Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g92 6/8 bl. 20-21
  • Gebede—Herhalend of spontaan?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Gebede—Herhalend of spontaan?
  • Ontwaak!—1992
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Wat gebed eintlik is
  • Wat het Christus Jesus gesê?
  • Hoe opregte gebed kan help
  • Gebede wat verhoor word
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
  • Kom nader aan God deur gebed
    Wat leer die Bybel werklik?
  • ‘Laat julle versoeke by God bekend word’
    ie Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2006
  • Hoe jy na aan God kan kom
    Kennis wat tot die ewige lewe lei
Sien nog
Ontwaak!—1992
g92 6/8 bl. 20-21

Die Bybelse beskouing

Gebede—Herhalend of spontaan?

’NMAKROSTRALER het op ’n hoogte van 12 500 meter gevlieg. Onder die vliegtuig het die koue water van die Stille Oseaan gelê. Skielik het een van die motore gestaak. Toe het die ander drie krag verloor. Die vliegtuig het binne twee minute tien kilometer ver geval! Maar op ’n hoogte van 2700 meter het die straler weer sy krag herwin en veilig in San Francisco aangekom. Een passasier het met ’n sug van verligting gesê: “Ek het vuriger as ooit tevore in my lewe gebid.”

Baie mense, selfs diegene wat nie godsdienstig is nie, wend hulle tot die Almagtige om hulp wanneer rampspoed hulle tref of wanneer gevaar hulle bedreig of wanneer hulle diep leed ondervind. Daarenteen herhaal diegene wat godsdienstig is gereeld vormgebede in kerke en tempels of by die huis. Baie gebruik rosekranse om die Onse Vader en Ave Maria herhaaldelik op te sê. Ander gebruik gebedeboeke. Miljoene Oosterlinge draai bidwiele in die rondte om gebede vinnig te herhaal.

Het jy al ooit gewonder: ‘Hoe moet ons bid? Moet gebede herhalend of spontaan wees?’

Wat gebed eintlik is

Sê nou jou geliefde pa, wat in ’n ander land woon, moedig jou aan om te bel wanneer jy ook al wil—sonder dat jy vir die telefoonoproepe hoef te betaal. Sal jy nie dikwels bel nie? Sal dit jou nie vreugde verskaf om julle kosbare verhouding te behou en dit selfs te verinnig nie? Sal jy nie jou bekommernisse met hom bespreek en hom inniglik bedank vir al die hulp en bemoediging wat hy jou deur jou hele lewe heen gegee het nie? Jy sal daardie verhouding soos ’n kleinood bewaar, nie waar nie?

Wanneer jy bel, sal jy moontlik party dinge herhaal, maar jy sou jouself tog nie uitdruk deur uit ’n boek te lees of jouself formeel te herhaal nie. Die gebede van Christene moet ook nie só wees nie. Trouens, Christus Jesus het gesê dat gebede presies die teenoorgestelde moet wees.

Wat het Christus Jesus gesê?

“As julle bid, gebruik nie ’n ydele herhaling van woorde soos die heidene nie, want hulle dink dat hulle deur hul baie woorde verhoor sal word”a (Mattheüs 6:7). Ander vertalings druk dit só uit: “In julle gebede moet julle nie babbel soos die heidene nie” (The New English Bible). “Wanneer julle bid, moet julle nie leë uitdrukkings herhaaldelik gebruik soos die heidene nie”.—Revised Standard Version.

Party mense verwar omslagtigheid met godsaligheid, woordvlotheid met toewyding, herhaling en lengte met ’n besliste verhoring van hulle gebede. Maar God bepaal nie die waarde van ’n gebed deur die lengte daarvan nie. Jesus wou beslis nie gehad het dat sy volgelinge onveranderlike formuliere moes gebruik of gebede soos gedigte moes opsê nie. Bowendien, van watter blywende waarde is rosekranse, gebedeboeke of bidwiele?

Nadat Jesus die bogenoemde gesê het, het hy sy dissipels ’n modelgebed gegee—die bekende Onse Vader-gebed (Mattheüs 6:9-13). Maar wou hy hê dat hulle hierdie selfde woorde van toe af soos ’n papegaai moes herhaal? Nee. Trouens, toe Jesus dit meer as ’n jaar later herhaal, het selfs hy nie presies dieselfde woorde gebruik nie (Lukas 11:2-4). Is daar enige verslag wat sê dat die vroeë Christene dit gedoen het of dat hulle ander vormgebede herhaal het? Dit antwoord is weer eens nee.

Beteken dit dat ons nie dieselfde saak kan herhaal of herhaaldelik iets mag vra nie? Geensins nie, want Jesus het ook gesê: “Bly vra, en dit sal julle gegee word; bly soek, en julle sal vind” (Mattheüs 7:7, NW). Dit is dikwels nodig dat ons dieselfde versoek oor en oor moet rig. Jehovah kan daardeur sien hoe opreg ons versoeke is en hoe ernstig ons oor die saak voel.

Nehemia, ’n godvrugtige man, het byvoorbeeld in die vyfde eeu v.G.J. as deel van die gemeenskap van Judese bannelinge in Babilon gewoon. Hy was die koninklike skinker vir die Persiese koning. Toe hy gehoor het dat sy stamverwante, die setlaars in Judea, swaarkry, het hy “dag en nag” gebid dat hulle verligting kon kry (Nehemia 1:6). Sy gebede is verhoor. Jehovah het die goedgesinde Persiese heerser beweeg om Nehemia toestemming te gee om na Jerusalem te reis om sake in orde te bring. Hy het dit gedoen; tot die vreugde van sy volk en die behoud van hulle geloof.—Nehemia 1:3–2:8.

Hoe opregte gebed kan help

Hoewel Jehovah die Soewereine Heerser van die heelal is, nooi hy sy “kinders” uit om hom heelhartig te nader. “Nader tot God, en Hy sal tot julle nader”, sê Jesus se dissipel Jakobus (Jakobus 4:8). Maar hoe? Wel, ons moet in die naam van Jesus bid (Johannes 14:6, 14). Dan sê Paulus ook: “Sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag; want hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en ’n beloner is van die wat Hom soek.”—Hebreërs 11:6.

Mense wat probleme het, selfs diegene wat ernstige sondes gepleeg het, kan om hulp en vergifnis vra en dit verkry. Jesus het dit toegelig deur sy verhaal van ’n godsdiensleier wat, toe hy gebid het, God gedank het dat hy heiliger as ander mense was; maar ’n tollenaar (wat in daardie dae as ’n ernstige sondaar beskou en verag is) het net gesê: “O God, wees my, sondaar, genadig!” Daardie eenvoudige, opregte gebed het beslis nie uit ’n boek gekom nie. En Jesus het die skynheilige godsdiensleier veroordeel, maar oor die tollenaar het hy gesê: “Hy wat homself verneder, sal verhoog word.”—Lukas 18:10-14.

Baie bekommer hulle oor die kommerwekkende verloop van wêreldgebeure en ly gevolglik aan depressie. Christene bekommer hulle miskien selfs oor hulle naam by God. Maar as jy gereeld en spontaan tot Jehovah om hulp nader, kan dit wondere verrig. Paulus het geskryf: “Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God. En die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, sal julle harte en julle sinne bewaar in Christus Jesus.”—Filippense 4:6, 7.

Smeking beteken dat ons opreg vra, God om hulp smeek, ons hart aan hom uitstort soos ’n kind aan ’n baie liefdevolle en simpatieke ouer. Sulke gebede kom nie uit boeke nie; hulle word ook nie soos ’n papegaai herhaal nie. Hulle kom uit harte wat hulp nodig het en ware geloof in Jehovah, die “Hoorder van die gebed”, stel.—Psalm 65:3.

[Voetnoot]

a Die woord (bat·ta·lo·geʹo) wat as “herhaling van woorde” vertaal word, word net een keer in die Bybel gebruik, en dit beteken “‘om te babbel’ deur herhalings in jou gebede te gebruik in die hoop dat jou gebede verhoor sal word”.—Theological Dictionary of the New Testament.

[Foto-erkenning op bladsy 20]

Drawings of Albrecht Dürer/Dover Publications, Inc.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel