Moet my gesin geïmmuniseer word?
“DIS tyd vir julle baba se inenting”, sê die dokter. Vir ’n klein kindjie klink hierdie woorde dalk onheilspellend, maar die ouers glimlag gewoonlik gerusstellend en knik instemmend.
Onlangs het daar egter vrae ontstaan oor die algemeen aanvaarde gebruik om kinders sowel as volwassenes te immuniseer. Watter inspuitings is werklik nodig? Wat van die newe-effekte? Word bloed enigsins in die vervaardiging van ’n entstof gebruik?
Dit is vrae wat ’n besorgde Christengesin in gedagte moet hou. Die antwoorde kan regstreeks met jou kinders se gesondheid en toekoms, sowel as met jou eie, verband hou.
Die agtergrond
In die vyftigerjare is ’n doeltreffende entstof bekend gestel wat die vrees vir polio in die meeste lande feitlik beëindig het. Teen 1980 is daar gesê dat die pokkeplaag as gevolg van doeltreffende inentingsprogramme wêreldwyd met wortel en tak uitgeroei is. Dit wou voorkom asof dit die woorde van Benjamin Franklin bevestig het: “’n Bietjie voorsorg is beter as baie nasorg.”
Immuniseringsprogramme is vandag oor die algemeen doeltreffend in die bekamping van baie siektes—klem-in-die-kaak, polio, witseerkeel en pertussis (kinkhoes), om maar net ’n paar te noem. Daar is al boonop bewys dat wanneer die immunisering om die een of ander rede nie meer so getrou toegepas is nie die siekte teruggekeer het. Dit is wat in die een land met kinkhoes gebeur het.
Wat doen hierdie immuniseringsmiddels? Dit versterk basies op een van twee maniere die liggaam se weerstand teen die indringing van besmetlike agentia wat patogene genoem word, waaronder kieme en virusse. Die eerste manier word aktiewe immunisering genoem. In hierdie geval bevat die inspuiting ’n verswakte of dooie patogeen (of sy gif) wat op so ’n manier verander is dat dit nie vir die liggaam gevaarlik is nie. Die liggaam se eie weerstandsmeganismes begin moordmolekules vorm wat teenliggaampies genoem word en teen die werklike siekteagens kan veg indien dit sou ontwikkel. As die immuniseringsinspuiting ’n uittreksel van die patogeen se gif (toksien) bevat, word dit ’n toksoïed genoem. As dit van lewende, verswakte (geattenueerde) patogene of van dooie organismes gemaak is, word dit ’n entstof genoem.
Soos jy jou kan voorstel, verskaf hierdie entstowwe nie dadelik immuniteit nie. Dit duur ’n ruk voordat die liggaam beskermende teenliggaampies opbou. Hierdie aktiewe immunisering sluit al die baba-inspuitings in sowel as die inspuitings wat oor die algemeen as entstowwe beskou word. Met een uitsondering (wat later bespreek word) word bloed in geen stadium van vervaardiging gebruik nie.
Die ander metode word passiewe immunisering genoem. Dit word gewoonlik gebruik in gevalle waar iemand aan ’n ernstige siekte, soos hondsdolheid, blootgestel is. In daardie geval het die liggaam nie tyd om sy eie immuniteit op te bou nie. Iemand anders se teenliggaampies, wat reeds vervaardig is, kan dus toegedien word om in die liggaam van die persoon wat blootgestel is teen die patogene te veg. Inspuitings wat gemaak word van uittreksels van die bloed van mense of diere wat immuun is, word ook gammaglobulien, antitoksien en hiperimmuunserum genoem. Hierdie ontleende, of passiewe, immuniseringsmiddels moet die liggaam dadelik, maar net tydelik, help om teen die indringer te veg. Die ontleende teenliggaampies word spoedig as vreemde proteïene deur die liggaam uitgeskei.
Moet my kind ingeënt word?
Met hierdie agtergrond in gedagte wonder baie dalk steeds: ‘Watter immuniseringsmiddels moet my kind kry?’ In die meeste wêrelddele waar inentingstowwe vir kinders maklik verkrygbaar is, het roetine-immunisering ’n dramatiese afname in die omvang van die betrokke kindersiektes tot gevolg gehad.
Die Amerikaanse Akademie vir Kindergeneeskunde, tesame met soortgelyke instansies oor die hele wêreld, beveel al etlike jare lank roetine-immunisering vir die volgende siektes aan: witseerkeel, pertussis en klem-in-die-kaak. Die drie word gewoonlik gekombineer en as een inspuiting—DPT—toegedien, met drie DPT-onderskragingsinspuitings (as versterking) wat met tussenposes van minstens twee maande gegee word. Daarbenewens word immunisering teen masels, pampoentjies en rubella (Duitse masels) as een inspuiting—MMR—vir kinders bo die ouderdom van een jaar gegee. Vier dosisse polioslukstof (OPV) word eweneens volgens ’n soortgelyke program as dié van DPT toegedien.a
Op baie plekke is hierdie reeks immuniseringsinspuitings verpligtend, hoewel die aantal verpligte onderskragingsinspuitings wat nodig is, kan verskil. Onlangs is bykomende onderskragingsinspuitings teen masels onder sekere omstandighede aanbeveel omdat masels op verskeie plekke uitgebreek het. Jy sal dalk ’n dokter in jou gebied vir besonderhede moet raadpleeg.
Daarbenewens is daar ’n longontstekingentstof (Pneumovax). Dit lyk asof dit lewenslange immuniteit aan kinders en volwassenes verskaf wat om die een of ander rede vir sekere soorte longontsteking vatbaar is.
Nog ’n entstof vir kinders word Hib-entstof genoem. Dit word toegedien as beskerming teen ’n patogeen wat tydens die kinderjare algemeen voorkom, naamlik Hemofilusinfluensa. Hierdie kiem veroorsaak verskeie siektes onder babas, waarvan die vernaamste ’n ernstige vorm van breinvliesontsteking is. Die entstof is oor die algemeen veilig, en dit word al hoe meer as deel van die reeks baba-inspuitings aanbeveel.
Terloops, daar is tot nog toe geen roetine-immunisering teen waterpokkies nie. En ’n entstof teen pokke is nie meer beskikbaar nie omdat, soos vroeër gemeld is, ’n wêreldwye inentingsprogram hierdie dodelike siekte uitgewis het.
Wat van newe-effekte?
Wat van die newe-effekte van immunisering? Buiten die kind se gewone skielike gehuil en kortstondige trane is die newe-effekte van die meeste inspuitings beperk en tydelik—koors vir hoogstens ’n dag of wat. Nogtans is baie ouers besorg oor die risiko’s wat hierdie inspuitings inhou. In een mediese studie is ’n opname gedoen van ouers se besorgdheid oor hulle kinders se gesondheid en is daar bevind dat 57 persent van die ouers wat ondervra is bekommerd was oor die reaksie wat die immunisering op hulle kinders het.
Inligting het onlangs verskyn waarin groot kommer uitgespreek is oor ’n bestanddeel van DPT, naamlik die pertussis-, of kinkhoesdeel. Die sukses wat met hierdie entstof behaal is, het ’n merkwaardige afname in die voorkomssyfer van ’n voorheen gevreesde siekte tot gevolg gehad—van 200 000 gevalle per jaar in een land alleen voordat die entstof gebruik is tot 2000 per jaar nadat die entstof op groot skaal begin gebruik is. Nietemin het ernstige newe-effekte—stuipe en selfs moontlike breinskade—voorgekom in ongeveer 1 uit elke 100 000 dosisse wat toegedien is.
Hoewel hierdie reaksie uiters seldsaam is, wek dit kommer by baie ouers wat vind dat hulle geen ander keuse het as om toe te laat dat hulle kind die inspuiting kry sodat hy skool toe mag gaan nie. Aangesien die siekte pertussis, hoewel dit seldsaam is, so vernietigend is wanneer dit ’n gemeenskap tref, het deskundiges tot die slotsom gekom dat dit vir die gewone kind “veiliger is om die entstof te kry as die siekte”. Hierdie deskundiges beveel aan dat die immuniseringsmiddel toegedien word tensy “’n vorige dosis stuiptrekkings, breinontsteking, fokale neurologiese tekens of ’n ineenstorting tot gevolg gehad het. Babas ‘wat uitermatig baie slaap, uitermatig baie skreeu (wat 3 uur of langer onophoudelik huil of skreeu) of ’n koors van meer as 105° F (40,5° C) het’, moet ook nie bykomende inentingsdosisse kry nie.”b
In baie lande is ’n asellulêre entstof die ware oplossing vir die probleem, soos die een wat tans in Japan met uiters hoopvolle vooruitsigte toegedien word. Hierdie nuwe en klaarblyklik veiliger entstof word nou ook in ander lande beskikbaar gestel.
Daar is al keer op keer bevind dat ander roetine-inspuitings vir babas doeltreffend en betreklik veilig is.
Wat van immunisering vir volwassenes?
Wanneer ’n persoon eers volwasse is, is daar net ’n paar aktiewe immuniseringsinspuitings wat hy in gedagte moet hou. Die ideaal is dat alle volwassenes reeds immuun moet wees teen masels, pampoentjies en rubella omdat hulle tydens hulle kinderjare daaraan blootgestel of daarteen geïmmuniseer is. Indien sulke immuniteit betwyfel word, sal ’n dokter moontlik ’n MMR-inspuiting vir ’n volwassene aanbeveel.
’n Tetanustoksoïedinspuiting ongeveer elke tien jaar is ’n goeie idee omdat dit klem-in-die-kaak voorkom. Ouer persone en diegene wat aan ’n chroniese siekte ly, kan hulle dokter oor jaarlikse griepimmunisering raadpleeg. Diegene wat na sekere wêrelddele reis, moet dit oorweeg om teen dinge soos geelkoors, cholera, miltsiekte, buiktifus of ’n pes geïmmuniseer te word as hulle na plekke toe gaan waar sulke siektes endemies is.
Een ander aktiewe immuniseringsmiddel verdien aandag omdat dit die enigste aktiewe immuniseringsmiddel is wat van bloed gemaak word. Dit is ’n hepatitis B-entstof wat Heptavax-B genoem word. Hierdie immuniseringsmiddel is bedoel vir party mense, soos gesondheidswerkers, wat dalk toevallig blootgestel word aan bloedprodukte van pasiënte wat met hepatitis B besmet is. Hoewel dit as ’n groot deurbraak verwelkom is, het die entstof by baie kommer gewek as gevolg van die manier waarop dit vervaardig word.
Die bloed van uitgekose draers van die hepatitis B-virus word basies saamgevoeg en behandel om enige virusse dood te maak, en ’n sekere hepatitis B-antigeen word daaruit verkry. Hierdie gesuiwerde, geïnaktiveerde antigeen kan as ’n entstof toegedien word. Baie mense weier egter om die entstof te kry uit vrees vir die risiko daaraan verbonde om bloedprodukte in te neem van besmette mense, soos dié wat seksueel promisku is. Party Christene het boonop op grond van hulle gewete beswaar gemaak teen die entstof omdat dit uit iemand anders se bloed verkry word.c
Sulke besware teen die hepatitisentstof is heeltemal uit die weg geruim toe ’n ander, maar ewe sterk, hepatitis B-entstof vrygestel is. Hierdie een word met behulp van genetiese tegnologie gemaak waar die entstof in gis-selle vervaardig word en geen mensebloed gebruik word nie. As jou werk met gesondheidsdienste verband hou of jy om die een of ander rede as ’n kandidaat vir die hepatitis B-entstof beskou word, kan jy die saak met jou dokter bespreek.
Die gebruik van bloed in die vervaardiging van entstowwe
Dit bring ’n belangrike vraag ter sprake vir Christene, wat besorg is oor die Bybel se verbod op die misbruik van bloed (Handelinge 15:28, 29). Word enige ander entstowwe van bloed gemaak?
Oor die algemeen word aktiewe immuniseringsmiddels, buiten Heptavax-B, nie van bloed vervaardig nie. Dit sluit byvoorbeeld alle baba-inspuitings in.
Die teenoorgestelde is waar van passiewe immunisering. ’n Mens kan aanneem dat wanneer jy aangeraai word om ’n inspuiting ná moontlike blootstelling te kry, soos nadat jy in ’n geroeste spyker getrap het of deur ’n hond gebyt is, die inspuitings (tensy dit net roetine-onderskragingsinspuitings is) hiperimmuunserum is wat van bloed vervaardig word. Dit is ook die geval met Rh-immuunglobulien (Rhogam), wat dikwels vir Rh-negatiewe ma’s aanbeveel word wat om die een of ander rede aan Rh-positiewe bloed blootgestel word, soos tydens die geboorte van ’n Rh-positiewe baba.
Watter standpunt moet die Christen op grond van sy gewete ten opsigte van hierdie passiewe immunisering inneem, aangesien dit hierdie soort immunisering is wat met die bloedgeskil verband hou? In vorige artikels in hierdie tydskrif en in sy medetydskrif, Die Wagtoring, was die standpunt hieroor nog altyd dieselfde: Dit berus by die individuele Christen se Bybelopgeleide gewete om te besluit of hy hierdie behandeling vir hom en sy gesin sal aanvaar.d
Moet my gesin geïmmuniseer word?
Christene het groot agting vir lewe en wil in alle opregtheid doen wat die beste vir hulle gesin se gesondheid is. Of jy op grond van jou gewete besluit om jou gesin te laat immuniseer of nie, dit is ’n persoonlike besluit wat jy moet neem.—Galasiërs 6:5.
Een deskundige het die situasie goed opgesom: “Ouers behoort oor elke mediese toetreding vir hulle kind ingelig te word. Hulle is nie net hulle kind se wettige voogde nie. Hulle is verantwoordelik vir hulle kinders se welsyn en beskerming gedurende daardie tydperk in hulle lewe waartydens die kinders afhanklik is.” Jehovah se Getuies neem daardie verantwoordelikheid baie ernstig op wat hierdie kwessie van immunisering, asook alle ander mediese aangeleenthede, betref.—Bygedra deur ’n geneesheer.
[Voetnote]
a Die Wêreldgesondheidsorganisasie beveel nou in baie wêrelddele roetine-immunisering teen hepatitis B vir babas aan.
b Dit lyk nie asof vorige gevalle van stuipe in ’n familie se geskiedenis met sulke reaksies verband hou nie. En hoewel dit nie lyk asof asemhalingsinfeksies ’n kind vatbaar maak vir ’n reaksie nie, sal dit moontlik verstandig wees om nie die inspuiting te gee terwyl die kind selfs net effens siekerig is nie.
c Sien “Vrae van lesers” in Die Wagtoring van 1 Junie 1990.
d Sien Die Wagtoring van 1 September 1978, bladsy 23.
[Venster op bladsy 24]
Immuniseringsmiddels wat nie van bloed vervaardig word nie
Baba-inspuitings (DPT, OPV, MMR)
Hib-entstof
Pneumovax
Toksoïede
Griepinspuitings
Recombivax-HB
Immuniseringsmiddels wat van bloed vervaardig word
Heptavax-B
Rhogam
Antitoksiene
Antiveniene (vir slang- en spinnekopgif)
Immuunglobuliene (vir verskeie siektes)
Gammaglobulien
Hiperimmuun-serummiddels (byvoorbeeld die serum teen hondsdolheid)