Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g92 11/8 bl. 4-7
  • ’N Gebalanseerde beskouing van vermaak

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ’N Gebalanseerde beskouing van vermaak
  • Ontwaak!—1992
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die voordele van pret
  • Die gevare wat vermaak inhou
  • Die kwessie van kwantiteit
  • Kies vermaak wat Jehovah gelukkig maak
    Geniet die lewe vir ewig! – Bybellesse wat jou kan help
  • Hoe om heilsame vermaak te kies
    ‘Hou julle in God se liefde’
  • Wees wys in jou keuse van vermaak
    Ons Christelike lewe en bediening – Vergaderingwerkboek – 2019
  • Hoe om vermaak te kies
    Hoe om in God se liefde te bly
Sien nog
Ontwaak!—1992
g92 11/8 bl. 4-7

’N Gebalanseerde beskouing van vermaak

“NET werk en geen pret maak Jan ’n saaie vent.” Dit is vandag so ’n bekende gesegde dat dit maklik is om te vergeet hoe waar dit presies is. Trouens, “net werk en geen pret” maak Jan nie net ’n saaie vent nie, maar dalk iets veel ergers. Dit kan hom ’n werkverslaafde, ’n kompulsiewe werker, maak wat niks of niemand belangriker as sy werk ag nie.

Neem byvoorbeeld ’n probleem wat in Japan ontstaan het, ’n land wat bekend is vir sy streng opvatting dat werk ’n edele strewe is. Daar word dikwels van werknemers verwag om elke aand asook naweke oortyd te werk. Maclean’s, ’n Kanadese tydskrif, het gesê dat die gemiddelde Japannese werker jaarliks 2088 uur by die werk deurbring in vergelyking met die 1654 uur van die gemiddelde Kanadese werker. Maar die tydskrif het gesê: “Japannese sakeondernemings het met ’n ander probleem te kampe gehad: werknemers wat aan karoshi, of te veel werk, sterf. Koerante het gevalle gemeld van mans in hulle veertigerjare wat hartaanvalle of beroertes gekry het nadat hulle 100 dae lank aaneen gewerk het sonder om ’n dag af te neem.” Die Japannese departement van mannekrag moes selfs ’n advertensieveldtog, wat talle treffende deuntjies bevat het, van stapel stuur om mense aan te spoor om nie naweke te werk nie, maar te ontspan. Wat ’n kontras vorm dit tog nie met party Westerse lande waar mense gesoebat moet word om ’n volle week te werk nie!

Die voordele van pret

Dit is egter heel gepas dat deskundiges werkverslawing oor die algemeen as ’n siekte beskou en nie as ’n deug nie. Jan moet pret hê—en nie net wanneer hy ’n seun is nie; volwassenes sowel as kinders het hierdie selfde behoefte. Waarom? Watter voordele hou vrye tyd, of pret, vir mense in? Een handboek oor die onderwerp het ’n lys van voordele opgestel: “Selfuitlewing, kameraadskap, die ineenskakeling van verstand en liggaam om ’n geheel te vorm, fisiese gesondheid, ’n noodsaaklike kontras of ritme in die streng werkrooster, rus en ontspanning, ’n geleentheid om iets nuuts te probeer en nuwe mense te ontmoet, om verhoudinge te ontwikkel, om die gesinsbande te versterk, om dinge in die natuur te leer ken en te geniet, . . . en om net goed te voel sonder dat jy dit hoef te ontleed. Al hierdie dinge tel onder sommige van die voordele waarby mense in hulle vrye tyd baat vind.”

Sosioloë het talle boeke oor die onderwerp van vrye tyd en pret geskryf, en hulle stem saam dat vrye tyd noodsaaklik is vir die individu en die gemeenskap. Maar daar is seker niemand wat die menslike natuur beter verstaan as die mens se Skepper nie. Wat is sy beskouing van hierdie onderwerp?

In teenstelling met wat party skynbaar dink, keur die Bybel nie pret en ontspanning af nie. Dit sê vir ons dat Jehovah ’n gelukkige God is en dat hy van sy knegte verwag om ook gelukkig te wees (Psalm 144:15b, NW; 1 Timotheüs 1:11, NW). In Prediker 3:1-4 lees ons daar is ’n “bepaalde uur . . . om te lag” en “’n tyd om van vreugde rond te spring”. Die Hebreeuse woord hier vir “lag” hou verband met woorde wat “pret” beteken. Dieselfde Bybelboek sê vir ons dat ‘daar vir ’n mens niks beters is as om te eet en te drink en dat sy siel die goeie dinge sien vanweë sy harde werk’ nie.—Prediker 2:24, NW.

Een van die gewildste maniere om vandag vrye tyd deur te bring is om agteroor te sit en ander se talente te geniet. Dié idee is ook nie heeltemal nuut nie. Die Bybel toon dat mense dit millenniums lank geniet het om te sien hoe ander dans, sing, musiekinstrumente bespeel of op sportgebied met mekaar meeding.

As ’n vorm van ontspanning kan vermaak ons die wêreld se goed doen. Wie geniet nie die prestasies van ’n goeie atleet, die vloeiende grasie van ’n ballerina, ’n goeie avontuurrolprent vol spannende afwagting wat jou op die punt van jou stoel laat sit of die vrolike deuntjie wat in jou gedagtes bly lank nadat die musiek opgehou het nie? En die meeste van ons het dit ongetwyfeld al geniet om met ’n goeie boek te ontspan, terwyl ons die blaaie al vinniger omblaai namate ons verdiep raak in ’n goeie verhaal.

Sulke vermaak laat ons nie net ontspan nie, dit doen veel meer vir ons. Dit kan ons ook stimuleer, ons opbeur, ons ontroer, ons laat lag—en dit kan selfs leersaam wees. Die letterkunde kan ons byvoorbeeld heelwat oor die menslike natuur leer. Daarvan is Shakespeare se werke ’n goeie voorbeeld.

Die gevare wat vermaak inhou

Maar as ons ’n gebalanseerde beskouing van hedendaagse vermaak wil hê, moet ons ag slaan op die gevare asook die voordele wat dit inhou. Daar is al baie gesê oor die verderflike invloed van vermaak, maar die gevare kan oor die algemeen in twee hoofkategorieë ingedeel word: kwantiteit en kwaliteit, hoeveel vermaak beskikbaar is en wat dit uitbeeld. Kom ons bespreek eers die aspek van kwaliteit.

Ons lewe in swaar tye, wat die Bybel “kritieke tye wat moeilik is om deur te kom” noem (2 Timotheüs 3:1, NW). Dit is nie verbasend dat hedendaagse vermaak dikwels die afstootlikste aspekte uitbeeld van die tyd waarin ons leef nie. Sadistiese geweld, onbeskaamde onsedelikheid en die mens se donkerste emosies—soos rassisme—word alles in gewilde vermaak uitgebeeld en besoedel dit in meerdere of mindere mate. Aan die heel anderkant van die spektrum is dít wat veronderstel is om vermaak te wees, weinig meer as pornografie en smerigheid. Neem ’n paar voorbeelde hiervan.

Rolprente: By Hollywood se hoogste eerbetoning, die Oscar-seremonie, het drie van die mans wat hierdie jaar in die kategorie vir “beste akteur” benoem is die rol van psigopatiese moordenaars vertolk, en hulle moorde is in detail uitgebeeld. Een karakter byt na bewering ’n stuk uit ’n vrou se gesig terwyl hy haar verkrag. Een van die rolprente wat dié jaar die meeste geld ingebring het, is die rolprent Basic Instinct. Te oordeel na die resensies, sê hierdie titel nie naastenby genoeg nie. Die rolprent begin met ’n eksplisiete sekstoneel waarin die vrou haar vasgebinde minnaar herhaaldelik met ’n yspriem steek terwyl sy vol bloed gespat word.

Musiek: Rap- sowel as heavy metal-musiek word ook deesdae al hoe meer gekritiseer omdat dit soortgelyke dinge bevat. Liedjies wat die verkragting en mishandeling van vroue, geweld en haat teenoor verskillende rasse en geregsdienaars en selfs Satanisme verheerlik, kom alles op rap- en heavy metal-plate voor. In party plekke moet plate wat sulke eksplisiete materiaal bevat ’n waarskuwingsetiket op hê. Maar soos die rap-kunstenaar Ice-T na bewering erken het, sorg hy juis dat sy liedjies skokkende woorde bevat sodat dit so ’n etiket kan kry; dit waarborg dat mense se nuuskierigheid geprikkel sal word. Die rockster Prince het bloedskande tussen broer en suster verheerlik. Musiekvideo’s is selfs erger omdat dit dikwels sulke growwe onsedelikheid visueel uitbeeld. Die popster Madonna se video Justify My Love het opspraak verwek weens die sado-masochisme en homoseksualiteit wat dit uitbeeld. Selfs MTV, ’n Amerikaanse TV-kanaal wat bekend is vir die onsedelike video’s wat dit al uitgesaai het, het geweier om hierdie een uit te saai.

Boeke: Neem ’n paar voorbeelde van onlangse boekresensies. American Psycho beskryf die grusame dade van ’n reeksmoordenaar wat onbeskryflik afgryslike dinge, waaronder kannibalisme, met die liggame van sy slagoffers doen. Vox handel oor ’n lang telefoongesprek waartydens ’n man en ’n vrou wat mekaar nog nooit ontmoet het nie mekaar seksueel stimuleer deur hulle erotiese gesprek. Raptor handel oor die verdorwe seksavonture van twee sesde-eeuse hermafrodiete, mense wat manlik sowel as vroulik is. Liefdesverhale oor die algemeen verheerlik owerspel en hoerery. Prentverhale, wat vroeër redelik onskuldige leesstof vir kinders was, beeld nou dikwels eksplisiete seks, geweld en die okkulte uit.

Sport: Daar word voortdurend ’n beroep gedoen om boks te verbied. Ondanks verdere bewyse dat elke uitklophou onherstelbare breinskade tot gevolg het, lok groot somme geld en miljoene toeskouers boksers steeds na die kryt. Daar is letterlik honderde boksers wat al op hierdie manier doodgeslaan is.

Maar ander sportsoorte het selfs hoër sterftesyfers. Dit is niks buitengewoons om te lees dat geweld op sportvelde of onder die toeskouers uitgebreek het nie. Oproere wat veroorsaak is deur nasionalisme of ’n misplaaste “spangees” het die dood van honderde in stadions oor die hele wêreld heen tot gevolg gehad. Stiergevegte, wat die Duitse weekblad, Die Zeit, “seker die wreedste sportsoort wat tot in ons dag voortgeleef het”, noem, se gewildheid het onlangs in Spanje en Suid-Frankryk geweldig toegeneem. Nadat ’n bul die beroemde 21-jarige matador, José Cubero, in die hart deurboor het, is die gevalle held later in sy kis om ’n arena in Madrid gedra terwyl 15 000 vererende bewonderaars hom toegejuig het. Die video-opname van sy dood is herhaaldelik oor die Spaanse TV uitgesaai.

Hierdie is nou wel uiterste gevalle en dit beteken nie dat alle vermaak wat onder sommige van hierdie verskillende kategorieë val, sleg is nie. Maar as ’n mens ’n gebalanseerde beskouing van vermaak het, moet jy erken dat hierdie uiterstes wel bestaan en dat hulle gewild is. Waarom? Wel, het jy al ooit opgemerk dat vermaak wat ’n paar jaar gelede as baie erg beskou is, mense nou verveel? Die uiterstes is geneig om stadigaan deur die meeste mense aanvaar te word; mense raak gewoond daaraan. Waaraan sal jy gewoond raak?

Die kwessie van kwantiteit

Maar selfs al was alle vermaak heilsaam, is daar steeds die kwessie van die enorme kwantiteit wat beskikbaar is. Die vermaaklikheidsbedryf produseer ’n ontsaglike hoeveelheid materiaal. In die Verenigde State is daar byvoorbeeld in 1991 alleen meer as 110000 verskillende boeke gepubliseer. As jy elke dag ’n boek van voor tot agter kon lees, sou dit jou meer as 300 jaar neem om net een jaar se boeke te lees! Die Amerikaanse rolprentbedryf produseer meer as 400 rolprente per jaar en baie lande voer hierdie rolprente in en produseer dan ook nog hulle eie. Die rolprentbedryf in Indië produseer jaarliks honderde Hindiese rolprente. En wie kan al die musiekplate, klankskywe en kassette tel wat elke jaar geproduseer word? Dan is daar ook nog TV.

In party ontwikkelde lande is daar ’n hele klomp verskillende TV-kanale—kabeltelevisie, satellietuitsendings en gewone uitsendings. Dit beteken dat vermaak 24 uur van die dag tuis beskikbaar is. Sport, musiek, drama, komedie, wetenskaplike verhale, geselsprogramme, rolprente—dit is alles met die druk van ’n TV-knoppie beskikbaar. ’n Videokasset-opnemer maak dit ook moontlik om na duisende rolprente sowel as ontelbare selfdoenvideo’s, musiekvideo’s en selfs opvoedkundige video’s oor die natuur, geskiedenis en wetenskap te kyk.

Maar waar kry ’n mens die tyd vir al hierdie vermaak? Tegnologie kan nou wel vir ons die wonderwerk van kitsvermaak moontlik maak—stel jou net voor hoe verstom Mozart sou wees om een van sy simfonieë oor ’n draagbare stereoklanktoestel te hoor! Die tegnologie kan egter nie vir ons die tyd skep wat dit neem om al hierdie vermaak te geniet nie. Trouens, in party lande waar die tegnologie ver gevorderd is, is mense geneig om minder vrye tyd te hê, pleks van meer.

As ons dit dus toelaat, kan vermaak maklik al ons vrye tyd in beslag neem. En ons moet onthou dat vermaak maar net een vorm van ontspanning is, gewoonlik die passiefste vorm. Die meeste van ons wil ook graag buite kom en iets meer aktiefs doen, ons wil aan dinge deelneem pleks van net te sit en vermaak te geniet. Daar is wandelpaadjies waarlangs ons kan gaan stap, goeie vriende wie se geselskap ons kan geniet en speletjies om te speel.

As dit verkeerd is om toe te laat dat vermaak al ons vrye tyd in beslag neem, hoeveel erger sal dit tog nie wees om toe te laat dat dit die tyd in beslag neem wat ons aan belangriker verpligtinge, soos aan ons Skepper, ons gesin, ons werk en ons vriende, moet bestee nie! Dit is dus uiters noodsaaklik om ’n gebalanseerde beskouing van vermaak te hê! Hoe besluit ons watter vermaak nadelig vir ons is en hoeveel daarvan te veel is?

[Prente op bladsy 7]

Party vorme van vermaak kan ons ontroer en kan ook leersaam wees

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel