Moedersmelk bly maar die beste
Deur Ontwaak!-medewerker in Nigerië
STEL jou babakos voor wat heerlik smaak, maklik verteer en in al die voedingsbehoeftes van groeiende kinders voorsien. Kos wat ’n “wondermiddel” is en kinders nie net teen siektes beskerm nie, maar dit ook behandel. Kos wat gratis is en vir gesinne oor die hele aarde beskikbaar is.
Onmoontlik, sê jy? Wel, so ’n produk bestaan, maar dit is nie deur bedryfswetenskaplikes ontwikkel nie. Dit is moedersmelk.
Deur die mensdom se geskiedenis heen is hierdie wonderkos al as uiters belangrik vir kindersorg beskou. Die Bybel sê byvoorbeeld dat toe die dogter van Farao die suigeling Moses gevind het sy sy suster gevra het om “’n pleegmoeder” te kry om hom te versorg (Exodus 2:5-9). Later is sterk soogvroue in Griekse en Romeinse gemeenskappe oor die algemeen gebruik om melk te verskaf vir die suigelinge van welgestelde ouers. Maar in onlangse dekades het die gebruik om borsvoeding te gee skerp afgeneem, en dit is deels deur reklame veroorsaak wat baie mense laat dink het dat borsmelk minderwaardig is in vergelyking met die babaformules van die hedendaagse tegnologie. Vandag is daar ’n teenoorgestelde neiging namate al hoe meer moeders besef dat “borsvoeding die beste is”.
Die beste voeding
Het wetenskaplikes verbeter op die Skepper se ingeboude metode om suigelinge te voed? Beslis nie. UNICEF (die Verenigde Nasies-kinderfonds) sê: “Borsmelk alleen is die beste moontlike kossoort en vloeistof vir babas gedurende die eerste vier tot ses maande van hulle lewe.” Borsmelk bevat al die proteïene, groeistimulante, vette, koolhidrate, ensieme, vitamiene en spoorelemente wat gedurende die eerste paar maande van ’n suigeling se lewe vir gesonde groei noodsaaklik is.
Borsmelk is nie net die beste kossoort vir pasgebore babas nie, maar dit is ook die enigste kossoort wat hulle nodig het. Die Wêreldgesondheidsvergadering het in Mei 1992 herbevestig dat “borsmelk gedurende die eerste vier tot ses maande van ’n normale suigeling se lewe in sy voedingsbehoeftes voorsien en dat geen ander kossoort of vloeistof, nie eers water, nodig is nie”. Borsmelk bevat genoeg water om ’n baba se dors selfs in warm, droë klimate te les. Dit is nie net onnodig om ’n baba ekstra water of suikerdrankies te gee nie, maar dit kan ook veroorsaak dat hy nie meer borsvoeding wil hê nie, aangesien babas gewoonlik die relatiewe gemak van bottelvoeding verkies. Ná die eerste paar maande van die baba se lewe moet hy natuurlik geleidelik ander soorte kos en vloeistof begin kry.
Geen plaasvervanger het die bestanddele in so ’n ideale balans om die gesonde groei en ontwikkeling van suigelinge te bevorder nie. Die boek Reproductive Health—Global Issues sê: “Pogings om ’n plaasvervanger vir borsmelk te kry, het nie geslaag nie. Die geskiedkundige lektuur oor die onderwerp van babavoeding is vol bewyse dat suigelinge wat nie borsvoeding kry nie ’n veel groter kans het om infeksie te kry en ondervoed te wees as borsbabas.”
Borsvoeding red lewens
Volgens die WGO (Wêreldgesondheidsorganisasie) sal ’n miljoen sterftes onder suigelinge elke jaar wêreldwyd verhoed word indien alle moeders hulle babas net borsmelk gedurende die eerste vier tot ses maande van hulle lewe gegee het nie. UNICEF se verslag State of the World’s Children 1992 sê: “’n Bottelbaba in ’n arm gemeenskap se kanse is 15 keer groter om aan diaree te sterf en 4 keer groter om aan longontsteking te sterf as ’n baba wat net geborsvoed word.”
Waarom? Een rede is dat poeiermelk, behalwe dat dit minder voedingswaarde as moedersmelk het, dikwels oorverdun word met vuil water en dan in ongesteriliseerde voedingsbottels vir die baba gegee word. Bottelmelk kan dus maklik besmet word met bakterieë en virusse wat die oorsaak is van diarree en asemhalingsinfeksies, die grootste oorsake van sterftes onder kinders in ontwikkelende lande. Melk wat daarenteen direk van die bors kom, word nie maklik besmet nie, vereis geen vermenging nie, bederf nie en kan nie oorverdun word nie.
’n Tweede rede waarom borsvoeding lewens red, is dat moedersmelk teenliggaampies bevat wat die suigeling teen siektes beskerm. Selfs wanneer diarree of ander infeksies wel onder borsbabas voorkom, is dit gewoonlik minder ernstig en makliker om te behandel. Navorsers sê ook dat babas wat borsmelk drink, blykbaar minder tandsiektes, kanker, suikersiekte en allergieë kry. En omdat borsvoeding ywerige suigaksie verg, bevorder dit waarskynlik in suigelinge die behoorlike ontwikkeling van gesigsbene en -spiere.
Voordele vir moeders
Borsvoeding is nie net vir die baba goed nie; dit is ook goed vir die moeder. Om maar een ding te noem, ’n baba wat aan die bors suig, stimuleer die vrystelling van die hormoon oksitosien, wat nie net die vrystelling en vloei van die melk bevorder nie, maar ook die baarmoeder laat saamtrek. Wanneer die baarmoeder gou ná die bevalling saamtrek, is dit minder waarskynlik dat langdurige bloeding sal plaasvind. Borsvoeding keer ook dat ovulasie en menstruasie gou weer plaasvind. Dit vertraag gewoonlik die volgende swangerskap. Langer tussenpouses tussen swangerskappe beteken gesonder moeders en babas.
Nog ’n groot voordeel vir vrouens is dat borsvoeding die gevaar van eierstok- en borskanker verminder. Party kenners sê dat ’n vrou wat haar suigeling nie borsvoed nie se kanse twee keer so groot is om borskanker te kry as die een wat wel borsvoed.
As die voordele van borsvoeding opgenoem word, moet die band wat tussen die moeder en kind ontstaan ook nie oor die hoof gesien word nie. Aangesien dit nie net voeding behels nie, maar ook mondkontak, vel-tot-vel-kontak en fisiese warmte, kan borsvoeding help om ’n belangrike band tussen moeder en kind te bou en moontlik tot die kind se emosionele en sosiale ontwikkeling bydra.
Die besluit om te borsvoed
Byna alle moeders is fisies in staat om genoeg melk vir hulle suigelinge te voorsien indien daar aan sekere vereistes voldoen word. Borsvoeding moet so gou moontlik ná die geboorte begin, binne die eerste uur ná die bevalling. (Die eerste borsmelk, ’n dik, gelerige stof wat kolostrum genoem word, is goed vir babas en help om hulle teen infeksies te beskerm.) Daarna moet babas net gevoed word wanneer hulle honger is, onder andere gedurende die nag, en nie volgens ’n vaste rooster nie. Dit is ook belangrik om die baba tydens borsvoeding in die regte posisie te hou. ’n Ervare en simpatieke raadgewer kan met hierdie sake help.
’n Moeder se besluit om haar suigeling te borsvoed of nie, hang natuurlik van meer af as net haar fisiese vermoë om dit te doen. The State of the World’s Children 1992 sê: “Moeders het die ondersteuning van hospitale nodig as hulle hulle babas die beste begin moontlik wil gee; maar as hulle wil aanhou borsvoed, sal hulle ook die ondersteuning van werkgewers, vakbonde, gemeenskappe—en van mans—nodig hê.”
[Venster op bladsy 13]
Borsvoeding in die ontwikkelende wêreld
1. Borsmelk alleen is die beste moontlike kossoort en vloeistof vir ’n baba gedurende die eerste vier tot ses maande van sy lewe.
2. Babas moet so gou moontlik ná die geboorte begin borsvoeding gegee word. Feitlik elke moeder kan haar baba borsvoed.
3. Die baba moet gereeld suig sodat genoeg borsmelk geproduseer kan word om in sy behoeftes te voorsien.
4. Bottelvoeding kan tot ernstige siektes en die dood lei.
5. Borsvoeding moet tot diep in die tweede jaar van ’n kind se lewe aanhou en selfs langer indien moontlik.
Bron: Facts for Life, wat gesamentlik deur UNICEF, WGO en UNESCO uitgegee is.
[Venster op bladsy 14]
Borsvoeding en vigs
Aan die einde van April 1992 het die WGO en UNICEF ’n internasionale groep kenners byeengebring om die verwantskap tussen vigs en borsvoeding te bespreek. Dr. Michael Merson, direkteur van die WGO se Wêreldwye Program oor Vigs, verduidelik waarom die vergadering gehou is. Hy het gesê: “Borsvoeding is ’n uiters belangrike faktor in kinderoorlewing. ’n Baba se kanse om weens borsvoeding aan vigs te sterf, moet opgeweeg word teen sy kanse om te sterf weens ander oorsake as hy nie geborsvoed word nie.”
Volgens die WGO word ongeveer ’n derde van alle babas wat vir HIV-besmette moeders gebore word ook besmet. Hoewel die siekte gedurende die swangerskap en bevalling van die moeder na die kind oorgedra word, is daar bewyse dat dit ook gedurende borsvoeding kan plaasvind. Maar die WGO sê “die meeste babas wat deur HIV-besmette moeders geborsvoed word, word nie deur borsvoeding besmet nie”.
Die paneel kenners het tot dié slotsom gekom: “Waar aansteeklike siektes en ondervoeding die hoofoorsaak van sterftes onder suigelinge is en die kindersterftesyfer hoog is, word swanger vrouens, onder andere die wat met HIV besmet is, gewoonlik aangeraai om te borsvoed. Dit is omdat hulle baba se kans om HIV-besmetting deur borsmelk op te doen kleiner is as die kanse om weens ander oorsake te sterf omdat hy nie geborsvoed word nie.
“Maar op plekke waar die hoofoorsaak van sterftes onder suigelinge nie aansteeklike siektes is nie en die kindersterftesyfer laag is, word die . . . HIV-besmette swanger vrouens gewoonlik aangeraai om liewer ’n veilige, alternatiewe voedingsmetode in die plek van borsvoeding te gebruik.”