Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g92 3/22 bl. 28-29
  • Ons beskou die wêreld

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ons beskou die wêreld
  • Ontwaak!—1992
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • “Oordeelsdaghorlosie” teruggestel
  • Slagoffers van myne in Kambodja
  • Die huwelikstaat en verwagte lewensduur
  • Beskerming van Antarktika
  • Columbus se erflating
  • Miskruiers
  • Dubbelparkering
  • Tande wat hulleself herstel
  • Tragedie in die Swart See
  • Geïmmuniseerde kinders
  • Afrikamiskruiers verleen hulp!
    Ontwaak!—1996
  • Die miskruier se vermoë om rigting te hou
    Ontwaak!—2014
  • Lewendige juwele van die insekwêreld
    Ontwaak!—2004
  • Hoe om ’n gebruikte motor te koop
    Ontwaak!—1996
Sien nog
Ontwaak!—1992
g92 3/22 bl. 28-29

Ons beskou die wêreld

“Oordeelsdaghorlosie” teruggestel

Op die voorblad van The Bulletin of the Atomic Scientists vir Desember 1991 is die minuutwyser van die “Oordeelsdaghorlosie” verder as ooit tevore teruggestel—tot 17 minute voor middernag. Die U.S.News & World Report sê: “As ’n ikon van die koue oorlog” wat vir die eerste keer in 1947 verskyn het, “weerspieël die horlosie die spanning van ’n kernbedreiging deur aan te dui hoeveel tyd nog oor is voor middernag, oftewel Armageddon.” Toe die horlosie gemaak is, het dit slegs ’n tydgrens van 15 minute gehad omdat die ontwerpers daarvan gedink het dat dit al was wat in hulle leeftyd nodig sou wees. Met verloop van betrekkinge tussen die Ooste en die Weste oor die jare is die horlosie 13 keer terug- en aangedraai tussen 12 minute voor middernag en 2 minute voor middernag. As gevolg van die verdrag oor die beperking van strategiese wapens en die onttrekking van duisende taktiese wapens meen die redakteurs van die Bulletin dat ons ’n nuwe tydperk betree het met verwagtinge om “’n nuwe wêreldorde” te bereik. “Maar die wêreld is steeds ’n gevaarlike plek”, sê die Bulletin. “Daar is nog byna 50 000 kernbomme en plofkoppe in die wêreld.”

Slagoffers van myne in Kambodja

The Economist sê: “Kambodja het die hoogste verhouding mense met liggaamsgebreke in die wêreld.” Waarom? Omdat landmyne “gedurende die burgeroorlog blindelings deur die regering sowel as die opposisiegroepe geplant is”. Aangesien daar geen verslag gehou is oor waar hulle geleë is nie, het myne al meer beserings veroorsaak as enige ander wapen. Twee groepe vir menseregte, Asia Watch en Geneeshere vir Menseregte, meen dat die lande wat die myne verskaf het of wat instruksies gegee het oor hoe om hulle te plant—Brittanje, China, Singapoer, die eertydse Sowjetunie, Thailand, die Verenigde State en Viëtnam—’n morele verpligting het om toe te sien dat hulle verwyder word. Hulle dring by die VN daarop aan dat alle toestelle verbied moet word wat “nie onderskeid tref tussen die voetstap van ’n soldaat en dié van ’n kind wat brandhout bymekaarmaak nie”, sê die tydskrif.

Die huwelikstaat en verwagte lewensduur

Volgens ’n verslag deur die Franse Nasionale Instituut vir Demografiese Studies lewe getroude mense oor die algemeen langer as ongetroudes. By mans sowel as by vroue toon die verslag ’n definitiewe verband tussen ’n mens se huwelikstaat en sy verwagte lewensduur. Statistiek toon dat getroude mense die hoogste gemiddelde lewensduur het, terwyl geskeides, ongetroudes, weduwees en wewenaars onderskeidelik ’n korter lewensduur het. Navorsers sê dat, aangesien die verskil in verwagte lewensduur tussen getroude en ongetroude vroue nie so groot is nie, dit lyk asof vroue beter by hulle ongehude staat kan aanpas.

Beskerming van Antarktika

Die tydskrif New Scientist merk op: “Antarktika het uiteindelik beskerming vir sy omgewing gewen.” Die lidlande van die Antarktiese Verdrag het “’n protokol onderteken wat verbied dat daar vir ten minste 50 jaar op die kontinent gemyn word”. Die protokol se bepalings sluit ook reëls in oor besoedeling en die verwydering van afval, en dit vereis dat enige nuwe bedrywighede onderwerp word aan ’n ondersoek om te bepaal hoe dit die omgewing sal beïnvloed. Op die oomblik word toerisme beskou as die grootste onmiddellike bedreiging vir die Antarktiese ekosisteme. Elke lidland moet aan ’n nuwe omgewingskomitee breedvoerige inligting verskaf oor hoe hy na die omgewing omsien en ook hoe hy die omgewing vir besoedeling monitor. Die protokol is nie van krag voordat die lidlande dit amptelik bekragtig nie, wat ongeveer twee jaar sal duur.

Columbus se erflating

Columbus en ander ontdekkingsreisigers het meer gedoen as om net die Amerikas te ontdek—hulle het dit ook radikaal verander. Vandag “kan [’n] plantkundige maklik hele graslande [in Amerika] vind waar hy beswaarlik ’n spesie sal kry wat in voor-Columbiaanse tye in Amerika gegroei het”, skryf geskiedskrywer Alfred Crosby. In Wilson Quarterly word van die plante aangegee wat uit die Ou Wêreld gebring is, naamlik blaarslaai, gousblomme, Kentucky-blougras, kool, koring, lemoene, mango’s, perskes, piesangs, radyse, rolbos, rys, suikerriet en suurlemoene. Diere wat oorgebring is, is onder andere beeste, donkies, heuningbye, hoenders, huiskatte, mossies, perde, rotte, skape, spreeus en varke. Maar die siektes wat oorgebring is, was uiters vernietigend. Hierdie siektes was onder andere builepes, geelsug, griep, kinkhoes, malaria, mangelontsteking, masels, meningitis, pampoentjies, pokkies en waterpokkies. Hoewel ’n aantal diere en plante van die Amerikas ook na die Ou Wêreld geneem is, is daar waarskynlik net een siekte, sifilis, oorgedra.

Miskruiers

Die gemiddelde koei produseer elke dag tussen 10 en 15 groot miskoeke; die olifant ongeveer twee kilogram sowat elke uur. Voeg hierby die uitwerpsels van alle ander diere, asook van die mens, en jy wonder dalk waarom ons aardbol teen hierdie tyd nie daaronder begrawe is nie. Dit is waar die miskruier inkom. Hulle raak elke dag van enorme hoeveelhede mis ontslae. Sodra ’n miskoek gemaak is, sak duisende kewers van tot 120 spesies daarop toe en dra dit vinnig weg. Navorsers het 16 000 kewers op ’n enkele mishoop van ’n olifant getel, en toe die wetenskaplikes na twee ure terugkeer, was dit heeltemal weg. Party spesies klou selfs aan die sterthare van sekere diere vas en spring op die mis voordat dit die grond tref. Dit wat hulle nie eet nie, rol hulle in balletjies en begrawe dit as voedsel vir hulle kleintjies. Deur dit te doen, lewer hulle nog ’n groot diens aan die mensdom—hulle sit stikstof in die grond wat dit vrugbaar maak. Hulle dolwe ook die grond om en deurlug dit, en die kewerlarwes verorber die maaiers en parasitiese wurms wat in die mis lewe en wat siektes kan versprei. Hulle is so waardevol dat die antieke Egiptenare die skarabee selfs vereer het.

Dubbelparkering

Motorvervaardigers in Japan wat steeds motors in groot maat produseer en gesinne graag wil oorreed om ’n tweede motor te koop, het nou voor ’n probleem te staan gekom—waar om dit te parkeer. Nuwe parkeerreëls vereis dat ’n plakker vertoon word wat bewys dat die eienaar óf by die huis óf naby die kantoor ’n parkeerplek vir sy motor het, wat ’n vereiste is om die motor te laat registreer. Maar parkeerplekke is duur en in party woongebiede in Tokio kos dit tot ¥230 000 (R4950) per maand. Daarom het motorvervaardigers begin om parkeertoestelle met twee of drie vlakke vir ’n enkelparkeerplek te verkoop. Die eerste motor word op ’n platform geparkeer wat dan elektries gehys word, en die tweede (of derde) motor word daaronder geparkeer. ’n Variasie hierop is ’n parkeertoestel by die huis wat die eerste motor in ’n put onder die grond laat afsak. Inligting oor die beskikbaarheid van parkeerplekke word ook aan motorkopers voorsien.

Tande wat hulleself herstel

Tande doen hulle eie ligte herstelwerk as ons hulle net genoeg tyd gee om die werk te doen. Dit is wat professor Tadasji Jamada in Sjikai Tenbo (Tandheelkundige Siening), ’n Japannese mediese tydskrif, verduidelik. Nadat suiker in die mond opgeneem word, ongeag die hoeveelheid, word die plaak op die tande vir ongeveer 8 tot 20 minute suur. Hierdie suur plaak los tandkalsium op en veroorsaak wat professor Jamada “minigaatjies” noem. Maar volgens professor Jamada vervang die kalsium in die speeksel geleidelik die verlore kalsium, sodat die tande na ’n paar uur tot hulle normale toestand terugkeer. Aangesien daar spore van suiker in byna alle voedselsoorte gevind kan word, stel professor Jamada voor dat ’n mens jou tande gereeld borsel, veral voordat jy gaan slaap, en dat jy nie tussen maaltye peusel nie sodat die tande genoeg tyd het om hulle eie herstelwerk te doen.

Tragedie in die Swart See

“Die Swart See het eeue lank soveel dolfynvelle, kaviaar en vis voorsien dat niemand gedink het dat daar ’n einde aan sulke oorvloed kan kom nie”, sê The New York Times. Maar dit het nou verander. Nie alleen gebruik elke nywerheid en dorp langs sy kus die Swart See as hulle rioolstortplek nie, maar uit ’n streek wat 160 miljoen mense insluit, stort meer as 60 riviere hulle afval in die see. Die vier grootste riviere—die Donau, Don, Dnjepr en Dnjester—vloei deur ’n gebied wat as een van die besoedeldste gebiede in die wêreld erken word, en hulle bevat tonne gifstowwe. Te veel visvangs, asook die vermenigvuldiging van seekwalle wat die eiers en larwes van ander visse eet, het skadelike gevolge meegebring. As gevolg hiervan is slegs 5 van die 26 kommersiële vissoorte wat in 1970 volop was vandag in kommersiële hoeveelhede te vind, en die robbe het heeltemal verdwyn. “Al beëindig ons al die besoedeling op ’n wonderdadige wyse”, sê bioloog Yuvenaly Zaitsev, “sal dit onmoontlik wees om na die vyftigerjare terug te keer. Die natuur het sy eie wette.”

Geïmmuniseerde kinders

Die Wêreldgesondheidsorganisasie sê dat 4 uit elke 5 kinders nou wêreldwyd geïmmuniseer is teen ses dodelike siektes: kinkhoes, klem-in-die-kaak, masels, polio, tuberkulose en witseerkeel. Tien jaar gelede was die verhouding ongeveer 1 uit 5. Nou, teen slegs R2,75 elk vir die entstof, word ongeveer driemiljoen kinders se lewe elke jaar gered. Tog sê die Wêreldgesondheidsorganisasie dat voorkombare siektes elke jaar steeds die lewe van ongeveer tweemiljoen kinders eis.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel