee, hulle diegene wat daaraan deelneem, sou kersten.
Maar pleks dat hierdie gebruike die heidendom gekersten het, het dit die Christendom verheidens. Die Puriteine het gedurende die 17de eeu so ontsteld geraak oor die ooglopend heidense karakter van Kersfees dat die feesdag in Engeland en in sommige van die Amerikaanse kolonies verbied is. Wanneer mense Kersdag gevier het of net nie op daardie dag gaan werk het nie, is hulle gestraf. In Nieu-Engeland (VSA) is Kersfees eers in 1856 weer wettig verklaar.
Maar daar is een faktor in verband met Kersfees wat belangriker is as die beskouing wat die kerk, die heidene of die Puriteine in die verlede daarvan gehad het. Vir opregte Christene is die belangrikste vraag . . .
Hoe beskou Jesus Christus Kersfees?
As ’n viering tot jou eer gehou word, sou dit nie belangrik wees dat jy dit goedkeur nie? Ons kan ons dus gerus afvra: Dui die Bybel aan wat Jesus se beskouing is van tradisies wat deurtrek is van heidense gebruike?
Jesus het godsdiensleiers veroordeel wat ware aanbidding verwater het om bekeerlinge te maak. Hy het vir sulke leiers gesê: “Julle [reis] oor see en land om ’n enkele bekeerling te maak, en dan maak julle hom twee maal so ryp vir vernietiging as wat julle self is.”—Mattheüs 23:15, Phillips.
Bekering moes nie geskied deur heidense en Christelike leringe te meng nie. Paulus, ’n apostel van Jesus, het aan Christene wat in Korinthe gewoon het, geskryf: “Julle kan nie die beker van die Here drink en ook die beker van die duiwels nie” (1 Korinthiërs 10:21). En in sy volgende brief aan hulle het Paulus bygevoeg: “Julle moet julle nie aan ongelowiges verbind, en saam met hulle probeer werk nie. . . . Hoe kan daar eenstemmigheid tussen Christus en die duiwel wees?”—2 Korinthiërs 6:14, 15, Phillips.
As ’n sorgsame moeder sien hoe haar kind lekkergoed uit ’n straatvoor vol rioolvullis optel, sal sy daarop aandring dat hy dit dadelik moet weggooi. Die idee dat hy dit eet—selfs net daaraan raak—is vir haar afstootlik. Kersfees is, hoewel dit vir baie soet is, uit onreine heidense gebruike oorgeneem. Jesus se siening stem ooreen met die profeet Jesaja s’n, wat ware aanbidders in sy dag aangemoedig het: “Vertrek, vertrek, gaan weg daarvandaan, raak nie aan wat onrein is nie.”—Jesaja 52:11.
Gevolglik vier ware Christene nie vandag Kersfees nie. Hoewel hulle standpunt vir ander vreemd is, beskou hulle tradisies soos Jesus dit beskou het. Toe hy gevra is: “Hoekom verontagsaam u dissipels die oorgelewerde gebruike van die voorgeslagte?”, het hy geantwoord: “Waarom verontagsaam julle self die gebod van God ter wille van julle oorgelewerde gebruike?” En hy het bygevoeg: ‘Julle ontneem die woord van God sy gesag ter wille van julle oorgelewerde gebruike.’—Mattheüs 15:2, 3, 6, NAV.
Ware Christene toon vandag dat hulle in eenheid met Jesus is deur “reine en onbesmette godsdiens” te beoefen, godsdiens wat nie deur die heidense tradisies van mense besoedel is nie.—Jakobus 1:27.
[Lokteks op bladsy 13]
“Waarom verontagsaam julle self die gebod van God ter wille van julle oorgelewerde gebruike?”—Mattheüs 15:3, NAV