Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g93 2/22 bl. 13-17
  • ’n Lonende lewe ondanks afsondering

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ’n Lonende lewe ondanks afsondering
  • Ontwaak!—1993
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Ek leer van Jehovah
  • Na Thailand oor Spanje
  • Op pad na Australië
  • Na Bougainville
  • Na Afrika
  • In Suid-Amerika
  • Na Papoea-Nieu-Guinee
  • Ek werk saam met ’n gemeente
  • Ek het Jehovah se diens my loopbaan gemaak
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2013
  • Wat ’n vreugde om aan Jehovah se tafel te sit!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
  • Deel 4—Getuies tot aan die uiterste van die aarde
    Jehovah se Getuies—Verkondigers van God se Koninkryk
  • “Hier is ons! Stuur ons!”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2020
Sien nog
Ontwaak!—1993
g93 2/22 bl. 13-17

’n Lonende lewe ondanks afsondering

EK IS in Januarie 1927 in Malaga, Spanje, gebore, die sesde kind van ’n arm Katolieke gesin met sewe kinders. Van 1936 tot 1939 het die Spaanse Burgeroorlog ons land verwoes en moes ons bomme ontduik en van rantsoene leef. Tog was ek ’n gelukkige kind wat daarvan gehou het om te sing en tussen mense te wees.

Maar een ding het my banggemaak—die vooruitsig om in ’n helse vuur te brand. Om daardie vrees te onderdruk, het ek op twaalfjarige ouderdom by ’n klooster aangesluit. Daar het ek drie jaar lank die marmertrappe skoongemaak, gebid en weer skoongemaak, maar ek het steeds gevoel dat daar iets ontbreek. In 1941 was ek bly dat ek weg kon gaan.

Na ’n paar jaar het ek met ’n sangeres bevriend geraak wat gedink het dat ek met my stem geld kon maak, en sy het my aangespoor om sang- en klavierlesse te neem. Toe die Tweede Wêreldoorlog in 1945 geëindig het, het ek Marokko toe gegaan, waar ek in nagklubs in Casablanca en Tanger begin optree het. Dit was ’n opwindende lewe vir ’n tiener. Maar na elke vertoning het ek kerk toe gegaan en die Maagd Maria gesmeek om my te vergewe en sodoende gehoop dat ek ’n helse vuur sou vryspring.

Na ek nege jaar in nagklubs gewerk het, het ek ’n Amerikaner met die naam Jack Abernathy ontmoet. Hy het destyds vir ’n Amerikaanse konstruksiemaatskappy in Marokko gewerk. Ons is daardie jaar getroud, en ek het nie meer opgetree nie. Kort daarna het ons na Sevilla, Spanje, verhuis waar ons tot 1960 gewoon het. Daarna het ons na Lodi, Kalifornië, VSA, verhuis—’n stap wat tot nog ’n verandering in my lewe gelei het.

Ek leer van Jehovah

In 1961 het twee van Jehovah se Getuies ons by ons huis besoek en Die Wagtoring en die Ontwaak! by ons gelaat. Later het hulle aangebied om die Bybel saam met my te studeer, en ek het ingewillig. Sodoende het ek geleer van die ware God, Jehovah, wat ons liefdevolle hemelse Vader is (Psalm 83:18, NW). Wat ’n verligting was dit tog nie ook om te leer dat daar geen brandende hel is nie, maar dat ons eerder die vooruitsig het om vir ewig in ’n paradys op aarde te lewe!—Psalm 37:9-11, 29; Openbaring 21:3, 4.

My suster Paquita, wat naby ons gewoon het, het ook begin studeer. Voorheen het ek gerook en van partytjies gehou. En wat ’n humeur het ek tog gehad! Maar ek het verander, en op 17 Oktober 1962 is ek en Paquita in Sacramento, Kalifornië, gedoop, en sodoende het ons ons toewyding om Jehovah te dien gesimboliseer.

Na Thailand oor Spanje

Kort daarna het die konstruksiemaatskappy waarvoor my man gewerk het hom na Thailand verplaas, en ek het hom vergesel. Op pad daarheen het ek Spanje besoek en kon ek ander familielede van my geloofsoortuigings vertel. My skoonsuster Pura het belangstelling getoon en ’n Getuie geword.

Destyds was die werk van Jehovah se Getuies in Spanje verbied. Nogtans het ons ’n geheime vergadering bygewoon in ’n kamertjie met een tafel en geen stoele nie. Al twintig van ons het gestaan. Hoe anders was dit tog as ons vergaderinge in Kalifornië! Om te sien hoe my eie mense hulle vryheid in gevaar stel om byeen te kom, het my van die belangrikheid van Christelike vergaderinge oortuig, en dit was ’n tydige les net voor ons aankoms in Bangkok, Thailand.

“As ek jou ooit betrap dat jy preek, los ek jou”, het Jack vir my gesê die dag toe ons in Bangkok aangekom het. Die volgende dag het hy vertrek om ’n bouprojek op die platteland te behartig, en ek is in woelige Bangkok op my eie gelaat met ’n huishulp met wie ek nie eers kon kommunikeer nie. Ek het besig gebly deur my Bybellektuur oor en oor te bestudeer.

Toe ek eendag in September 1963 by die huis kom, het ek ’n onbekende paar skoene by my drumpel opgemerk. ’n Vrou met blonde krulhare het vir my gewag. “Wat kan ek vir u doen?” het ek gevra.

“Ek verteenwoordig die Wagtoringgenootskap”, het sy gesê.

Ek het van opgewondenheid gespring en haar omhels en gesoen. Eva Hiebert was ’n Kanadese sendeling. Van toe af het Eva gereeld gekom deur twee of drie keer busse te verwissel om my te bereik. Ek was bang om in die stampvol busse te ry, maar daar was geen ander manier waarop ek kon reis nie. Eva het gesê: “Jy sal Jehovah nooit dien as jy nie in daardie busse ry nie.” Derhalwe het ons toe geoefen om die bus te haal sodat ons na die vergaderinge kon gaan.

Ek was huiwerig om te preek, aangesien ek nie die taal geken het nie. Ek het aan Eva se hand, haar mandjie en haar rok geklou. “Jy kan Jehovah nie so dien nie”, het sy gesê.

“Maar ek ken nie die taal nie”, het ek gekerm.

Eva het my tien tydskrifte gegee en my in die middel van die markplein agtergelaat. Ek het skamerig na ’n Chinese vrou toe gegaan, vir haar die tydskrifte gewys, en sy het dit geneem!

“Eva, ek het al tien tydskrifte versprei”, het ek later van vreugde gestraal. “Jehovah hou van mense soos jy”, het sy gesê, “hou net daarmee aan.” Ek het, terwyl ek geleer het om in Thai te groet en om ooreenkomstig die plaaslike gebruik op die vloer te sit. Ek het ook geleer hoe om by plekke te kom. Hoe het my man gereageer? Eendag toe Jack, wat nou meer goedgesind teenoor my opvattings was, besoekers gehad het, het hy vir hulle gesê: “Gaan saam met Pepita op toer. Sy ken die omgewing, want sy preek daarin.”

Op pad na Australië

Eva se liefdevolle, maar ferm opleiding het my voorberei om bedrywig in Jehovah se diens te bly gedurende my man se volgende werkstoewysing, in noordwestelike Australië. Ons het in die middel van 1965 daar aangekom, en ek het in ’n werkerskamp in die middel van die woestyn gaan woon waar Jack se maatskappy besig was om ’n spoorlyn aan te lê. Kos is per vliegtuig ingebring, en die weer was smoorwarm—meer as 43 grade Celsius. Daar was 21 Noord-Amerikaanse gesinne in die kamp, en ek het hulle van die Koninkryk begin vertel. Later, namate die werk aan die spoorlyn gevorder het, het ons verder die woestyn in beweeg, waar die afsondering selfs groter was.

Vroeër het ek aan die takkantoor van Jehovah se Getuies in Australië geskryf, en hoe bly was ek tog om ’n brief te ontvang wat sê: “Hartlike liefde en groete . . . Ons sal in die maande wat kom aan jou dink en vir jou bid”! Gedurende die jare wat ek saam met my man na sy werkstoewysings in die afgeleë gebiede van die aarde gereis het, is ek deur sulke briewe van Jehovah se organisasie bemoedig. Wanneer ek dit gelees het, het dit my deur tye van eensaamheid gehelp en my aangespoor om uit te gaan in die predikingswerk, al was ek dikwels afgesonder van ander Getuies.

Die takkantoor in Australië het gereël dat ’n Getuie-egpaar my ’n week lank by die kamp besoek. In ons bediening het ons met ’n belangstellende vrou in aanraking gekom wat ver daarvandaan gebly het, en ek moes twee keer per week deur ’n gebied loop wat gewemel het van slange en akkedisse om by haar uit te kom. Terwyl ek gestap het, het ek spontaan ’n Koninkrykslied begin sing: “Kies kant vir Jehovah/ Dien hom as jou God/ Ja, hy is betroubaar/ Hou net sy gebod.” Ons het 11 maande lank gestudeer.

Toe, nadat ons omtrent ’n jaar in Melbourne gewoon het, het ek saam met my man verhuis na ’n kamp naby die myndorp Port Hedland, ook in noordwestelike Australië. Na vyf dae het daar besoekers gekom. Die takkantoor het die Getuies in kennis gestel waar ek was. Na hulle vertrek het ek die vergaderinge op my eie voortgesit deur die Gemeentelike Boekstudie, die Teokratiese Bedieningskool, die Diensvergadering en die Wagtoring-studie te hou. Nadat ek ’n lied gesing en met gebed geopen het, het ek die vrae beantwoord en met lied en gebed afgesluit. Dit was nooit ’n probleem om die bywoners te tel nie—altyd een. Nogtans het hierdie program van weeklikse vergaderinge my onderskraag gedurende daardie baie jare wat ek Jehovah in afsondering gedien het.

Na Bougainville

In 1969, nadat ons vier jaar in Australië van die hitte gesweet het, is my man gestuur om as voorman te dien op ’n projek om ’n pad na ’n kopermyn in die vogtige berge van die eiland Bougainville te bou. Een aand het iemand aan die deur geklop. Jack het oopgemaak. “Dit is ’n Getuie met sy vrou en vier kinders”, het hy gesê. Hulle het langs die kus gebly. Een maal per week het ek hulle besoek en die Wagtoring-studie bygewoon wat in die gemeenskapskool gehou is.

By ’n volgende geleentheid het drie Getuies van Papoea-Nieu-Guinee my besoek. My man het trots vir sy kollegas vertel: “Waar my vrou ook al gaan, wag haar Getuie-vriende vir haar.”

Na Afrika

In 1972 het ons in die woestyn van Algerië, Noord-Afrika, aangekom, waar Jack se maatskappy besig was om ’n besproeiingstelsel aan te lê. Dit sou ’n vier jaar lange projek wees. Ek het aan die takkantoor van Jehovah se Getuies in Frankryk aangaande die predikingswerk geskryf, en hulle het teruggeskryf: ‘Wees versigtig. Ons werk is daar verbied.’ Die Genootskap het my gehelp om met twee onbedrywige Getuies in verbinding te tree, en ons het ’n studiegroep gevorm.

Toe het een van my bure in die werkerskamp, Cecilia, siek geword. Ek het haar elke dag in die hospitaal besoek, vir haar sop geneem en haar beddegoed reggetrek. Toe sy weer by die huis was, het ek aangehou om takies vir haar te doen, en ek het ook vir haar van die Koninkrykshoop vertel. Dit het tot ’n Bybelstudie gelei, en na agt maande het Cecilia gesê: “Ek wil gedoop word.” Maar waar en deur wie?

Ons het ’n brief van die takkantoor in Frankryk ontvang dat ’n Getuie met die naam François vir ’n kort vakansie na Algerië gaan kom. As ons hom tot by ons woestyndorp en betyds terug by die lughawe kon kry, sou hy die doop waarneem. Maar hy sou nie langer as 24 uur kon bly nie.

Kort na François se aankoms is hy soos blits per motor weggeneem die woestyn in. Daardie aand, by Cecilia se huis, het hy ’n klein stukkie papier uit sy hempsak getrek en ’n eersteklas toespraak gelewer. Vroeg die oggend van 18 Mei 1974 het hy Cecilia in my bad gedoop en weer vertrek.

Teen die einde van 1975 het oorlog in Algerië uitgebreek en ek en Jack moes skielik padgee. Ek het my familie in Spanje besoek. In 1976 het ek begin inpak vir Jack se volgende toewysing—’n werkerskamp in die reënwoude van Suriname, Suid-Amerika.

In Suid-Amerika

Die kamp in suidwestelike Suriname was omring deur geil plantegroei. Raserige papegaaie en nuuskierige ape het vanuit die bome na die 15 gesinne gekyk wat so pas daar aangekom het, en die meeste van hulle het ek van vorige werkstoewysings geken. Ses maande later het meer werkers en hulle gesinne daar aangekom, onder andere Cecilia wat in Algerië gedoop is—’n predikingsmaat!

Namate 23 Maart 1978 nader gekom het, het ons gewonder hoe om die herdenking van Christus se dood te vier. Omdat ons nie vervoer na die hoofstad, Paramaribo, gehad het nie, het ons beplan om dit in my huis te hou. Die kampbestuurder het ons toegelaat om fotostate te maak van die laaste bladsy van ’n Wagtoring wat die Gedenkmaal aangekondig het, en ons het dit van huis tot huis in die kamp versprei. Een-en-twintig het opgedaag! Cecilia het die toespraak gehou, en ek het die tekste gelees. Hoewel ons afgesonder was, het ons daardie aand gevoel asof ons met Jehovah se wêreldwye organisasie verenig was.

Die Suriname-tak van Jehovah se Getuies het intussen hulp gestuur—’n jong sendelingegpaar in ’n ou Land-Rover. Voor hulle aankoms het ek ’n bietjie nutteloos begin voel in daardie kamp, maar die sendelinge het my verseker: “Pepita, jy is hier met ’n doel.” Op daardie tydstip was ek nie daarvan oortuig nie, maar ek het weldra verstaan.

Eendag tydens die sendelinge se besoek het ons ’n pas oopgestelde grondpad verken, en ons was verheug om ’n paar Indiaanse dorpies omtrent 50 kilometer van ons kamp af te vind. ’n Paar dae se predikingswerk onder daardie vriendelike Arawak-indiane het tot baie Bybelstudies gelei. Na die sendelinge se vertrek het ek en Cecilia dus begin om daardie dorpenaars twee maal per week te besoek.

Ons het vieruur die oggend opgestaan en teen sewe-uur ons eerste Bybelstudie gehou. Ongeveer vyfuur die middag was ons weer tuis. Twee jaar lank het ons elke week 30 studies gehou. Kort voor lank het die kinders in die dorpie my tannie Bybel genoem! Baie mense is uiteindelik gedoop, en jare later het 182 ’n kringbesoek in daardie dorpie bygewoon. Ons was, soos my dierbare sendelingvriende gesê het, inderdaad in die oerwoud met ’n doel!

Na Papoea-Nieu-Guinee

Ons het Suriname in 1980 verlaat, en die volgende jaar is ons na Papoea-Nieu-Guinee gestuur. Na ses aangename maande saam met die Getuies in die hoofstad, Port Moresby, het ’n helikopter my afgelaai by my volgende tuiste—’n kamp hoog in die berge waar Jack se maatskappy besig was om ’n goudmyn te ontwikkel. Daar was geen paaie nie. Mense, toerusting en kos is met lugvervoer gebring. Dit was die afgesonderdste plek waar ek ooit gebly het. Ek het weer gewonder: Waar kan ek mense kry om mee te praat?

Die mense in ons kamp het my vantevore leer ken, en niemand wou luister nie. Maar ongeveer daardie tyd het die maatskappy besluit om ’n kruidenierswinkel op te rig. Vroue van verafgeleë plekke het inkopies daar gedoen. Ek het gou een van die winkel se gereeldste klante geword. Het dit gewerk?

Eendag het ek ’n gesprek met ’n Papoease vrou begin. Sy het my vertel dat sy ’n onderwyseres is. “O, ek is ook ’n onderwyseres”, het ek gesê.

“Is jy?” het sy gevra.

“Ja, ek leer mense die Bybel.” Sy het dadelik my aanbod aanvaar om die Bybel met haar te studeer. Later het meer van die kruidenierswinkel se klante ingestem om dit ook te doen. Daardie nedersetting naby die goudmyn het sewe Bybelstudies opgelewer—inderdaad ’n geestelike goudmyn!

Na ons drie jaar op hierdie Pasifiese eiland deurgebring het, het ons na ’n nuwe toewysing op die Karibiese eiland Grenada gegaan. Maar na ’n jaar en ’n half moes my man weens gesondheidsprobleme na die Verenigde State terugkeer, en ons het ons in 1986 in Boise, Idaho, gevestig.

Ek werk saam met ’n gemeente

Na ek al daardie jare afgesonderd van my Christenbroers en -susters geleef het, moes ek nou leer om saam met ander te werk. Die Christen- ouere manne en ander het my egter geduldig bygestaan. Vandag geniet ek dit om in hierdie gedeelte van die wêreld vergaderinge by te woon en Bybelstudies te hou.

Maar wanneer ek soms in ’n stil hoekie sit en weer sien hoe ek in woelige Bangkok agter Eva aanhardloop, of hoe ek ’n Koninkrykslied spontaan begin sing terwyl ek op daardie woestynpad in Australië stap of hoe ek onder daardie nederige Indiane in die reënwoude van Suriname preek, glimlag ek, en my oë vul met trane van dankbaarheid vir die sorg wat ek ontvang het gedurende die baie jare wat ek Jehovah in afsondering gedien het.—Soos vertel deur Josefa ‘Pepita’ Abernathy.

[Prent op bladsy 15]

Terwyl ek saam met my Spaanse Bybelstudente in Melbourne gesing het

[Prente op bladsy 16]

Ek het baie in Papoea-Nieu-Guinee gehelp om Jehovah te leer ken

Ek leer mense God se Woord in Suriname

[Prent op bladsy 17]

Ek dien nou saam met ’n gemeente in Idaho

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel