Die Bybelse beskouing
Is Jehovah ’n oorlogsgod?
PARTY lesers van die Bybel maak al lank die beskuldiging dat Jehovah ’n oorlogsgod is, en bloeddorstig daarby. In sy boek The Story of Civilization—Man’s Own Show sê George A. Dorsey byvoorbeeld dat die God van die Bybel, Jehovah, “die God van plunderaars, van folteraars, van krygers, van verowering, van elke barbaarse temperament is”. Die Bybelkritikus Roland H. Bainton sê onomwonde: “Oorlog is mensliker wanneer God daaruit gelaat word.”
Is Jehovah werklik ’n oorlogsgod? Geniet hy dit werklik om, soos party sê, onskuldige mense te vermoor?
Eertydse oordele
Die Bybel praat weliswaar ronduit van Jehovah God se eertydse ongunstige oordele. Maar hulle was altyd teen goddelose mense gerig. Dit was byvoorbeeld eers toe die aarde in Noag se dag “vol geweld” was dat Jehovah gesê het: “Ek bring ’n watervloed oor die aarde, om van onder die hemel te verdelg alle vlees waar ’n lewensgees in is” (Genesis 6:11, 17). Wat ’n ander oordeel betref, was dit slegs omdat die stede Sodom en Gomorra “hulleself aan geslagsonsedelikheid oorgegee het en vasbeslote was om perverse wellus te bedryf” dat God dit “swawel en vuur” laat reën het.—Judas 7, The New Berkeley Version; Genesis 19:24.
Het God behae daarin geskep om alle vlees in Noag se dag te vernietig? Of het hy ’n boosaardige genot daaruit geput om die inwoners van Sodom en Gomorra te vernietig? Kom ons kyk vir ’n antwoord hierop na wat voor die Vloed van Noag se dag gebeur het. Nadat die Bybel sê dat God die goddelose mensdom gaan uitdelg ten einde die aarde van geweld te reinig, sê dit verder: “Daar was smart in [Jehovah se] hart.” Ja, dit het God bedroef dat “al die versinsels wat [die mens] in sy hart bedink, altyddeur net sleg was”. Om soveel mense moontlik van die komende Vloed te red, het God Noag, “die prediker van geregtigheid”, derhalwe uitgestuur om ’n waarskuwingsboodskap bekend te maak en ’n ark vir oorlewing te bou.—Genesis 6:3-18; 2 Petrus 2:5.
Voordat God engele gestuur het om Sodom en Gomorra te vernietig, het hy eweneens gesê: “Ek wil neerdaal en sien of hulle werklik gehandel het soos die geroep oor hulle is wat by My gekom het . . . Ek wil dit weet” (Genesis 18:20-32). Jehovah het Abraham (wie se neef Lot in Sodom gewoon het) verseker dat die stede gespaar sou word as Hy in sy soektog net tien regverdige mense kon vind. Sal ’n God wat dit geniet om bloed te vergiet sulke genadige besorgdheid toon? Kan ons nie daarenteen sê dat een van Jehovah se vernaamste eienskappe dié van genade is nie? (Exodus 34:6). Hy sê self: “Ek het geen behae in die dood van die goddelose nie, maar daarin dat die goddelose hom bekeer van sy weg en lewe.”—Esegiël 33:11.
Jehovah het nog altyd ongunstige oordele uitgespreek weens bose mense se onversetlike weiering om ’n slegte weg te verlaat, nie omdat hy dit geniet om mense dood te maak nie. Maar jy wonder dalk: ‘Het Jehovah nie die Israeliete aangespoor om teen die Kanaäniete oorlog te voer en hulle te verdelg nie?’
God se oorloë was nodig vir vrede
Die geskiedenis skilder ’n walglike prentjie van die Kanaäniete se lewenswyse—hulle was uiters goddeloos. Spiritisme, kinderofferandes, sadistiese geweld en verskeie vorme van perverse seksaanbidding was aan die orde van die dag. Omdat Jehovah ’n God van geregtigheid is wat uitsluitlike toegewydheid vereis, kon hy nie toelaat dat hierdie walglike gebruike die vrede en sekuriteit van onskuldige mense, veral Israel s’n, ontwrig nie (Deuteronomium 5:9, NW). Stel jou byvoorbeeld voor hoe dit sou wees as die gemeenskap waarin jy woon nie ’n betroubare polisie- of militêre mag gehad het om die landswette te handhaaf nie—sou dit nie tot wetteloosheid en geweld in die ergste graad gelei het nie? Net so was Jehovah genoodsaak om teen die Kanaäniete op te tree weens hulle bandeloosheid en die wesenlike gevaar wat hulle vir ware aanbidding ingehou het. Hy het dus gesê: ‘Hulle het die land verontreinig en Ek sal die land daarvoor straf.’—Levitikus 18:25, NAV.
Goddelike geregtigheid het geskied toe God se teregstellingsmagte—die Israelitiese leërs—die Kanaäniete vernietig het. Die feit dat God mense eerder as vuur of ’n vloed gekies het om hierdie oordeel te voltrek, het nie die vonnis versag nie. Toe die Israelitiese leërs teen die sewe Kanaänitiese nasies geveg het, het Jehovah hulle dus beveel: ‘Jy moet niks wat asem het, laat lewe nie.’—Deuteronomium 20:16.
Maar aangesien God iemand is wat die lewe respekteer, het hy nie beveel dat mense blindweg doodgemaak moet word nie. Toe die inwoners van ’n Kanaänitiese stad, Gibeon, byvoorbeeld om begenadiging gevra het, het Jehovah dit toegestaan (Josua 9:3-27). Sou ’n boosaardige oorlogsgod dit gedoen het? Nee, maar ’n God wat vrede en geregtigheid liefhet, sou wel.—Psalm 33:5; 37:28.
Jehovah se standaarde bevorder vrede
Die Bybel verbind God se seën keer op keer met vrede. Dit is omdat Jehovah ’n liefhebber van vrede is, nie van oorlog nie (Numeri 6:24-26; Psalm 29:11; 147:12-14). Toe koning Dawid ’n tempel vir Jehovah se aanbidding wou bou, het God gevolglik vir hom gesê: “Jy mag nie vir my Naam ’n huis bou nie, omdat jy baie bloed op die aarde voor my aangesig vergiet het.”—1 Kronieke 22:8; Handelinge 13:22.
Terwyl die Grotere Dawid, Jesus Christus, op die aarde was, het hy van ’n tyd gepraat wanneer God weens Sy liefde vir geregtigheid nie meer die hedendaagse boosheid wat ons sien, sal verduur nie (Mattheüs 24:3, 36-39). Soos met die Vloed van Noag se dag en met die vernietiging van Sodom en Gomorra sal God binnekort geregtelike stappe doen om die aarde van selfsugtige, goddelose mense te bevry, en daardeur sal hy die weg baan vir vreedsame toestande om onder sy hemelse Koninkryksheerskappy te heers.—Psalm 37:10, 11, 29; Daniël 2:44.
Jehovah is beslis nie ’n bloeddorstige oorlogsgod nie. Hy huiwer daarenteen ook nie om geregtelike straf uit te deel wanneer dit nodig is nie. God se liefde vir wat goed is, vereis dat hy ten behoewe van diegene optree wat hom liefhet deur die bose stelsel wat hulle verdruk te vernietig. Wanneer hy dit doen, sal ware vrede oor die aarde heen gedy terwyl waarlik sagmoedige mense Jehovah, “die God van vrede”, verenigd aanbid.—Filippense 4:9.
[Foto-erkenning op bladsy 20]
David and Goliath/The Doré Bible Illustrations/Dover Publications, Inc.