Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g92 5/22 bl. 14-16
  • Is dryfnetvissery besig om te verdwyn?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Is dryfnetvissery besig om te verdwyn?
  • Ontwaak!—1992
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • “Gordyne van die dood”
  • Ooreenkomste duik oor die hele wêreld op
  • Wees vissers van mense
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
  • Chinese visnette in Indië
    Ontwaak!—2000
  • Die lewe in Bybeltye—Die Visserman
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2012
  • Vier dissipels word geroep
    Die grootste mens wat nog geleef het
Sien nog
Ontwaak!—1992
g92 5/22 bl. 14-16

Is dryfnetvissery besig om te verdwyn?

DIE Verenigde Nasies se Algemene Vergadering in New York noem dit “hoogs onoordeelkundig en verkwistend”. Die Europese kantoor van die IIED (internasionale instituut vir omgewingsake en ontwikkeling), waarvan die hoofkantoor in Londen geleë is, beskryf dit as ’n “ernstige bedreiging vir die seelewe”. Sestien Pasifiese nasies veroordeel dit as “ongegronde roof”. Dit is duidelik dat dryfnetvissery wêreldwyd aangeval word. Waarom?

Dryfnette—nette wat vertikaal hang en soos gordyne in die see ronddryf—word reeds duisende jare lank stilweg in kuswaters geplaas. Maar teen die einde van die sewentigerjare het dryfnetvissery in die diepsee so geweldig toegeneem dat ’n vloot van meer as duisend dryfnetvaartuie van Japan, Taiwan en die Republiek van Korea deesdae die Stille, Atlantiese en Indiese Oseaan fynkam op soek na pylinkvis, albakoor, snawelvis en salm. Aangesien elke skip kolossale nette gebruik wat volgens sommige ramings tot 11 meter diep hang en oor 50 kilometer strek, is die vloot se nette altesaam ongeveer 50 000 kilometer lank—wat groter is as die afstand rondom die aarde!

“Gordyne van die dood”

Hierdie amper onsigbare nylonkiefnette is so effektief dat die bulletin IIED Perspectives berig dat “die nette met die huidige verloop van sake albakoorvisvangs in die Stille Suidsee binne twee jaar kan uitroei”. Seebioloog Sam LaBudde sê dat dryfnetvissery net so onoordeelkundig is soos “om al die bome in ’n woud af te kap om ’n enkele boomsoort in te samel of om ’n akkerboom af te kap net om akkers in te samel”. Hierdie grootste vissersvloot ter wêreld vang terselfdertyd ook tonne ongevraagde vissoorte, soos blouvin- en pensstreeptuna, marlyn, swaardvis en migrerende reënboogforelle.

Volgens James M. Coe, ’n navorser by die Nasionale Seevisserydiens in die Verenigde State, is daar bewyse dat die Asiatiese vloot onwettig ’n groot aantal salm vang wat nooit hulle Noord-Amerikaanse geboortestrome sal bereik om hulle eiers uit te broei nie.

Om sake te vererger, verstrik, vermink en verdrink dryfnette ook duisende otters, robbe, dolfyne, tornyne, walvisse, seeskilpaaie en seevoëls. Dit is dus geen wonder dat al hoe meer navorsers na dryfnetvissery as “seestroopmynbou” verwys en dryfnette as “gordyne van die dood” bestempel nie!

Dit lyk of dié benamings gepas is. ’n Onlangse verslag van die Amerikaanse sekretaris van handel het berig dat drie vaartuie tydens net drie vistogte per ongeluk ‘’n streepdolfyn, 8 Dallse tornyne, 18 noordelike pelsrobbe, 19 Pasifiese witsy-dolfyne en 65 noordelike noordkapperdolfyne’ gevang het.

Net verlede jaar het ’n verslag wat aan die Verenigde Nasies voorgelê is, gesê dat die Japannese dryfnetvissery tydens die vangs van 106 miljoen pylinkvisse 39 miljoen visse doodgemaak het wat die vissers nie wou hê nie. Hulle ongevraagde oes het boonop 700 000 haaie, 270 000 seevoëls, 26 000 seediere en 406 seeskilpaaie, ’n bedreigde spesie, ingesluit.

