Joshua se wens
OP 6 MAART 1992 het die Wood-gesin uitgevind dat die jongste lid van hulle gesin, die sewejarige Joshua, aan ’n akute soort leukemie, ’n lewensgevaarlike siekte, ly. Joshua se oudste broer van 16 en sy suster van 19 is, soos sy pa, voltydse bedienaars (pioniers) van Jehovah se Getuies. Joshua se ander broer is tien.
Daar is onmiddellik met intensiewe chemoterapie begin om Joshua se siekte te behandel. Een newe-effek was aptytverlies en dit was dus ’n voortdurende stryd om Joshua te laat eet. In Julie het die hele gesin besluit om die streekbyeenkoms van Jehovah se Getuies in Lafayette, Louisiana, VSA, wat nie ver van hulle huis in Winnfield is nie, saam by te woon. Joshua se toestand het versleg terwyl hy daar was en hy is Saterdagoggend na ’n hospitaal se ongevalle-afdeling geneem. Ná die byeenkoms het sy ouers hom na die hospitaal in New Orleans geneem waar hy gereeld behandeling ontvang.
Terwyl die gesin in New Orleans was, het ’n maatskaplike werker Joshua se ma, April, van ’n program vertel wat die wense vervul van kinders wat ernstig siek is. ’n Aansoekvorm vir die program is by April gelaat en sy en haar man, Paul, het dit ingevul. Toe Joshua aan die einde van Augustus vir sy gereelde, maandelikse ondersoek na New Orleans teruggeneem is, het Jim, ’n verteenwoordiger van die program, ingeloer om met Joshua oor sy wens te gesels.
“Ek wil New York toe gaan”, het Joshua gesê.
Aangesien kinders dikwels na die een of ander soort pretpark toe wil gaan, het Jim gewonder waarom Joshua New York toe wou gaan. “Ek wil die Wagtoringgenootskap sien”, het Joshua geantwoord.
“Wat is dit?” het Jim gevra.
“Dis mos waar hulle die tydskrifte, Bybels, boeke en traktate maak.”
April het verder aan Jim verduidelik wat die hoofkwartier van Jehovah se Getuies is en watter drukwerk daar gedoen word. “My boetie kuier op die oomblik daar”, het Joshua gesê, “en ek wil graag saam met my hele gesin gaan.”
Toe Jim hoor dat daar ses in die gesin is, het hy vir Joshua gevra of hy nie liewer na Disney World in Florida wou gaan nie. Joshua was egter seker dat hy New York toe wou gaan. Jim het verduidelik dat hy nie geweet het of daar aan die versoek voldoen kan word nie, maar dat hy daaroor navraag sou doen. Jim het vir Joshua gevra wat sy tweede keuse is.
“’n IBM-rekenaar”, het Joshua geantwoord.
“Waarom IBM?” wou Jim weet.
Joshua het gesê dat hy die Bybel dan op disket van die Wagtoringgenootskap af kon kry. (Joshua het geweet dat die Bybeldisket vir IBM-aanpasbare rekenaars is.) Jim het toe weer gevra: “Is jy seker jy wil nie Disney World toe gaan nie?”
“Ek is seker”, het Joshua gesê.
’n Paar dae later het Jim teruggekom en vir Joshua gesê dat sy wens om saam met sy gesin New York toe te gaan, toegestaan is. “Josh is die soort kind wat baie kalm bly oor dinge waaroor die meeste mense opgewonde raak”, het sy ma verduidelik, “maar ek was in die wolke!”
Op 30 September het die Wood-gesin van New Orleans na New York-stad gevlieg. Nie een van hulle het die Wagtoringfasiliteite al voorheen besoek nie, behalwe Buddy, die oudste seun, wat slegs ’n paar weke vantevore daar was. Hulle al ses het in die Ramada Inn-motel in Manhattan, New York, tuisgegaan en is met ’n limousine na die Getuies se versendings-, drukkery-, kantoor- en woonkomplekse oorkant die Eastrivier in Brooklyn geneem.
Gedurende die twee dae wat die gesin daar was, is hulle op begeleide toere deur die hoofkwartierfasiliteite geneem. Die een dag het hulle die kantoorgeboue en die vyfgeboufabriekskompleks besoek. Die volgende dag het hulle die gebou van 90 000 vierkante meter waarin die versending, bandduplisering en ander bedrywighede plaasvind en ook ’n paar van die 21 woongeboue besoek waar die meer as drieduisend vrywilligers gehuisves word. Tydens die gesin se verblyf is spesiale reëlings getref sodat hulle drie maaltye saam met die hoofkwartierpersoneel in een van die tien eetsale kon geniet.
Op 3 Oktober het die gesin ’n motor gehuur en sowat 160 kilometer noordwaarts gery om Watchtower Farms te besoek. Hulle is daar op ’n begeleide toer deur die groot drukkerykompleks geneem en het ook gesien waar baie van die voedsel vir die hoofkwartierpersoneel gekweek word. Die middag het die gesin besoek afgelê by die Wagtoringopleidingsentrum naby Patterson, New York, ongeveer ’n uur se ry van Watchtower Farms af en toe ná sononder na New York teruggekeer.
Die volgende dag is hulle met ’n limousine na New York se Kennedy-lughawe toe geneem vir hulle vlug terug New Orleans toe. Joshua se wens om te sien “waar hulle die tydskrifte, Bybels, boeke en traktate maak”, is vervul. Die Wood-gesin is innig dankbaar teenoor die wensprogram vir hulle gratis, geestelik opbouende reis.
’n Paar weke later, terwyl Joshua in die middel van November vir sy maandelikse behandeling in die hospitaal in New Orleans was, is hy genooi om die gewilde country-en-western-sanger Garth Brooks se gas te wees by een van sy opvoerings in Monroe, Louisiana. Later, toe mnr. Brooks Joshua en sy pa genooi het om hom agter die verhoog te ontmoet, het Joshua hom ’n eksemplaar van die Bybelstudiehulp Jy kan vir ewig in die Paradys op aarde lewe gegee. Toe Joshua mnr. Brooks vra hoe dit met sy kind gaan (hy het ’n dogtertjie), was dit duidelik dat Joshua se belangstelling hom ontroer het.
Dit is beslis bemoedigend wanneer ’n kind oor die belange van ander besorg is, veral as sy voorkeure ’n belangstelling in geestelike dinge weerspieël! Sou jy, as jou wens vervul kon word, iets kies waarby jy en ander geestelik sal baat vind?
[Prente op bladsy 16, 17]
Joshua en sy gesin het hier besoek afgelê
Regs: Wagtoringopleidingsentrum
Onder: Wagtoringkantoorkompleks
Links: Furmangebou 360, waar die Versendingsafdeling is
Onder: Kantoorkompleks
Links: Watchtower Farms en drukkerykompleks