Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g93 6/8 bl. 26-27
  • Bydraes vir liefdadigheid—’n Christelike verpligting?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Bydraes vir liefdadigheid—’n Christelike verpligting?
  • Ontwaak!—1993
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Bydraes—ja en nee
  • ’n Gebalanseerde beskouing
  • Wat word van liefdadigheid?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
  • Gawes wat God behaag
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
  • Die tyd om behoeftiges te help?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2012
  • ’n Gebalanseerde beskouing van geld
    Ontwaak!—2015
Sien nog
Ontwaak!—1993
g93 6/8 bl. 26-27

Die Bybesle beskouing

Bydraes vir liefdadigheid—’n Christelike verpligting?

MINDER as tien jaar gelede het die PTL-klub (“prys die Heer”-klub), waarvan die hoofkwartier in die suidooste van die Verenigde State was, as ’n godsdiensliefdadigheidsorganisasie om bydraes gevra. Hulle het met behulp van ’n satelliettelevisienetwerk en die posdiens honderdmiljoene rande ingesamel wat ingestroom het om hulle geldkoffers te vul—oënskynlik om die evangelie te verkondig.

Stel jou voor hoe die duisende wat geld aan die PTL-klub gestuur het, gevoel het toe hulle nuusberigte lees soos die een van die Associated Press wat gesê het dat Jim Bakker, die eertydse hoof van die PTL, saam met sy vrou, Tammy, “glo in 1986 salarisse en bonusse van [R4,7 miljoen] ontvang het”. Die berig het iets ergers bygevoeg: “Daardie betalings is gemaak al skuld die fonds ten minste [R145 miljoen] . . . Ongeveer [R780 000] van die PTL se geld is vir [Jessica] Hahn opsygesit om te verseker dat sy stilbly oor haar [seksuele] verhouding met [Jim] Bakker.”

Voordat die regter by Jim Bakker se verhoor hom weens bedrog teenoor sy volgelinge tot tronkstraf gevonnis het, het die regter gesê: “Dié van ons wat wel godsdienstig is, is moeg daarvan om deur geldgierige predikers en priesters uitgebuit te word.”

Dit is nie net godsdienste wat geesdriftig op bydraers se gevoelens speel en dan die meeste van die geld in hulle sak steek nie. Dit is niks ongewoons vir party fondsinsamelaars om meer as 90 persent van die donasies te hou wat hulle ontvang nie.

Is dit dan ’n wonder dat mense keelvol raak vir sulke liefdadigheidsorganisasies? Maar wat moet Christene doen? Is hulle verplig om tot liefdadigheidsorganisasies by te dra? Watter riglyne gee die Bybel om te verseker dat ’n mens jou fondse verstandig gebruik wanneer jy ander help? Wat is die beste en praktiesste manier om ander te help?

Bydraes—ja en nee

Die Bybel raai ons ongetwyfeld aan om goedhartig en vrygewig teenoor behoeftiges te wees. God se volk word al sedert vroeë tye aangemoedig om “vrygewig, mededeelsaam”, te wees (1 Timotheüs 6:18; Deuteronomium 15:7, 10, 11). Trouens, in 1 Johannes 3:17 word daar vir Christene gesê: “Wie die goed van die wêreld het en sy broeder sien gebrek ly en sy hart vir hom toesluit, hoe bly die liefde van God in hom?”

Dra gerus by; maar wees versigtig! Ons word gereeld deur liefdadigheidsorganisasies, godsdienste en jaarlikse gemeenskapsdienskampanjes lastig geval; die meeste van hulle rig dringende pleidooie. Maar wanneer jy die pleidooie beoordeel, is dit goed om hierdie Bybelspreuk in gedagte te hou: “Die eenvoudige glo elke woord, maar die skrandere let op sy voetstappe” (Spreuke 14:15). Jy moet met ander woorde versigtig wees om nie die bewerings of beloftes van liefdadigheidsorganisasies vir soetkoek op te eet nie. Hoe word die ingesamelde geld werklik gebruik? Behoort ’n Christen die organisasies te ondersteun waarvoor daar ingesamel word? Is hulle bedrywighede polities, nasionalisties of by valse godsdiens betrokke? Is die uitgesproke doel prakties en nie in stryd met skriftuurlike beginsels nie?

Party liefdadigheidsorganisasies kan behoeftiges baie help. Christene self het al dikwels by sulke liefdadigheidsorganisasies baat gevind wanneer hulle deur natuurrampe of ’n dodelike siekte geraak is. Maar ander liefdadigheidsorganisasies se administrasie- of fondsinsamelingskoste is hoog, met die gevolg dat slegs ’n klein hoeveelheid van die ingesamelde geld werklik vir die geadverteerde doel gebruik word. ’n Onlangse opname onder 117 van die Verenigde State se grootste organisasies sonder winsmotief, waaronder liefdadigheidsorganisasies, het byvoorbeeld bevind dat meer as ’n kwart van hulle hulle topbestuurders ’n jaarlikse salaris van R590 000 of meer betaal. Ouditte toon dikwels dat geld aan weeldeartikels en die onderhouding van ’n weelderige lewenstyl bestee word. Watter liefdadigheidsorganisasie dit ook al is, dit is baie onwaarskynlik dat ’n mens die Bybel se bevel om die behoeftiges te help, sal uitvoer as jy tot sulke programme bydra.

’n Gebalanseerde beskouing

Hoewel niemand geld wil mors nie—of erger nog, wil sien dat dit selfsugtige mense verryk nie—moet ’n mens ook daarteen waak om sinies te raak wat bydraes betref. ’n Mens moenie die ondoeltreffendheid of selfs die oneerlikheid van party “liefdadigheidsorganisasies” as ’n verskoning gebruik om op behoeftiges neer te sien of gevoelens van medelye te onderdruk nie. Spreuke 3:27, 28 gee hierdie raad: “Hou ’n weldaad nie terug van hom aan wie dit toekom as dit in jou mag is om dit te doen nie. Sê nie vir jou naaste nie: Gaan en kom terug, dan sal ek môre gee—terwyl jy dit het.” (Vergelyk 1 Johannes 3:18.) ’n Mens moenie aanneem dat alle liefdadigheidsorganisasies óf spandabel óf oneerlik is nie. Jy moet die feite ondersoek en dan self besluit of jy gaan bydra of nie.

Talle help eerder deur persoonlike, regstreekse geskenke aan behoeftige persone en gesinne te gee. Sodoende is die gewers seker dat hulle bydraes prakties is en onmiddellik gebruik kan word. Dit gee ’n mens ook die geleentheid om opbouend te wees en in woorde sowel as dade goedhartigheid te betoon. Selfs al het jy, wat materiële dinge betref, nie veel om te gee nie, kan jy steeds die vreugde daarvan smaak om te gee. Wanneer jy weer van ’n werklike behoefte aan sulke hulp hoor, moet jy in die gees van 2 Korinthiërs 8:12 gee wat jy kan: “As die bereidwilligheid daar is, is dit welgevallig volgens wat iemand besit, nie volgens wat hy nie besit nie.”

Onthou ook dat iets anders as geld soms die beste hulp is. Jesus het sy volgelinge beveel: “Gaan preek en sê: Die koninkryk van die hemele het naby gekom . . . Julle het dit verniet ontvang, verniet moet julle dit gee” (Mattheüs 10:7, 8). Net so besef Christene vandag dat die tyd, energie en geld wat bestee word aan die ondersteuning van die Koninkrykspredikingswerk—wat mense se lewe verbeter en hulle hoop gee—die allerbeste liefdadigheidsbydrae is.

Die Bybel se beskouing is dus om goedhartig, vrygewig en prakties te wees. Dit herinner ons dat daar dikwels ’n behoefte aan materiële hulp bestaan, en die behoefte moenie verontagsaam word nie. Terselfdertyd moet ’n mens nie verplig voel om aan alles en almal te gee wat jou om geld vra nie. Dink hoe jy die geld wat jy het ten beste kan benut om God te behaag en om jou gesin en jou medemens op die heel praktiesste manier te help (1 Timotheüs 5:8; Jakobus 2:15, 16). ’n Mens moet Jesus navolg en let op ander se behoeftes—geestelik en materieel—en dit probeer bevredig. Jy moet doen wat Hebreërs 13:16 sê: “Vergeet die weldadigheid en mededeelsaamheid nie, want God het ’n welbehae aan sulke offers.”

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel