Die Opkoms En Ondergang Van Wêreldhandel
Deel 2—Uitbreiding om mag te konsolideer
DIE feit dat vervoer en kommunikasie oorspronklik so beperk was, en stadig en duur was, het die ontwikkeling van die handelswêreld geweldig beperk. Seehandel was tydrowend. Roetes oor land was vol gevaar. Maar dit sou alles spoedig verander.
Handel word internasionaal
Mediterreense stede het gedurende die Hellenistiese periode, van 338 v.G.J. tot 30 v.G.J., belangrike handelsentrums geword. Dit het Alexandrië, Egipte, ingesluit wat in 332 v.G.J. deur Alexander die Grote opgerig is. Maar Shepard B. Clough, professor in geskiedenis, sê: “Teen die tweede eeu [v.G.J.] het die Hellenistiese Ooste tekens van ekonomiese stagnasie begin toon; in die eerste eeu [v.G.J.] het dit klaarblyklik agteruitgegaan.” Rome het Griekeland as wêreldmoondheid vervang. Alexandrië het later, onder Romeinse beheer, ’n provinsiale hoofstad geword, wat net aan Rome self ondergeskik was.
Die Oostelike ekwivalent en opvolger van die Wes-Romeinse Ryk, die Bisantynse Ryk, het sy toppunt tussen die 9de en die 11de eeu bereik. Sy hoofstad, Konstantinopel (vandag Istanboel), met ’n bevolking van eenmiljoen, was verreweg die grootste stad ter wêreld. As ’n mark vir die systowwe, speserye, kleurstowwe en parfuums van die Ooste en die pelse, amber, hout en yster van die Weste, was dit ’n sterk ekonomiese brug tussen Europa en Asië.
Maar die ryk het in 1204, gedurende die Vierde Kruistog, ’n terugslag beleef. Sy hoofstad is in besit geneem en geplunder, ’n slagoffer van ekonomiese hebsug. Hoe so? Volgens The Collins Atlas of World History “is die Westerse ywer om na die rykdom van die Ooste te gaan soek die oorsprong van die kruistogte”. Dit toon duidelik dat die kerk, hoewel dit oënskynlik deur godsdiensywer aangevuur is, ook ander beweegredes gehad het.
Intussen het handelaars in middeleeuse Europa jaarmarkte gestig waar hulle goedere van verskillende lande kon ten toon stel op die roete waarlangs hulle gereis het. Van die besonder geslaagde tentoonstellings wat in die Champagne-streek van Noordoos-Frankryk gehou is, sê The New Encyclopædia Britannica: “Handelaars by die markte het dikwels transaksies aangegaan deur briewe wat betaling by ’n toekomstige mark beloof het en wat aan iemand anders oorgedra kon word. Sulke transaksies was die begin van die gebruik van krediet. Teen die 13de eeu het die markte as ’n gereelde banksentrum vir Europa gedien.”
Gedurende die 15de eeu het verowerings deur die Ottomaanse Turke gedreig om die handelsroetes tussen Europa en Asië af te sny. Europese ontdekkers het dus na nuwe roetes begin soek. Vasco da Gama, ’n Portugese seevaarder, het van 1497 tot 1499 ’n ekspedisie gelei wat met welslae om Kaap die Goeie Hoop geseil het en ’n nuwe seeroete na Indië ontdek het, wat daartoe bygedra het dat Portugal ’n wêreldmoondheid geword het. Die nuwe roete het Alexandrië en ander Mediterreense hawens van hulle belangrikheid as groot handelsentrums beroof.
Intussen is die poging van die Italiaanse seevaarder Christophorus Columbus om Indië te bereik deur weswaarts om die wêreld te vaar deur Portugal se buurstaat, Spanje, gefinansier. In 1492—Oktober presies 500 jaar gelede—het Columbus onverwags op die Westelike Halfrond afgekom. Daarenteen het die Engelse, pleks van die Ooste te probeer bereik deur soos Vasco da Gama suid of soos Columbus wes te vaar, aangehou soek na ’n noordoostelike of noordwestelike deurgang. Al hierdie ontdekkingsreise het gehelp om die handel internasionaal te maak. En omdat dit ’n beslissende faktor in die ontdekking van die Amerikas was, het die handelswêreld sy magtige invloed op wêreldsake getoon.
Ekonomiese mag—stigter van ryke
Die handelswêreld het magtige organisasies gestig. ’n Voorbeeld, volgens die boek By the Sweat of Thy Brow, is “een van die verreikendste en blywendste sosio-ekonomiese innovasies van die antieke wêreld: die ambagskorporasie of -gilde”. Hoewel hierdie gildes, wat ’n mens aan soortgelyke magtige organisasies in ons dag laat dink, goeie dinge gedoen het, het hulle hulle mag soms so openlik misbruik dat die Bybelvertaler John Wycliffe party van hulle na bewering in die 14de eeu veroordeel het as “valse samesweerders . . . wat deur God en die mens vervloek is”.—Sien venster op bladsy 13.
Die handelswêreld het selfs ryke gestig, waarvan die Britse Ryk ongetwyfeld die suksesvolste is. Maar voordat dit in die 16de eeu begin verrys het, het ander handelsondernemings in Europa begin gryp na die ekonomiese mag waarom die wêreld draai. Een van hierdie ondernemings was die Hanseverbond.
Die ou Hoogduitse woord Hanse, wat “troepe” beteken, is mettertyd toegepas op enige gilde of vereniging van handelaars wat ontstaan het. Gedurende die laat 12de en vroeë 13de eeu het ’n Hanse wat sy hoofsentrum in die Noord-Duitse stad Lübeck gehad het, beheer oor die Baltiese handel verkry en Duitsland met welslae verbind aan Rusland en die ander lande wat aan die Oossee grens. In die weste het die Hanse in die Duitse stad Keulen intussen handelsbetrekkinge met Engeland en die Nederlande versterk.
Hierdie handelsverenigings het wetgewing aangeneem om hulleself en hulle ware te beskerm, wat handel in die algemeen tot die gemeenskaplike voordeel van almal gereguleer het. Hulle het ook verenigde pogings aangewend om rowery op land of see te onderdruk. Namate die handel uitgebrei het, het die behoefte aan groter samewerking tussen die verskillende groepe duidelik geword. Teen die einde van die 13de eeu het al die belangrike Noord-Duitse stede dus in ’n enkele bond verenig wat as die Hanseverbond bekend geword het.
Die verbond het vanweë sy geografiese posisie die hoofvloei van die handel in die noorde beheer. In die weste het dit met die ekonomies vooruitstrewende lande Engeland en die Nederlande handel gedryf, wat, op hulle beurt, handelsbetrekkinge met die Middellandse Seegebiede en die Ooste gehad het. In die ooste het dit maklike toegang tot Skandinawië en Oos-Europa gehad. Die verbond het dus, buiten die wolhandel met Vlaandere, die vishandel met Noorweë en Swede sowel as die pelshandel met Rusland beheer.
Hoewel die verbond nie ’n politieke federasie was nie en sonder ’n permanente bestuursraad of permanente amptenare opgetree het, het dit, toe dit op sy magtigste was, nietemin groot mag uitgeoefen. Een van sy grootste prestasies was die ontwikkeling van ’n stelsel van seereg en handelsreg. Terwyl die verbond na nuwe markte uitgebrei het, het dit nie geaarsel om sy ou markte te verdedig, en indien nodig geweld te gebruik nie. Sy groot handelsvloot kon in die meeste gevalle teenstand onderdruk deur ekonomiese embargo’s of blokkades in te stel.
Die Hanseverbond het sy toppunt teen ongeveer die middel van die 14de eeu bereik. Sy agteruitgang het in die 15de eeu begin, toe die Engelse en die Nederlanders in mag begin groei het en die wêreldhandel begin oorheers het. Die Dertigjarige Oorlog het die Verbond tot ondergang gedoem. Sy lede het vir die laaste keer in 1669 bymekaargekom. Slegs ’n paar stede, waaronder Lübeck, Hamburg en Bremen, is nog trots op die feit dat hulle Hansestede is, betreklik magtelose lede van ’n eens magtige handelsreus.
Ander groter, magtiger handelsreuse het gewag om die plek van die Hanseverbond in te neem. Vind meer daaroor uit in Deel 3 van hierdie reeks: “Hebsugtige handel begin sy kleure wys.”
[Venster op bladsy 13]
Die mag van gildes en vakbonde
Party Mediterreense stede het teen die vierde eeu v.G.J. in sekere handelsartikels gespesialiseer, en beoefenaars van dieselfde ambag het in dieselfde gebied in hierdie stede bymekaargekom. Blykbaar was hierdie ambagsgildes oorspronklik godsdienstig-sosiaal van aard. By the Sweat of Thy Brow vertel vir ons dat “elke vereniging sy eie beskermgod of -godin gehad het, en sy lede het hulle eie gemeenskaplike godsdienstige dienste gehou”.
Middeleeuse gildes het beoog om welsynshulp aan hulle lede te verskaf en om die ambag as ’n geheel te beskerm deur produksie te reguleer en standaarde daar te stel, miskien selfs deur pryse en lone te beheer. Party het monopolisties geword in hulle strewe om die gilde se mark te beskerm en onregverdige mededinging te voorkom, en het pryse deur geheime ooreenkomste gemanipuleer.
As ’n voortsetting van antieke ambagsgildes het handelsgildes in die 11de eeu ontstaan, toe reisende handelaars hulle georganiseer het om beskerming teen struikrowery te verkry. Maar die gildes het geleidelik hulle oorspronklike karakter verloor. Omdat hulle hulle op plaaslike handel toegespits het, het hulle mag en aansien afgeneem terwyl streeks-, nasionale en internasionale markte oorheersend begin word het en handelaars ambagsmanne begin oorskadu het.
Vakbonde het in die laat 18de en vroeë 19de eeu, as ’n uitgroeisel van die Industriële Omwenteling, in Brittanje en die Verenigde State as verenigings van werkers met dieselfde vaardighede ontstaan. Hulle is gedeeltelik as sosiale klubs begin, maar het in protesbewegings teen die heersende sosiale en politieke stelsel ontwikkel. Vandag streef party bonde net daarna om lone, werksure, werksomstandighede en werksekuriteit vir hulle lede te bepaal, en hulle bereik dit deur gemeenskaplike oorleg of deur hulle toevlug tot stakings te neem. Maar ander is weer duidelik polities van aard.