Seebioloë is daarvan oortuig dat die voortsetting van ongekontroleerde dryfnetvissery “die onvermydelike uitputting van ’n natuurlike hulpbron, wat vroeër as onuitputlik beskou is, tot gevolg sal hê”. Om die waarheid te sê, groot verwoesting is heel moontlik reeds gesaai. In 1988 het ’n kaptein van ’n vissersboot vir bioloog LaBudde gesê: “Ons maak nie naastenby soveel dolfyne dood as vroeër nie.” LaBudde sê: “Dis heel waarskynlik omdat daar nie veel oor is om dood te maak nie.”

Ooreenkomste duik oor die hele wêreld op

Daar is egter onlangs van Londen tot in Washington, DC, en van Alaska tot in Nieu-Seeland, op daadwerklike optrede teen dryfnette aangedring, en ’n aantal maatreëls is geneem om vissers te dwing om hulle vlote te verminder en party van hul nette permanent in te trek. Om ’n paar te noem: ’n Groep state in die Stille Suidsee het die sogenoemde Wellington- (Nieu-Seeland) ooreenkoms aangeneem wat hulle toelaat om dryfnetvissery binne hulle visvanggebiede van 320 kilometer te verbied en wat hulle eie vissers belet om enigsins dryfnette in die Stille Suidsee te gebruik.

In Desember 1989 het ’n VN-resolusie ’n opskorting op grootskaalse dryfnetvissery in die oop see teen 30 Junie 1992 voorgestel. Die World Watch-instituut het gesê dat “die mens min hoop [sal] hê om sy oseane vir toekomstige geslagte te bewaar” as dryfnetvissery nie ingekort word nie en het bygevoeg: “Ons moet wêreldwyd uitvoerige ooreenkomste uitwerk.” Die Stille Suidseestate, wat deel is van die Forum Fisheries Agency, het gevolglik voorgestel dat ’n internasionale kommissie gestig word om visvangs te kontroleer en het vissers aangespoor om verantwoordelike visvanggebruike toe te pas.

Maar het internasionale druk enige uitwerking gehad? Ja, en wel in ’n opvallende mate!

Op 26 November 1991 het Japan ingestem “om ’n opskorting na te kom wat deur die Verenigde Nasies in die noordelike Stille Oseaan ingestel is op die gebruik van groot visnette, wat volgens wetenskaplikes verantwoordelik is vir die wydverbreide vernietiging van die seelewe”. Hierdie besluit “het ’n geskil ontlont wat gedreig het om Japan se reputasie op die gebied van omgewingsaangeleenthede verder te benadeel”. Japan het ingestem om die helfte van sy dryfnetwerksaamhede teen Junie 1992 stop te sit en die res teen die einde van dieselfde jaar.

Die volgende dag het ’n hoofartikel in The New York Times gesê: “’n Verheugde seebioloog het Japan se aankondiging Dinsdag dat hy sy dryfnetvissersbedryf teen die einde van volgende jaar [1992] gaan sluit, beskryf as ‘’n soete oorwinning vir die aarde se omgewing’.”

Volgens ’n berig in die tydskrif Time van 9 Desember 1991 het Taiwan en die Republiek van Korea te kenne gegee dat hulle ook sal ophou om dryfnette te gebruik.

“Daar is die see, groot en alkante toe wyd—daar is ’n gewemel sonder getal, klein diere saam met grotes.”—Psalm 104:25.

[Prente op bladsy 15]

Dryfnetvaartuig in aksie

[Erkenning]

Photo: Steve Ignell, ABL

Seeottergeraamte verstrik in ’n verlate dryfnet

[Erkenning]

Photo: T. Merrell

[Prente op bladsy 16]

Seevoëls wat in dryfnette verstrengel geraak en gesterf het

[Erkenning]

Photo: A. Degànge

Vasgekeerde Dallse tornyn

[Erkenning]

Photo: N. Stone

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel