’n Saamgestelde teken wat uit baie aspekte bestaan
Die einde van die wêreld—Hoe naby is dit?
’NFABEL uit Indië handel oor ses blinde mans uit Hindoestan wat na ’n olifant gaan kyk het. Die eerste een het aan die olifant se sy geraak en gesê: “Op dees aarde! maar die olifant is amper nes ’n muur!” Die tweede een het aan die olifant se tand geraak en gesê: “’n Olifant is amper nes ’n spies!” Die derde een het aan sy slurp geraak en gesê: “Die olifant is amper nes ’n slang!” Die vierde een het sy hand uitgesteek en aan die olifant se knie gevoel en gesê: “Dit is duidelik dat die olifant amper nes ’n boom is!” Die vyfde een het aan die olifant se oor geraak en gesê: “Hierdie wonder van ’n olifant is amper nes ’n waaier!” Die sesde een het sy stert gegryp en gesê: “Ek merk dat die olifant amper nes ’n tou is!” Die ses blinde mans het lank en hard gestry oor waarna ’n olifant lyk, maar nie een het ’n juiste beskrywing gegee nie. Onvolledige gegewens het ’n onvolledige beeld gegee.
’n Soortgelyke probleem ontstaan met betrekking tot die identifisering van die teken van Christus se wederkoms. In antwoord op sy dissipels se vraag: “Wat is die teken van u koms en van die voleinding van die wêreld?” het Jesus geantwoord: “Die een nasie sal teen die ander opstaan en die een koninkryk teen die ander. En daar sal groot aardbewings op verskillende plekke wees en hongersnode en pessiektes” (Mattheüs 24:3; Lukas 21:10, 11). Maar wanneer slegs hierdie dinge as bewys aangevoer word dat Christus in 1914 teruggekeer het, maak mense só beswaar: “Ag, ons het nog altyd oorloë, hongersnode, pessiektes en aardbewings gehad!” En hulle het gelyk.
Vir baie mense is hierdie paar dinge—hoewel dit tot nou toe ongeëwenaarde ellende veroorsaak het—nie genoeg om Christus se wederkoms aan te dui nie; meer is nodig om die teken volledig, onmiskenbaar, te maak. Wanneer voorspellings dat die einde van die wêreld op hande is op grond van karige bewyse gedoen word, op grond van net een of ’n paar aspekte van die teken wat waargeneem word, het dit vals alarms tot gevolg. Al die aspekte van die teken wat Jesus met betrekking tot sy wederkoms gegee het, is nodig, nie net een of ’n paar nie. Die teken wat hy gegee het om sy teenwoordigheid aan te dui, was ’n saamgestelde teken, een wat uit genoeg aspekte bestaan het om die teken duidelik te maak, ’n samestelling van etlike verskillende aspekte wat, as dit in die geheel beskou word, die teken onmiskenbaar maak.
Neem as voorbeeld van ’n saamgestelde teken die een wat in die Bybel gegee word om Jesus by sy eerste koms as die Messias te identifiseer. Dit het talle gebeure behels wat op die Messias betrekking het en in die Hebreeuse Geskrifte voorspel is. Jesus het sy dissipels van party van hierdie tekste vertel, maar hulle het dit nie begryp nie. Die dissipels wou, soos die meeste Jode, ’n Messias hê wat Rome tot ’n val sou bring en met hulle as medeheersers oor die wêreld sou regeer. Toe hy dus gesterf het, was hulle verbysterd en verpletter. Nadat Jesus opgewek is, het hy aan hulle verskyn en gesê: “Dit is die woorde wat Ek met julle gespreek het toe Ek nog by julle was, dat alles wat oor My geskrywe is in die wet van Moses en die profete en die psalms, vervul moet word. Toe open Hy hulle verstand om die Skrifte te verstaan.”—Lukas 24:44, 45.
Volgens die Kingdom Interlinear-vertaling van vers 45 het Jesus dit gedoen deur “die Skrifte byeen te bring” uit die Hebreeuse gedeelte van die Bybel wat die gebeure en omstandighede voorspel het van die lewe van die beloofde Messias wat sou kom, en Jesus het dit met die gebeure van sy lewe vergelyk wat dit vervul het. Die apostel Paulus het later hierdie selfde metode gebruik toe hy “deur middel van verwysings verklaar en bewys het” dat Jesus die Messias was (Handelinge 17:3, NW). Weer eens is dit die Kingdom Interlinear wat die metode verduidelik en sê dat hy dit gedoen het deur die gebeure in Jesus se lewe “duidelik uiteen te sit en dit te vergelyk met” die Messiaanse profesieë in die Hebreeuse Geskrifte waardeur dit vervul is. Die bygaande venster bevat die hoofinhoud van baie van hierdie Hebreeuse profesieë wat deur die gebeure in Jesus se lewe vervul is en wat bewys het dat hy die voorspelde Messias was. Dit lig toe waaruit ’n saamgestelde teken bestaan.
Die saamgestelde teken van Christus se teenwoordigheid
Dit is presies so ’n saamgestelde teken wat die tyd van Jesus se tweede koms, of, om akkurater te wees, sy teenwoordigheid, aandui. Die Griekse woord pa·rou·siʹa wat baie vertalings in Mattheüs 24:3 as “koms” weergee, verwys nie na ’n tyd wanneer hy sal kom of arriveer nie, maar beteken dat hy reeds gekom het, oftewel teenwoordig is. In Jesus se geval beteken dit dat hy onsigbaar teenwoordig is as Jehovah se gekroonde Koning en vanuit die hemel regeer. Dit strook met Jesus se woorde in Johannes 14:19: “Nog ’n klein tydjie, en die wêreld sien My nie meer nie.” Aangesien hy nie fisies sigbaar sou wees nie, het hy ’n teken gegee wat sy wederkoms en onsigbare teenwoordigheid as Jehovah se heersende Koning sou aandui.
Die teken wat hy gegee het, het nie net uit een of ’n paar aspekte bestaan nie. Dit het uit baie aspekte bestaan wat alles saam as ’n saamgestelde teken gesien moes word, net soos dit die geval was met die saamgestelde teken by sy eerste koms as die Messias. Gevolglik openbaar hy nou, deur middel van talle aspekte of gebeure, op onmiskenbare wyse sy onsigbare teenwoordigheid as Jehovah se heersende Koning wat in die hemel gekroon is, maar wat sy mag en invloed ten opsigte van die aangeleenthede op aarde laat geld. Dit kan vals alarms tot gevolg hê wanneer slegs een of twee van hierdie aspekte beklemtoon word, in plaas van die talle aspekte wat die saamgestelde teken uitmaak. Dit is soos die ses blinde mans uit Hindoestan wat almal tot ’n verkeerde gevolgtrekking gekom het omdat hulle aan slegs een gedeelte van die olifant se liggaam gevoel het.
Die vervulling van hierdie saamgestelde teken wat Jesus gegee het, asook ’n paar bykomende aspekte wat deur drie van die apostels gegee is, het sedert 1914 op ’n opmerkenswaardige manier begin. Hier volg ’n opsomming van hierdie verskillende aspekte sowel as die vervulling daarvan.
“Die een nasie sal teen die ander opstaan en die een koninkryk teen die ander” (Mattheüs 24:7). Die Eerste Wêreldoorlog het in 1914 uitgebreek met 28 nasies wat daarby betrokke was, en 14 miljoen mense het gesterf. Dit is gevolg deur die Tweede Wêreldoorlog waarby 59 nasies betrokke was en waarin 50 miljoen mense gesterf het.
‘Pessiektes op verskillende plekke’ (Lukas 21:11). Namate die Eerste Wêreldoorlog ten einde geloop het, het ongeveer 21 miljoen mense aan die Spaanse griep gesterf. Sedertdien het hartkwale, kanker, vigs en ander pessiektes die lewe van honderdmiljoene geëis.
“Daar sal hongersnode wees” (Mattheüs 24:7). Die grootste hongersnood in die ganse geskiedenis het ná die Eerste Wêreldoorlog begin. Nog ’n verskriklike een het ná die Tweede Wêreldoorlog gevolg, en nou word een vyfde van die wêreldbevolking deur wanvoeding geraak. Ongeveer 14 miljoen kinders sterf jaarliks weens wanvoeding.
‘Daar sal groot aardbewings wees’ (Lukas 21:11). Aardbewings ná 1914—beskou ’n paar grotes. In 1915 in Italië, met die verlies van 32- 610 lewens; 1920 in China, 200 000 sterf; 1923 in Japan, 143 000 sterf; 1939 in Turkye, 32 700 sterf; 1970 in Peru, 66 800 sterf; 1976 in China, 240 000 (party sê 800 000) sterf en 1988 in Armenië, 25 000 sterf.
“Die ongeregtigheid vermeerder” (Mattheüs 24:12). Ongeregtigheid vier al sedert 1914 hoogty; vandag neem dit vinnig toe. Moorde, verkragtings, roofaanvalle, bendeoorloë—hulle oorheers die koerantopskrifte en die nuus is vol daarvan. Die politici bedrieg die publiek, tieners dra vuurwapens en vermoor mense en skoolkinders besteel mekaar. In baie gebiede is dit gevaarlik om dit selfs gedurende die dag buite te waag.
“Benoudheid van nasies in hulle radeloosheid . . . mense se harte beswyk van vrees en verwagting van die dinge wat oor die wêreld kom” (Lukas 21:25, 26). Misdaad, geweld, dwelmverslawing, gesinsverbrokkeling, ekonomiese onstabiliteit, werkloosheid—die lys is lank en raak al hoe langer. Een vooraanstaande wetenskaplike het geskryf: “Ons sal in vrees eet, in vrees slaap, in vrees lewe en in vrees sterf.”
‘In die laaste dae sal daar swaar tye kom’ (2 Timotheüs 3:1). Die apostel Paulus het van mense gepraat wat “alle sedelikheidsgevoel verloor” het (Efesiërs 4:19, NW). Hy het egter oor die sedelike ineenstorting uitgewei wat hy vir “die laaste dae” voorspel het. Dit klink soos hedendaagse nuusberigte: “Weet dit, dat daar in die laaste dae swaar tye sal kom. Want die mense sal liefhebbers van hulleself wees, geldgieriges, grootpraters, trotsaards, lasteraars, ongehoorsaam aan hulle ouers, ondankbaar, onheilig, sonder natuurlike liefde, onversoenlik, kwaadsprekers, bandeloos, wreed, sonder liefde vir die goeie, verraaiers, roekeloos, verwaand, meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God; mense wat ’n gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloën het. Keer jou ook van hierdie mense af.”—2 Timotheüs 3:1-5.
‘Daar sal aan die einde van die dae spotters kom’ (2 Petrus 3:3). Koerante, nuusberigte, tydskrifte, boeke en rolprente verontagsaam die Bybel minagtend en vervang dit met hulle eie vrydenkende propaganda en sê, soos Petrus voorspel het: “Waar is die belofte van sy wederkoms? Want vandat die vaders ontslaap het, bly alles soos dit was van die begin van die skepping af.”—2 Petrus 3:4.
‘Mense sal die hande aan julle slaan en julle vervolg’ (Lukas 21:12). Jehovah se Getuies is sedert 1914 deur al die jare heen wreed in hegtenis geneem, valslik skuldig bevind, deur bendes aangeval en by die duisende in Hitler se konsentrasiekampe gegooi waar hulle gemartel en talle doodgemaak is, party op ’n wreedaardige manier deur onthoofding. In ander lande, onder diktatorskappe sowel as demokrasieë, is hulle werk as getuies vir Jehovah en sy Koninkryk verbied en is die Getuies in die tronk gegooi. Dit dien alles ter vervulling van Jesus se woorde oor die laaste dae.—Mattheüs 5:11, 12; 24:9; Lukas 21:12; 1 Petrus 4:12, 13.
“Hierdie evangelie [“goeie nuus”, NW] van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld” (Mattheüs 24:14). Watter goeie nuus? Die goeie nuus van Christus se Koninkryk wat vanuit die hemel regeer, want dit was die vraag wat aan Jesus gestel is wat tot sy profesie oor die saamgestelde teken van daardie gebeurtenis aanleiding gegee het. Jehovah se Getuies verkondig hierdie goeie nuus al sedert 1914. In 1919 het vierduisend dit gedoen, teen 1990 meer as viermiljoen en in 1992 4472 787 in een maand. Bybellektuur is in ongeveer 200 tale in 229 lande versprei. Hierdie aspek van die saamgestelde teken is nog nooit vantevore vervul nie.
“Om die verderwers van die aarde te verderf” (Openbaring 11:18). Hebsugtige mense was nog altyd bereid om die aarde vir selfsugtige gewin te verderf, maar het nog nooit voor hierdie geslag die mag gehad om dit te doen nie. Nou, sedert 1914, het die moderne tegnologie hulle daardie mag gegee, en hulle misbruik dit. Hulle verderf die aarde.
Hier volg ’n paar van die gruwels wat daaruit voortspruit: suurreën, wêreldwye verwarming, gate in die osoonlaag, gevaarlike plaagdoders, toksiese stortplekke, die ophoping van vullis, kernafval, oliestortings, onverwerkte rioolstorting, dooie mere, vernietigde woude, besoedelde grondwater, die bedreiging van spesies en die mens se gesondheid wat benadeel word.
Die wetenskaplike Barry Commoner sê: “Ek glo dat die volgehoue besoedeling van die aarde, indien dit ongehinderd voortgaan, hierdie planeet uiteindelik ongeskik sal maak vir menselewe. . . . Die probleem lê nie opgesluit in wetenskaplike onkunde nie, maar in eiesinnige hebsug.” State of the World 1987 sê: “Die omvang van die mens se bedrywighede begin die bewoonbaarheid van die aarde self bedreig.” ’n Televisiereeks wat in 1990 uitgesaai is, het die betekenisvolle titel “Wedloop om die planeet te red” gehad.
Al hierdie gebeure wat alles saam een teken gedurende een geslag uitmaak, kan beslis nie as blote toeval geïgnoreer word nie. Die omvang daarvan maak dit selfs belangriker. En daar is ’n paar van hierdie gebeure, soos die wêreldwye verkondiging van hierdie boodskap van die goeie nuus asook die verderwing van die aarde, wat nog nooit sedert die begin van die skepping plaasgevind het nie. Die saamgestelde teken van Christus Jesus se teenwoordigheid ruim alle twyfel uit die weg.
“As iemand ore het om te hoor, laat hom hoor.”—Markus 4:23.
[Venster op bladsy 7]
Saamgestelde bewyse van Jesus se eerste koms as die Messias
GEBORE in die stam van Juda (Genesis 49:10); sou gehaat, verraai word deur een van sy apostels; die lot is gewerp oor sy kleed; hy is asyn en gal gegee; is aan die folterpaal bespot; geen bene is gebreek nie; het nie verderwing gesien nie; is opgewek (Psalm 69:5; 41:10; 22:19; 69:22; 22:8, 9; 34:21; 16:10); uit ’n maagd gebore; familie van Dawid; ’n struikelblok; is verwerp; het geswyg teenoor beskuldigers; het krankhede op hom geneem; is onder sondaars gereken; sy offerdood; sy sy is deurboor; by die rykes begrawe (Jesaja 7:14; 11:10; 8:14, 15; 53:3; 53:7; 53:4; 53:12; 53:5; 53:9); is uit Egipte geroep (Hosea 11:1); in Bethlehem gebore (Miga 5:1); as koning aanbeveel; het op ’n esel gery; vir 30 sikkels silwer verraai; volgelinge is verstrooi.—Sagaria 9:9; 11:12; 13:7.
[Venster op bladsy 8]
Saamgestelde teken van Jesus se koninklike teenwoordigheid by sy tweede koms
WÊRELDOORLOG; hongersnode; pessiektes; aardbewings (Mattheüs 24:7; Lukas 21:10, 11; Openbaring 6:1-8); die vermeerdering van ongeregtigheid; mense verraai en haat mekaar; ongehoorsaamheid aan ouers; sonder natuurlike liefde; bandeloos; onversoenlik; geldgieriges; meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God; het ’n gedaante van godsaligheid, maar het die krag daarvan verloën; lasteraars; wreed; vervolg Christus se volgelinge; bring sy volgelinge voor howe en maak hulle dood (Mattheüs 24:9, 10, 12; Lukas 21:12; 2 Timotheüs 3:1-5); is spotters van Jesus se wederkoms; sê alles is soos dit van die begin van die skepping af was (2 Petrus 3:3, 4); verderwers van die aarde se omgewing.—Openbaring 11:18.