Waarom al die trane?
WANNEER laas het jy jou uitgehuil? Was dit van blydskap of van droefheid? Was dit oor ’n persoonlike oorwinning of ’n verpletterende nederlaag? Was dit van verligting of van frustrasie? Die geboorte van ’n kind of die dood van ’n huweliksmaat, ’n tere herinnering of ’n smartvolle herinnering, die verwelkoming van ’n dierbare vriend of toe jy van een moes afskeid neem? Kontrasterende situasies, verskillende gevoelens, waaraan daar nietemin dikwels op presies dieselfde manier uiting gegee word—deur trane.
Maar waarom huil ons wanneer ons intense emosie ondervind? Het dit enige nut? Of kan ons sonder trane klaarkom?
Waarom huil ons?
Niemand weet presies nie. Mense en diere skei twee soorte trane af: Basale trane wat die oog bevogtig en reflekstrane wat vinnig opwel wanneer ’n vreemde voorwerp die oog irriteer. Maar dit is die storting van emosionele trane, om te huil, wat blykbaar eie aan die mens is—en waarvan daar weinig verstaan word.
Navorser William Frey sê dat wanneer ’n mens weens emosie huil dit die liggaam in werklikheid help om van skadelike en oortollige stowwe ontslae te raak—basies op dieselfde manier as wat die niere, kolon, longe en sweetgaatjies dit doen. Sy boek Crying—The Mystery of Tears beskryf sy studie waarin hy trane wat deur ’n prikkelmiddel (’n ui) veroorsaak is, vergelyk het met trane wat deur emosies veroorsaak is (toe daar na hartseerrolprente gekyk is). Die trane wat weens emosie gestort is, het hoër konsentrasies proteïen bevat—ongeveer 24 persent hoër. Ons weet nog nie waarom nie, maar blykbaar verskil die trane wat die liggaam weens emosie afskei van dié wat weens irritasie afgeskei word.
“Ek huil soos ’n vrou. My oog, my oog stroom van water”, het die profeet Jeremia geskryf (Klaagliedere 1:16, NW). Huil vroue werklik meer as mans? Volgens statistiek huil hulle wel meer—ongeveer vier keer soveel (5,3 keer per maand teenoor mans wat 1,4 keer per maand huil). Volgens Frey huil seuntjies en dogtertjies aanvanklik omtrent ewe veel, hoewel ’n baba waarskynlik eers dae of weke na sy geboorte trane van emosie sal stort. Maar die verskil begin gedurende die tienderjare intree. Dit kan moontlik weens sosiale invloede wees. Die hormoon prolaktien (die melkproduserende stimulant) kom egter tot in hulle tienderjare in gelyke hoeveelhede in kinders van albei geslagte voor. Iewers tussen die ouderdom van 13 en 16 neem die hoeveelheid in meisies toe.
Prolaktien word in trane aangetref. Die prolaktienvlak in die liggaam styg ook wanneer ’n mens onder druk verkeer. Daarom sal vroue selfs groter hoeveelhede van die hormoon as mans hê wanneer hulle gespanne is. Is dit dalk waarom vroue makliker en meer dikwels as mans huil? Dr. Frey meen dat wanneer ’n mens weens emosie huil dit die liggaam se poging is om die chemiese balans te herstel. Die hormone kan in werklikheid veroorsaak dat ’n mens huil, en hy teoretiseer dat dít die rede is waarom ons dikwels beter voel nadat ons gehuil het.
In ’n ander studie, deur psigoterapeut Margaret Crepeau, is daar ’n verband gevind tussen die onderdrukking van trane en ’n “aansienlike hoër voorkoms van stresverwante interne siektes soos maagsere en kolitis” (Seventeen, Mei 1990). Ander navorsers se bevindings het die teendeel bewys. Die tydskrif Health berig dat drs. Susan Labott en Randall Martin mense ondersoek het wat dikwels huil en mense wat nie dikwels huil nie. Hulle bevindings het getoon dat spanning nie verlig word wanneer ’n mens huil nie en dat diegene wat dikwels huil “meer geneig was tot angs en depressie”. Hulle gevolgtrekking is dat dit nie nuttig is om te huil as dit “bloot ons aandag van die probleem aflei” nie. Maar trane wat weens emosie gestort word, kan belangrik wees wanneer ’n mens ’n traumatiese ondervinding, soos die dood van ’n geliefde, moet aanvaar.
Dit is voldoende om te sê dat die oorsaak en doel van trane wat weens emosie gestort word ons steeds ontwyk.
Die ander trane
Ons weet veel meer oor die funksie van basale trane, dié wat jy nou in jou oë het. Hulle doen veel meer as om jou oë te bevogtig. Kom ons kyk wat met hierdie wonderlike vloeistof gebeur wanneer dit deur die traanstelsel gevorm, versprei en afgeskei word.
Die hooftraanklier word in die holte net bokant die buitenste hoek van jou oog aangetref. Hierdie sponsagtige klier vorm, tesame met 60 ander, ’n dun vogbedekking wat uit drie lae bestaan—slym, water en olie.
Die binnelaag, die slymlaag, maak die oppervlak glad sodat die ooglid oor die onbedekte deel van die oogbal kan gly. Die waterlaag is die dikste van die drie en bevat verskeie belangrike bestanddele, onder andere suurstof, wat noodsaaklik is vir die kornea. Voeg daarby ook ’n hoeveelheid lisosiem en 11 ander ensieme wat in trane aangetref word. Lisosiem is ’n uitstekende bakteriebestryder. Dit hou die oog wit en helder.
Die finale afronding van hierdie traan sal deur die 30 Meibomkliertjies verskaf word, daardie klein geel stippeltjies wat in ’n ry op beide ooglede agter die wimpers voorkom. Die kliertjies skei die olielaag af; dit is so dun dat dit nie ’n mens se sig belemmer nie, en tog keer dit dat die traanvog verdamp en tussen elke oogknip ongemaklike droë kolle op die oog veroorsaak. Trouens, party mense se oë skei nie genoeg olie af nie, en hulle trane verdamp baie vinniger as normaalweg.
Met die knip van ’n oog
Hier kom die ooglid—dit gly vinnig oor die oog, terwyl dit net die regte mengsel van bestanddele kies en hulle eweredig in drie lae oor die oog versprei. Die ooglede sluit presies opmekaar sodat die hele onbedekte oppervlak van die oog in hierdie verfrissende vloeistof gebaai word.
Wat gebeur met die gebruikte trane? As jy jou oog van naderby bekyk, sal jy ’n piepklein openinkie in die binneste hoek sien, die traanpunt, wat die oortollige trane in ’n kanaaltjie afvoer tot in die traansak. Daarvandaan loop die trane agter in die neus en keel af, waar dit deur die slymvliese geabsorbeer word. Wanneer jy jou oog knip, veroorsaak dit dat die traansak soos ’n pomp optree, wat die trane in die kanaaltjie instoot en afwaarts dryf.
Wanneer jy begin huil, knip jy jou oë moontlik onwillekeurig vinniger, wat daardie pomp vinniger laat werk om daardie oortollige trane af te voer. Maar wanneer daar werklik ’n tranevloed is, raak die pomp te vol, die traansak in die neusholte loop oor en die trane loop by jou neus uit. En jy kan net sowel jou sakdoek uithaal omdat die res van die trane nou eenvoudig oor die ooglede en oor die wange sal afrol.
Wat dan ook al tot trane aanleiding gee—’n opregte kompliment of ’n snydende belediging, lagbuie of depressieaanvalle, ’n skitterende sukses of ’n bittere teleurstelling—daar is altyd ’n voorraad trane waarmee jy aan jou gevoelens uiting kan gee.
[Venster op bladsy 26]
Hulp vir rooi oë
Jy het al verskeie keer daardie branderige, sanderige gevoel in jou oë gehad. Wat veroorsaak dit? ’n Mens se oë word rooi wanneer die bloedvate in die membraan wat die wit van die oog bedek, swel.
’n Tekort aan trane kan die oorsaak wees. Mense wat ure aaneen voor ’n videoskerm werk of boekwerk doen, knip eenvoudig nie hulle oë genoeg nie. Normaalweg knip ’n mens jou oë ongeveer 15 keer per minuut. Wanneer jy lees, bestuur of op iets konsentreer, maak die oog slegs drie tot ses knipbewegings per minuut, wat droogheid en irritasie veroorsaak. Dokters stel voor dat ’n mens tyd inruim om jou oë doelbewus te knip en dat oogdruppels gebruik word om die oë te streel.
Wanneer jy wakker word, sal jy ’n bietjie rooiheid opmerk omdat traanproduksie in die donkerte en tydens slaap baie afneem.
Sekere geneesmiddels, asook die verouderingsproses, kan veroorsaak dat die traankliere se produksie afneem. Allergieë, uiterstes in die klimaat of besoedelstowwe kan die ooglede ontsteek of laat swel, wat dan rooiheid kan veroorsaak.
Misvormdheid of verstopping van die ooglid of kliere weens ’n besering of geboortegebreke kan veroorsaak dat die oog nie heeltemal met traanvog bedek word nie of dat die vog self ’n ongebalanseerde samestelling het.
Miljoene ly ook aan siektes soos Sjögren se sindroom, ’n outoïmmuunsiekte wat die traan-, speeksel-, olie- en ander kliere aantas en dus droogheid van die oë, mond en vel veroorsaak.
Wat kan ’n mens doen wanneer jou oë chronies droog is? Kunstrane in die vorm van druppels of pille is nou algemeen verkrygbaar, asook spesiale brille wat die oog lugdig verseël sodat verdamping stadiger plaasvind. Hoewel hierdie afwykings ongerief veroorsaak, lei dit selde tot blindheid. Maar dit is belangrik om mediese raad in te win, aangesien chroniese droogheid die kornea kan beskadig as dit nie behandel word nie.
[Venster op bladsy 27]
“Hou my trane in u kruik”
Dít is wat die psalmis Dawid geskryf het toe hy sy God gesmeek het om op sy diepe ontsteltenis ag te slaan (Psalm 56:9). Ja, hartverskeurende situasies het selfs in die lewe van getroue dienaars van God tot trane aanleiding gegee.
Stel jou voor hoe bitterlik koning Dawid oor die dood van sy twee seuns Amnon en Absalom en sy getroue vriend Jonatan, sowel as koning Saul moes gehuil het (2 Samuel 1:11, 12; 13:29, 36; 18:33). Toe die Amalekiete die stad Siklag geplunder en Dawid en sy manskappe se vrouens en kinders ontvoer het, het hulle “hulle stem verhef en geween totdat daar geen krag meer in hulle was om te ween nie”.—1 Samuel 30:4.
Watter groot droefheid was daar tog nie toe Jakob en Moses gesterf het nie—hele volke het dae lank oor hulle gehuil (Genesis 50:3; Deuteronomium 34:8). Gevangenskap en siekte het ook meegebring dat uitroepe van benoudheid tot Jehovah gerig is (Job 3:24; Psalm 137:1; Prediker 4:1). Die hele Bybelboek Klaagliedere is ’n treurige klaaglied wat deur die wenende Jeremia neergeskryf is.—Klaagliedere 1:16; 2:11, 18.
As ’n mens huil, is dit geensins ’n teken van swakheid nie; dit is eerder ’n natuurlike manier om aan sterk emosie uiting te gee. Gevolglik is selfs die volmaakte mens Jesus tot trane beweeg. Hy het eenkeer oor die stad Jerusalem gehuil en ’n ander keer toe hy die bedroefde familie en vriende van die dooie Lasarus gesien het (Lukas 19:41; Johannes 11:33-35). Maar daardie trane van droefheid wat die familie en vriende gestort het, het spoedig in trane van vreugde verander toe Jesus sy geliefde vriend uit die graf opgewek het.—Johannes 11:41-44.