Wanneer die nuwe wêreld sal kom
GOD se nuwe wêreld sal kom wanneer hierdie teenswoordige wêreld verbygaan. Maar jy vra moontlik: ‘Kan ons werklik glo dat hierdie wêreld tot ’n einde sal kom?’ Wel, dink daaraan, het ’n wêreld al ooit voorheen tot ’n einde gekom?
Ja, daar is afdoende bewys dat ’n wêreld wel eenkeer tot ’n einde gekom het. ‘Die toenmalige wêreld [van Noag se dag] is met water oorstroom en het vergaan’, sê die Bybel. God het ‘die ou wêreld nie gespaar nie, maar Noag, die prediker van geregtigheid, met sewe ander bewaar toe Hy die sondvloed oor die wêreld van goddelose mense gebring het’.—2 Petrus 2:5; 3:6.
Let op dat dit ’n ‘wêreld van goddelose mense’, of ’n goddelose stelsel van dinge, was wat vergaan het. Dit was nie die planeet Aarde, die sterbesaaide hemel of die mensdom wat tot ’n einde gekom het nie. Namate die Vloedoorlewendes vermeerder het, het ’n ander wêreld (ons teenswoordige wêreld) ontstaan. Wat sal daarmee gebeur?
Nadat die Bybel sê dat die wêreld van Noag se dag vernietig is, sê dit voorts: ‘Deur dieselfde woord word die teenswoordige hemele en die aarde vir die vuur bewaar’ (2 Petrus 3:7). Vuur dui op vernietiging vir die wêreld. Ja, “die wêreld [wat vandag bestaan] gaan verby” (1 Johannes 2:17). Maar wanneer?
Jesus se apostels wou geweet het, en daarom het hulle gevra: “Vertel ons, wanneer sal hierdie dinge wees, en wat is die teken van u koms en van die voleinding van die wêreld?” (Mattheüs 24:3). In antwoord daarop het Jesus ’n teken gegee sodat mense wat in die tyd van die vervulling daarvan sou leef, sou weet dat een wêreld spoedig tot ’n einde sou kom; ’n nuwe wêreld sou sy plek inneem. Wat was daardie teken?
Die teken
Die teken het uit baie dele bestaan, ja, baie gebeure is voorspel. Die vervulling van hierdie teken sou behels dat al hierdie dinge op hoofsaaklik dieselfde tyd, gedurende een geslag, op ’n merkbare wyse moes plaasvind (Mattheüs 24:34). Wat is hierdie gebeure?
Van die dinge wat Jesus genoem het, was: “Die een nasie sal teen die ander opstaan en die een koninkryk teen die ander. En daar sal groot aardbewings op verskillende plekke wees en hongersnode en pessiektes.” “Dan sal hulle jul aan verdrukking oorgee en julle doodmaak; en julle sal deur al die nasies gehaat word ter wille van my Naam. . . . Omdat die ongeregtigheid vermeerder word, sal die liefde van die meeste verkoel.”—Lukas 21:10, 11; Mattheüs 24:7-9, 12.
Die apostel Paulus het ander toestande genoem wat “die laaste dae” van hierdie wêreld sou kenmerk. Hy het geskryf: “In die laaste dae [sal daar] swaar tye . . . kom. Want die mense sal liefhebbers van hulleself wees, geldgieriges, . . . ongehoorsaam aan hulle ouers, ondankbaar, onheilig, sonder natuurlike liefde, . . . roekeloos, verwaand, meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God, mense wat ’n gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloën het.”—2 Timotheüs 3:1-5.
Jy het al ongetwyfeld al hierdie dinge gesien of daarvan gehoor—internasionale konflikte wat vorige oorloë in die skadu stel, groot aardbewings, wydverspreide pessiektes en hongersnode, die haat teenoor en vervolging van Christus se volgelinge, ’n toename in wetteloosheid en swaar tye van ongeëwenaarde omvang. Die Bybel voorspel bo en behalwe hierdie dinge dat God “die verderwers van die aarde [sal] verderf” (Openbaring 11:18). En mense verderf op hierdie tydstip die aarde!
Verlede November het koerante opskrifte soos die volgende gehad: “Vooraanstaande wetenskaplikes waarsku aangaande die vernietiging van die aarde.” Dr. Henry Kendall, ’n Nobelbekroonde en voorsitter van die Unie van Besorgde Wetenskaplikes, het gesê: “Hierdie waarskuwing is nie oordryf nie, en dit is nie daar net om onrus te saai nie.” Een koerantartikel het berig: “Die lys van 1575 wetenskaplikes wat die waarskuwing opgestel het, is vol beroemdes in die internasionale wetenskaplike gemeenskap.” Hulle waarskuwing aangaande die volslae verderwing van ons aarde moet nie geïgnoreer word nie!
Dit ly geen twyfel nie. Die teken word in al sy dele vervul, waaronder Jesus se belangrikste voorspelling: “Hierdie evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom”, ja, die einde van hierdie wêreld (Mattheüs 24:14). Jesus het gesê dit sal kom wanneer die goeie nuus van God se Koninkryk wêreldwyd verkondig is. En daardie verkondiging word nou op die voorspelde skaal deur Jehovah se Getuies gedoen!
Wat jy moet doen
Alle getuienis dui dus daarop dat God se nuwe wêreld baie naby is. Maar jy moet iets doen indien jy die einde van hierdie wêreld wil oorleef en lewe in die nuwe wêreld wil geniet. Nadat die Bybel sê dat ‘die wêreld verbygaan’, toon dit wat van jou verwag word en verduidelik dit: “Hy wat die wil van God doen, bly vir ewig.”—1 Johannes 2:17.
Jy moet dus leer wat God se wil is en dit doen. Jehovah se Getuies sal jou met graagte help om dit te doen. Dan kan jy die einde van hierdie wêreld oorleef om vir ewig die seëninge van God se nuwe wêreld te geniet.
[Prent op bladsy 10]
Net voor die nuwe wêreld aanbreek, sal daar swaar tye wees
[Foto-erkenning op bladsy 10]
NASA photo