Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g94 2/22 bl. 4-7
  • Mense word gehelp om te lees

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Mense word gehelp om te lees
  • Ontwaak!—1994
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Gebrek aan geleenthede
  • ’n Karakterskets van die volwasseneleerling
  • Help jou Bybelstudente om gedoopte dissipels te word
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan(Studie-uitgawe) — 2021
  • Hoe om ’n Bybelstudie te hou wat tot doop lei – Deel twee
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2020
  • Hoe om ’n Bybelstudie te hou wat tot doop lei – Deel een
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2020
  • Skenk aandag aan jou “onderrigkuns”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
Sien nog
Ontwaak!—1994
g94 2/22 bl. 4-7

Mense word gehelp om te lees

WIE is hierdie miljoene wat nie kan lees of skryf nie? Oor die algemeen is hulle verantwoordelike, hardwerkende burgers. In die ontwikkelende lande voorsien hulle voedsel, klere en onderdak aan die oorgrote meerderheid van die bevolking. In die industriële lande doen hulle die werk wat niemand anders wil doen nie—werk wat uitputtend, eentonig en nederig, maar tog noodsaaklik vir die samelewing is.

Gebrek aan geleenthede is meestal die rede waarom mense nie lees- en skryfvaardighede aanleer nie. Ongeletterde mense is oor die algemeen nie dom, oningelig of onbekwaam nie. “Ek sukkel nie om te dink nie”, sê ’n tipiese leerling. “Ek sukkel net om te lees.”

Gebrek aan geleenthede

Vir baie mense hou ongeletterdheid met armoede verband. Armoede op die gesinsvlak beteken dat mense meer besorg daaroor is om kos op die tafel te kry as wat hulle is om geleerdheid te bekom. Wanneer kinders by die huis moet werk, gaan hulle nie skool toe nie. Baie wat wel skool toe gaan, hou nie daarmee vol nie.

Armoede het ook op nasionale vlak ’n nadelige uitwerking. Ontwikkelende lande met ’n buitelandse skuldlas moet noodgedwonge minder aan opvoeding bestee. Gedurende die eerste helfte van die tagtigerjare is die totale som wat aan opvoeding in Afrika bestee is byvoorbeeld met bykans 30 persent verminder. Terwyl ryk lande meer as $6000 (R19 000) per jaar aan elkeen van hulle skoolkinders bestee, spandeer sommige arm lande in Afrika en Suid-Asië slegs $2 (R6) per kind. Die gevolg is dat daar te min skole sowel as onderwysers vir te veel kinders is.

Oorlog en burgertwis dra ook tot ongeletterdheid by. Volgens die Verenigde Nasies se Kinderfonds sit daar ongeveer sewemiljoen kinders in vlugtelingekampe waar onderwysfasiliteite dikwels onvoldoende is. In een Afrikaland alleen is daar 1,2 miljoen kinders onder 15 jaar wat weens ’n verskriklike burgeroorlog nie skool toe kan gaan nie.

Diegene wat nie gedurende hulle kinderjare die geleentheid gehad het om te leer lees en skryf nie, kry soms later in hulle lewe die kans, maar nie almal meen dat dit die moeite werd is nie. Wat die ongeletterdes op die platteland betref, sê die boek Adult Education for Developing Countries: “’n Volwassene wat oor die weg gekom het sonder om te lees en te skryf, sal waarskynlik nie, behalwe onder spesiale omstandighede, ’n brandende begeerte hê om te lees en te skryf nie. . . . Hoewel dit heeltemal verkeerd sal wees om tot die slotsom te kom dat hy doodtevrede met sy lot is, is hy dalk nie só ontevrede dat hy besonder baie wil doen om dit te verander nie.”

Tog is daar baie wat wel ’n innige begeerte na selfverbetering het. Hulle beweegredes is natuurlik uiteenlopend. Sommige wil bloot hulle opvoeding en gevoel van eiewaarde verbeter. Ander word deur finansiële redes beweeg. Diegene sonder werk redeneer dat geletterdheid hulle sal help om ’n werk te kry; diegene met werk soek dalk na ’n beter werk.

Omdat regerings en organisasies die noue verband tussen geletterdheid en ontwikkeling op individuele sowel as nasionale vlak besef het, het hulle programme in werking gestel om volwassenes te leer lees en skryf. Dit is ’n taak vol uitdagings wat vereis dat die onderrigters empatie, sowel as ’n begrip vir die unieke kenmerke van die volwasseneleerling, het.

’n Karakterskets van die volwasseneleerling

Diegene wat volwassenes onderrig, moet die verskille tussen volwassene- en kinderleerlinge besef. By volwassenes is hulle persoonlikheid, gewoontes, gesindhede en belangstellings dieper ingewortel as by kinders, wat beteken dat die volwassene onbuigsamer en minder ontvanklik vir verandering is. Daarenteen het volwassenes ’n ryk skat van ondervindinge waarop hulle kan bou, en hulle kan die betekenis van feite en begrippe makliker verstaan, terwyl dit jonger kinders kan verwar. Hulle het gewoonlik nie soveel vrye tyd as kinders nie. ’n Ander baie belangrike verskil is dat volwasseneleerlinge, anders as kinders, die vryheid het om hulle onderrig te eniger tyd te staak.

Talle ongeletterde volwassenes besit besondere talente en het op sekere gebiede van die lewe sukses behaal; hulle het maar net nie lees- en skryfvaardighede aangeleer nie. Die onderrigter moet hulle aanmoedig om gebruik te maak van die aanpasbaarheid, skeppingsvermoë en volharding wat hulle op ander gebiede van die lewe toon.

Dit verg moed van ’n ongeletterde om sy of haar behoeftes te erken en hulp te vra. Hoewel omstandighede en individue verskil, benader baie volwassenes lees- en skryfopleiding met vrees en ’n gebrek aan selfvertroue. Sommige het dalk ’n lang geskiedenis van akademiese mislukkings. Ander meen miskien dat hulle te oud is om nuwe dinge te leer. “Dis moeilik om op jou oudag te leer om linkshandig te wees”, sê ’n Nigeriese spreekwoord.

Onderrigters kan volwasseneleerlinge se selfvertroue opbou en hulle belangstelling aanwakker deur gou te wees om hulle vordering te erken en te prys. Lesse moet só saamgestel word dat mislukkings tot ’n minimum beperk word en om te verseker dat leerdoelwitte herhaaldelik met welslae bereik word. Die publikasie Educating the Adult sê: “In die eerste plek is sukses waarskynlik die belangrikste enkele faktor wat tot die volgehoue motivering van mense bydra.”

Volwassenes weet gewoonlik wat hulle uit opvoedkundige ondervindinge wil put en wil graag onmiddellik vordering maak om hulle doelwitte te bereik. ’n Professor van volwasseneonderrig in Afrika sê: “Hulle wil klas toe kom, so gou moontlik leer wat hulle moet weet en dan hulle lesse staak.”

Soms is die doelwitte wat ’n student stel onrealisties. Die onderrigter moet die leerling vanuit die staanspoor help om korttermyndoelwitte tussenin te stel en die student dan help om dit te bereik. Kom ons sê byvoorbeeld dat ’n Christen hom by ’n onderrigklas laat inskryf omdat hy of sy wil leer om die Bybel en Bybelpublikasies te lees. Hierdie is langtermyndoelwitte. Terwyl die student hulle nastreef, kan die onderrigter hom aanmoedig om doelwitte tussenin te stel, soos om die alfabet onder die knie te kry, om gekose tekste op te soek en te lees en om uit vereenvoudigde Bybelpublikasies te lees. Wanneer doelwitte gereeld bereik word, motiveer dit die student om aan te hou leer.

Bekwame onderrigters kan baie daartoe bydra dat hulle studente gemotiveerd bly deur hulle aan te moedig, te prys en te help om praktiese, bereikbare doelwitte na te streef. Maar as volwassenes vordering wil maak, moet hulle nie verwag dat hulle alles met ’n lepel ingegee sal word nie. Hulle moet gewillig wees om die verantwoordelikheid vir hulle eie onderrig te aanvaar en moet hard daaraan werk om te leer. Sodoende sal hulle leer lees en skryf, en hierdie vaardighede sal hulle lewe verander.

[Venster op bladsy 6]

Riglyne om volwassenes te leer lees en skryf

1. Dit is baie belangrik om die student te motiveer. Die onderrigter moet van die eerste les af nadruk lê op die voordele daaraan verbonde om te leer lees en skryf en moet die student aanmoedig om redelike lang- en korttermyndoelwitte te stel.

2. Om vordering te maak, moet die student verskeie kere per week onderrig word. Een maal per week is nie genoeg nie. Die student moet tussen lesse huiswerk doen.

3. Moenie te veel vereis of die student met te veel gegewens tydens ’n les oorlaai nie. Dit kan hom ontmoedig sodat hy nie meer die klasse bywoon nie.

4. Wees altyd aanmoedigend en positief. Lees- en skryfvaardighede word met klein, opeenvolgende treetjies aangeleer. Die student moet tevrede wees met sy vordering.

5. Moedig die student aan om wat hy leer so gou moontlik in sy daaglikse lewe toe te pas.

6. Moenie tyd op bysake verkwis nie. Volwassenes is besige mense. Benut die onderrigperiodes ten beste sodat jy hulle die nodige leer.

7. Wees altyd beleef teenoor die student en behandel hom met die waardigheid wat hy verdien. Moet hom nooit in die verleentheid stel of verkleineer nie.

8. Wees bedag op individuele probleme. ’n Student kan dalk nie fyn druk lees nie omdat hy ’n bril nodig het. ’n Ander een is miskien hardhorend en kan dit dus moeilik vind om die regte uitspraak te hoor.

9. Die student moet die alfabet eers in drukskrif leer skryf voordat hy in lopende skrif probeer skryf. Drukskrif is makliker om te leer en makliker om te skryf en die letters kom meer ooreen met dié op die gedrukte bladsy.

10. ’n Goeie manier waarop ’n student letters kan leer skryf, is as hy hulle van ’n voorbeeld afskryf. Hy kan een letter dalk verskeie kere afskryf voordat hy dit sonder die voorbeeld probeer skryf.

11. Mense leer dikwels gouer lees as skryf. Moenie nuwe leeslesse afstel as die student nie die huiswerk kan skryf nie. Maar onthou andersyds dat nuwe letters makliker geleer en onthou word as die student oefen om dit te skryf.

12. Hoewel die volwassenestudent dalk in staat is om ingewikkelde take met sy hande te verrig, kan dit moontlik vir hom ’n moeilike en frustrerende ondervinding wees om met ’n pen of ’n potlood te skryf. Moenie daarop aandring dat letters volmaak gevorm word nie.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel