Sal ’n nuwe kategismus die keerpunt wees?
Deur Ontwaak!-medewerker in Italië
“’N KATEGISMUS vir die jaar 2000”, “Die lys van nuwe sondes”, “’n Nuwe beeld vir die Kerk”—dit is ’n paar van die onlangse hoofopskrifte in die Italiaanse pers oor die nuwe Catechism of the Catholic Church, wat tot dusver in Frans, Duits, Italiaans en Spaans gepubliseer is. In Italië is 110 000 eksemplare van die kategismus in minder as drie weke verkoop. Maar in ’n Katolieke land met byna 58 miljoen mense is daardie syfer nie juis hoog nie. ’n Italiaanse skrywer het gesê dat enigeen wat dit koop en “net op soek is na ’n katalogus van nuwe sondes teleurgestel” sal word.
Op 7 Desember 1992 het pous Johannes Paulus II die boek met 450 bladsye amptelik bekend gestel en dit ’n “samevatting van die Katolieke geloof en sedes” genoem. Dit het meer as ses jaar van opstel en heropstel geverg, terwyl dit baie kritiek van die Katolieke wêreld self ontvang het, om hierdie boek te produseer. Dit ondersteun natuurlik steeds die Christendom se verborgenheid “van die Allerheiligste Drie-Eenheid . . . , die sentrale verborgenheid van die geloof”. Dit sê ook dat “elke geestelike siel direk deur God geskep is . . . , en dit is onsterflik”. (Vergelyk 1 Korinthiërs 15:28; Mattheüs 24:36; sien ook Esegiël 18:4, 20.) Maar waarom is ’n nuwe kategismus nodig geag?
Een Katolieke geleerde het geskryf: “Baie kategismusse wat deur diosesaanse sentrums vir katkisasie gepubliseer is, is uiters ondeurdag, vol dogmatiese foute en buitensporigheid.” Tog is hulle jare lank gebruik om getroue Katolieke te indoktrineer. Die Katolieke publikasie La Civiltà Cattolica het gesê dat die nuwe teks “’n belangrike hulpmiddel sou wees om die eenheid van die geloof te verseker” wat in onlangse dekades geskud is. Die pous self het gesê: “Dit is nie maklik om te sien watter verwikkelinge hierdie kategismus sal meebring nie. Maar . . . dit kan ’n waardevolle, vrugbare middel wees tot dieper kennis en ’n ware geestelike en sedelike vernuwing.”
Sal dit werklik die geval wees? Sal hierdie kategismus die onenigheid onder Katolieke oplos? Hierdie verdeeldhede het baie duidelik na vore gekom in die manier waarop Katolieke in alle wêrelddele reageer op kwessies soos aborsie, geboortebeperking, die vryheidsteologie en deelname aan sogenaamde geregverdigde oorloë (selfs wanneer dit daartoe lei dat Katolieke Katolieke doodmaak). Op ’n hoër vlak het vyandigheid en verdeeldheid ontstaan tussen die nou magtige Opus Dei, wat deur die pous en talle invloedryke lede van die hiërargie gesteun word, en die Jesuïete, wat nou nie meer in die pous se guns is nie.
Sal hierdie kategismus die hart en gedrag verander van die duisende Italiaanse politieke en sakeleiers wat onlangs by korrupsie en skandale betrokke was? In watter mate sal hierdie dokument werklik die gedrag van Italië se heersende elite beïnvloed? Waarom sal dit die gemiddelde Katoliek beïnvloed as dit nie die etiek van die heersende klas kan verander nie? Aangesien die boek 450 bladsye het—en lees nie die gewildste stokperdjie vir die meeste mense is nie—kan ’n blywende invloed op gedrag verwag word?