Die Opkoms En Ondergang Van Wêreldhandel
Deel 4—Die industriële omwenteling—Waartoe het dit gelei?
DIE industriële omwenteling het in die 18de eeu begin en die wêreld verander soos min dinge dit tevore gedoen het. Tegniese kundigheid, voldoende kapitaal, die beskikbaarheid van grondstowwe, die moontlikheid om grondstowwe en afgewerkte produkte goedkoop te vervoer—hierdie en ander voorvereistes vir industriële vooruitgang het nou in Engeland saamgevloei. Dit het ’n ongeëwenaarde en snelle toename in die produksie van goedere begin.
Maar gebeurtenisse wat die weg daarvoor gebaan het, het vroeër plaasgevind. Steenkool, wat in Brittanje maklik verkrygbaar was, is as brandstof begin gebruik. Engeland het ook, terwyl die Europese vasteland deur godsdienstige oorloë verskeur was, relatiewe vrede geniet. Die land het ’n uitstekende bankstelsel gehad. Selfs sy breuk met die Rooms-Katolieke Kerk was betekenisvol, omdat Protestantisme, wat as’t ware probeer het om ’n hemel op aarde te skep, onmiddellike ekonomiese welstand benadruk het.
Brittanje se bevolking het in die veertigerjare van die sewentiende eeu vinnig begin toeneem. Die nywerheid moes nuwe metodes vind om in die verhoogde aanvraag te voorsien. Dit is duidelik dat die algemene tendens vir die toekoms meer en beter masjiene was. Aangesien die bankstelsel geld verskaf het om nuwe sakeondernemings op te rig, het ’n magdom werkers in fabrieke vol masjiene ingestroom. Vakbonde, wat voorheen verbied was, is gewettig. Britse werkers, wat minder deur gildereëls beperk is as die werkers op die Europese vasteland, is vir stukwerk betaal. Dit het hulle ekstra aansporing gegee om beter maniere te vind om goedere vinniger te vervaardig.
Brittanje het ook ’n goed opgeleide mannekrag gehad. Professor Shepard B. Clough sê dat “die universiteite van Glasgow en Edinburg aan die einde van die agtiende eeu geen gelyke gehad het wat wetenskaplike navorsing en eksperimentasie betref nie”. Die industriële omwenteling het dus, met Brittanje aan die stuur, deur die hele Europa en die Verenigde State uitgebrei. In ontwikkelende nasies duur dit tot vandag toe voort.
Die skadusy
As gevolg van hierdie ontwikkelings, sê The Columbia History of the World, het “Engelse dorpe groot voorspoed beleef, wat weerspieël is in verbeterde lewenstandaarde, ’n florerende provinsiale kultuur en ’n toename in trots en vertroue”. Brittanje het selfs “’n posisie van militêre oorheersing, veral wat die vloot betref, verkry wat [Brittanje] op sy beurt groot ‘diplomatieke’ mag gegee het”. Beheer oor sekere industriële prosesse het die land ekonomiese mag oor mededingers gegee. Sy industriële geheime was so kosbaar dat wette uitgevaardig is om te voorkom dat dit algemeen bekend word.
Byvoorbeeld, toe Samuel Slater Brittanje in 1789 verlaat het, het hy sy identiteit geheim gehou omdat tekstielwerkers nie toegelaat is om te emigreer nie. Hy het die wette omseil wat die uitvoer van tekstielbedryfplanne verbied het deur die hele uitleg van ’n Britse garingfabriek uit die kop te leer. Dit het hom in staat gestel om die eerste katoengaringfabriek in die Verenigde State te bou.
Die beleid om bedryfsgeheime te beskerm bestaan steeds. Die tydskrif Time sê dat “maatskappye en lande optree soos gulsige haaie wanneer dit tyd is om te eet in hulle poging om korporatiewe geheime in die hande te kry”. As jy iemand anders se tegniek steel, kan dit jare se navorsing en onberekenbare uitgawes bespaar. Dus “of die produk nou medisyne of kolwyntjies is, dit is vir maatskappye nou belangriker as ooit om nuwe maniere uit te vind om hulle bedryfsgeheime te bewaar”. ’n Werwer in die elektroniese bedryf erken: “Daar is baie hebsug daar buite. As jy in die regte situasie kan beland, is jy onmiddellik ’n miljoenêr.”
Die weefnywerheid lig nog ’n skadusy van ekonomiese vooruitgang toe. Toe nuwe weefmetodes die masjinale produksie van katoengoedere moontlik gemaak het, het die aanvraag na ru-katoen toegeneem. Maar dit het so lank geduur om dit met die hand te verwerk dat die aanbod nie aan die aanvraag kon voldoen nie. Toe, in 1793, het Eli Whitney die katoenpluismeul ontwerp. Binne 20 jaar was die Amerikaanse katoenoes 57 keer so groot as wat dit voorheen was! Maar soos professor Clough opmerk, was Whitney se uitvindsel ook verantwoordelik “vir die uitbreiding van die plantasiestelsel en van die slawerny van Negers”. Hoewel die katoenpluismeul derhalwe nuttig was, verduidelik Clough, het dit “baie bygedra tot die spanning wat tussen die Noordelike en Suidelike state ontwikkel het, wat uiteindelik tot die Oorlog tussen die State gelei het”.
Die industriële omwenteling het gehelp om ’n stelsel van groot fabrieke wat in die hande van die rykes was te ontwikkel. Net die rykes kon duur masjiene bekostig waarvan die grootte en gewig vereis het dat dit in permanente, goed opgerigte geboue geïnstalleer word. Dit is gebou waar energie maklik verkrygbaar was en waar grondstowwe teen lae koste afgelewer kon word. Sakeondernemings het hulle dus hoofsaaklik in groot industriële sentrums gevestig.
Die ekonomiese gebruik van die energie—aanvanklik water en toe stoom—wat nodig was om die masjiene te laat werk, het vereis dat verskeie masjiene gelyktydig gebruik word. Fabrieke het dus groter geword. En hoe groter hulle geword het, hoe onpersoonliker het hulle geword. Werknemers het nie meer vir mense gewerk nie; hulle het vir maatskappye gewerk.
Hoe groter die sakeonderneming, hoe groter die probleem van finansiering. Vennootskappe het toegeneem, en gesamentlike-aandelemaatskappye, wat aanvanklik in die 17de eeu ontwikkel is, het hulle regmatige plek ingeneem. (Sien venster.) Maar hulle het gehelp om die mag in die hande van ’n paar te konsolideer, aangesien beleggers, of aandelehouers, min beheer oor die bestuur gehad het. Sakemanne wat terselfdertyd as direkteure van verskeie maatskappy of banke gedien het, het geweldige mag uitgeoefen. Clough praat van “aangeskakelde direksies” waardeur “’n klein kliek kon bepaal hoeveel krediet sakeondernemings sou kry, krediet aan mededingers kon weier en soveel mag kon bekom dat hulle regeringsbeleide kon bepaal en selfs regeringstelsels kon omverwerp wat hulle vyandiggesind was”.—Ons kursiveer.
Die industriële omwenteling het die handelswêreld dus bykomende mag gegee. Sou dit verantwoordelik gebruik word?
Bedryfsvryheid of ’n beheerde ekonomie?
Dit was in Engeland waar die kapitalisme gebloei het en tot ’n volwaardige stelsel ontwikkel is. Die kapitalisme, wat ook as die stelsel van bedryfsvryheid of as ’n markekonomie bekend staan, het baie miljoenêrs sowel as die hoogste lewenstandaarde in die geskiedenis opgelewer.
Maar selfs die getrouste ondersteuners van die kapitalisme erken dat dit swakhede het. Byvoorbeeld, ekonomiese groei onder die kapitalisme is onbetroubaar. Sy onbestendigheid veroorsaak van tyd tot tyd markskommelinge, oplewing en depressies in die bedryfslewe. Skommelinge wat voorheen deur eksterne magte soos oorloë of die weer veroorsaak is, kan deur die ekonomiese stelsel self geskep word.
’n Tweede swakheid van die kapitalisme is dat die vervaardiging van nuttige handelsartikels dikwels nadelige newe-effekte het—rook, giftige afvalstowwe of ongesonde werksomstandighede. Die industriële omwenteling het dit baie duidelik gemaak, deur by te dra tot die sogenoemde kweekhuiseffek met sy ongewenste gevolge.a
’n Derde nadeel is dat die kapitalisme nie billike verdeling van rykdom of produkte verseker nie. Beskou byvoorbeeld die Verenigde State. In 1986 het die armste vyfde van sy gesinne minder as 5 persent van die land se totale inkomste verdien, terwyl die rykste vyfde byna 45 persent daarvan verdien het.
Terwyl die kapitalisme gedurende die industriële omwenteling ten volle ontwikkel het, het sy swakhede nie ongemerk gebly nie. Manne soos Karl Marx het dit veroordeel en gepleit dat dit vervang moet word deur ’n beheerde of ’n sentraalgeleide ekonomie. Hulle het aanbeveel dat die regering produksiedoelwitte stel, pryse reguleer en sakeondernemings só bestuur dat dit die individu grootliks uitsluit. Maar vandag, nadat dit dekades lank in die Sowjetunie en Oos-Europa op die proef gestel is, het hierdie stelsel sy aantrekkingskrag verloor. Gesentraliseerde leiding werk die beste wanneer spoedbeplanning nodig is, soos wanneer oorloë uitbreek of wanneer ruimteprogramme ontwikkel word. In sake wat jou bestaan raak, skiet dit ver te kort.
Maar ondersteuners van die kapitalisme sal erken, soos Adam Smith, op wie se leringe dit grootliks gegrond is, dat regerings se betrokkenheid by die ekonomie nie heeltemal vermy kan word nie. As probleme soos inflasie en werkloosheid met ’n sekere mate van sukses beheer moet word, moet hulle op regeringsvlak hanteer word. Daarom het die meeste nasies wat ’n stelsel van bedryfsvryheid volg, wegbeweeg van suiwer kapitalisme na ’n gemengde of aangepaste stelsel.
Oor hierdie tendens voorspel 1990 Britannica Book of the Year: “Dit lyk waarskynlik . . . [dat] ekonomiese stelsels van die kenmerkende verskille sal verloor wat hulle in die verlede geïdentifiseer het en pleks daarvan ’n kontinuum gaan vorm waarin mark- sowel as beplanningselemente in verskillende verhoudings saam gaan bestaan. Gemeenskappe wat deel van so ’n kontinuum is, sal hulleself moontlik steeds kapitalisties en sosialisties noem, maar daar sal waarskynlik net soveel gemeenskaplike aspekte as belangrike verskille in die oplossings van hulle ekonomiese probleme geopenbaar word.”
Bydrae tot probleme
Die Eerste Wêreldoorlog het in 1914 begin. Toe dit gebeur, was die hebsugtige handel gereed om die wapens, tenks en vliegtuie te voorsien wat die vegtende nasies nodig gehad het en wat deur die industriële omwenteling moontlik gemaak is.
The Columbia History of the World sê dat terwyl “industrialisasie gehelp het om baie van die mens se fisieke probleme op te los”, dit ook “bygedra het tot geweldig ernstige en ingewikkelde sosiale probleme”.
Vandag, 78 jaar na 1914, het ons meer redes as ooit om met dié woorde saam te stem. Die volgende deel in hierdie reeks sal dus gepas wees: “Die sakewêreld verstewig sy greep.”
[Voetnoot]
a Sien die Ontwaak! van 8 September 1989.
[Venster op bladsy 18]
Die aandelemark—begin tot einde
Teen die 17de eeu was dit die algemene gebruik om nuwe sakeondernemings te begin deur die kapitaal van verskeie beleggers te verenig. Aandele in die kapitaal is teen ’n gegewe prys aangebied. Hierdie gesamentlike aandelereëling is al een van die bedryfsorganisasie se belangrikste uitvindsels genoem. Die Engelse het verskeie sulke ondernemings in die middel van die 15de eeu begin maar dit het iets algemeens geword ná die Engelse Oos-Indiese Kompanjie in 1600 gevorm is.
Namate die aantal gesamentlike aandelemaatskappye toegeneem het, het die behoefte aan aandelemakelaars ook toegeneem. Hulle het aanvanklik by verskillende plekke met kliënte vergader, partykeer in koffiehuise. Later is beursgeboue gebruik om ’n vasgestelde plek te voorsien om aandele te verhandel. Die Londense Aandelebeurs is in 1773 opgerig. Maar die wêreld se oudste een is moontlik die een in Amsterdam, wat party sê in 1642 geopen het, of miskien die een in Antwerpen, wat ander beweer uit 1531 dateer.
Aandelemaatskappye het die volgende voordele: voorsien voldoende kapitaal om groot ondernemings te bestuur; gee die publiek ’n geleentheid om selfs klein bedrae kapitaal te laat werk; verminder die verlies van individuele beleggers in geval van terugslae; stel aandelehouers in staat om kontant in die hande te kry deur al hulle aandele of party daarvan te verkoop en laat toe dat aandele as ’n erfenis oorgedra word.
Onverwagte skommelinge in aandelepryse kan egter ’n ramp beteken. Die mark kan ook soos onlangse Wall Street-skandale getoon het, onwettig gemanipuleer word, moontlik deur middel van ingewyde handel, ’n gebruik wat toeneem. Persone gebruik of verkoop belangrike inligting waarvan almal nog nie weet nie—miskien die feit dat twee maatskappye binnekort gaan saamsmelt—en hulle maak dan wins uit die beweging van daardie maatskappye se aandele. ’n Vriend van ’n man wat in 1989 van hierdie gebruik aangekla is, het dit aan hebsug toegeskryf. Hoewel daar in baie lande stappe gedoen word om ingewyde handel te verbied, het die tydskrif Time gesê: “Wette alleen sal nie genoeg wees om die probleem op te los nie.”
Op Jehovah se vinnig naderende dag van oordeel sal die probleem vir altyd opgelos word. Silwer en goud sal waardeloos wees en aandele en effekte sal niks meer werd wees as die papier waarop dit gedruk is nie. Esegiël 7:19 sê: “Hul silwer sal hulle op die strate gooi, en hulle goud sal ’n voorwerp van afsku wees.” Sefanja 1:18 sê verder: “Hulle silwer of hulle goud sal nie in staat wees om hulle op die dag van die grimmigheid van die HERE te red nie.”
[Prent op bladsy 17]
Die uitvinding van die katoenpluismeul het tot die uitbreiding van slawearbeid gelei
[Erkenning]
The Old Print Shop/Kenneth M. Newman