Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g93 3/22 bl. 20-23
  • Ek is gehelp toe ek tot God genader het

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ek is gehelp toe ek tot God genader het
  • Ontwaak!—1993
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Ek het geskreeu, en die verkragter het gevlug
  • Materiële dinge nie die antwoord nie
  • My lang, moeilike stryd om ware geloof te vind
    Ontwaak!—1995
  • My brandende begeerte om God te dien
    Ontwaak!—1992
  • Die uitdaging en vreugde om agt kinders in Jehovah se weë groot te maak
    ie Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2006
  • Dankbaar vir Jehovah se onfeilbare ondersteuning
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
Sien nog
Ontwaak!—1993
g93 3/22 bl. 20-23

Ek is gehelp toe ek tot God genader het

EK HET glad nie in godsdiens belanggestel nie. Alle georganiseerde godsdiens het vir my skynheilig gelyk. Ek kon nie sien dat dit veel vir mense gedoen het nie, behalwe dat dit hulle onverdraagsaam teenoor ander maak. Dit was die laat sestigerjare. ’n Amerikaanse president was pas vermoor, en duisende was besig om in ’n oorlog in Viëtnam te sterf. Die wêreld was in wanorde. My eie lewe was besig om in duie te stort. Hoe kon daar ’n God wees wat vir my of die mensdom omgee?

Ek was 27 jaar oud, was getroud en het twee klein kindertjies gehad en het voltyds by ’n sielsieke-inrigting gewerk toe een van my bure met my oor die Bybel begin praat het. Ek het verbasend genoeg geluister. Sy het gepraat oor wat sy die laaste dae genoem het. Sy het anders geklink, en ek wou antwoorde hê. Sy het my ’n boek gegee met die titel Die waarheid wat lei tot die ewige lewe. Ek het dit in een nag deurgelees, al die tekste opgesoek en gewonder: ‘Het ek werklik die waarheid gevind?’

Indien wel, was daar ’n probleem. Ek is in ’n Joodse gesin gebore, het ’n Joodse man en twee klein kindertjies sowel as Joodse familielede gehad. Ek het geweet dat hulle ontsteld sou wees as ek een van Jehovah se Getuies word. Ek wou my familie nie onnodig seermaak nie; ek moes seker wees. Ek het Bybellektuur begin verslind. Binne ’n week was ek daarvan oortuig dat dit die waarheid is. Dit was iets wat ek moes doen. Ek het derhalwe saam met Jehovah se Getuies begin studeer. Binne ’n paar weke het ek vir almal begin preek. Ek was opgewonde om te leer dat God se naam Jehovah is, dat hy vir my en die hele mensdom omgee en dat ewige lewe op ’n paradysaarde moontlik is. Ek is op 12 Junie 1970 gedoop.

Soos ek vermoed het, was my familie sowel as my skoonfamilie baie ontsteld, en party van hulle het my verwerp. My man het jare lank dan en wan gestudeer, maar hy het nooit ’n gelowige geword nie. My kinders het egter Getuies van Jehovah geword. Van die begin af wou ek ’n voltydse bedienaar wees wat die goeie nuus van God se Koninkryk van huis tot huis verkondig. Maar ek het ’n groeiende gesin gehad, asook ’n ongelowige man. Hoewel ek voltyds gewerk het, het ons twee huise verloor en verskeie kere nêrens gehad om heen te gaan nie. Die lewe was baie moeilik.

Eenmaal is die verband op ons huis opgesê. Ons moes op ’n Sondag teen twaalfuur uit daardie huis uit wees, en ons het nêrens gehad om heen te gaan nie. Ek het alles gedoen wat ek kon en het uiteindelik Saterdagoggend, die dag voordat ons moes trek, besluit om te doen wat Jesus in Mattheüs 6:33 gesê het—die Koninkryk eers te soek en te wag dat Jehovah die dinge voorsien wat ek nodig het. Ek het in die openbare bediening uitgegaan. Ek onthou dat ek gehuil het vanweë die spanning wat die situasie veroorsaak het, maar ek het binne vyf minute beter gevoel. Ek het nog altyd gevind dat die predikingswerk ’n baie positiewe uitwerking op my het; dit verhef my bo my probleme, en Jehovah se gees hou my gelukkig en produktief en maak my lewe betekenisvol. In elk geval, toe ek daardie dag by die huis kom, het ons steeds nêrens gehad om heen te gaan nie, maar ek het beter gevoel.

Daardie aand het ons ’n oproep ontvang van die eiendomsagent wat na ons behoeftes omgesien het. Dit was 11:30 nm., en die eiendomsagent was so besorg oor die feit dat ons nêrens gehad het om heen te gaan nie dat hy ’n plek gekry het waar ons tydelik kon woon totdat die huis wat ons moes kry gereed was. My mede-Getuies het ons toe die Sondag gehelp om in daardie huis in te trek. Ons het drie weke uit kartondose geleef en uiteindelik in ons huis ingetrek toe dit gereed was. Dit was nie maklik nie, maar Jehovah het in ons behoeftes voorsien. Dit het my baie versterk en my geloof opgebou. Dit was net soos koning Dawid in Psalm 37:25 gesê het: “Ek was jonk, ook het ek oud geword, maar nooit het ek die regverdige verlate gesien, of dat sy nageslag brood soek nie.”

Ons het probleme gehad met die bestuur van die gesin se fondse. Met tye het ek die bestuur van die geld oorgeneem en alles in orde gebring. Ek het tydens daardie jare wanhopig probeer om die huwelik aan die gang te hou, hoofsaaklik vanweë my liefde vir Jehovah en sy eerbied vir die huweliksreëling, en in my diepste wese het ek gehoop dat my man sou verander en in die waarheid sou kom.

Ek het voortdurend oor die gewone pionierdiens gebid en het by elke geleentheid aan die hulppionierdiens deelgeneem.a Ek het geweet dat die predikingswerk die beste en belangrikste manier was om my lewe te gebruik. Ek het Jehovah liefgehad en wou hom heelhartig dien. Ek het mense ook lief en wou hulle help. Ek het al uit my eie moeilike lewe agtergekom hoe voordelig Bybelbeginsels is en het geweet dat mense die hoop nodig het wat die Koninkryk verskaf. Maar ek was bang dat my gesin nie aan die lewe sou bly as ek nie gewerk het nie. Ons het reeds beswaarlik aan die lewe gebly.

Ek het geskreeu, en die verkragter het gevlug

Toe het iets in my lewe gebeur wat my die geloof gegee het dat Jehovah altyd vir my sal sorg en na my sal omsien. Iemand het by my huis ingebreek en my probeer verkrag. Hy het my aangeval terwyl ek geslaap het, en toe ek wakker word, het hy gedreig dat hy my sal doodmaak as ek skreeu of beweeg. Hoewel ek vreesbevange was, het Jehovah my gehelp om kalm te bly sodat ek daaraan kon dink om te bid en elke keuse in ag kon neem. Ek het geweet die Bybel sê ek moet skreeu, maar ek het ook gedink dat hy my seker sou doodmaak as ek geskreeu het, en dan sou my kinders wakker word, en hy sou hulle doodmaak. Ek het my naam op die sterflys gesien en het gebid dat Jehovah my kinders beskerm as ek sou doodgaan. Nietemin het ek gedoen wat die Bybel sê—ek het geskreeu (Deuteronomium 22:26, 27). Die verkragter het gevlug. Ek het werklik gedink dat ek daardie aand sou sterf. Ek het nog nader aan Jehovah gekom.

In 1975 het ek opgehou werk en as ’n gewone pionier begin dien. Ek het ses jaar lank aan die pionierdiens deelgeneem, en my man het die rekeninge betaal. Ongelukkig het ek op ’n jong leeftyd suikersiekte gekry en was ek op ’n stadium baie siek. Om dit die hoof te bied, het ek aangehou om nog meer op Jehovah te vertrou. Ten spyte van my omstandighede was dit die gelukkigste en produktiefste jare wat ek nog tot op daardie stadium geniet het. Jehovah het my geseën met baie Bybelstudente wat tot doop gevorder het. Party het self ook pioniers geword.

Toe, in 1980, het ons lewe in duie gestort. Ek en my man het van mekaar vervreemd geraak. My kinders was baie verward, en om hulle onthalwe het ek probeer om die huwelik te red, maar my man het nie op my pogings gereageer nie. Op daardie stadium het ek geweet dat die tyd aangebreek het om ’n skriftuurlike egskeiding te kry. Die feit dat hy weggegaan het, het ’n verwoestende uitwerking op my kinders gehad.

Ek het op daardie tydstip wanhopig probeer om in die pionierdiens te bly, en ek het omtrent ’n jaar daarmee aangehou. Maar my dogter, wat die situasie nie kon hanteer nie, het teen alles begin rebelleer, onder andere teen my en die waarheid. Vanweë haar optrede het ek gedurende hierdie tyd die pionierdiens verlaat. Dit het my verpletter; my bron van aanmoediging is my ontneem. Ek het baie alleen gevoel, asof alles behalwe Jehovah weg was.

Dit was omstreeks dié tyd dat Jehovah twee dierbare broers voorsien het wat my meer gehelp het as wat hulle ooit sal besef. Die een was ’n kringopsiener, en die ander was ’n ouere man in ’n ander gemeente wat ons omstandighede geken het, aangesien hy met my man gestudeer het. Ek kan Jehovah nooit genoeg bedank vir hierdie gawes in mense nie. Hulle sal altyd vir my baie dierbaar wees.

Nie lank daarna nie is my dogter op ’n baie jong leeftyd getroud met iemand wat nie in die waarheid was nie. Dit het die gesin verpletter en ons wanhopig gelaat. Kort daarna het my seun op sy eie gaan bly. Ek het voortdurend gebid dat Jehovah my gesin sou help om in die waarheid behoue te bly. Hulle was vir my so kosbaar, en al wat ek bitter graag wou hê, was dat hulle by Jehovah moes bly. Dit was altyd my gebed tydens my lewe in die waarheid. Daardie tyd was vir my erger as die hele 20 jaar van my huwelik—en daardie jare was erg. Maar ek het geweet dat Jehovah ons op die een of ander manier sou help om daardeur te kom en dat ek sy wil moes doen, wat dit ook al van my geverg het.

Ek onthou een voorval baie goed. Ek het toe nog aan die pionierdiens deelgeneem, en ons het niks geld gehad nie, maar het omtrent R200 nodig gehad om deur die week te kom en om reisgeld te hê vir die volgende week se werk. Ek het pas twee dae tydelik gewerk. Gewoonlik moes ek omtrent ’n week wag vir die geld wat ek verdien het—ongeveer R114. Ek het niks geld vir kos gehad nie, wat nog te sê van reisgeld. Die volgende aand het ek ’n Bybelstudie gehou by ’n vrou wat vir my kaartjies vir die moltrein gegee het.

Die volgende oggend was Vrydag. Ek het die pos gaan uithaal, en daar was twee briewe. Die een was die tjek wat ek die daaropvolgende week verwag het. Dit is binne drie dae stad toe en terug. Ek was verbaas. Ek het nog R86 of R87 nodig gehad om uit te kom. In die tweede koevert was ’n tjek vir R86, net wat ek nodig gehad het. Wat dit so merkwaardig maak, is dat die regering my in Februarie van daardie jaar ’n toelae vir olie gegee het om my huis te verhit. Dit was nou Augustus, en hulle het besluit dat hulle my R86 skuld—in Augustus, vir verhitting? Waarom sou hulle dink dat hulle my enigiets skuld, en boonop nog olie in Augustus? Wat ’n geloofversterkende uitwerking het dit tog op my gehad!

Materiële dinge nie die antwoord nie

Ek het voltyds begin werk en geleer hoe om met rekenaars te werk. Die jare wat ek nie aan die pionierdiens deelgeneem het nie, was baie moeilik. Al het ek ’n baie goeie betrekking en ’n mate van finansiële sekuriteit en materiële dinge gehad, was ek nie gelukkig nie. My kinders was op hulle eie en het ontsettend moeilike probleme gehad. My dogter was besig om in die waarheid terug te kom, maar sy het steeds probleme gehad. My seun het ook probleme gehad. Na ’n ruk het ek gevoel dat ek daardie baie hegte verhouding met Jehovah wat ek so koester, verloor. Ek het besef dat ek van Jehovah wegdryf, al kon niemand anders dit sien nie. Ek het al die vergaderinge bygewoon, gestudeer, in die bediening uitgegaan, maar dit was nie genoeg nie. Ek het probeer om meer met die broers om te gaan, maar dit het ook nie gehelp nie.

Ek het myself begin bejammer. Ek het tot myself ingekeer begin raak en oor myself begin dink. Het ek nie verdien om meer te hê nie? Dit was ongetwyfeld net wat Satan wou hê. Vir die eerste keer het ek tot my werksmaats aangetrokke begin voel. Ek het gedink: ‘Wel, ek sal vir hulle getuig.’ En ek het ook. Maar diep binne-in my het ek besef dat my hart dinge begin oorsien wat dit nie moet nie. Dit was nie eksterne probleme nie. Dit was net ek self. Ek kon nie van my Bybelopgeleide gewete af wegkom nie. Ek het tot Jehovah gebid.

Ek het voltyds gewerk. Ek moes die materiële sekuriteit wat ek opgebou het, laat vaar. Elke dag het ek drie ure heen en weer van Long Island na Wall Street gereis. Te veel tyd! Dit het ook nie gehelp om met die baie wêreldse mense op die treine om te gaan nie. Ek het met die ouere manne begin praat en oor naweke na byeenkomste begin gaan wat my gehelp het om dinge weer in perspektief te sien. Vir die eerste keer in my lewe was dit nie nodig om oor materiële dinge besorgd te wees nie; waarom wou ek dan nou weer sukkel? Ná ’n jaar se gebed, en nadat ek sorgvuldig oorweeg het of ek ’n verandering moes maak, het ek wel.

Ek het na die Brooklyn Heights-gebied verhuis. Ek het die gemeente al voorheen besoek en het geweet dat die geestelikheid daar net die regte ding vir my was. Soveel getroue Getuies wat so baie jare al voltyds dien—dit het gevoel of ek huis toe kom. Binne ses maande was ek gereed om my loopbaan op te gee en die pionierdiens te betree. Ek het ’n deeltydse pos aanvaar en in 1984 is ek weer as ’n gewone pionier aangestel.

Oor die jare heen het Jehovah my op wonderlike maniere geseën en my talle waardevolle lesse geleer. Ek het nog altyd probeer om positief te bly en die les in elke toets te vind. Dit is nie ’n sonde om probleme te hê nie; dit is ’n sonde as jy nie Bybelbeginsels gebruik om hulle op te los nie. Hier in Brooklyn het ek nie dieselfde probleme wat ek gehad het toe ek eers in die waarheid gekom het nie. Finansies is nie meer ’n probleem nie. ’n Ongelowige man is nie meer ’n probleem nie. My hartstoestand is herstel. Ek is met talle geestelike kinders geseën.

Maar daar is altyd nuwe probleme en uitdagings. In 1987 het my seun, Marc, ’n senu-ineenstorting gehad en aan ernstige depressie gely, maar Jehovah het ons gehelp om daardeur te kom. Marc strewe nou na groter voorregte, en hy doen besonder goed in die gemeente. My dogter, Andrea, het weer in die waarheid teruggekom en is gedoop, en sy maak haar kinders in die waarheid groot. Aangesien ons die groot verdrukking vinnig nader, verwag ek dat die probleme sal aanhou en dalk selfs groter sal word, maar Jehovah sal altyd daar wees om ons te help deur watter struikelblokke of uitdagings ook al opduik.

Jehovah het my waarlik gehelp om ’n baie gelukkige en produktiewe lewe te hê. Ek sien daarna uit om die res daarvan na aan hom deur te bring terwyl ek sy wil doen.—Soos vertel deur Marlene Pavlow.

[Voetnoot]

a “Pionierdiens” is ’n woord wat voltydse predikingswerk beskryf.

[Prent op bladsy 23]

Marlene Pavlow, voltydse prediker van die goeie nuus van die Koninkryk

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel