Watter soort wêreld wil jy hê?
SOU jy, indien jy die vermoë gehad het, ’n nuwe wêreld skep, ’n wêreld vry van al die probleme wat mense vandag teister? Indien wel, is dit nie logies om te verwag dat ons liefdevolle Skepper, Jehovah God, wat wel die vermoë het, ’n nuwe wêreld van regverdigheid sal skep nie?
Die Bybel sê: “Jehovah is vir almal goed, en sy barmhartighede is oor al sy werke. U open u hand en bevredig die begeerte van al wat leef” (Psalm 145:9, 16, NW). Wat is party van jou begeertes? Watter soort wêreld begeer jy?
Abraham en Rose Franzblau het in hulle boek A Sane and Happy Life: A Family Guide geskryf: “As ons ’n meningsopname onder die wêreldbevolking sou doen en die mensdom sou vra in watter soort wêreld ons almal graag sal wil woon, sal ons almal heel waarskynlik oor sekere minimum vereistes saamstem.”
Kom ons ondersoek die vereistes wat hierdie doktore gemeld het en kyk of hulle nie dieselfde dinge is wat jy sal wil hê nie. Terwyl ons dit doen, sal ons ook sien of ons liefdevolle Skepper beloof het om hierdie einste dinge te voorsien.
Die eerste vereiste
Die doktore het eerste “’n wêreld sonder oorlog” gemeld. Nadat talle ’n paar verskriklike oorloë deurgemaak het, begeer hulle ’n wêreld waarin mense nooit weer sal veg en mekaar sal doodmaak nie. Hulle hoop word uitgedruk in ’n inskripsie in die muur van die plein van die Verenigde Nasies-gebou in die stad New York, wat lui: HULLE SAL VAN HUL SWAARDE PIKKE SMEE EN VAN HUL SPIESE SNOEIMESSE; NIE MEER SAL NASIE TEEN NASIE DIE SWAARD OPHEF NIE, EN HULLE SAL NIE MEER LEER OM OORLOG TE VOER NIE.
Het jy geweet dat daardie woorde ’n deel is van ’n belofte wat deur Jehovah God gedoen is? Die woorde is opgeteken in die Heilige Bybel in Jesaja hoofstuk 2, vers 4. As jy ook Psalm 46:9, 10 lees, sal jy sien dat dit God se voorneme is om alle wapens te vernietig en ‘oorloë tot by die einde van die aarde te laat ophou’. In die vreedsame, oorlogvrye wêreld wat God tot stand gaan bring, sal hierdie wonderlike Bybelprofesie vervul word: “Hulle sal sit elkeen onder sy wingerdstok en onder sy vyeboom, sonder dat iemand hulle verskrik.”—Miga 4:4.
Sou jy nie “’n wêreld sonder oorlog” beskou as ’n basiese vereiste vir die soort wêreld wat jy sal wil hê nie? En dink net daaraan, ons Grootse Skepper het dit beloof!
’n Wêreld van oorvloed
Wat sou jou tweede vereiste wees? Sou dit dieselfde as die volgende wees: “’n Wêreld sonder honger, waaruit hongersnood en armoede vir ewig uit die weg geruim sal word”? Sou dit nie wonderlik wees indien daar nooit weer ’n verhongerde kind is nie? Jy sou tog sekerlik in ’n wêreld van oorvloed wil leef. Maar wie kan dit waarborg?
Kyk wat beloof God: “Die aarde het sy opbrings gelewer.” “Mag daar volheid van koring wees in die land” (Psalm 67:7; 72:16). Ja, in God se nuwe wêreld sal daar volop goeie voedsel wees. Die Bybel verseker ons dat Jehovah ‘vir al die volke ’n maaltyd van vetspyse, ’n maaltyd van ou wyn, van vetspyse vol murg sal berei’.—Jesaja 25:6.
Hoewel mense nie die vermoë het om ’n wêreld sonder honger te voorsien nie, is dit nie buite God se vermoë om dit tot stand te bring nie. Sy Seun, Jesus Christus, het gedemonstreer dat dit onder God se Koninkryk geen probleem sal wees om vir almal voedsel te voorsien nie. Toe Jesus op die aarde was, het hy duisende gevoed deur ’n paar brode en ’n paar visse wonderbaarlik te vermeerder.—Mattheüs 14:14-21; 15:32-38.
’n Wêreld sonder siekte
Jy sal nêrens in die soort wêreld wat ons almal wil hê ’n siek persoon teëkom nie. Die derde vereiste is dus nie verbasend nie. Die doktore het geskryf: “Dit sal ’n wêreld sonder siekte wees, ’n wêreld waarin almal die geleentheid sal hê om gesond groot te word en die res van hulle lewe vry van voorkombare en geneesbare siektes te wees.”
Dink net hoe verlig ons sal wees as niemand ooit verkoue kry of enige ander siekte opdoen nie! Mense kan nie siekte uitwis nie, maar Jehovah God kan. En hy beloof dat in sy nuwe wêreld “geen inwoner sal sê: Ek is siek nie”. Pleks daarvan “sal die oë van die blindes geopen en die ore van die dowes ontsluit word. Dan sal die lamme spring soos ’n takbok, en die tong van die stomme sal jubel” (Jesaja 33:24; 35:5, 6). Ja, God sal “al die trane van hulle oë afvee, en daar sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie”.—Openbaring 21:4.
Toe Jesus Christus op die aarde was, het hy gedemonstreer wat ons op groot skaal in God se nuwe wêreld kan verwag. Hy het die blindes se sig herstel, die ore van die dowes geopen, die tong van die stommes losgemaak, die lammes laat loop en selfs die dooies opgewek.—Mattheüs 15:30, 31; Lukas 7:21, 22.
Bevredigende werk en geregtigheid vir almal
Bevredigende werk en geregtigheid vir almal sal ongetwyfeld bestaan in die wêreld wat jy en byna alle ander mense sal wil hê. Daarom het die doktore geskryf: “Vierdens, dit sal ’n wêreld wees met werk vir diegene wat hulle brood wil verdien om vir hulleself en hulle gesin te sorg.” En hulle het bygevoeg: “Vyfdens, dit sal ’n wêreld wees waarin elke mens vryheid onder die wet sal geniet, met geregtigheid vir almal.”
Menseheerskappy kon nog nooit aan hierdie vereistes vir ’n gelukkige lewe voldoen nie. Maar God se nuwe wêreld sal. Die Bybel beloof aangaande die voordelige werk wat mense dan sal verrig: “Hulle sal huise bou en bewoon, en wingerde plant en die vrug daarvan eet . . . My uitverkorenes sal die werk van hulle hande self geniet. Hulle sal hul nie tevergeefs vermoei . . . nie.”—Jesaja 65:21-23.
Wat van vryheid en geregtigheid vir almal? Ongeag hoe hard menseheersers probeer het, hulle kon nie daarin slaag om hierdie dinge vir almal te voorsien nie. Ongeregtigheid en verdrukking heers steeds wêreldwyd. Mense kan dus nooit in hierdie behoefte voorsien nie. Maar die almagtige God kan. Sy aangestelde Heerser is die verrese Jesus Christus, en Jehovah sê aangaande hom: “My Uitverkorene in wie my siel ’n welbehae het. . . . Hy sal die reg na die nasies uitbring.”—Jesaja 42:1; Mattheüs 12:18.
Ja, die Bybel beloof dat onder God se Koninkryk “die skepping self vrygemaak sal word van die slawerny van die verganklikheid tot die vryheid van die heerlikheid van die kinders van God” (Romeine 8:21). Wat ’n vreugdevolle nuwe wêreld sal dit tog wees wanneer daar vryheid en geregtigheid vir almal is!
Geleenthede en vrye tyd
In die wêreld wat jy wil hê, sal alle burgers ongetwyfeld gelyke geleenthede geniet ongeag hulle ras of nasionaliteit. Daarom is dit nie verbasend nie dat ’n sesde minimum vereiste wat die doktore gemeld het die volgende is: “Dit sal ’n wêreld wees waarin elke mens die geleentheid sal hê om sy vermoëns en talente ten volle te ontwikkel en sonder vooroordeel vir sy pogings beloon sal word.”
Mense kon nog nooit ’n wêreld tot stand bring waarin alle mense dieselfde regverdige behandeling ontvang nie. Vooroordeel teen en selfs vervolging van ongewilde minderheidsgroepe is steeds aan die orde van die dag. Maar die Koning van God se nuwe wêreld, Jesus Christus, sal die voorbeeld volg van Jehovah, sy Vader, wat “niemand partydig behandel en geen omkoopgeskenk aanneem nie” (Deuteronomium 10:17, NW; Romeine 2:11, NW). Wat die komende nuwe wêreld so wonderlik sal maak, is die feit dat alle mense nie net geleer sal word om Jehovah God se onpartydigheid na te volg nie, maar hulle sal dit ook beoefen.—Jesaja 54:13.
Mense se lewe is al dikwels gewy aan onafgebroke arbeid met min of geen verposing. Jy sal dus ongetwyfeld saamstem met die volgende minimum vereiste, naamlik: “In die sewende plek, dit sal ’n wêreld wees waarin alle mense oorgenoeg vrye tyd sal hê om daardie dinge te geniet wat hulle as die goeie dinge in die lewe beskou.”
Aangesien Jehovah God bewus is van die mens se behoefte aan rus- en ontspanningstye het hy in sy eertydse Wet voorsiening gemaak vir ’n weeklikse rusdag (Exodus 20:8-11). Daarom kan ons verseker wees dat God sal sorg dat ons behoefte aan ontspanning en heilsame vermaak in sy nuwe wêreld bevredig sal word.
Die soort inwoners
Die laaste vereiste wat die doktore gegee het, beskryf die eienskappe van die inwoners van ‘die wêreld waarin ons almal graag sal wil woon’. Kyk of jy ook die eienskappe wat hulle meld as noodsaaklik beskou. “Agstens, dit sal ’n wêreld wees waarin daardie eienskappe wat die mens van die dier onderskei die hoogste aangeslaan sal word, eienskappe soos intelligensie en kreatiwiteit, eerbaarheid en integriteit, liefde en lojaliteit, selfrespek en onselfsugtigheid en besorgdheid oor sy medemens.”
Sal jy dit nie geniet om in ’n wêreld te woon waarin almal die sedelike eienskappe van integriteit, liefde, lojaliteit, onselfsugtigheid en besorgdheid oor ander mense openbaar nie? Dit is sekerlik die wêreld wat jy sal wil hê! Geen menseheersers sal dit ooit kan voorsien nie. Net Jehovah God kan dit doen. En hy sal, omdat sy nuwe wêreld nie ’n onrealistiese, leë droom is nie.—Psalm 85:11, 12.
Wanneer sal dit kom?
Soos ons in die vorige artikel gesien het, het ’n intieme metgesel van Jesus Christus geskryf: “Ons verwag volgens [God se] belofte nuwe hemele en ’n nuwe aarde waarin geregtigheid woon” (2 Petrus 3:13). Hierdie belofte sal vervul word, soos Jesus gesê het, “in die herskepping, wanneer die Seun van die mens op sy heerlike troon gaan sit”.—Mattheüs 19:28, NW.
God het Adam en Eva, die eerste mensepaar, oorspronklik opdrag gegee om die Paradystuin waarin Hy hulle geplaas het te vergroot. Hy wou hê dat hulle kinders voortbring en saam met hulle die hele aarde in ’n pragtige tuin van Eden omskep (Genesis 1:26-28; 2:7-9, 15). Hoewel Adam en Eva nie hierdie voorneme uitgevoer het nie, sal die aardse Paradys in die herskepping, met Christus wat in die Koninkryk heers, herstel word. Edeniese toestande sal uiteindelik oor die hele aarde uitgebrei word. Ons liefdevolle Skepper sal dus sy oorspronklike voorneme vervul om ’n vreedsame, regverdige wêreld te hê. Maar wanneer sal dit kom?
Dink jy soos baie ander wat sê: ‘Ag, dit sal die een of ander tyd kom, maar nie in ons leeftyd nie.’ Maar hoe weet jy? Kan ons tydperk van ongeëwenaarde wêreldellende ’n teken wees dat God se nuwe wêreld op hande is? Hoe kan ons uitvind?
[Prent op bladsy 7]
In die nuwe wêreld sal daar vrede, volmaakte gesondheid en voorspoed wees
[Erkenning]
Cubs: Courtesy of Hartebeespoortdam Snake and Animal Park
[Prent op bladsy 8]
In die nuwe wêreld sal mense produktiewe werk geniet
[Prent op bladsy 9]
In die nuwe wêreld sal daar tyd wees vir ontspanning